Impaq-matriek: 10 vrae daaroor


Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, antwoord 10 van die vrae wat jy dalk nog altyd oor ’n Impaq- matriek wou gevra het.

1. Hoeveel van jou kinders het ’n Impaq-matriek gedoen en wanneer?

Twee van my seuns, onderskeidelik in 2016 en 2017. Hulle doen nou onderskeidelik BCom en ’n graad in IT by Noordwes Universiteit. As tuisskoolmamma kan ek vandag vreugde op my kinders se gesigte sien en trots voel op die pragtige jongmense wat hulle is.

2. Impaq skryf mos dieselfde eksamens as staatskole, né?

Nee, glad nie. Tot en met graad 11 se Junie eksamen skryf leerlinge Impaq se eie eksamens. Dan skryf hulle die SACAI eksamens en word hulle uitgereik met ’n SACAI Nasionale Senior Sertifikaat.

Suid-Afrika het drie goedgekeurde eksamenrade: Die Onderwysdepartement, die Independent Examination Board (IEB), wat meestal privaatskole se eksamens hanteer, en dan die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SACAI).

Wat die standaard van Impaq eksamens vir die vroeëre grade betref, kan ek net sê dat Impaq skoolkinders van ’n uitgesoekte skool hulle eksamens laat skryf het en die skoolkinders het baie swak gevaar met die Impaq eksamen. Impaq se standaard is hoog!

3. So, om die Impaq-matriek te kan skryf, moet jou kind by die Onderwysdepartement geregistreer wees. Is dit korrek?

Ja, die oomblik wat jou kind vir graad 10 inskryf, registreer Impaq jou kind outomaties by die Onderwysdepartement, want anders kan hy nie matriek skryf nie. Mens kry egter geen huisbesoek van amptenare van die Onderwysdepartement nie.

4. Omdat mens verplig word om Impaq minstens drie jaar te gebruik, werk dit nie vreeslik duur uit nie?

My ondervinding is dat dit maar omtrent dieselfde kos as om jou kind by ’n staatskool in te skryf. Om in Suid-Afrika in te skryf vir matriek, moet jy graad 10, 11 en 12 by dieselfde instansie doen. Dis ’n reël van Umalusi (SA se eksamineringsowerheid) en nie van Impaq nie.

By Impaq het mens die bykomende voordeel dat jy splinternuwe boeke kry en nie soos in ’n skool met gebruikte boeke opgeskeep sit nie.

5. As jy Impaq as kurrikulumverskaffer gebruik, móét jy dan ook een van hulle sentrums gebruik?

Nee, glad nie. Hierdie is ’n baie goeie vraag en ek bly jy vra dit. Ek is glad nie ’n voorstander van Impaq se sentrums nie en sal dit glad nie aanbeveel nie.

Dis baie duur en ek voel mens kan minder geld spandeer en ’n student of oud-onderwyser huur om jou kind met sekere vakke te help as dit nodig is.

6. Hoe dien mens werkopdragte by Impaq in?

Impaq se stelsel werk só: Van Graad R tot Graad 11 se Junie eksamen doen en skryf die leerders alle take, toetse en eksamens tuis en die ouer merk dit self en lees dan die punte in by hulle Impaq profielrekening.

Die graad 11 eindeksamen en al die graad 12 eksamens, buiten die matriekeindeksamen, word by ’n toesighouer afgelê. Dit kan enige onderwyser of oud-onderwyser wees. Die ouer stel die toesighouers aan en betaal hulle, maar Impaq moet die toesighouers eers goedkeur.

Van graad 11 af verskaf SACAI die eksamens en toetse en Impaq merk dit. Die graad 11 eindeksamen is baie belangrik, omdat universiteite dit gebruik om die sogenaamde APS tellings van die kandidaat te bereken.

Die toesighouer koerier die eksamens en werkopdragte na Impaq toe of kan dit ook persoonlik gaan aflewer by hulle kantore in Centurion, Gauteng. Dit kos omtrent so R65 per eksamen vir die koerierdiens.

Die matriekeindeksamen word by ’n SACAI toetssentrum afgelê.

7. Impaq gebruik ’n CAPS leerplan. Baie tuisskolers hou nie van CAPS nie. Dink jy hulle allergie is geregverdig?

Tuisskoolma, Elbie Kits en haar kinders. Haar twee seuns het albei ’n Impaq-matriek geslaag en studeer nou aan Noordwes-universiteit.

CAPS staan bloot vir “The Curriculum and Assessment Policy Statement” en dis ’n aanhangsel tot die “National Curriculum Statement” wat beteken dat skole en kurrikulums wat CAPS volg dieselfde vereistes en prosedures as die “National Curriculum Statement” vir graad R tot graad 12 volg.

Ek dink tuisskolers hou nie van CAPS nie vir vier redes:

  1. Omdat hulle gehoor het van die geweldige papierwerkdruk wat die stelsel meebring. Maar Impaq neem juis die verantwoordelikheid van al die papierwerk op hulle en laat die ouer vry om op die onderwys te fokus.
  2. Oor die stories dat die Onderwysdepartement matriekpunte sommer net lig en so die standaard van matriek vir almal verlaag. Maar dit geld vir staatskole en nie vir SACAI eksamens nie en dis hoekom ’n SACAI sertifikaat meer werd is as ’n staatskoolsertifikaat.
  3. Omdat die slaagsyfer so laag is. Die slaagsyfer word deur die Onderwysdepartement bepaal en Impaq het geen keuse nie as om daarby te hou. Maar geen universiteit gaan jou kind toelaat as hy of sy nie eens aan die minimum vereistes voldoen nie. Daardie lae slaagsyfer is maar die eerste hekkie wat jou kind moet oor kom.
  4. En dan is daar twee vakke in CAPS wat tuisskolers gewoonlik haat: Geskiedenis en Lewensoriëntering (LO). Die Geskiedenis is net verpligtend tot graad 9. Ek het die Geskiedenislesse tot my kinders se voordeel gebruik. Ons het deur die handboek gewerk, maar ek het altyd bykomende insig en inligting gegee sodat hulle ’n beter konteks kon kry. Dieselfde geld vir LO. My raad is om met jou kind daaroor te praat en jou lewensbeskouing aan hulle oor te dra as jy die vak aanbied. Mens moet kreatief wees as jy wil tuisskool.

8. Nadat hulle hul kinders in die vroeëre jare meer skoollos kon onderrig, voel baie tuisskolers die drie-jaar-drukgang in ’n Impaq-matriek is te veel gevra. Enige kommentaar daaroor?

As jou kind nie die druk van graad 10 tot graad 12 kan hanteer nie, gaan hy ook nie die druk van universiteit kan hanteer nie. As dit die geval is, beteken dit jy het nie in jou skoollosse jare jou kinders genoeg geleer om selfstandig te werk nie.

Ek voel dat Impaq alreeds soveel vryheid aan tuisskolers bied en dat mens dit moet benut om jou kinders gereed te kry vir daardie laaste drie skooljare en vir universiteit of enige ander tersiêre instansie.

Verder wil ek ook noem dat die Impaq-matriek vir mens die opsie bied dat jou kind matriek oor twee jaar kan doen. So kan julle die helfte van die vakke oor een jaar skryf en die ander helfte die volgende jaar.

9. Mens hoor vreeslike stories oor die gehalte van Impaq se boeke. Soos dat dit vol taalfoute is en oor die algemeen nie die “lewende boeke” is waarvan tuisskolers hou nie. Wat is jou ondervinding met Impaq se handboeke?

Van graad 10 tot 12 is net die taalhandboeke en die Wiskunde Impaq se eie handboeke. Die res van die voorgeskrewe handboeke kan mens by enige akademiese boekwinkel koop. Impaq se taal- en Wiskundehandboeke is baie beter as die staatskole s’n. Impaq het hierdie handboeke laat nagaan deur kenners by universiteite en regstellings gemaak.

Omtrent so vyf jaar gelede het Impaq ’n insinking beleef en dis hoekom so baie tuisskolers negatief is teenoor Impaq. Vandat hulle deur PSG oorgeneem is, gaan dit baie beter.

10. Wat was vir jou die grootste voordeel met ‘n Impaq-matriek?

Danksy ‘n Impaq-matriek het my kinders al die gereedskap gekry om die Senior Sertifikaat goed te slaag en universiteit toe te kon gaan. Boonop baie goedkoper as wat mens dit byvoorbeeld deur Cambridge sou kon doen. Impaq se ondersteuningspersoneel was wonderlik en baie behulpsaam.

Verder het my kinders die voorreg gehad om in hulle moedertaal te kon leer in die vryheid en privaatheid van ons eie huis. My seuns se matrieksertifikate is sonder enige navrae, probleme of punteherleidings deur Noordwes Universiteit aanvaar.

Lees ook die ander artikels oor matriekmoontlikhede vir tuisskolers:

  1. 10 Vrae oor Nukleus as kurrikulumverskaffer
  2. 10 Vrae oor ’n Cambridge-matriek
  3. 10 Vrae oor die GED-alternatief vir graad 12 
  4. Tegniese opleiding as ’n moontlikheid
  5. Amerikaanse hoërskooldiploma vir matriekvrystelling

Op soek na meer raad en inligting oor tuisonderwys?

Skryf gerus in vir hierdie gratis aanlyn kursus

Vind onder andere uit:

  • Waarop jy moet fokus as jou kinders laerskoolouderdom is
  • Wat al die voor- en nadele van elkeen van die matriekroetes is
  • Hoe om jou kind se werk te merk
  • Hoe om ander mense (en jouself) te oortuig dat tuisskool die beste ding is
  • Hoe om te weet of jy jou kind op standaard is

 

Daar is:

  • Voorbeeldlesse
  • Webinare (3 ure se kyktyd)
  • Video’s (2 ure se kyktyd)
  • Werkboeke wat jy kan deurwerk om jouself op koers te kry
  • PDF’s met van die beste idees oor tuisonderwys
  • ʼn Aftiklysies wat jou help om die ideale tuisskooldag te beplan
  • Platsakplanne wat jy kan maak

 

Geniet hierdie skatkis van gratis hulpbronne wat jou dadelik:

  • Meer gemoedsrus
  • Fokus
  • Goeie struktuur
  • Afskopplekke gaan gee

 

Maak ʼn skittersukses van tuisonderwys.

Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.
Tuisskoolma, Elbie Kits, wie se kinders matriek suksesvol deur Impaq voltooi het, beantwoord 10 van die vrae oor Impaq se voor- en nadele.

Leave a comment