Party ma’s verkies “skool by die huis”. Hulle hou van die struktuur en gemoedsrus van ʼn formele kurrikulum. Almal hou nie altyd daarvan of het die moed van hulle oortuiging om hulle eie ding te doen nie.
Alhoewel ek self my eie ding gedoen het en voel dat dit die beste manier vir ons gesin was, glo ek ook sterk daaraan dat een van die grootste seëninge van tuisonderwys is dat dit vir mens keuses bied. Tuisonderwys is ontwerperonderwys wat jy kan maak en pas tot dit presies by julle gesin se behoeftes pas.
Daarom publiseer ek van tyd tot artikels waar ma’s vertel hoe hulle ʼn spesifieke kurrikulumverskaffer ervaar het. Ek dink dit gee vir ander ma’s goeie insig en eerlike terugvoering oor ʼn kurrikulumverskaffer.
Ek is baie bly dat Riana Wessels van die Oos-Kaap ingestem het om vir my ʼn paar vra oor Nukleus te antwoord.
1. Vertel ons net eers meer oor jouself. Waar bly julle? Hoeveel kinders het julle? En hoe lank tuisskool julle nou?
Ek en my man bestuur ʼn groot karavaanpark in Colchester in die Oos-Kaap. Ons is ʼn gesin van 4 kinders, waarvan Ricus (11) die laatlammetjie is en nou in graad 5 is. Ons tuisskool van die begin van 2019.
2. Presies wat is Nukleus? En watter leerplan gebruik hulle?
Nukleus is ʼn afstandsonderriglesmateriaalverskaffer wat deur middel van gekwalifiseerde onderwysers ʼn CAPS-gebaseerde leerplan daargestel het. Hoekom CAPS? Nukleus sê hulle wil graag vir enige leerder die geleentheid bied om weer te kan inskakel by enige hoofstroomskool. Elke leerder moet ook die nodige kennis hê om eksterne eksamens te slaag om die geleentheid te hê om universiteit toe te kan gaan.
3. Is daar redes waarom jy nie jou eie ding doen nie, maar ʼn verpakte kurrikulum verkies?
Ek verkies die goeie orde en struktuur.
4. Hoekom het julle spesifiek op Nukleus besluit?
Ons het vir ʼn geruime tyd verskillende verskaffers nagevors. Wanneer jy na Nukleus Onderwys se Missie kyk, vind jy die volgende woorde: “Om aan die Afrikaner-kind onderwys, opvoeding en ontwikkeling te bied wat geanker lê in die Woord van God en eg is aan volkseie waardes om sodoende ʼn trotse, bekwame en ʼn Heilige Godvresende Geslag uit te bou tot ʼn stad op ʼn berg, tot eer van Sy Heilige Naam.”
Hierdie woorde beskryf hoe ons dink en hoe ons leef. Ons het nie verder gesoek toe ons hierdie lees nie. Ons het net geweet dit is die regte pad vir ons.
5. Kan jy dalk vir ons vertel hoe werk Nukleus? Hoe kry mens die handboeke en die lesse?
Nukleus se inskrywingsproses is baie eenvoudig. Die aansoekvorm is volledig en aanlyn beskikbaar. Wanneer die aansoekvorm ingestuur is, word die leerder by Nukleus geregistreer en die ouer ontvang ʼn staat.
Die boeke word per koerier by jou deur afgelaai. Werk is maklik uiteengesit in Handleidings en Ouergidse. Assessering word ook van Nukleus gestuur waarna dit elke kwartaal teruggestuur word vir die onderwysers om te merk. Hulle stuur dan ook ʼn vorderingsverslag.
6. Die groot probleem wat baie tuisskolers met CAPS het, is die inhoud van die werk. Daar mag dalk dinge oor geskiedenis of godsdiens of seksopvoeding in wees waarmee sommige gesinne nie saamstem nie. Het julle dit ooit so ervaar?
Hier probeer Nukleus die werk soveel moontlik suiwer. CAPS is tog net ʼn goeie riglyn.
Byvoorbeeld, wanneer CAPS vereis dat daar oor oordraagbare siektes gehandel word, sal sekere handboeke tuberkulose of sekere seksuele oordraagbare siektes behandel, maar Nukleus kies om die werk te suiwer en te gesels oor masels of waterpokkies wat jonger kinders beter sal verstaan.
Sekere dinge bly die ouer se verantwoordelikheid
Nukleus glo dat dit nog die ouer se verantwoordelikheid is om op ʼn vroeëre ouderdom met hulle kinders oor meer sensitiewe kwessies te gesels soos die ouer goed dink.
Daar is natuurlik vereistes wat in latere grade nodig is om te hanteer volgens CAPS, maar Nukleus het ons verseker dat hulle dit altyd in die suiwerste manier probeer interpreteer.
7. Hoe belangrik is dit vir Nukleus dat mens hulle toetse en eksamens skryf?
Dit is belangrik dat elke ouer die besluit maak watter opsie hulle by Nukleus wil neem.
Nukleus bied die “sonder assessering” opsie ook waar leerders nie toetse of eksamens skryf nie. Met hierdie opsie voorsien Nukleus net lesmateriaal en nie toetse en eksamens nie, ook nie ʼn verslag nie.
Maar Nukleus verkies dat leerders die “met assesserings” opsie kies en wel geassesseer word. Hulle sê die ouer is dan altyd bewus hoe die leerder presteer. Alle ouers is nie opgeleide onderwysers nie. Assessering help dus die mamma om die leerder op standaard te hou, voel Nukleus.
8. Kan jy vir ons vertel hoe verloop ’n tipiese dag by julle.
Ricus is ʼn baie selfstandige kind. Hy is die jongste in die huis en het ʼn ousus wat ʼn juffrou is. Ons het ʼn gewone skooldag, ons ure is net anders.
Hy begin rondom 8:00-8:30 met sy eerste lessie – Godsdiens is eerste, hier lees hy uit ʼn boekie wat ons vir hom aangeskaf het.
Dan het Nukleus ʼn rooster voorgestel en omdat ons as gesin hou van struktuur en roetine, hou ons elke dag by hulle rooster, met pouses tussen in.
Ek het my eie werkboeke waarin die antwoorde is van Ricus se werkboeke. Voordat hy met elke les begin, gaan ek dit met hom deur en hy gaan doen dit self.
Wanneer hy vashaak, help Pa met die Wiskunde en ek met die res. Indien ons so vashaak dat ons as ouers nie kan help nie, het ons kontaknommers van Nukleus se onderwysers en hulle is baie behulpsaam.
Een keer per week word hy deur sy juffrousussie gehelp om seker te maak alles is op datum en hy verstaan alles. Sy dag is klaar sodra hy die laaste vak afgehandel het, gewoonlik so rondom 13:00.
9. Wat is vir jou die voordeel daarvan om Nukleus te gebruik in plaas daarvan om vir Ricus in die skool te sit?
Die standaard van onderrig is baie beter as in die skool. Ons bly ook baie ver van die skool af. Ons het baie min tye af, slegs Woensdae, en werk oor naweke.
Met die dat ons begin tuisskool het, kan ons as gesin meer dinge saamdoen. Ons moet net seker maak Ricus se werk op datum bly. Ons verhouding het baie verbeter vandat ons Nukleus Onderwys ontdek het.
My kind is baie geboelie en dit het hom ʼn baie ongelukkige mensie gemaak. Sy selfbeeld het baie verbeter.
Ons het vir amper 2 jaar navorsing gedoen voor ons begin tuisskool het
Ek glo dit is elke kind en ouer se voorreg om hierdie roete te kan volg. Ons het vir amper twee jaar navorsing gedoen en gewag vir die regte tyd om te begin.
Ons as gesin het baie goed aangepas en kan net dankie sê aan Nukleus Onderwys se lieflike personeel wat elke oproep om raad of hulp met liefde beantwoord. Ons is baie opgewonde oor die toekoms saam met Nukleus.
Hier in die Port Elizabeth omgewing is daar omtrent 200 tuisskoolgesinne wat verskillende maniere van tuisonderrig gebruik. Ons reël vir ons kinders uitstappies en sorg so dat ons kinders in aanraking met ander kinders bly.
10. Bied Nukleus ʼn moontlikheid om matriek te skryf?
Nukleus bied Graad R-12 aan. Graad 10-12 leerders word deur SACAI geregistreer en hulle het die geleentheid om die Nasionale Senior eksamen af te lê en sodoende ʼn UMALUSI-matrieksertifikaat te ontvang.
Wil jy nog meer artikels lees oor die keuses wat ander tuisskoolma’s gemaak het?
Lees hier hoe ‘n Afrikaanse ma Cambridge suksesvol aangepak het.
En hier hoe ‘n ander ma vertel sy Impaq ervaar het.
Hierdie tuisskoolma het 12 kinders en het glad nie ‘n formele kurrikulum gebruik nie.
En hierdie ma glo nou weer om ‘n eie besigheid te bedryf, is die heel beste opleiding wat daar is.



Op soek na meer inligting oor tuisonderwys?
Skryf in vir hierdie gratis kursus









