Amerikaanse hoërskooldiploma – ons keuse vir matriek


Toe dit tyd raak dat die Wenhold gesin van Vanderbijlpark in Gauteng besluit watter matriekroete hulle in tuisonderrig gaan volg, was daar twee dinge wat vir hulle belangrik was:

  1. Die matriek moes dit vir hulle kinders moontlik maak om universiteit toe te gaan en te kan inskryf
    vir die meer kompeterende studierigtings
  2. Die matriek moes ter wille van Edric, hulle oudste, wat ʼn kranige hoogspringer is, aan die
    vereistes van die National Collegiate Athletic Association voldoen, sodat
    hy amptelik aan sy sport kon deelneem.

Ma Annerine is self ʼn uitstekende
sportvrou en het Suid-Afrika in baanfietsry verteenwoordig. Haar man Otto was
haar bestuurder en werktuigkundige. Annerine is steeds betrokke in die sport. Sy
was juis vroeër in Augustus as die spanbestuurder van SA se Junior
Baanfietsryspan na Frankfurt in Duitsland.

Verder rig sy ook
hoogspring af. Wat dalk verklaar waarom Edric tans in die tweede posisie op die
internasionale ranglys vir sy ouderdom lê.

Edric se jonger sussie,
Anri is ʼn swemmertjie wat nou met ernstiger galas wil begin. En Daniël is die
tegnologiekenner en -liefhebber in die gesin.

Siende dat Annerine amper
20 jaar se projek- en omgewingsbestuur asook besigheidsoptimiseringsondervinding
agter die blad het, het sy begin navorsing doen oor die matriekmoontlikhede.

Na baie lees en baie
dink, volg die Wenholds nou ʼn roete wat hulle kinders in staat sal stel om ʼn
Amerikaanse Diploma verwerf. Dit beteken wel dat mens die eksamens in Engels
aflê.

Sy was so gaaf om vir my
10 vrae hieroor te antwoord sodat ek dit met almal kan deel.

1. Hoe lank tuisskool jy al en hoe oud
is jou kinders?

Ons tuisskool al sedert
2013, en is geseënd met drie kinders. Ons jongste seun het nou net 11 geword; ons
middelste is ʼn dogter van amper 13, en ons oudste is ʼn seun van 16.

2. As ʼn Afrikaanssprekende
tuisskoolgesin het julle besluit om ʼn Amerikaanse hoërskooldiploma as ʼn
matriekroete te volg. Jy het deeglik navorsing hieroor gedoen. Kan jy dalk
kortliks vir ons sê hoekom dit julle keuse is?

Die Diploma is buigbaar,
bied ʼn goeie hoërvlakonderrigfondasie en verskeie ontwikkelingsgeleenthede. Die
roete ondersteun ons visie vir ons gesin, en bied ons kinders die geleentheid
om tyd vir hul belangstellings, mekaar, ons gesin en ons gemeenskap te hê. Ja, dit
is moontlik… selfs op hoërskoolvlak!

Ons het gesien hoeveel
Suid-Afrikaanse families die voordele van tuisonderrig op laerskoolvlak benut,
maar dan tydens die hoërskoolgrade begin terugval na die tradisionele
onderrigmodel. Nie noodwendig omdat hul wil nie, maar omdat verskeie glo (geglo
het) dit is al opsies wat beskikbaar is. En in die proses dan hul tuisonderrigroeping
of -visie begin verloor tussen al die gestruktureerde aktiwiteite deur.

Die Diploma se raamwerk
is so dat dit die student aan ʼn wye veld van studie- en denkrigtings blootstel.
Alhoewel ek aanvanklik skepties hieroor was (veral oor ons oudste wat tans die
roete volg redelik seker is van wat hy graag wil gaan studeer) sien ons die
waarde van die metodologie in sy denk- en karakterontwikkeling, hoe hy homself
binne ʼn rykdom van onderwerpe kan uitdruk en dit krities oordink en die behou
van belangstellings. Terselfdertyd kan hy ‘spesialiseer’ in sy gekose
vakrigting.

Baie goeie materiaal beskikbaar vir die Amerikaanse hoërskooldiploma

Verder is daar vir die
Diploma so ʼn magdom van goeie en inspirerende opvoedkundige materiaal
beskikbaar, hetsy in ʼn tradisionele -, klassieke -, Charlotte Mason -, eklektiese
-, of eenheidstudie-formaat.

Wat ʼn voorreg om toegang
tot soveel kwaliteit bronne te kan hê en te mag gebruik, en kinders daardeur
binne hul sterk- en ontwikkelingspunte aan te spoor en verder te laat groei!
Die Diploma bied daardie geleentheid.

Hierdie, tesame met
verdere redes wat in die vrae hiernaas uitgelig word, was van ons draaipunte na
die Diploma.

3. Hoekom doen julle nie die GED nie?

Besluitneming oor die
verskillende skoolverlatingsopsies is belangrik vir elke leerder; ons kinders
se toekoms is tog op die spel! En ja, dit is nie altyd maklik nie; veral as jou
kind nog nie duidelikheid oor sy of haar naskoolse aspirasies het nie.

As ʼn optimiseerder en
navorser van geaardheid is ek egter heeltyd op soek na beter maniere van dinge
doen en het gehou van wat die Diploma kan bied. Met min inligting in die
Suid-Afrikaanse kringe beskikbaar oor die Diploma roete, was dit nodig dat ek die
verskillende skoolverlatingsopsies baie deeglik ondersoek.

Ons besluit vir die hoërskoolgrade
is dus nie ligtelik geneem nie, en ons het die voor- en nadele van die
verskillende Suid-Afrikaans bekende opsies (hetsy GED, CAPS, IEB, IB en Cambridge)
deeglik nagevors.

So ja, die GED was ook ʼn moontlikheide
– veral op grond van die buigbaarheid en bekostigbaarheid daarvan.

Die leerder se aspirasies is belangrik in die keuse van ’n matriekroete

Die keuse van ʼn skoolverlatingsertifikaat moet egter in ag neem wat die leerder se naskoolse aspirasies is. Ons kinders is meer akademies ingestel en stel in van die meer kompeterende tersiêre studierigtings belang. Ons glo dat die platform en raamwerk wat die Amerikaanse hoërskooldiploma bied, vir ons kinders die beste opsie is.

ʼn Bykomende faktor is dat
ons spesifiek Amerikaanse universiteite oorweeg vir verdere studies. Vir Edric,
wat ʼn kompeterende atleet is, is ʼn Diploma wat aan die NCAA (National
Collegiate Athletic Association) vereistes voldoen, ʼn vereiste vir
sportdeelname en geassosieerde borgskappe. En natuurlik word die Diploma wyd
aanvaar.

4. Wat het julle teen Cambridge laat
besluit?

Sjoe! Weereens nie ʼn
enkele rede nie. Die volgende aspekte het deel van ons besluitnemingskriteria
gevorm:

  • Beperktheid van vakkeuses en bronne (in vergelyking met
    die Diploma opsie), asook die feit dat kwaliteit Diploma materiaal geredeliker ook
    in Christenformaat beskikbaar is. Weereens is daar niks wat ʼn gesin keer om
    wyer bronne as die wat deur Cambridge aanbeveel word te gebruik vir hul IGCSE-,
    AS- en A-vlakke nie, maar dit is nie optimaal nie, reg? 
  • Vroeër vlak van spesialisering in Cambridge. Die Diploma
    bied ook dié geleentheid, maar verplig ook ʼn breër onderrig (waar dit opsioneel
    by Cambridge is).
  • Gestandaardiseerde eksamens is die primêre
    assesseringsmetode wat in Cambridge (en andere sisteme soos CAPS, IEB en die
    GED) toegepas word, waar verskeie van die ander assesseringsmetodes vir die
    Diploma vakke beskikbaar is.
  • Baie is al gesê en -skryf oor die optimale opvoedkundige
    model (dink Finland en Korea) en metodologieë. Met die Diploma het jy
    geleentheid om die beste model, metodologie en materiaal tuis toe te pas. Die
    stelsel laat jou toe om die beste bronne bymekaar te voeg, dit moedig die
    leerders aan tot praktiese ervarings en toepassings, kritiese denke, deursettingsvermoë
    en vele meer. Die klem in die Diploma val op bemeestering, en nie slaag van nog
    ʼn eksamen nie.
  • Wat die Diploma verder van Cambridge onderskei, is dat
    dit jou toelaat om (intensief vanaf graad 11) universiteitsvlakkursusse teen
    verlaagde koste te loop. Hierdie kursusse tel as deel van die hoërskoolkrediete,
    maar kan dan ook koste- en tydafslag op universiteitsvlak beteken!

5. SA universiteite aanvaar wel so ʼn
Amerikaanse hoërskooldiploma. Moet mens enigiets bykomend doen om
universiteitstoelating te kry?

Vir die Diploma moet
die studente, net soos met ander internasionale kwalifikasies soos Cambridge en
GED, vrystelling by die Universities of South Africa (USAf) verkry.

Alhoewel ons USAf
regulasies verskeie tipes van Amerikaanse Diplomas toelaat, is my aanbeveling
dat studente ʼn geakkrediteerde Diploma verwerf as jy by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit
wil studeer (en ja, daar is ʼn magdom van Amerikaanse en selfs plaaslike diensverskaffers
waardeur dit gedoen kan word).

Die meeste universiteit vereis
deesdae ʼn gestandaardiseerde toelatingseksamen vir heelwat studierigtings. Die
vereiste maak sekerlik sin in die lig van die verskeidenheid skoolverlatingsopsies
wat beskikbaar is (loer maar net na USAf se webblad).

Inligting rondom die
spesifieke vereistes moet by die betrokke universiteit en fakulteit van jou
keuse verkry word, en mag die SAT (as Amerikaanse) of NBT (as Suid-Afrikaanse)
weergawe behels. Ons was die afgelope week by Tukkies waar die feit weereens
bevestig is.

6. Kan mens so ʼn Amerikaanse
hoërskooldiploma op jou eie verwerf of doen jy dit deur ʼn sambreelorganisasie?

As ʼn Suid-Afrikaanse
vrystelling (deur USAf) deel van jou beplanning is, word een van die volgende
benodig:

  1. Om jou Diploma deur ʼn geakkrediteerde instansie (met
    instansies deur USAf bepaal) te verkry, tesame met ʼn skrywe wat bevestig dat
    jou Diploma op genoegsame standaard vir toelating by enige Amerikaanse
    universiteit is. Hierdie opsie kan deur ʼn
    sambreelorganisasie of ʼn kurrikulumverskaffer uitgeoefen word; of
  2. ʼn Diploma met ten minste 2 vakke geslaag op die Advanced Placement (AP)-vlak met ʼn punt van minstens 3.5
    (waar 5 die hoogste is); of
  3. As jy nie die skrywe soos in opsie 1 kan produseer nie,
    moet jy jou SAT resultate saam met jou Diploma voorlê (die USAf het minimum
    punt vereistes hiervoor).

Vir Amerikaanse universiteite
kan jy die Diploma op jou eie doen, en is die SAT dan ʼn standaard vereiste om
jou aansoek te vergesel.

7. Watter soort vakke is beskikbaar? Wat
kos dit min of meer?

Legio vakke is beskikbaar!
Soms kan die verskeidenheid oorweldigend raak, want daar is soveel keuses: nie
net in terme van vakkeuses nie, maar ook wanneer jy met ʼn vak begin en dit
voltooi, tot op watter vlak jy dit wil neem, en watter assesseringsmetodologie
jy voor instem.

As hulpmiddel, is daar ʼn Diploma
raamwerk wat stipuleer watter tipe van vakke as ʼn minimum geneem moet word. Tipies
word die volgende benodig: Engels, Wiskunde, Fisiese en Sosiale Wetenskappe,
aangevul deur keusevakke. Jou keuse van vakke asook spesifieke materiaal is dan
afhanklik van die:

  • raamwerk van jou diensverskaffer;
  • jou beoogde opvoedkundigemetodiek en -verlangde uitkomste;
    en
  • jou tersiêre planne.

Die koste word veral bepaal of jy akkreditasie gaan verkies of nie

Die koste van die Amerikaanse hoërskooldiploma dek ʼn wye spektrum en hang af van jou diensverskaffer asook gekose bronne. Dit is heeltemal moontlik om ʼn baie goeie kurrikulum daar te stel wat kostegewys beter vergelyk as meeste ander hoërskoolopsies.

As jy vir die
nie-geakkrediteerde opsie gaan, en van hulpbronne soos die gratis All-in-One
Homeschool gebruik maak, is koste minimaal.

Van die goedkoopste
geakkrediteerde opsies begin by $29/maand (en sluit dan alle vakke in); as jy
vakke deur van die Amerikaanse Colleges begin loop verhoog dit tipies jou uitgawes.

8. Hoe skryf mens die eksamens?

Dit is belangrik om onderskeid te tref tussen eksamens en assessering. Vakeksamens as ʼn assesseringsmetode is nie ʼn vereiste nie vir die Amerikaanse hoërskooldiploma nie, maar mag wel ʼn vereiste van sekere diensverskaffers of vir sekere vakke wees. 

Waar eksamens wel ʼn
vereiste is, hang die wyse van eksaminering van jou diensverskaffer en tipe van
vakke (hoërskool, AP, CLEP of ‘dual enrollment’) af. Dit kan aanlyn, deur ʼn derde
party, of tuis plaasvind.

Hoe dit ook al sy, die vaardigheid om vir ʼn eksamen voor te berei sowel as te gaan skryf, is ʼn belangrike vaardigheid ter voorbereiding van tersiêre studies, en dit is dus goed om dit ook in jou Amerikaanse hoërskooldiploma te inkorporeer.

9. As jy matriek deur ʼn SA kurrikulumverskaffer
sou doen, moet jy graad 10, 11 en 12 deur hulle doen. Werk die Amerikaanse
hoërskooldiploma op dieselfde manier?

Om aan die Amerikaanse hoërskooldiploma vereistes te voldoen neem tipies drie tot vyf jaar, met die meeste planne op vier jaar. Dit gaan tog oor ʼn hoër vlak van opvoeding, reg? Die tydperk is dus tipies van die hoeveelheid tyd wat jy aan ʼn leerling se hoërskoolopleiding sou spandeer – onafhanklik van jou gekose roete (hetsy Amerikaans (Diploma/GED), Suid-Afrikaans (CAPS/IEB), of die Britse (Cambridge) sisteem).

Op jou vraag of jy by
dieselfde diensverskaffer moet bly vir die hele Diploma tydperk, is die
antwoord nee. Meeste vereis wel dat jy laaste jaar (of 5-6 vakke) by hul doen
om hul gesertifiseerde diploma te kan ontvang. Vir kontinuïteit (veral met
vakke soos wiskunde) is dit wel belangrik om nie te veel tussen bronne rond te
spring nie.

10. Is iewers bykomende inligting oor die Amerikaanse hoërskooldiploma beskikbaar?

Daar is ʼn magdom van
informasie is beskikbaar. 

Homeschooling in SA toward an American High
School Diploma
, ons Facebookbladsy, bevat inligting wat vir
Suid-Afrikaanse ouers leiding kan bied. Hierby ingesluit is ʼn 7-bladsy artikel
wat die Diploma opsie meer breedvoerig in ons Suid-Afrikaanse konteks beskryf. 

Niks keer natuurlik die
lesers om self te gaan navors op die internet nie. Die volgende soekterme kan
van waarde wees:

En dan ook enige
Amerikaanse opvoedkundige webblaaie en Facebook groepe.

Let maar net op dat in die groepe, ook maar soos met hierdie onderhoud, feite en opinies verweef is.

Meer inligting oor die ander matriekopsies wat vir SA tuisskolers beskikbaar is, is hier te kry.

Op soek na meer inligting oor tuisonderwys?

Hierdie GRATIS aanlyn kursus bied jou tonne raad en wenke

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

2 × five =