Cambridge-tuisskool: hoe hierdie Afrikaanse ma dit suksesvol gedoen het


Die ideale persoon wat vrae oor Cambridge-tuisskool kan antwoord? Truida-Mart Blignaut, ʼn tuisskoolma wie se kinders nooit op skool was nie. Tog het hulle baie goed gevaar met die Cambridge eksamens, al is hulle huistaal Afrikaans. Haar seun het verlede jaar baie goed gedoen in sy eerste jaar op universiteit.

Ek het vir Truida-Mart die vrae gevra wat tuisskoolma’s baie keer vir my oor Cambridge-tuisskool vra. Ek hoop haar eerlike antwoorde help almal wat Cambridge-tuisskool oorweeg sommer baie.

Kyk of luister hier na die onderhoud.

1. Cambridge-tuisskool: op watter ouderdom begin mens?

Op 14 (graad 8) met Pre-IGSCE en dan op 15 (graad 9) met IGSCE. Ons praat dus van die tradisionele hoërskooljare. (Omdat al ons ouers die terminologie sal verstaan, gaan ek van laerskool- en hoërskooljare praat.)

Daar is hoegenaamd geen nodigheid om vroeër te begin nie, selfs nie eens met die Pre-IGSCE nie. ʼn Mens kan vir ʼn jaar Pre-IGSCE en dan 18 maande tot twee jaar vir IGSCE en twee jaar vir AS begroot. Dit neem natuurlik soms minder en soms meer as die aanvanklike beplanning omdat ons die vryheid het om nie ons kinders deur ʼn worsmasjien te sit nie.

Sommige ouers verkies dat hulle kinders nie die IGSCE eksamen skryf nie. Ek wil hulle net daarop wys dat universiteite IGSCE as gelykstaande aan graad 11 reken en dikwels kinders keur op grond van hulle IGSCE-punte.

2. Almal weet Cambridge-tuisskool is vreeslik moeilik. Is dit dan nie beste om so vroeg as moontlik daarmee te begin nie?

Net soos wat jy nie jou driejarige leer lees en skryf nie, omdat sy brein nog nie oor die nodige gereedskap daarvoor beskik nie, behoort jy ook nie met Cambridge op ʼn té vroeë ouderdom te begin nie.

Ek voel sterk daaroor dat die laerskooljare die beste tyd van tuisonderrig is, die jare van ontdek en stimuleer, en natuurlik ook die jare waartydens jy die basis lê vir verdere akademiese en ander groei.

Mens kan nie ’n muur bou sonder ’n stewige fondasie nie

Die bou van jou kinders se fondasie is uiters belangrik; jy kan tog nie die muur begin bou sonder ʼn stewige fondasie nie. Vir watter vorm van matriek jy jou kind ook al voorberei – en jy gaan dit nie noodwendig weet wanneer hy sewe of tien jaar oud is nie – het hy dieselfde fondasie nodig.

Ons het byvoorbeeld in ons oudste se veertiende jaar eers op Cambridge vir hom besluit. As jou fondasie dan nie stewig gelê is nie, bou jy maar moeilik verder en is daar ʼn agterstand wat jou kind kan pootjie.

Ek dink ook nie Cambridge is soveel moeiliker as die IEB eksamens wat privaatskole en byvoorbeeld Breinlyn skryf nie, of selfs as die Nasionale Senior Sertifikaat nie. Vir enige vorm van matriek gaan jou kind ʼn stewige basis nodig hê.

3. As jy wel vir jou kind ʼn stewige akademiese basis wil gee, wat doen jy dan totdat jou kind gereed is om met Cambridge werk te begin?

Die akademiese basis is en bly taal en wiskunde. Ruth Beechick se drie r’e: Reading, wRiting en aRithmetic. Alle ander vakinhoud is eintlik algemene kennis en kan met die tyd bygevoeg word. Hier is balans dus baie belangrik en het jy tyd om te ontspan.

Jy wil jou kind graag aan so ʼn wyd moontlike verskeidenheid vakke en belangstellings blootstel en dit sluit dinge in soos musiekonderrig, sport en uitstappies. In hierdie jare werk jy dus aan jou basis, aan karakterontwikkeling, aan verhoudings, aan ander aktiwiteite.

Gesinstyd was vir hulle baie kosbaar

Gesinstyd is vir ons baie kosbaar en in die laerskooljare het ons die vryheid van tuisskool benut deur ook as gesin saam te toer. Ons het byvoorbeeld toere onderneem na verskillende dele van die land en dit gekoppel aan die aardrykskunde en geskiedenis van die gebied, bv. ‘n blommetoer en ʼn fietstoer na die Vrystaat onderneem. Ma het wel nie self fiets gery nie, maar was die motorbestuurder en fotograaf. Abseiling het ek wel, tot almal wat my ken se verbasing, saam met my man en kinders begin doen.

Sekerlik die belangrikste ding wat ons in hierdie jare gedoen het, was ons leeswerk: biografieë en outobiografieë van wêreldfigure, maar ook van sendelinge, wat geloofsbasis bou, asook verhale uit verskillende kulture, wat weer o.a. geskiedenis en aardrykskunde aanspreek.

Hierdie jare is nie soseer die tyd van formele leer of skool nie as wat dit ʼn ontdekkingsreis is saam met jou kinders by wyse van verskillende metodes.

4. Wat is die sleutelvaardighede waaraan mens veral moet aandag gee as jy Cambridge-tuisskool oorweeg?

Om jou kind te deurdrenk met sy moedertaal is van kardinale belang. As jy sy moedertaal sterk maak, kan jou kind met gemak ʼn volgende taal baasraak. Daarom moet jy jou kind blootstel aan letterkunde. En dit doen mens liefs deur baie te lees.

Ek en my kinders was vir jare lede van ʼn Boekwurmklub. Elke maand vir so tien maande van die jaar het ons meestal van die ouer Afrikaanse skrywers, soos PH Nortjé, gelees en geniet. Ek het dikwels van hierdie letterkunde gebruik vir transkripsiewerk, waar my kinders dele daarvan moes afskryf. Hierdie tekste is ook gebruik vir diktee, waar ek vir hulle ʼn sin of twee, en later ʼn paragraaf sou voorlees en hulle moes neerskryf wat hulle hoor. Albei hierdie oefeninge is uiters waardevol.

Kyk na verskillende tipes tekste, soos briewe, essays en gedigte naas stories

Dit is ook belangrik dat mens kyk na verskillende tipes tekste, soos briewe, essays en gedigte naas stories. Soms sou ons kinders na ʼn vakansie ʼn PowerPoint-aanbieding aanmekaarsit met van die vakansiefoto’s en dan praat oor wat hulle wedervaar het. Ek glo egter dat ʼn kind op papier moet skryf en is versigtig vir te veel werk op ʼn rekenaar. Om iets soos ʼn dagboek te hou, is ʼn uitstekende manier om skryfvaardigheid te slyp.

Vir Cambridge se soort eksamens, of enige ander vorm van matriek, is leesbegrip baie belangrik. Daarom moet jy daaraan werk. Nadat die kind iets gehoor of gelees het, moet hy die inhoud sy eie maak deur dit op een of ander vorm terug te gee. Vir ʼn jonger kind kan dit ʼn tekening wees, ʼn effens ouer kind kan terugvertel wat hy kan onthou en soos wat julle hoërskoolouderdom begin bereik, moet jou kind iets skryf oor die storie, aanvanklik net ʼn paragraaf, maar mettertyd ʼn hele opstel.

Begripstoetse is tydmors

Moet asseblief nie tyd mors met begripstoets-tipe vrae nie.

In hierdie jare moet jy ook die gewoonte vestig dat jou kind wel kan stilsit en werk vir ʼn paar uur per dag. Teen die tyd wat julle met Cambridge begin, gaan hy vir IGSCE minstens vyf uur per dag moet insit en vir AS selfs nog meer.

5. Is dit belangrik dat mens ook aandag gee aan emosionele volwassenheid, selfs al is akademie jou eerste prioriteit?

Deel van die ontdekkingsreis is eintlik vir jou kind ʼn ontdekking van wie hy is en vir ons as ouers om ons kinders te leer ken soos ons Vader hulle gemaak het en nie soos wat ons noodwendig oor hulle gedink het nie. Hulle moet gemaklik raak in hulle eie velle en hulle eie roeping in die lewe uitleef en nie ons as ouers se drome nie.

Elke kind is uniek en leer op sy eie manier. Dit het my baie gehelp om te kyk na hierdie drie dinge:

  1. Tipes persoonlikhede
  2. Soorte intelligensie (o.a. ouditief en musikaal, visueel-ruimtelik, logies-wiskundig, krities, linguisties, inter- en intraverhoudings, nuuskierigheid)
  3. Leerstyle

Die boek The Way They Learn deur Cynthia Ulrich Tobias was vir my goud werd.

6. Kan jy voorbeelde gee van wat emosionele volwassenheid behels en ook hoe mens dit as tuisskoolouer in jou kind kweek?

Emosionele volwassenheid is eintlik maar emosionele intelligensie: die vermoë om jou emosies te kan identifiseer en op ʼn sinvolle manier te hanteer, asook om ander se emosies te kan herken en op ʼn positiewe manier daarop te reageer.

Selfkennis is die sleutel om jouself te kan handhaaf

Selfkennis is die sleutel om jouself te kan handhaaf en ander te respekteer en positief te reageer. Hierdie vaardigheid kan slegs ontwikkel as die kind sy voor- en afkeure leer ken deur blootstelling en dan keuses het en ook die vrymoedigheid het om hierdie keuses te verbaliseer in ʼn veilige milieu. Daarom is dit so belangrik dat mens as gesin praat oor gebeure, nuuswaardighede en die uitdagings van jou dag.

Tog glo ek ook dat mens soms jou kind uit sy gemaksone moet neem. Ek kan abseiling as ʼn voorbeeld noem. My man en seun was eenkeer op ʼn pa-en-seun-naweekkamp. Pa moes uit sy eie gemaksone kom toe hy eerste met ʼn tou om sy lyf die berg moes af. Later het abseiling vir ons ʼn gesinsport geword, waaraan selfs Ma meegedoen het, en wat ʼn hele vriendekring begin insluit het. Sulke aktiwiteite gee mens ook die geleentheid om bietjie stoom af te blaas met jou emosies. 

7. Jy is ʼn Cambridge tutor vir Engels en Afrikaans. Met daardie ervaring in gedagte, wat is die grootste leemte wat kinders het as hulle vir die eksamens moet voorberei?

In die eerste plek vind ek dat ons Afrikaanse kinders se Afrikaans glad nie op standaard is nie, veral nie as moedertaal nie, en soms eerder op ʼn redelike swak tweedetaalvlak is. Sommige kinders kan nie eens ʼn ordentlike paragraaf in goeie Afrikaans skryf nie, wat staan nog ʼn opstel beplan en skryf.

Sommige kinders – en ons praat nou van vyftienjariges – kan nie eens behoorlik vlot lees nie. Ek lei dus af dat veral Afrikaans soms baie afgeskeep word in tuisonderrig. Woordeskat en idiomatiese taalgebruik bestaan amper nie. Behalwe dat dit hartseer is, het dit ʼn baie negatiewe uitwerking op akademiese prestasie.

Leesbegrip is ’n groot probleem

Die implikasie hiervan, dink ek, is dat kinders nie leesbegrip toon nie. Hulle sal ʼn vraag lees en nie mooi verstaan nie, wat nog te staan weet hoe om ʼn vraag te interpreteer en te antwoord.

As jy nie die basis van ʼn goeie akademiese woordeskat het nie, kan daar ook maklik woorde in ʼn vraag wees wat jy nie verstaan nie.

Wat Engels betref, die volgende, en ek wil niemand afskrik nie, net ʼn realiteit tuisbring. In Cambridge doen jy eerste taal Engels. Wêreldwyd is Engels amptelik Cambridge se derde moeilikste vak. Jy leer nie hierdie Oxford-Engels in films en televisie nie, maar deur goeie boeke te lees.

Hier gaan ek alweer…

Dis die probleme wat ek die meeste sien

As tutor ervaar ek meestal dat baie van die kinders:

  • se Engelse woordeskat beperk is
  • (hou vas) nie weet nie hoe om ʼn woordeboek te gebruik nie
  • se grammatika veel te wense oorlaat
  • nie tussen die lyne kan lees en ʼn teks interpreteer nie (op IG-vlak al); daar is dus nie leesbegrip nie
  • nie die teks op ʼn ander manier kan weergee nie (met ander woorde nie kan terugvertel of opsom nie)
  • die skryf van ʼn opstel en ander langer skryfstukke as ʼn groot uitdaging sien.

8. Enige wenke hoe om daardie leemte in die jonger jare te oorkom as hulle Cambridge-tuisskool oorweeg?

Weer eens meer aandag gee aan jou basis van die drie R’re – ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie.

Voorts dink ek dat elke ouer ʼn manier moet vind om vir sy kind te leer dat daar werk is waarvan hy dalk nie so baie gaan hou nie, maar dit steeds moet doen; dat hy moet gaan sit en werk vir ʼn paar uur per dag, of hy nou wil of nie. Dit maak nie saak watter matriek jy wil doen nie, hierdie beginsel geld steeds.

Leer is nie altyd net pret nie

Daar bestaan die konsep dat alles wat ons in tuisonderrig doen, vir ons kinders prettig moet wees. Indien moontlik, ja, maar die beginsel dat alles in jou beroep of in jou lewe as volwassene nie gaan pret wees nie, en dat jy steeds verantwoordelik is om dit na die beste van jou vermoë te doen, moet ook tuisgebring word.

9. Jou seun is deur sy eerste jaar op universiteit. As jy nou terugdink oor julle hele voorbereidingsproses vir universiteit, sou jy iets dalk op ʼn ander manier benader het?

Ek dink ek kon waarskynlik in ons laerskooljare meer ontspan het. Die vak waaraan ek die minste aandag gegee het, het sy studierigting geword, wat vir my sê dat hy die regte basis gehad het om op te bou.

10. Beide jy en jou man het uitstekende akademiese kwalifikasies en is opgeleide onderwysers en opvoedkundiges. Sou jy sê daardie agtergrond is die hoofrede waarom julle jul kinders so goed kon voorberei vir universiteit?

Ons as tuisskoolouers neem volle verantwoordelikheid vir ons kinders se “skoolopleiding”. Ons uitgangspunt was dus van die begin af dat ons hulle in staat wil stel om wel ʼn goeie matriek te kan doen ten einde tersiêre opleiding te kan kry, sou hulle wou. Feit is dat ons besef het die basis is die belangrikste en daaraan gewerk het.

Ek voel ook dat mens maar gerus ʼn papier in die hand kan hê vir al die jare se harde werk. Soos ek reeds gesê het, het ons egter eers in ons oudste se veertiende jaar op Cambridge vir hom besluit. Dit was ook nie ʼn uitgemaakte saak dat ons tweede dieselfde roete sou volg nie.

Die omgewing tuis bepaal waaroor mens praat

Omgewingsfaktore speel natuurlik altyd ʼn rol in die opvoeding van ʼn mens se kinders, maar waarskynlik meer onbewustelik as bewustelik. Dit beïnvloed byvoorbeeld gespreksonderwerpe. So is daar in elke huis invloede. Nie ek of my man is entrepreneurs nie en van ʼn eie sakeonderneming begin, het my kinders byvoorbeeld min gehoor.

MAAR daar is vandag soveel hulpmiddels vir tuisskolers beskikbaar. Ek dink nie een van ons het regtig ʼn verskoning nie.

11. Wat sal jy vir tuisskoolouers aanbeveel oor die toerus van hulleself met betrekking tot tuisonderwys?

Dit wil my soms voorkom of ouers in die tuisskoolboot inspring sonder om ʼn basiese begrip te hê van hoe ʼn mens ʼn boot stuur. Hiermee bedoel ek geensins enige formele vorm van opleiding nie; eerder ʼn begrip van goeie tuisskoolbeginsels en waaroor dit regtig gaan. Ons weet dat dit nie “skool-by-die-huis” beteken nie, maar eintlik ʼn heel ander leefwyse is.

Die eerste vraag wat die meeste vra, is watter kurrikulum om te volg. Dis volgens my een van die laaste vrae om te vra. Hier is ʼn paar wenke:

  • Lees ʼn paar van die klassieke boeke oor tuisonderrig, soos die een deur die Moores, Ruth Beechick ensovoorts.
  • Vergewis jou van die verskillende benaderings en metodes (soos Charlotte Mason, klassieke benadering, temagebaseerde onderwys ensovoorts).
  • Woon ten minste een tuisonderrigseminaar by.

12. Wat is, volgens jou, die rol wat die ouers vir hulle kind in Cambridge-tuisskool moet speel?

My ervaring is dat die ouers wat betrokke is, se kinders baie beter vaar.

Besef in die eerste plek dat Cambridge afstandsonderrig behels. ʼn Tutor se rol is anders as die van ʼn voltydse onderwyser. ʼn Tutor fasiliteer meer en spreek net probleme aan. Sy tyd om klas te gee is maar baie beperk.

Ek sou ook sê dat jy jou kind moet ken en dus moet weet wat die struikelblokke en uitdagings op sy spesifieke Cambridge-pad gaan wees. Jy moet jou kind ondersteun met hierdie roete en ja, soms beteken ondersteuning dat jy meer dissipline toepas.

Vra jou kind uit oor sy werk

Vra uit oor jou kind se werk, weet waarmee hy of sy besig is. As tutor wens ek dat ouers soms net die kind se opstelle saam met hom wou deurlees voor hulle dit na my stuur. Selfs al is jy nie ʼn taalonderwyser nie, kan jy jou kind daarop wys dat iets wat hy geskryf het, nie sin maak nie.

Laat jou kind ook self sy werk beplan en sy eie werksrooster vir die week opstel, maar hou ʼn ogie of die werk gedoen word.

As jy nie ʼn aktiewe, ondersteunende rol kan of wil speel nie en alles van die tutor verwag, moet jy dit liefs oorweeg om jou kind skool toe te stuur.

Lees gerus ook ‘n vorige onderhoud met Truida-Mart, waar sy nog meer terugvoering gee oor hoe om Cambridge suksesvol aan te pak.

En hier is nog ‘n artikel van ‘n ma wat nie die Britse stelsel volg nie, maar wel ‘n Amerikaanse stelsel. Haar seun wil graag ingenieurswese gaan studeer.

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

two × 4 =