Die redes hoekom mense tuisskool is legio en wyduiteenlopend. Maar hoe langer ma’s gewoonlik tuisskool, hoe meer besef hulle tuisonderrig is waarlik ontwerperonderwys wat hulle kan aanpas tot dit PRESIES by hulle en hul kinders se behoeftes aanpas. Kom ons begin met ’n situasie wat vir die meeste tuisskoolma’s baie bekend sal wees …
’n Groot oorlog het in jou kind se kamer uitgebreek
Jy stap by jou kind se kamer in. En dis Armageddon. Die Derde Wêreldoorlog. Woes, maar beslis nie leeg nie.
Oral lê sagte speelgoed rond. Die laaie is halfhartig toegedruk, maar die klere, wat nie ordentlik opgevou is nie, peul oor die rande. As daar boonop ʼn kunssinnige kind, soos die een wat ek het, in die prentjie is, is die kanse goed dat daar verf en potlode en stukkies papier ook op die vloer rondlê.
“Maak skoon!” bulder jy. “Op die daad!”
As jy wegstap, voel jy oorweldig deur die hele tuisskoolding en jou huis wat altyd deurmekaar is. Jy kan nie help nie om jouself te vergelyk met jou perfekte vriendin met die perfekte kinders wat in die perfekte skool is en wie se huis altyd perfek netjies is.
Vul die boksie en voel minder oorweldig
Afhangende van jou kind se ouderdom en afhangende wat jy haar al gewys en geleer het, is jou “maak skoon” opdrag aan jou kind egter sinneloos. As jy dus ʼn halfuur later in die kamer terugkom, lyk niks beter nie.
En die oorweldig-voel stroom oor jou soos ʼn fratsgolf.
Is jy ʼn beheervraat, soos ek, en boonop ongeduldig ook, spring jou maar gou in en ruim self op. Dis net soveel vinniger. En om iets te doen, laat jou minder oorweldig voel.
Tot ʼn honderde take in die boksie ‘maak jou kamer skoon’
Jy kan eenvoudig nie vir jou driejarige ʼn sambreelopdrag soos “maak skoon jou kamer” gee nie. Die kind het nie benul wat om te doen nie. Daar kan tot honderd kleiner takies wees in die opdrag “maak skoon jou kamer”.
“Maak skoon” is ʼn leë boksie wat jy vir jou kind moet vul. Waarmee jy kan begin, is deur byvoorbeeld na die teddiebeer wat op die grond lê, te wys en te sê: “Sien jy daardie teddiebeer?”Jy kan dit net doen as jy weet jou kind weet klaar wat ʼn teddiebeer is. Jou dogtertjie sal dan knik en jy gee haar ʼn kloppie op die skouer omdat sy so slim is. Jou aanmoediging gee vir jou kind ʼn dopamien-inspuiting in haar brein. Dopamien is een van die goedvoelstowwe wat ons nodig het om te kan funksioneer en leer.
Goedvoel-stof in die brein laat jou minder oorweldig voel
Omdat sy goed voel, gee sy vir jou ʼn glimlag en dit laat jou ook goed voel. Nou voel jy soos ʼn tuisskoolma wat alles onder beheer het.
Volgende sê jy vir haar om die teddiebeer te gaan optel. Sy doen dit en wow! dis regtig ʼn goeie dag vir julle al twee. Volgende wys jy na ʼn leë plekkie op die boekrak en vra of sy dit sien. Maar eers nadat jy seker gemaak het sy weet wat ʼn boekrak is en wat ʼn leë plekkie is. En dan vra jy vir haar of sy dink sy kan die teddiebeer in daardie leë plekkie gaan bêre.
Sy gaan bêre die teddiebeer, kyk na jou en jy glimlag in jou skik vir haar. Weer kry sy ʼn bietjie dopamien in haar brein. Jou goedkeuring en die dopamien-inspuiting het die stroombaan in haar brein versterk. Wat die kans dat sy volgende keer die teddiebeer op die rak gaan bêre, versterk het.
Dis hoe jy jou kinders leer om hulle kamers skoon te maak, somme te maak, vreemde mense mooi te groet, onafhanklike grootmense te word.
Stap vir stap, stukkie vir stukkie. Ja, dit beteken jou kind se kamer gaan ʼn bietjie deurmekaar wees totdat sy geleer het wat al honderd aksies is wat nodig is om dit skoon te maak. Maar uiteindelik gaan sy soveel meer leer.Jou eie boksie hoe ʼn ideale tuisskooldag lyk
Onthou hierdie skema met jouself ook, liewe mede-tuisskoolma.
“Ek is nie ʼn goeie tuisskoolma nie,” sê jy vir jouself en bely in die donker voor julle aan die slaap raak aan jou man.
“Ideale tuisskooldag” is te vaag. Dis soos “maak jou kamer skoon”. Wat jy moet doen, is om vir jouself uit te werk wat al die dinge is om die boksie “ideale tuisskooldag” vol te maak. Jou boksie gaan anders lyk as myne. Maar dit gaan beslis meer dinge insluit as net dat jou kinders op presies dieselfde leesspoed is as die gemiddelde kinders van hulle ouderdom.
“Ideale tuisskooldag” kan baie dinge insluit, soos:
- Almal in die huis borsel elke dag hulle tande
- Al die beddens is opgemaak
- Jy het ʼn uur vir jou kinders voorgelees (ek weet, ek weet, my troetel enetjie daai!)
- Jou kinders kry genoeg groente in
- Julle hou gereeld huisgodsdiens
- Jou kinders lag graag
- Jy het vandag saam met jou kinders ʼn koek gebak
- Jy het vandag vir elkeen van jou kinders gewys jy keur wat hulle doen goed (onthou die dopamien-inspuiting)
As jy ‘n ideale tuisskooldag wil hê, moet jy hom self skep.
Die ideale tuisskooldag begin klein, maar bou op tot iets groot
Lees byvoorbeeld elke dag vir ‘n uur vir jou kind voor vir vyf dae per week en vir veertig weke van die jaar en jy het 200 ure lank vir jou kind voorgelees.
Net om ‘n beter prentjie te vorm: ‘n Dikke boek soos War and Peace van Leo Tolstoy neem omtrent 60 uur om hardop voor te lees. As jy vir 200 uur vir jou kind voorgelees het, is dit so goed jy het drie en half keer deur War and Peace gelees.
Weet jy watse wonderlike voorsprong gee jy vir jou kind?
Om te illustreer hoe om sulke klein doelpale te stel, gaan ek een van die gewildste artikels gebruik wat ek ooit gepubliseer het. Dis Louise Bodenstein van Namibië se artikel oor die ses dinge wat jy met jou sesjarige moet doen.
Gaan lees daardie wonderlike artikel hier.
Só lyk die ideale tuisskooldag van sesjarige … miskien
Die take gaan nie veel anders lyk vir ‘n sewe- of agtjarige nie, behalwe dat jy moontlik nou al leer lees en skryf begin byvoeg het.
Teen elf of twaalf gaan jy die doelwitte vir ‘n ideale dag al taamlik moet aanpas om as boet of sus byvoorbeeld nog nie vlot lees nie, hulle elke dag vir tien minute hardop vir jou te laat voorlees. En teen veertien of vyftien gaan jou kind al elke dag meer formele akademiese werk moet doen, soos opstelle skryf en Wetenskaphandboeke deurwerk.Maar om vir jou te wys hoe ek dink mens moontlik vir jou doelwitte kan stel, gaan ek Louise se artikel gebruik en ons verbeel ons stel take vir ‘n sesjarige op. Hier is ‘n opsomming van die ses dinge wat jy elke dag met ‘n sesjarige behoort te doen.
Ek het ook ’n eenvelopsomming van die artikel gemaak en by die gratis hulpbronne op my webwerf gesit. As jy inteken op my poslys, kry jy toegang tot al die gratis hulpbronne. Vul net die vormpie onderaan hierdie artikel in om in te teken.
1. Lees vir jou kind voor
Minstens vir ʼn uur per dag. As dit vir jou na ʼn lang tyd klink, begin dan net met vyftien minute per dag. Voorlees het ‘n paar unieke voordele, soos dat dit van jou kinders beter lesers maak, hulle woordeskat vergroot, verbeelding aanwakker en empatie aanleer. (Kry die prentjie van daardie dik War and Peace in jou kop!)
2. Laat jou kind tel
Die basis van Wiskunde lê in getalbegrip. Syfers bly abstrak as daar nie ʼn verband is tussen die syfer en die hoeveelheid wat dit voorstel nie. Laat jou kinders daarom alles in en om die huis tel en met getalle rondspeel as hulle tafel dek, bak en brou, en speel. Laat hulle vorentoe tel en agteruit. Laat hulle in twees, dries en tiene tel.
3. Leer jou kind van vorms en patrone
Wys vir jou kinders vorms soos sirkels, driehoeke, vierkante, kubusse en so meer uit soos julle dit in die alledaagse lewe teëkom. Laat hulle die vorms teken of prente teken wat net uit vorms bestaan.
Patrone is ook baie belangrik vir goeie wiskundige ontwikkeling. Laat jou kinders byvoorbeeld gekleurde lekkergoed in patrone uitpak soos twee geel, een blou, drie rooi en herhaal. Knope, munte, krale of gekleurde wasgoedpennetjies kan ook werk.
Praat ook oor wiskundige patrone. Vra byvoorbeeld dat jou kind tot by 10 tel en dan moet hy verduidelik hoe het hy van 1 tot by 2 gekom en van 2 tot by 3. Hy het elke keer 1 bygetel. Gee nou vir hom patrone soos 2,4,6,8,10 of 1,3,5,7,9 en laat hy vir jou verduidelik wat die patroon is.
Leer jou kinders ook van ooreenkomste en verskille tussen dinge. Byvoorbeeld kat, hond, koei. Ooreenkomste: almal het vier bene en almal is soogdiere. Verskille: die eerste twee is troeteldiere en die laaste een is ʼn plaasdier.
Doen dit alles mondeling of met speletjies. Werkkaarte en skryfwerk is op hierdie ouderdom nog nie nodig nie.
4. Laat jou kind speel en aktief wees
Fisieke oefening en beweging beïnvloed ʼn kind se emosionele, kleinmotoriese en spraakontwikkeling. Dit het ook ‘n uitwerking op sy vermoë om te konsentreer en sy liggaamspostuur.
Kinders moet speel. Voorskoolse kinders moet letterlik kilometers per dag aflê! Hulle moet spring en rol en klim. Hulle moet swaai en hang en balanseer. Charlotte Mason het gesê kinders moet daagliks minstens drie ure buite deurbring.
As jy ʼn erf het, kan jy met min geld en moeite ʼn hindernisbaan opstel wat jou kind elke dag ʼn paar keer moet voltooi. As jy nie ʼn erf het nie, stel ʼn binnenshuise hindernisbaan op. Kyk op YouTube vir video’s met kinderoefeninge. As daar musiek en rympies by is – nog beter.
Maar kinders moet ook kan “stil speel” met goed soos modder, sand, klei, blokkies, legkaarte, verf en hulle moet teken. As kinders nie heeltyd gestimuleer word nie, leer hulle dink. Dit gee hulle kans om hulself emosioneel te stabiliseer. Kinders wat hierdie rustige, innerlike tyd gegun word, is ontspanne, gelukkige kinders.
5. Werk prakties met jonger kinders
Jong kinders kan nie vir langer as vyftien minute op ʼn slag konsentreer nie – so hou jou lessies kort. Maar as jy die lesse prakties en konkreet maak, kan jy dit dalk uitrek tot so dertig minute.
- Leer jou kind byvoorbeeld van die watersiklus deur vir hom ʼn eksperiment te wys.
- Laat hom leer lees en skryf met magneetletters wat hy op die vrieskas kan rondskuif.
- Leer hom Aardrykskunde met ʼn aardbol wat hy kan ronddraai.
- Deur teëls op die badkamervloer te tel, leer jy hom van oppervlakte en omtrek.
- Leer hom van dinosourusse deur hulle verskillende groottes op grond uit te meet.
6. Praat, praat, praat … en luister, luister, luister
Vir ʼn kind om optimaal te ontwikkel, moet hy van babadae minstens 2100 woorde per dag hoor. As jy vir jou kind voorlees, is ʼn deel van hierdie taak al gedek. Sing ook vir hom en leer vir hom rympies. Verduidelik konstant wat jy doen en hoekom.
By ʼn sesjarige raak dit nou meer van ʼn tweerigtinggesprek en daarom moet jy ook luister. Ons moet ons kinders toelaat om te praat – en ons moet daarna luister! Hoe meer ʼn kind praat, hoe beter raak hy daarmee. Dis moeilik om jou gedagtes in woorde en sinne om te sit wat sin maak en hoe meer oefening jou kind hiermee kry, hoe beter.
30 take vir ’n ideale tuisskooldag
Ek het 30 spesifieke take in ‘n lys gesit. Die meeste van hulle kom uit Louise artikel, maar ‘n paar kom ook uit my artikel (en video) oor Vygotsky. Veral sy idees dat mens nie vir jou kinders die antwoorde moet gee nie, maar vir hulle steierwerk moet verskaf of self by die antwoord uit te kom.
Lees Vygotsky se artikel hier.
Of kyk gou weer die video oor Vygotsky.
Ek sit die afiklysie van die 30 take ook as ‘n PDF lêer by die gratis hulpbronnebladsy op my webwerf onder die opskrif Die ideale dag vir ‘n 6-jarige. Klik op die skakel om in te teken by my poslys en die aftiklysie af te laai.
Maak genoeg afskrifte van die lys vir ‘n maand en sit dit in ‘n lêer dat jy nie sukkel om dit in die hande te kry nie.
Nou moet jy jouself afvra hoeveel van daardie 30 take op die lys is haalbaar. Omstandighede gaan ‘n groot rol speel. As jy pas ‘n baba gehad het, gaan jy waarskynlik sukkel om 5 uit 30 take met jou sesjarige te doen. Of as jy een dag in ‘n tou moet gaan staan om jou lisensie te hernu, gaan jy daardie dag dalk net by 3 uit die 30 uitkom. Besluit self hoeveel van die take is per dag doenbaar en gee jouself aan die einde van elke skooldag een punt vir elkeen wat julle gedoen het. Die afmerk behoort nie langer as vyf minute te vat nie.
En môre doen jy dit weer. En oormôre.
’n Ideale tuisskooldag is nie een wat perfek is nie
As jy ‘n perfeksionis is, luister mooi: jy gaan uitbrand as jy elke dag al 30 goed probeer doen. Om elke dag net 10 van hulle te haal, is al ongelooflik. Maar kyk gereeld terug op jou lysie en wissel die take af.
As jy vir ‘n hele maand so boekgehou het, doen ‘n bietjie nabetraging en kyk ook watter aanpassings julle moet maak. Dalk werk boet of sus se hardoplees nie. Miskien moet jy meer uitvind oor disleksie.
Dalk moet jy my kursus 21 dae na sukses as tuisskoolma oorweeg.Deur elke dag te sorg dat jy ’n klomp dinge op jou lys doen, skep jy ideale dae. Die een na die ander. Aan die einde van ’n dag wat jy jou doelwitte bereik het, voel jy hoe die dopamien deur jou vloei en ervaar die gevoel “gelukkig” en dit gee jou moed om dit môre weer te doen. En jy het die salige wete dat elke dag se bietjie ‘n jaar se baie word.
Die vryheid om self ’n ideale tuisskooldag te skep
Dit kan skrikwekkend voel om te besef jy het die vryheid om te kies wat julle doen. Jy en ek is kinders van die industriële tydperk, waarin ons aangesê is wat ons moet doen. Ons almal wat deur ‘n skoolstelsel is, is eintlik voorberei om fabriekswerkers te wees wat op ‘n voerband werk. Dis hoekom banke en stoele in skole soos in ‘n fabriek gerangskik is.
Maar tye het verander. Deur self uit te werk wat jou kind moet leer en wanneer hy of sy dit moet leer, berei jy jou kinders baie beter voor vir ‘n wêreld waarin hulle vir altyd sal moet aanhou leer. Kleintyd al raak hulle gewoond aan dié manier van werk:
1. Stel vas wat jy moet leer
2. Vind maniere om dit te leer
3. Leer dit aan
4. Herhaal en herhaal
Met hierdie manier van doen, berei jy hulle baie beter voor om te kan oorleef en gedy in ‘n nuwe era, waar robotte al die roetinewerk doen en mense net die vernuwende en die kreatiewe take.
As vryheid eers in die siel van ‘n mens ontplof het, kan die gode niks aan so ‘n mens doen nie. – Jean Paul Satre
Die Franse filosoof Jean Paul Satre het ’n klomp onsin kwytgeraak. Maar die dag toe hy gesê as vryheid in die siel van ‘n mens ontplof het, die gode niks aan so ‘n mens kan doen nie, het hy ’n baie waar ding gesê. En met gode moet jy hier aan owerhede, stelsels en nuwe tydvakke dink.
Laat die vryheid in jou siel ontplof, liewe tuisskoolma. Laat daardie vryheid jou onaantasbaar maak vir regerings en modegiere. Skep self jou ideale dae.