Hoekom Vygotsky nooit vir die kind die antwoord gegee het nie


Hoe leer kinders? Wat is die rol van die ouer of die onderwyser? Dis vrae waarmee ʼn briljante Russiese onderwyskundige ook geworstel het. Sy naam was Lev Vygotsky. In hierdie artikel kry veral drie idees van Vygotsky aandag. Sy insig dat die Een wat Meer Weet nooit die antwoord moet gee nie, maar steierwerk moet verskaf, is goud werd vir tuisskolers.

1. Vygotsky se Sone van proksimale ontwikkeling (SPO)

Ontwikkeling en leer vind plaas omdat jy gekonfronteer word met ʼn probleem wat jy net-net nie kan baasraak nie. As die probleem te moeilik is, raak jy gefrustreerd. Is hy te maklik, raak jy verveeld. Die een deel is waar die leerder “ek kan” sê; die ander deel is waar hy of sy “ek kan nie” sê.

Die leerprobleme waarmee jy kinders dus konfronteer, moet in hierdie SPO wees, nie te maklik of te moeilik nie, maar net mooi reg.

Baie belangrik: elke leerder het vir elke leersituasie sy of haar eie sone van proksimale ontwikkel. En dis die dilemma van skole.

2. Vygotsky se EMW

Die probleme waarmee jy kinders in die leersituasie konfronteer, moet hulle met die hulp van die ouer of ʼn onderwyser kan oplos. Vygotsky het hierdie fasiliteerder die Een Wat Meer Weet of EMW genoem. Veral van belang vir ons tuisskolers is dat die EMW ook ʼn ander kind, soos ʼn boetie of ʼn sussie, kan wees. Die EMW is bloot iemand wat reeds die spesifieke probleem bemeester het.

3. Vygotsky se steierwerk

Die EMW help die leerder die heel beste steierwerk te verskaf. Dit beteken die EMW gee nie vir die leerder dadelik die antwoorde nie, maar gee leidrade of wenke, sodat die leerder self die probleem kan oplos.

Daar is ʼn baie oulike video op YouTube waar ʼn ma haar seuntjie van ses baie mooi met goeie steierwerk help om ʼn probleem op te los.

Ek stel voor jy gaan kyk eers gou die video. As jy terugkom, sal ek vir jou uitwys presies waar en hoe sy steierwerk verskaf het.

Kom ons ontleed nou die video aan die hand van Vygotsky se idees

 

 

Die groot voordeel van tuisskool in die Vygotsky model

As tuisskolers het ons die wonderlike voorreg dat ons presies in ons kinders se Sone van Proksimale Ontwikkeling kan werk. Vergeet daarom van die storie dat ʼn gemiddelde kind van ʼn spesifieke ouderdom al op ʼn sekere vlak behoort te wees. Dis taal wat nodig is as jy met ʼn klas van 30 of 40 kinders sit. As tuisskoolouer kan jy jou kind ontmoet PRESIES daar waar hy of sy is.

Die groot gevaar vir tuisskool volgens die Vygotsky model

Die fout wat baie tuisskoolouers maak (en ek sluit myself hierby in) is dat ons te gou en te maklik vir ons kinders die antwoord van die probleem wil gee. Ons wil hulle so graag leer. Maar om ons kinders te help om self te leer, moet ons hulle toelaat om eers ʼn bietjie te sukkel en te stoei met ʼn probleem.

Ons taak is om die steierwerk te verskaf, maniere om dit vir die kind makliker te maak om te leer. Maar hy of sy leer net regtig as hulle self die probleem oplos.

Die doel van onderwys dat jy jou kinders bemagtig om hulleself bevoeg en bekwaam te maak.

 Ek hoop hierdie artikel en video gee jou meer insig en inspirasie hoe om tuisskool beter aan te pak.

Iets meer oor Lev Vygotsky:

Hy is in 1896 in wat vandag as Bela-Rus bekend is, gebore, die sesde van agt kinders. Sy laerskoolonderrig ontvang hy tuis deur ʼn tutor. Hy vaar baie goed in die hoërskool en gaan studeer daarna in Moskou. In 1934 sterf hy op 37-jarige-leeftyd aan tering. Die verspreiding van sy werk word na sy dood deur Stalin verbied. Maar sy vrou en dogters bewaar sy geskrifte sorgvuldig, en na die dood van Stalin, ontdek die Weste Vygotsky se wonderlike werk.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui