Ek deel graag met jou hierdie manier om jou tuisskool-voorsprong te benut en jou kinders te leer hoe om hulle gedagtes te orden en hoe om hulle vlotter uit te druk.
Dis gratis en verniet, vat maar net ’n paar minute per dag, maar dit kan oneindig baie help jou kinders se taal- en denkontwikkeling. Boonop is dit baie prettig.
Benut jou tuisskool-voorsprong
Jou kind gaan leer om elke dag ’n kort onvoorbereide toesprakie te maak. Eerstens kies julle ’n onderwerp. Jy kan jou eie opmaak, maar daar is baie webwerwe wat vir mens onderwerpe uitspoeg, tik net in: “topic generator”. Of sien die skakel onder. Kies lekker lawwe en selfs absurde onderwerpe.
Dan kry die kind ‘n paar minute om sy toesprakie oor die onderwerp wat julle gekies het, voor te berei. Die tyd wat die kind vir voorbereiding kry kan jy wissel afhangende van jou kind se ouderdom.
Probeer vir eers 3 minute, maar as jy agterkom dit werk nie, maak dit dan 5 minute.
Dan moet die kind dan nou vir die vasgestelde aantal minute oor die onderwerp praat. Eksperimenteer ook gerus met die lengte van die toespraak.
Maak dit geleidelik al hoe langer. Vir ’n kind van nege kan ’n minuut al baie lank wees om te praat, maar die idee is dat die kind uiteindelik vir ’n volle vyf minute moet praat. Die belangrike is dat hulle geleidelik leer om hulle gedagtes te orden in ’n toesprakie met ’n goeie struktuur.
As jy meer as een kind het, volg die proses een-een vir elke kind: kies ’n onderwerp, x aantal minute vir voorberei, x aantal minute vir praat. Moenie almal gelyk laat voorberei en die een na die ander hulle toesprake laat lewer nie, want dan gaan hulle, soos ons mense mos almal maak, nie na mekaar se toesprake luister nie, maar heeltyd dink wat hulle gaan sê.
Jou ouer kinders kan die oefening selfs met mekaar doen en jy kan met ander werk aangaan met die jongeres.
’n Voorbeeld: Rooi vs blou, wat is die beste?
Om die hele proses bietjie beter te verduidelik gebruik ek dié onderwerp: wat is die beste kleur, rooi of blou?
Die kind moenie gorrel oor die onderwerp nie deur byvoorbeeld net al die blou goed waaraan hy kan dink, op te noem nie, maar moet standpunt inneem en ’n kant kies. Byvoorbeeld: blou is ’n baie, baie beter kleur as rooi. Dan moet hy met drie punte vorendag kom om sy posisie te verdedig.
Die punte kan byvoorbeeld:
- uit sy eie lewe kom
(blou is beter as rooi omdat ek agterkom ek slaap beter onder my blou duvet as my rooie)
- uit iets wat hy gelees het
(navorsing wys mense is eerder bereid om iemand wat blou klere dra aan te stel as iemand wat rooi klere dra)
- of selfs iets verspot en verregaande wees wat hy uitgedink het
(blou is beter, want water wat uit die kraan met blou knoppie kom, brand my nooit nie).
Hy moet dan ’n bietjie uitbrei oor elkeen van die drie punte. Byvoorbeeld oor die eerste punt kan hy sê hy het sy eie navorsing gedoen en vir ’n week lank sy duvets afgewissel en neergeskryf hoe lank dit hom vat om aan die slaap te raak. Met die bloue op die bed het hy elke nag vinniger aan die slaap geraak.
Aan die begin sal jy bietjie moet help en hulle wys hoe mens uitvoerig kan uitwei oor “kamstige” navorsing.
Laat die kinders aspris feite uit hulle duim suig …
Die kind kan (móét amper!) feite en bewyse uit sy duim suig. Moenie die proses ernstig opneem nie. Ons probeer vir hulle, soos die Engelsman sê, “the gift of the gab” leer. Hoe meer verregaande sy sogenaamde bewyse, hoe beter, want dan gaan almal meer lag en die oefening meer geniet.
Nadat hy op al drie sy punte uitgebrei het, moet hy in sy slotopmerkings weer sy drie punte opsom. Heel aan die einde stel hy weer duidelik sy standpunt deur die hoofpunte verkieslik bietjie nuwe oemf te gee. Soos byvoorbeeld:
- blou is die kleur van die hemel en is daarom meer verhewe as rooi
- of rooi is die kleur van kersies wat mens op koeke sit en is daarom die beter kleur
Om so ’n toespraak te maak, is moeiliker as wat dit klink
Jy kan gerus die oefening saam met jou kinders probeer doen. Glo my, jy gaan jou naam lekker krater voor hulle maak. Dis moeiliker om so ’n toesprakie met samehang te lewer as wat dit klink. My twee het al gelê soos hulle lag vir my lomp pogings.
En as jy regtig goeie resultate wil hê, laat die kind die volgende dag die ander kant kies om te verdedig, met ander woorde as hy Dinsdag gesê het blou is beter, laat hom Woensdag rooi kies en met drie nuwe argumente vorendag kom.
Doen hierdie oefeninkie vir ’n paar maande elke dag en jy sal verstom staan hoe lekker vlot jou kinders leer praat. Onthou kies aspris lekker lawwe onderwerpe. Dit maak dit meer pret.
Kry hier onderwerpe om oor te praat
Lees ook hierdie artikels:
Hoekom voorlees so belangrik is.



Weet jy nie waar om met tuisonderwys te begin nie?
Voel jy skoon verward oor al die opsies en keuses en moontlikhede?
➡️ ➡️ ➡️ Begin hier.
In Gratis&Verniet gaan jy alles vind sodat jy dadelik met tuisonderwys kan wegspring.

Vind onder andere uit:
- Waarop jy moet fokus as jou kinders laerskoolouderdom is
- Wat al die voor- en nadele van elkeen van die verskillende matriekroetes is
- Hoe om jou kind se werk te merk
- Hoe om ander mense (en jouself) te oortuig dat tuisskool die beste ding is
- Hoe om te weet of jy jou kind op standaard is
Daar is:
- Voorbeeldlesse
- Webinare (3 ure se kyktyd)
- Video’s (2 ure se kyktyd)
- Werkboeke wat jy kan deurwerk om jouself op koers te kry
- PDF’s met van die beste idees oor tuisonderwys
- ʼn Aftiklysies wat jou help om die ideale tuisskooldag te beplan
- Platsakplanne wat jy kan maak
Geniet hierdie skatkis van gratis hulpbronne wat jou dadelik:
- Gemoedsrus
- Fokus
- Goeie struktuur
- Afskopplekke gaan gee
Maak ʼn skittersukses van tuisonderwys.
Skryf hier in vir die nuwe gratis kursus:
https://tuisskool-in-afrikaans.teachable.com/p/gratis-verniet/










Baie baie dankie dis baie oulik
Bly jy hou daarvan, Anel!