Die varkie oor leerstyle moet ons dalk maar slag


Die Kiwi Neil Fleming wou graag ʼn webwerf begin met die naam vark.com, maar kon dit nie regkry nie. Die naam het reeds aan ʼn troeteldierwinkel in Pennsilvanië in Amerika behoort, wat erdvarke verkoop.

Fleming wou die webwerf gebruik om sy idees oor verskillende leerstyle wat verskillende mense sou hê te verkoop. Dit word opgesom deur die akroniem VARK.

  • V verwys na visueel-ruimtelik (m a w iemand wat in prentjies dink)
  • A verwys na ouditief (auditory) (iemand wat die beste leer deur dinge te hoor)
  • R verwys na lees (reading) (iemand wat leer deur dinge te lees)
  • K verwys na kinesteties (iemand wat leer deur beweging)

Fleming het nooit besef dat vark ʼn Nederlandse (en Afrikaanse) woord is nie.

Teorieë oor leerstyle is al lank in omloop

Die eerste persoon om oor sogenaamde leerstyle te praat, was Fleming beslis nie. Volgens sommige bronne is die idee al meer as honderd jaar in omloop.

Daar is glo nie minder nie as 71 variasies daarvan beskikbaar.

Maar Neil Fleming se VARK ene was verreweg die gewildste model en vraelys oor leerstyle. Dis deur miljoene onderwysers, ouers en leerders wêreldwyd gebruik. Vandag nog glo baie mense dat hulle ʼn dominante leerstyl het waarin hulle verkieslik moet leer.

Ongelukkig is dit nie waar nie.

In 2000 al het die satiriese internetkoerant, The Onion die spot gedryf met leerstyle.

Hulle het ʼn tong-in-kies-artikel gepubliseer oor leerders wat dan nou kastig die beste met hulle reuksintuig leer. Hoe moet hierdie arme kinders dan nou leer uit reuklose handboeke?

Al hoe meer navorsing wys dat die idee van leerstyle nie water hou nie

In 2009 het die eerste wetenskaplike artikels begin verskyn om te wys die hele idee van leerstyle is nie waar nie. Die eerste artikel het gegaan oor kritiek op die metodologie wat navorsers gebruik het om hulle teorie oor leerstyle te probeer bewys.

Nog studies het gevolg.

In 2015 het navorsers gewys dat sogenaamde visuele leerders die beste gevaar het met begripstoetse, hetsy of hulle die toetse gelees of gehoor het.

Onderwysers bewys ʼn sogenaamde ouditiewe leerder ʼn onguns deur die hele tyd terug te gaan na hulle ouditiewe voorkeur in plaas daarvan om hulle lees- en visuele vermoëns te versterk, het die navorsers agterna gesê.

ʼn Studie uit 2017 het gewys dat dit lyk of mense probeer leer op die manier wat hulle dink hulle leerstylvoorkeur was, maar dat dit hulle nie gehelp het nie.

Kennis van leerstyle het nie regtig gehelp nie

In dié geval het dit daarop neergekom dat sommige mense meer van prentjies hou en ander meer van woorde, maar nie dat hulle voorkeur aan woorde of aan prentjies hulle regtig gehelp het om iets beter te onthou nie.

Nog navorsing wat in 2018 gedoen is, het weer eens bewys dat die idee van leerstyle nie van studente beter leerders maak nie.

Die navorsers het vir meer as 400 anatomiestudente die VARK vraelys gegee. Hulle het toe inligting gekry watter hulle voorkeurleerstyl is en hoe hulle die beste sou leer.

Die navorsers het egter bevind:

  • die studente gebruik nie instinkmatig hulle voorkeurleerstyle nie.
  • selfs al gebruik hulle doelbewus hulle voorkeurleerstyl, kry hulle nie beter punte nie.

Om te dink HOE jy leer, is egter ‘n goeie ding

Agterna het die een navorser gesê: “Ek dink dat VARK ʼn goeie ding is omdat dit jou laat dink oor HOE jy studeer, maar die manier waarop hierdie leerstyle gekategoriseer word, is nie geldig nie.”

Daniel Willingham van die Universiteit van Virginia het in 2015 deur al die navorsing oor leerstyle begin gaan.

Hy sê ronduit: die teorie oor leerstyle hou nie water nie.

Willingham verduidelik dat dit beslis waar is dat verskillende mense verskillende vermoëns het. Party mense lees beter en vinniger. Ander se gehoor is nou weer baie fyn ingestel.

Verskillende leertake vra vir verskillende maniere van leer

Die probleem is dat die verskillende leertake egter verskillende leerstyle vra.

  • Byvoorbeeld om ʼn vreemde taal aan te leer, help dit nie jy “visualiseer” die uitspraak daarvan nie; jy moet dit kan hoor.
  • En soos wat ons gesien het, om goed te vaar met ʼn begripstoets moet jy die stuk verkieslik lees en jy moet ook jou eie antwoorde kan lees. Jou leesvermoë moet dus goed wees.
  • As jy nou weer wil leer hoe om ʼn mikroskoop te gebruik, gaan dit nie help om net daaroor te lees of om ʼn lesing daaroor te hoor nie, jy sal self die mikroskoop moet hanteer.
  • Om vir iemand te beduie hoe om op ʼn plek uit te kom, is ʼn kaart waarskynlik die beste manier. Dit weet die mensdom al vir eeue.

Willingham sê dat niks slegs met jou gaan gebeur as jy aan jouself as ʼn visuele of ʼn ouditiewe leerder dink nie. Dis net dat dit jou ook eintlik nie vreeslik baie help nie.

Dis baie beter om aan die verskillende leerstyle te dink as ʼn gereedskapkissie wat jy tot jou beskikking het. In elke leersituasie vra jy jouself dan af: wat is die beste gereedskapstuk wat ek hier kan gebruik?

Hoe kan jy al die leerstyle gebruik om regtig goed te leer?

Of nog beter, hoe kan ek AL die verskillende maniere gebruik om regtig goed te leer.

Kom ons neem leer perdry as ʼn voorbeeld.

  • Mens kan dadelik aanvoel dat die kinestetiese deel van perdry baie belangrik gaan wees. Jy gaan nooit leer om regtig goed perd te ry as jy net daaroor lees nie.
  • Maar dis net so belangrik dat jy jou visueel instel om byvoorbeeld afstand en hoogte te kan skat, veral as jy met die perd wil spring.
  • As jy boonop jou oor kan inoefen om te hoor hoe draf anders klink as galop, kan dit jou verder help
  • En natuurlik kan dit dalk ʼn goeie ding wees om oor perdry en beroemde ruiters te lees en so uit te vind van verskillende tegnieke om dit goed te doen

Dis slegte nuus as ons uitvind ons mense is aansienlik komplekser as wat ons vermoed. Maar dis net sulke goeie nuus, want dit beteken ons het ongelooflike vermoëns van ons Skepper gekry om te leer en te leef.

Lees ook hierdie artikel as jy meer inspirasie en idees oor tuisonderwys nodig het.

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

one × 2 =