Skep moed vir tuisonderwys


Skep weer moed vir tuisonderwys. Een van die redes waarom jy tien teen een jou kinders uit die skool gehaal of hulle nie wil skool toe stuur nie, is omdat jy moeg is vir die ewige besig wees, nie waar nie?

Die akademiese besig wees, is al erg genoeg. ʼn Graad 4 kind se huiswerkboek wat vir hierdie Donderdag die volgende op die lysie het: doen 150 somme + berei ʼn toespraak voor oor die verskil tussen reptiele en amfibieë + leer 200 Engelse spelwoorde.

Goed, goed, ek oordryf, maar jy weet wat ek bedoel. Dit lyk so baie keer of skole net daarop uit is om kinders besig te hou.

En dan … dan is daar al die aktiwiteite waarby jy as ouer betrokke is om die skool aan die gang te hou: pannekoekbak by Saterdag se rugby, die ma-dogter-modeparade se kaartjies wat jy aan jou onwillige vriendinne moet afsmeer, koeksisters wat jy aan jou bure moet smous.

Onlangs het ʼn brief van ʼn skool in Alabama, Amerika opslae gemaak toe die skool reguit gesê het as ouers keelvol is vir die ewige fondsinsamelings, hulle doodeenvoudig net ʼn donasie kan gee.

Een van die verligte ma’s het die brief op Facebook gedeel en gesê: Wat ʼn vars briesie!

Dit was beslis nie die hoofrede nie, maar die nimmereindigende fondsinsamelings wat skole altyd het, het my beslis afgeskrik. Ek haat dit om goed te probeer verkoop aan onwillige kopers. In daardie opsig was tuisonderwys vir my ʼn groot verligting.

Maar goed, jy het nou jou kinders uit die skool gehaal of hulle nooit in die skool gesit nie, maar werfhoendertjies wat vir kwaadgeld rondhardloop wil jy ook nie van jou kinders maak nie.

Hoe beplan mens jou tuisskooldag sinvol?

Hier is vir jou ʼn paar vyf beginsels om oor na te dink.

1. Skep moed deur te onthou — hoe minder jy doen, hoe beter

Kom weer? hoor ek jou al sê. Glo my, tuisonderrig is onderwys in supergekonsentreerde formaat. Die onderwyser-leerder-verhouding is baie, baie kleiner as in skole. Jou kind gaan vinniger leer as in ʼn skool.

Hou lestye daarom kort. Vat gereeld blaaskanse wat verkieslik tye van ongestruktureerde spel insluit. Buite!

2. Kry ʼn doelwit en skep só moed

Skryf jou doelwit vir tuisonderwys neer. Skryf ook neer wat julle elke dag wil bereik en merk dit af. Die heerlike dopamienspuite in jou brein as jy daardie regmerkie langs die afgehandelde taak kan maak, laat jou baie goed laat voel.

3. Vergeet van “multi-tasking” – fokus en skep daardeur moed

Die hele idee dat ons meer as een ding op ʼn slag goed kan doen, waarmee vrouens glo selfs beter as mans is, is ʼn mite. Jou brein kan net op een ding op ʼn slag konsentreer. As jy jou aandag tussen verskillende take verdeel, spring jou brein die heeltyd tussen hulle rond.

Daarom: as jy vir jou kinders voorlees, doen net dit. En dieselfde reël geld ook vir hulle. As jy voorlees, moet hulle nie in ander boeke rondblaai nie. Hulle mag wel teken of klei speel, want dit is aktiwiteite wat mens amper sonder dink kan doen.

As julle Wiskunde doen, moenie tussendeur probeer kos maak of wasgoed wegpak nie. Een ding op ʼn slag!

4. Skep moed deur te onthou jy het baie tyd

Rome is nie in een dag gebou nie. En om ʼn kind goed groot te maak, vat ook baie tyd. Dink aan tuisonderwys as ʼn marathon, nie ʼn naelloop nie. Stel die hele situasie so op dat jy dit vir jare kan volhou.

5. Maak toe die lus om moed te skep

Dis ook baie belangrik om gereeld terug te kyk oor wat julle bereik het. In die eerste plek gee die herinner aan die klein winste wat jy en jou kinders jou gemaak het, jou moed om aan te gaan.

Maar deur terug te kyk oor ʼn langer periode kry jy ook ʼn gevoel waar jy iets moet verander of aanpassings moet maak. Hou weekliks so ʼn vinnige terugkyk-sessie, maar doen dit elke 90 dae meer volledig.

As jy meer inligting en sommer net ’n bietjie inspirasie nodig het oor hoe om ʼn tuisonderwys sinvol te beplan, onthou ek het ʼn reeks artikels oor ʼn meer ontspanne tuisskooldag vir jou beskikbaar. Gratis en verniet.

Gaan loer gerus na die artikels.

Meer hulp, leiding of inspirasie nodig? Gaan skryf dan in vir hierdie oulike kursus.

Nadat ek die afgelope twee jaar honderde e-posse van moedelose ma’s gekry het, wat:

• Oortuig is dat hulle hul kind se toekoms en selfbeeld opduiwel met tuisonderwys

• So oorweldig voel oor hoe hulle tuisonderrig suksesvol moet aanpak dat dit vir hulle voel hulle is alleen op ’n reddingsbootjie in ’n die see en nêrens is daar hulp nie.

• Bang hulle is te dom of weet nie genoeg om te kan tuisskool nie

• In die nag wakker lê omdat hulle kinders nie “op standaard” is nie, want die skoonsuster het hulle neus weer daarin gevryf toe sy by die braai haar kinders se prag rapporte rondgewys het en toe so ewe vra: “En hoe vorder julle outjies, hm?”

Het ek hierdie aanlyn kursus saamgestel, wat maklik is om te gebruik en wat vir jou presies gaan wys wat die dinge is wat jy oor tuisonderwys moet glo, weet, doen en aanhou doen om ’n skittersukses daarvan te maak.

En dit boonop so te doen dat jy en jou kinders die hele leerproses geniet.

Klink dit soos iets wat jy graag wil hê? Vind dan meer uit oor die aanlyn kursus: 21 dae na sukses as tuisskoolma

Klik hier!

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

seventeen − 8 =