Take wat mense kan doen, maar robotte nie, raak skynbaar al hoe minder. Is ons besig om blikmonsters te skep wat ons kinders uit werkplekke gaan druk en dit onmoontlik vir mense gaan maak om hul brood en botter te verdien? Van die nuutste robotte wat mens te siene kry, gee my die horries. Hulle is so GROOT en omdat hulle soos mense of diere lyk, laat hulle my aan gedrogte dink.
Gelukkig lyk alle robotte darem nie soos monsters nie. Daar is nou een in Hong Kong en nog een in San Francisco wat ewe vriendelik vir jou koffie kan maak. Tans koop baie mense glo hulle daaglikse vroegoggendkoffie by dié masjiene net oor die aardigheid daarvan. Nog robotte kan ook hamburgers maak.
ʼn Ander soort “robot” kan vir mens regshulp gee. Dié robot is glo meer as net ʼn rekenaartoeps, wat hy vergelyk uitsprake van honderde hofsake en interpreteer dit. In dié veld is daar ook ʼn robot wat jou kan help om ʼn spoedkaartjie te laat kanselleer. Nee, jammer, net in Brittanje beskikbaar.
Dié robot maak tuin
My gunsteling robot is een wat glad nie soos ʼn mens lyk nie, maar ʼn wonderlike werk doen — hy maak tuin. Op ʼn baie klein oppervlaktetjie kan mens talle verskillende soorte gewasse groei, want jy programmeer die tuinmasjien om vir elke ander soort plant presies die regte hoeveelheid water en plantkos te gee vir maksimale groei. Die tuinmasjien het ook ʼn kamera waarmee hy onkruid kan eien, wat hy netjies weer onder die grond indruk. Vir iemand soos ek, wat berug is vir hoe sy plante kan laat vrek, klink so ʼn kontrêpsie na net die ding. Ongelukkig is hy, soos die meeste robotte bietjie duur.
Besoek dié fabriek gerus om robotte aan die werk te sien
As jy ooit die kans kry om die BMW fabriek in Rosslyn, noord van Pretoria te besoek, doen dit gerus. In dié fabriek is talle robotte. En nee, hulle lyk glad nie soos mensmonsters nie, maar meer soos hyskrane. Die verf van een van die BMW modelle, wat nogal uitgevoer word, se bakwerkpanele word byvoorbeeld volledig deur robotte behartig. Onverpoosd, dag en nag, doop en droog die robotte, die panele. Dis maklik om ʼn besoek vir ʼn groep tuisskolers te reël. Gaan kyk op die BMW aanleg se webwerf hoe mens dit doen.
Maar dis ʼn feit soos ʼn ysterkoei (om nou vir ʼn oomblik Breytenbach te gaan) dat robotte mense stadig maar seker uit beroepe druk. Sien byvoorbeeld die artikel oor ʼn fabriek in China wat na robotte oorgeskakel het en hulle produktiwiteit met 250% verhoog het. Ongelukkig was dit ten koste van die werksmag, wat met 90% verminder is: eens het daar 650 mense by die fabriek gewerk, na outomatisasie werk net 60 mense daar.
Leer dink: dis hoe ons as tuisskolers ons kinders beter voorberei vir die toekoms
In die kompetisie teen robotte het ons tuisskolers ʼn unieke voorsprong. Dis iets eenvoudigs, maar nie noodwendig so maklik om reg te kry nie. Ons weet ons belangrikste taak is om van ons kinders lewenslange leerders te maak.
John Holt, die groot gees in opvoedkundige kringe, wat onderwys omgekeer het met sy boeke How Children Learn enHow Children Fail sê:
“Aangesien ons nie weet watter kennis die meeste in die toekoms nodig gaan wees nie, is dit sinneloos om dit vooraf te probeer leer. Ons moet liewer mense skep wat so lief is vir leer en wat so goed kán leer dat hulle in staat is om te leer wat ook al nodig is.”
Soos iemand nou die dag sê: die nuutste robotte lyk vreeslik indrukwekkend tot mens onthou hulle is veronderstel om goed te kan doen soos skottelgoed was of huis skoonmaak. Dan besef jy weer eens hoe lomp die masjiene nog is. In die heel eerste video hieronder kan mens dit byvoorbeeld sien hoe sukkel die robot om iets op te tel. Eers dan besef jy hoe ver masjiene nog ontwikkel moet word.
Leer dink, dis waarmee blikbreine faal
Onthou jy die Tesla motor wat in ʼn trekker-sleepwa, wat die pad voor die motor gekruis het, vasgery het? Die Tesla, wat in selfbestuur of robot-modus was, se kamera kon nie die wit voertuig teen die helder lug as ʼn hindernis uitmaak nie, sy outomatiese remfunksie het nie aangekom nie en kaboems! het hy binne-in die sleepwa vasgery.
ʼn Mens sou nie so ʼn fout gemaak het nie. Ons waarneming is beter. Maar ons het selfs ʼn groter voordeel bo robotte: ons vermoë om vinnig en effektief iets nuuts te leer. Dis wat ons bo robotte laat uitstaan. Ongelukkig is dit ʼn vermoë wat ons huidige skoolstelsel baie onderdruk. “Te dikwels,” sê die wetenskaplike Roger Lewin, “gee ons vir kinders antwoorde om te onthou, in plaas van probleme om op te los.”
Leer dink. Leer probleme oplos
Dis waar jy as tuisskoler jou onderwys moet fokus. Leer jou kind probleme oplos. Leer hulle om nuwe, onverwagse verbande tussen dinge raak te sien, iets wat geen rekenaar of robot kan doen nie. Met ander woorde leer hulle om te dink.
Toe hy gevra is watter vaardighede studente en toekomstige leiers van 21ste eeu moet hê, het die Kanadese sielkundige, Jordan B Peterson, onder meer gesê dat as jy in staat is om jou argument te organiseer op die vlak van ’n woord, ’n sin, ’n paragraaf en uiteindelik ’n opstel, jy jou gedagtes en gevolglik jou brein kan organiseer. Dan kan jy behoorlik dink.
En dis met georganiseerde gedagtes en breine wat voortdurend kan dink en leer wat ʼn tuisgeskoolde kind robotte gaan klop. Elke liewe keer.
Op soek na meer raad en wenke om suksesvol te kan tuisskool?
In Gratis&Verniet gaan jy alles vind sodat jy dadelik met tuisonderwys kan wegspring
Vind onder andere uit:
- Waarop jy moet fokus as jou kinders laerskoolouderdom is
- Wat al die voor- en nadele van elkeen van die matriekroetes is
- Hoe om jou kind se werk te merk
- Hoe om ander mense (en jouself) te oortuig dat tuisskool die beste ding is
- Hoe om te weet of jy jou kind op standaard is
Daar is:
- Voorbeeldlesse
- Webinare (3 ure se kyktyd)
- Video’s (2 ure se kyktyd)
- Werkboeke wat jy kan deurwerk om jouself op koers te kry
- PDF’s met van die beste idees oor tuisonderwys
- ʼn Aftiklysies wat jou help om die ideale tuisskooldag te beplan
- Platsakplanne wat jy kan maak
Geniet hierdie skatkis van gratis hulpbronne wat jou dadelik:
- Meer gemoedsrus
- Fokus
- Goeie struktuur
- Afskopplekke gaan gee
Maak ʼn skittersukses van tuisonderwys.