Die groot vraag – suksesvolle tuisskool – hoe doen mens dit?
As jy aan julle tuisskoolreis dink soos die vlieënier van ’n vliegtuig aan sy reis sou dink, kan dit jou help om meer in beheer te voel. Veral as jy boonop vooraf ’n behoorlike vlugplan opgestel het en weet wat julle uiteindelike bestemming gaan wees. Nes ’n vliegtuig net spoed en hoogte nodig het om aan te hou vlieg, het tuisskool ook net twee dinge nodig om suksesvol te wees. Onthou ook dat mens beter vorder met bietjie werk elke dag, as marathon-sessies elke nou en dag.
1. Hou kontak met die toring
In die eerste plek moet jy as die vlieënier die heeltyd kontak hou met die lugbeheertoring. Dit beteken dat jy elke dag jou dag reg moet begin.
Dit klink amper te maklik, maar jy moet jou dag met gebed begin. Dra elke dag jou en jou kinders en julle tuisskooldag aan die Here op en vra vir sy seën en leiding.
Hierdie stap gee weer vir jou die perspektief dat wat jy as ma doen ewigheidswaarde het. Dink daaraan dat jy die heel belangrikste werk in die hele wêreld het. Om jou kinders in die vrese van die Here groot te maak, is van die min arbeid in hierdie ou wêreld van ons wat vir altyd gaan hou.
2. Moniteer julle vlug deurlopend
Haal aan die einde van elke dag jou joernaal uit en skryf die dinge neer wat jy dink aandag moet kry, soos dat Sussie nog sukkel om in twees te tel. Of dat Boeta nog nie vlot genoeg lees nie. 15 Minute aan die einde van elke dag? Jy kan dit seker afknyp, of hoe?
Baie, baie belangriker vir al die bekommerpotte onder ons (en die uwe is beslis daarby ingesluit) is dat jy ook elke dag se klein suksesse neerskryf.
Jy sien, as jy iemand is wat van nature fokus op negatiewe gevoelens, en die mislukkings en die gesukkel beter onthou as die suksesse, moet jy DOELBEWUS die positiewe dinge neerskryf en gereeld weer lees.
Byvoorbeeld: Boeta het vandag 2 uit 3 keer nie b en d omgeruil nie. Of Sussa het op haar eie die vloer opgevee nadat sy aanmaakkoeldrank uitgemors het
Onthou as mens sukses behaal, spuit daar goedvoel stowwe in jou brein in, met die naam van dopamien. Dopamien wat aktief in jou brein is, maak die kans dat jy die gedrag wat die sukses vir jou gegee het, gaan herhaal. Ons is sulke sosiale wesens, ʼn goedkeurende glimlag is genoeg om dopamien vry te stel. Onthou van hierdie kragtige middel waarmee jy jouself en jou kinders ten goede te beïnvloed.
Daarom wil ek jou aanmoedig: vier die klein positiewe dingetjies wat in julle lewens gebeur. Herdenk elke piepklein sukses. Teken elke klein oorwinning aan. En keer gereeld terug daarheen.
3. Jy het net twee goed nodig om aan te hou vlieg
Vir ʼn vliegtuig om in die lug te bly het hy net twee goed nodig: spoed en hoogte. Daar is dinge wat die vlug beter maak en vinniger en meer gerieflik. Soos ʼn aërodinamiese vliegtuig en goeie weersomstandighede. Maar om aan te hou vlieg moet ʼn vliegtuig net hoog genoeg en vinnig genoeg vlieg.
Jou kinders hoef met net twee dinge te vorder in suksesvolle tuisskool. Taal en syfers.
Te bang om my te glo? Dink dan ʼn bietjie daaroor. As jou kinders kan lees, skryf en reken het hulle alles wat hulle nodig het om hulleself te leer. Anders as in die Middeleeue toe boeke skaars was en slegs beskikbaar by ʼn paar groot biblioteke is kennis vandag goedkoop en uiters maklik bekombaar. Jou kinders kan hulleself enigiets leer as hulle net taal en syfers goed en met begrip kan vertolk.
Jou kind is nie ‘n leë houer nie …
Daar is nog iets wat jy sommer nou dadelik ook moet begin glo. Jy kan jou kinders nie leer nie. Hulle moet hulleself leer. Al wat jy kan doen, en wat jy MOET doen, is om die geleenthede te gee dat hulle self kan leer. Daarom moet daar boeke in jou huis rondlê, waaruit jy ook voorlees en daarom moet jy oor moeilike onderwerpe met jou kinders praat.
Jou kind is nie ʼn leë houer wat jy vol kennis kan stop nie. Al manier waarop hy of sy kan leer, is om die kennis hulle eie te maak.
Die fênsie handboeke en duur kursusse is daarom net middele waarmee jy beter en vinniger kan vlieg. Dis nie noodsaaklik om van tuisskool ʼn sukses te maak nie. As jy deur ʼn moeilike tyd gaan, en jou geld en jou tyd min is, keer terug na die twee basiese dinge: taal en syfers.
4. Begin die dag met struktuur vir suksesvolle tuisskool
As jy iemand is wat maklik in jouself twyfel, moet jy doelbewus roetine in julle tuisskooldag inbou wat julle op koers gaan hou. Dinge wat jy van ʼn lysie kan aftik. Aksies wat jy neem om jou angs te verminder.
Hier is ʼn voorstel van ’n dag met jonger kinders
- Begin elke dag se skool op dieselfde tyd en nadat almal ontbyt in het wat hulle breine voed en verkieslik proteïene en vet bevat.
- Spring weg met iets waarvoor ʼn vars verstand nodig is, soos ʼn halfuur se Wiskunde. Dit kan uit ʼn handboek wees of as jou kinders nog nie reg is vir handboeke nie, konkrete syferspeletjies (sien hierbo). Merk Wiskunde 1 van die dag se doenlysie af. Voel hoe stroom die dopamien deur jou brein.
- Nou lees jy vir ʼn halfuur vir jou kinders voor. Vat daarna ʼn kwartiertjie of so en laat hulle terugvertel oor wat gelees is. Merk Voorlees 1 van die dag se doenlysie af. Koester die salige gevoel dat jy nog iets suksesvol afgehandel het.
- Vat ʼn blaaskans en laat elkeen sy eie lemoen in kwarte sny. Dis nie net vitamien C nie, dis ook breuke wat jy nou leer.
- Doen nou weer vir ʼn halfuur Wiskunde, maar doen dit buite deur byvoorbeeld te tel hoeveel keer elkeen eenbeentjie kan spring. Merk Wiskunde 2 van die dag se doenlysie af. Blaak in die glorie — jy het nog iets afgehandel.
- Tyd vir die dag se tweede sessie voorlees en terugvertel. En merk dit van die dag se doenlysie af terwyl die dopamien deur jou brein stroom en jy van oor tot oor vir jou kinders glimlag, wat weer die dopamien in hulle breine laat stroom.
En ontspan …
Nou kan jy ontspan. Jy het alles gedoen wat jy formeel met jou kinders hoef te doen terwyl hulle op laerskoolouderdom is.
(Vir kinders van hoërskoolouderdom lyk die dag uiteraard anders, maar die kans is goed dat hulle in elk geval self gaan vra vir ʼn dag wat meer veeleisend is.)
Die res van die dag is ʼn oop boek, ʼn leë lei, ʼn onoopgemaakte geskenk! Doen wat vir julle lekker is. Nou is dit tyd om dalk daardie handboeke en kursusse te probeer.
Eers op hierdie punt doen jy die remediërende dinge soos om Boeta vir tien minute hardop te laat voorlees uit ʼn lekker boek om sy leesspoed te verbeter. Of om vir Sussa ʼn mooi gediggie te laat afskryf en dit kunstig te versier. Nou kan jou kind video’s kyk oor onderwerpe waarvoor sy ʼn passie het. Of op sy maag in die tuin lê en ʼn mierleeu uit sy gaatjie probeer lok.
En nou is daar ook tyd vir buitemuurse aktiwiteite
Wil sy ballet doen? Dis gaaf. Wil hy leer kitaar speel? Wonderlik. Of sokker of sagtebal of gimnastiek? Daar is tyd om dit ook in te pas, want jy het klaar gesorg dat julle vliegtuig genoeg spoed en hoogte het. Julle is nog rustig op pad na julle finale bestemming toe.

En nou is jy nou soos die fietsryer in hierdie video, wat ontdek het hoeveel makliker dit kan wees om te tuisskool.
As jy begin skuldig voel en suksesvolle tuisskool weer wil opduiwel?
Voel jy skuldig dat julle so min doen? Staar vir ʼn ruk lank na die vier regmerkies wat jy agter Wiskunde 1 en 2 en Voorlees 1 en 2 gemaak het. Blaai na die eerste bladsy van jou joernaal en lees weer die REGTE REDE waarom jy tuisskool. En voel hoe die dopamien drup en drup!
Hier is nog ʼn manier om minder skuldig te voel omdat dit so maklik is. Stel jou voor wat gaan gebeur as jy elke dag vir ʼn hele maand lank jou kind eenbeentjie laat spring en tel terwyl hy dit doen. Hy gaan sy balans beter hou, maar hy gaan ook beter tel.
Of wat gaan gebeur as sy vir ʼn week lank elke dag 18 pennetjies in ewe groot groepe rangskik het. En jy dan die volgende week ʼn probleemgeval, naamlik 19 pennetjies, na haar toe skuif. Kan jy begin verstaan dat sy net sal kan “sien” presies wat is ʼn priemgetal nadat sy 18 so mooi begryp het? Stel jou nou voor dat jy hierdie proses vir ʼn jaar lank getrou volg met syfers en getalle. Kan jy sien hoeveel beter jou kinders syfers volgende jaar hierdie tyd gaan verstaan? Regtig gaan verstaan!
Die beste manier om te vorder vir suksesvolle tuisskool
Jou kinders vorder die heel beste met getroue, konsekwente werk wat julle elke dag bietjie-bietjie doen. Dis stukke beter as om julle in kort sarsies dood te werk.
Sielkundiges het ontdek dat mense gelukkig voel as hulle besluit hulle gáán iets doen en as hulle dit dan inderdaad doen. Wil jy gelukkiger voel? Wil jy hê jou kinders moet gelukkiger voel? Kry elke dag vir julle klein, haalbare doelwitte en sorg dan dat julle die doelwitte haal.
En doen dit môre weer. En die dag daarna … en kyk hoe die klein suksesse opbou tot reuseresultate.
Onthou ook altyd van konsolidasiefases waardeur jou kinders kan gaan. Op die oog af lyk dit dalk nie vir jou of Sussa nie vorder met Wiskunde nie. Maar daar waar jy nie kan sien nie, groei haar brein dalk neurone dat dit klap en op ʼn dag maak sy eenvoudig die deurbraak. Moet ook nie ʼn handboek of kursus uitgooi net omdat jou kinders nog nie gereed is daarvoor nie. Bêre dit net tot ʼn bietjie later.
5. Maak die nodige aanpassings
Kyk, dit help nie ek paai bekommerkouse met ʼn leë slagspreuke soos Don’t worry, be happy of Hakuna Matata nie. Om ʼn pleister op ʼn gebreekte been te plak en dan te hoop die been gaan reg aangroei, gaan nie werk nie. Partykeer moet mens regstellings maak en ʼn heel ander koers inslaan.
Gestel jy het ses of nege maande of dalk ʼn hele jaar getrou elke dag in jou joernaal boek gehou van julle vordering. En nou blaai jy daardeur en kom agter Boeta se leesspoed het die afgelope twaalf maande niks verbeter nie. Dan is dit dalk tyd om hulp en raad by professionele persone te soek.
Partykeer is jou instink reg. Partykeer weet jou moederhart die beste. Maar moenie die besluit om raad te soek of om julle vlugroete drasties aan te pas neem op ʼn tyd wat jy angstig en oorweldig voel nie. Maak dit ʼn kalm besluit wat jy neem nadat jy julle vliegtuig vir ʼn lang ruk al moniteer.
As jy ʼn professionele persoon wil gaan sien, gaan dit ook baie help as jy inligting en patrone kan rapporteer. Jou joernaal kan jou daarmee help.
As jy wil, kan jy ook gaan loer na my kursus, 21 dae na sukses as tuisskoolma, waar jy stap vir stap begelei word deur die proses om jou eie tuisonderrigplan te skep.
Wees goed vir jouself
Jy, liewe tuisskoolma, is soos die gety. As jou moed lig, lig AL die bote in julle huis. Daarom moet jy na jouself omsien. Wees goed vir jouself.
Vat soms ʼn uurlange bad terwyl manlief ʼn ogie oor die kinders hou. Blaai deur ʼn tydskrif sonder om skuldig te voel. Gaan drink koffie saam met ʼn vriendin wat niks van tuisskool weet nie. En met wie jy tog net ʼn slag oor IETS ANDERS kan praat.
En onthou, jy meet ALTYD julle sukses só:
Terwyl jy julle gevlieg op die tuisskoolroete so dophou, vergelyk jou kinders altyd net met hulleself en nooit met ander kinders nie.
Daar is twee redes hoekom dit nooit ’n goeie idee is om jou en jou kinders met ander mense te vergelyk nie:
- Jy weet nie regtig wat in ander mense se huise aangaan nie. Dalk vaar die kinders nie regtig so goed nie.
- Kinders se aanlegte en belangstellings verskil. Een van die redes waarom jy tuisskool is omdat jy juis vir jou unieke kinders unieke onderwys wil bied, nie waar nie?
Die beste manier vir groei en sukses is om te kyk hoe jou kinders gister en eergister en verlede maand gevaar het en dan daarop te probeer verbeter.
Meer inspirasie en raad vir suksesvolle tuisskool nodig?
Gaan loer gerus na hierdie reeks artikels.
Skryf in vir hierdie gratis kursus:

Vind onder andere uit:
- Waarop jy moet fokus as jou kinders laerskoolouderdom is
- Wat al die voor- en nadele van elkeen van die matriekroetes is
- Hoe om jou kind se werk te merk
- Hoe om ander mense (en jouself) te oortuig dat tuisskool die beste ding is
- Hoe om te weet of jy jou kind op standaard is
Daar is:
- Voorbeeldlesse
- Webinare (3 ure se kyktyd)
- Video’s (2 ure se kyktyd)
- Werkboeke wat jy kan deurwerk om jouself op koers te kry
- PDF’s met van die beste idees oor tuisonderwys
- ʼn Aftiklysies wat jou help om die ideale tuisskooldag te beplan
- Platsakplanne wat jy kan maak










Wanneer, in so ń situasie, leer jy kinders om sosiaal met ander om te gaan? Om aan te pas by ongemakliker en onbekende situasies wat sy pad gaan kruis as deel vd lewe? Wanneer laat jy hom uit hierdie kokon los sodat hy of sy met die lewe buite te doen kry? Gestel jy’t net een kind, hoe leer hy om te gee en te neem. Wanneer leer so ń oorbeskermende mensie “cope”?
Oor die sosialisering van tuisskolers en of hulle voorberei word vir die “regte wêreld” is al hope navorsing gedoen. Hierdie artikel gee ‘n goeie oorsig: https://oolfant.com/sosiale-lewe-van-tuisskolers/