Hoe kry jy jou kind aan die praat? Die meeste ma’s geniet dit baie om vir hulle kinders uit heerlike storieboeke voor te lees. Wat baie van ons ongemaklik laat rondskuif, is as die woord terugvertel opduik. Vat terugvertel nie die lekker uit voorlees nie? wonder mens soms.
In hierdie onderhoud verduidelik spraakterapeut Hannekie Verwoerd hoe om jou kind makliker aan die praat te kry. En ook hoekom jy dit moet doen.
“Ek weet daar is baie ma’s wat glo terugvertel is iets wat hulle kinders nie so graag doen nie,” sê Hannekie.
Kry jou kind aan die praat: die regte rede vir terugvertel
Sy sê dis amper soos toe ons op skool was en dan gaan jy op ʼn uitstappie, maar jy weet die volgende dag moet jy ʼn opstel oor die uitstappie skryf. En nou is al die geniet vir jou uit die uitstappie.
“Ek dink ma’s moet ʼn kopskuif maak oor die manier waarop hulle terugvertelling sien. Baie van ons het op skool begripstoetse geskryf. En terugvertelling is vir ons iets soortgelyk aan begripstoetse,” sê sy.
“Die doel van terugvertelling is nie om kennis te toets nie. Die doel van terugvertelling is om jou kind aan die praat te kry!” sê Hannetjie.
Om jou kind te laat sinne formuleer, is eintlik waaroor terugvertelling gaan. Daarom moet jy vooraf dink watter soort sin jy wil hê jou kind moet formuleer voordat jy vir hom ʼn vraag vra.
Kry jou kind aan die praat met die regte vrae
As jou vraag byvoorbeeld begin met “waar” gaan jou kind ʼn sin met ʼn voorsetselfrase in formuleer. Dis ʼn goeie vraag vir ʼn vyf-, sesjarige om te beantwoord.
ʼn Tipiese antwoord sal wees in die boom, op die tafel.
As jy ʼn vraag formuleer wat met “hoekom” of “waarom” begin, dan gaan dit ʼn sin wees wat ʼn voegwoord bevat, soos omdat, want of sodat.
As jy byvoorbeeld vra: Hoekom het Danie die hond geslaan?
Dan moet die kind se antwoord begin met: Danie het die hond geslaan, want …
“Hoe” is ʼn moeiliker vraag om te antwoord. As jy ʼn vraag met “hoe” begin, het jy ʼn verduideliking wat volg.
Kry jou kind aan die praat met volsinne
Nog ʼn ding wat die ma ook mooi moet verstaan is ʼn antwoord soos in die boom is nie ʼn sin nie, dis net ʼn stukkie van ʼn sin. Wanneer jy jou kinders terugvertelling laat doen, is die hele doel daarvan om hulle sover te kry om volsinne te formuleer.
Dit vat vir kinders nogal ʼn rukkie om hieraan gewoond te raak, maar dit is ʼn baie belangrike vaardigheid, want dis goeie voorbereiding vir latere skryfwerk.
As mens skryf, skryf jy met die gedagte dat die persoon aan die anderkant nie die agtergrond het wat jy het nie. Daarom moet jy goed genoeg kan verduidelik dat hy kan verstaan. En dis hoekom dit so nodig is dat jou kind leer om hom duidelik te kan uitdruk. Volledige sinne is ʼn belangrike stap in hierdie proses.
Die ander fout wat ons maak, sê Hannekie, is dat ons vrae te oop is of nou weer heeltemal te toe. Sy noem die voorbeeld dat as jy ʼn vraag begin met die woord “het”, is die antwoord altyd net “ja” of “nee”. Pasop vir sulke soort vrae.
Kry jou kind aan die praat deur nie té moeilike vrae te vra nie
Verder moet mens versigtig wees om te veel insigvrae te vroeg te wil vra. ʼn Voorbeeld daarvan is: “Hoekom het hierdie ou so en so?” Of: “Hoe het hy gevoel toe dit en dit en dit?”
Uiteindelik wil mens by daardie soort vrae uitkom, maar dis heeltemal in orde om aanvanklik net eers die makliker “wat” of “waar” vrae te vra. Maar om dan ʼn volsin-antwoord te verwag.
Natuurlik moet jy vir jou kind verduidelik wat is ʼn volsin. ʼn Volsin begin met ʼn doener en ons gaan ook in die volsin ook hoor wat die doener doen. As jy dan “taalkunde” met hulle wil praat, dan sê jy ʼn sin begin met ʼn onderwerp en dan volg ʼn werkwoord.
Sê nou jou kind antwoord met iets soos “in die boom”, dan sê jy maar dis nie ʼn volsin nie. En dan gee jy die voorbeeld “die kat is in die boom”. Hy hoef dit nie eens te herhaal nie. Jy moet net vir hom die voorbeeld gee dat hy dit hoor. Want onthou, jou kind moet die regte manier hoor vir sy taalvaardigheid en fonologiese bewustheid om te ontwikkel.
Gedeelde ervarings is nog ʼn manier om jou kind aan die praat te kry
Hannekie praat ook oor hoe belangrik dit is om gedeelde ervarings met jou kind te hê. Sy noem die voorbeeld van ʼn jonger kind wat vir jou probeer vertel van ʼn fliek wat hy gesien het, maar wat jy nie gesien het nie. En die vertelling hou net aan en aan en dis so onsamehangend. En jy kan op sy gesig sien dit wat hy vir jou vertel en dit wat hy regtig ervaar het, is baie ver van mekaar verwyderd.
Gewoonlik kan jy nie kop of stert uitmaak van wat hy vertel nie, ten spyte van al sy baie byklanke en dan knik jy maar net jou kop, maar jy luister nie regtig nie.
As jy sinvolle gesprekke en terugvertelling met jou kind wil hê, moet daar gedeelde ervaring wees. Soos ʼn uitstappie wat julle saam gedoen het. Die beste gedeelde ervaring is natuurlik ʼn boek wat julle gelees het.
ʼn Belangrike stukkie raad wat Hannekie dus verder gee is om doelbewus sulke gedeelde ervarings te skep en dan daaroor te gesels.
“Dink mooi oor die vrae wat jy stel en dink met die eindproduk in gedagte. En moenie bang wees vir te maklike vrae nie,” sê sy.
Kry jou kind aan die praat, nie aan die beduie nie
Om ons kinders te leer om met woorde te praat en nie net met gebare nie, is ʼn tweede belangrike rede om hulle aan die praat te kry. Baie kinders vind dit ʼn uitdaging om woorde te gebruik om verduidelikings te gee. Hulle wil eerder vir jou wys.
Hannekie het ʼn hele paar speletjies uitgedink wat sy in haar spraakterapeutpraktyk gebruik sodat kinders kan leer om met woorde vir iemand anders iets te verduidelik.
Sy het ʼn voorbeeld daarvan afgeneem terwyl sy aan die werk is.
Kyk gerus daarna op hierdie deel van die video.
Die eerste ding wat jy by die kind moet tuisbring is dat om te wys en te beduie nie altyd gaan werk nie. Byvoorbeeld as jy met iemand oor die telefoon praat, help dit nie jy wys nie, dan moet jy met woorde sê wat jy bedoel. Skep ʼn situasie sodat die kind kan besef dit gaan nie werk as ek met my vinger probeer wys nie, ek sal woorde moet gebruik.
ʼn Manier om so ʼn situasie te skep, is om ʼn skerm tussen jou en die kind te sit, sommer ʼn groot boek wat jy oplig. Nou moet hy vir jou iets verduidelik, maar hy weet jy kan nie sien wat op die papier voor hom aangaan nie.
Dit maak ʼn kind onmiddellik bewus daar is ʼn ander manier om te verduidelik. Kinders is partykeer nie eens bewus daarvan dat hulle woorde kan gebruik nie. Dis eintlik vir hulle baie bevrydend as hulle besef maar hulle het woorde en hulle kan daarmee die wêreld verander.
Kry jou kind aan die praat want woorde gee hom mag
“Woorde in jou mond gee vir jou mag, dit gee vir jou beheer as jy in ʼn situasie met woorde kan verduidelik,” sê Hannekie.
Sy verduidelik van ʼn lekker oefening wat ʼn ma en ʼn kind saam kan doen. Mens het blokkies van verskillende vorms nodig, soos reghoeke, driehoeke, vierkante, halfsirkels ensovoorts. Nou sê jy vir die kind: kies drie blokkies en bou ʼn figuurtjie daarmee en neem dan ʼn foto daarvan.
Die ma mag nie die foto sien nie, maar sy kry nou die blokkies. Nou moet die kind van die foto af vir die ma verduidelik wat sy met die blokkies moet doen sodat dit presies lyk soos op die foto.
Verder is daar die reël: die kind mag nie aan ma se blokkies vat en hulle vir haar rondskuif nie! Hy mag net woorde gebruik.
Kry jou kind aan die praat deur jou dom te hou
Dis belangrik dat die mamma in hierdie situasie die idioot speel, sê Hannekie. As die kind vir jou sê: “Sit die reghoek neer,” en jy sit die reghoek verkeerdom neer, is dit sy fout. Die kind moet onthou om vir jou te sê om die reghoek soos ʼn deur te laat lyk of soos ʼn baksteen.
As dit vir die kind moeilik is om daardie onderskeid te maak, dan gee jy vir hom die woorde. Jy kan dan vra of die reghoek regop moet kom of plat.
Met jonger kinders kan mens ook met “Brainy Blocks” speel. Dis ʼn speletjie wat al donkiejare met ons is, maar is nog steeds beskikbaar in opvoedkundige speelgoedwinkels. Dit bestaan uit prentekaartjies en plastiekvorms. Die kind moet dan die prent vol pak met die vorms.
Hannekie speel die speletjie bietjie anders as sy “Brainy Blocks” gebruik. Die kind het die prentjie, maar sy het die vorms en die kind moet vra vir die regte vorms, soos “gee vir my twee groot sirkels” as hy ʼn karretjie probeer bou.
As hy net vra “sirkel” gee sy aspris die verkeerde sirkel, soos die kleintjie wat nie gaan werk vir die prentjie nie.
Kry jou kind aan die praat deur kanse te skep dat hy kan verduidelik
Waaroor dit gaan is dat jy vir jou kinders geleenthede skep om verduidelikings te gee. Die tegniese term daarvoor, is verbale ekspressie. En dis ʼn sleutelvaardigheid wat jy kind veral nodig gaan hê om later goed te kan skryf.
Hierdie was weer vir my ʼn heerlike onderhoud vol verrassende insigte en sulke doenbare raad. Geniet dit. En dankie aan Hannekie vir nog ʼn treffer.