Begin reg: oulike wenk vir jou tuisskooldag


Begin reg, sê Stephané Burger van Darling. Hierdie tuisskoolma het oulike wenke hoe om elke tuisskooldag op die regte noot te begin.  Stephané tuisskool haar twee kinders nog nie lank nie, maar boeta is sy aan die gang en vol idees.

Oulike tuisskoolidees: Begin reg

Een van haar idees wat my baie opgewonde maak, is dat mens elke oggend met van die lekkerste dinge moet begin, soos gunstelingboeke of -aktiwiteite.  Jy weet nou al ek hou baie van meer ontspanne tuisonderrig.

Maar ons praat tydens die onderhoud ook oor hoe haar tuisskoolreis begin het en tans verloop. Lekker luister.

Luister of kyk hier na die onderhoud.

Stephané het haar kinders begin tuisonderrig omdat sy gevoel het hulle was so lewensmoeg. Hulle gesin bly in die pragtige dorpie Darling, omtrent so 70 km van Kaapstad af. Op ʼn helder dag kan mens Tafelberg op van die omliggende plase in die Darling-omgewing sien.

Ons het die onderhoud in die eerste plek gereël omdat Stephané so ʼn oulike idee het oor hoe mens jou tuisskooldag moet begin. In plaas van met Wiskunde begin omdat mens jouself wysmaak dis ʼn goeie ding omdat almal vroeg in die oggend fris en vars is, het sy ʼn beter idee.

Nadat sy heelwat oor die onderwerp opgelees het, het sy gehoor van die sogenaamde “morning basket” wat mens reg hou om liewer die oggende daarmee af te skop. In Stephané-hulle se geval is dit ʼn krat vol van die kinders se gunstelingboeke.

Stories, ja, maar ook boeke oor hoe om ʼn entrepreneur te wees – iets waarin haar seun veral belangstel. Maar daar is ook ʼn groeijoernaal, wat die kinders uitdaag tot ontwikkeling van hulself.

Luister gerus van die 19:00 minuutmerk oor haar idees hieroor.

Begin reg: Hier is nog manier om matriek te maak

En dan is daar nog iets waaroor ek baie bly is. En dit is nog ʼn opsie vir tuisskolers om skool mee formeel af te sluit. Die Burgers gebruik SA Virtual School wat die kind uiteindelik voorsien van ʼn Amerikaanse matrieksertifikaat.

Vanaf die 07:40 minuutmerk vertel Stephané hoe hulle SA Virtual School ervaar.

Begin reg: dink aan Aardrykskunde as ’n reis

Verder het Stephané ook haar eie planne om tuisskoolprodukte te ontwikkel. Sy skryf en werk op die oomblik kliphard aan ʼn Geografie-produk wat Aardrykskunde as ʼn reis wil aanpak. Sy wil haar leerinhoud so saamstel dat dit interessant sal wees vir ʼn wye ouderdomsgroep, vanaf 9 tot 17 jaar.

As jy graag meer daaroor wil hoor, luister dan van die 29:00 minuutmerk af.

Geniet hierdie lekker onderhoude met ’n passievolle tuisskoolma.

 

 

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

sixteen + seventeen =