Wiskunde is die mees abstrakte vak jou kinders sal moet leer. Kinders kan eers hier van veertien, vyftien af regtig abstrak begin dink. Die verkeerdste ding wat jy kan doen, is om vir jou kind die mees abstrakte vak in ʼn tweede taal te probeer leer. Leer jou kind Wiskunde in Afrikaans. Net om jou verder te oortuig dat Wiskunde in Afrikaans regtig ʼn goeie ding is, haal ek graag vir jou twee stukke navorsing aan.
Wiskunde in Afrikaans glo duideliker
Op 14 Augustus 2014 berig Netwerk24: “ Afrikaans is beter vir Wiskunde.” Die joernalis haal ʼn studie aan wat met Wiskunde-onderwysers gedoen is en wat toe bevind het Afrikaans se taalstruktuur vaar beter in sekere probleemformulerings. “Die sinskonstruksies in Afrikaans is duideliker as in die Engelse weergawe,” was die onnies se presiese woorde. (Ongelukkig is dié berig nou agter ʼn betaalmuur.)
Ek het my eie teorie waarom Wiskunde makliker in Afrikaans is. Ek vermoed dit het te doen met die feit dat Afrikaans ʼn ding benoem presies soos sy hom sien. Neem nou maar die vrek moeilike Engelse woorde vir twee soorte driehoeke: “equilateral” en “isosceles”. Dit lyk my Engels beskou Wiskunde as iets geweldig akademies, wat met deftige Latynse woorde beskryf moet word.
Afrikaans is praktieser oor Wiskunde. Vir haar is dié twee driehoeke onderskeidelik ’n gelyksydige en ’n gelykbenige driehoek. Gelyksydige driehoeke het drie ewe lang sye. As al drie sye ewe lank is, is al drie hoeke presies 60 grade. ʼn Gelykbenige driehoek het net twéé ewe lang bene (en dus twee ewe groot hoeke).
Nog ʼn voorbeeld. Gradiënt of helling is ʼn belangrike konsep wat mens in Wiskunde moet bemeester. Afrikaans se hierdie wonderlike beskrywende woord vir dié konsep? Skuinste!
Vir Afrikaanssprekende kinders is dié Afrikaanse terme baie makliker om te verstaan. As jou huistaal Afrikaans is, benut dié voordeel wat julle moedertaal jou kinders bied.
Afrikaanse skole vaar besonder goed met Wiskunde
Dit lyk inderdaad of daar groot voordeel daarin is om Wiskunde in Afrikaans te leer. ʼn Klein groepie skole in die land (net 5,3%) het einde 2016 meer as ʼn kwart van die onderskeidings in Wiskunde behaal. Hulle was Afrikaanse skole. Die berig wat daarna verwys, sê as mens van sulke resultate lees, weet jy jy het te make met Wiskunde-onderrig van wêreldgehalte.
Maar daar is nie Wiskunde handboeke vir Afrikaanse tuisskolers nie
Daar is nie goeie Wiskunde-handboeke in Afrikaans nie, kla tuisskolers baie. ʼn Vindingryke tuisskoolma, Lizelle Rademeyer, het vroeër die jaar op ʼn Facebookgroep ʼn hele lys van Afrikaanse hulpbronne in Afrikaans gelys. Ek het haar gevra of ek daardie lys mag publiseer. Sy het ja gesê en ek het aan die werk gespring, met haar lys begin, en dit bygewerk. Ek was verstom oor al die opsies. Ergste is, ek is oortuig die lys is nie volledig nie. Ek vermoed daar is hope meer Afrikaanse Wiskunde Hulpbronne waarvan ek nie eens weet nie. Ek het nie byvoorbeeld nie die groot kurrikulumverskaffers op die lys gesit nie.
Maar ons moes iewers begin. As jy dus van Afrikaanse Wiskunde Hulpbronne weet, wat nie op my en Lizelle se lys is nie, laat weet my gerus en ek voeg by. Kom ons maak die Afrikaanse Wiskundelys nog ʼn plek waarheen ons nuwe Afrikaanse tuisskolers met geruste harte kan verwys.
Kry gratis toegang tot die lys van Afrikaanse Wiskunde hulpbronne deur die vorm onderaan hierdie bladsy in te vul.
Nou wil ek, net soos Lizelle op haar Facebook-plasing, my oë wil rol as ek hoor mense sê daar is nie Afrikaanse hulpbronne vir Wiskunde nie. Op die lys is daar is handboeke en werkkaarte, rekenaargebaseerde programme, YouTube video’s, ou eksamenvraestelle, musiek CD’s. Sommige bronne is gratis, ander is heel bekostigbaar, sekeres lyk of hulle duur is, maar baie bied.
Afrikaanse hulpbronne te kies en te keur
Die Afrikaanse hulpbronne het ook elkeen hul eie aanslag. Die Numbersense reeks deur Brombacher is byvoorbeeld konstruktivisties en die kind moet self die manier ontdek om probleme op te los. Dis ʼn uitstekende manier vir die kind wat wiskundig begaafd is. Pracmaths wys nou weer vir die kind stap vir stap hoe om die somme op verskillende maniere te doen. Dis baie werk en vat lank, maar dis ʼn deeglike manier.
Jy kan na hartelus kies en keur uit al hierdie bronne.
Ek lig graag twee Wiskunde bronne op die lys uit. Die eerste een gaan beter in die laerskool werk, die tweede een beter in die hoërskool. Die twee produkte en dienste word deur tuisskoolma’s aangebied. Ja, ek is bevooroordeeld, maar ek voel dat ma’s wat self tuisskool die beste verstaan wat ons ander tuisskolers se behoeftes is.
1. Lizelle Rademeyer se eie reeks Somme(r) Pret maak Wiskunde in Afrikaans prettig.
Lizelle sê op haar webwerf, waar sy gereeld oor tuisonderwys in Afrikaans blog, Wiskunde hoef nie vervelig te wees nie. Haar Somme(r) Pret reeks propvol opwindende aktiwiteite is om basies wiskundevaardighede in te oefen. Jy kan haar werkkaartboeke van die internet aflaai of jy kan dit oor die pos bestel. Ek het haar gevra hoe dit gekom het sy haar boeke begin opstel het. Hier is haar antwoord:
“My kinders is mal oor konkrete, praktiese Wiskunde, maar ek het gesien hoe werkboeke al die vreugde daaruit gesteel het. Ek het toe begin om te soek vir ander manier om dieselfde te doen. Hulle kan byvoorbeeld ‘n prent inkleur om ʼn klomp somme te doen in plaas van ʼn bladsy met kolomme en kolomme somme. Of ʼn speletjie speel.
“Al hierdie oulike boeke was egter in Engels. So het ek toe begin om vir my kinders self goed te maak. En kort voor lank het ek besluit ek kan net sowel bietjie ekstra moeite doen (dit was toe heelwat meer as bietjie ekstra moeite, sal die wat al ‘n boek probeer skryf het al weet!) en dit verpak vir ander om ook te gebruik.
Wiskunde op ‘n praktiese en prettige manier
“So het die Somme(r) Pret reeks ontstaan, wat op Graad 0 tot 7 gerig is. Dis bedoel om kernwiskundevaardighede op ʼn prettige manier in te oefen. Elke boek dek ʼn paar grade se vaardighede. Ek het egter baie navraag gehad vir watter graad die boeke is. Graad is ʼn konsep waaraan ek self nie veel waarde aan heg nie, maar ek verstaan dis ʼn manier vir mense om te weet vir ongeveer watter ouderdom. Toe het ek begin om om Pret-pakke saam te stel vir spesifieke grade.
“Die idee van Somme(r) Pret is om seker te maak kinders het die nodige boustene in Wiskunde, maar dit steeds lekker te hou. Wiskunde is immers nie vervelig en droog nie. Dis lewendig oral om ons en mens gebruik dit elke dag op soveel maniere.”
2. Marlize Keyter — nog iemand wat help met Wiskunde in Afrikaans
Tuisskoolma Marelize Keyter het ook ʼn passie vir Wiskunde in Afrikaans. Toe ek na haar uitgereik het oor haar werk, het sy egter gesê sy help oor die algemeen skoolkinders met Wiskunde. Die ironie dat ʼn tuisskoolma skoolkinders help!
In haar hart is plaasvrou Marelize egter ʼn gesoute tuisskoler en sy het op Facebook sulke oulike wenke gedeel hoe hoe om Wiskunde meer prakties aan te bied dat ek dit graag weer vir jou wil deurgee. Ek stel Marelize aan die woord:
“Ek glo dat kinders Wiskunde moet verstaan. Regtig verstaan! Dan en dan alleen kan hulle wiskunde doen. En verstaan vind nie plaas deur bladsye en bladsye skriftelike werk nie. Verstaan breek deur wanneer jy sien hoe die ding werk, waar jy dit kan gebruik.
Gaan altyd terug na die alledaagse lewe
“So sit ek en Johan (14) een oggend met sy wiskundehandboek (en nee, hulle is glad nie “op datum” en hiperslim nie …. daarvoor is hierdie TO-mamma heeltemal te lui!) Hy is besig met hersiening oor eksponentwette. Sodra dit afgehandel is, gaan ons oor na vergelykings. Terwyl hy spook met derdemagte en derdemagswortels, vra ek hom: “Waar gaan ons dit gebruik?”
“Hy het so bietjie gedink en toe gesê: “kubieke”. Want hy het alreeds te doen gehad met mates en gewigte in praktyk. Die vragmotors word volgelaai en hy moes al met die vragmotormates alleen die gewig van die vrag bereken. Vinnig praat ek toe oor die volume-aspek en ook buite-oppervlak.
“Sien, weer maak ek dit prakties. Veronderstel ek wil ‘n kamer klankdig maak om opnames te doen vir my aanlynwiskundeklasse, vra ek vir hom. Hoe bereken ek hoeveel mat het ek nodig om die hele kamer mee uit te voer? My uitgangspunt is EERS prakties, dan teorie. Eers die probleemstelling, dan die metodiek.
Laat hulle op stoele of tafels klim … of fietsry
“Nog ʼn voorbeeld. Kinders sukkel baie met funksies (grafieke) en ook faktorisering. Ongelukkig moet jy faktorisering onder die knie hê om funksies te kan doen.
“Dan laat ek die kind langs ʼn tafel of ʼn stoel staan. Gebruik stokke of enige langerige reguit ding om die horisontale lyn (X-as) voor te stel en iets anders om die vertikale lyn (Y-as) voor te stel. Hierdie twee stokke moet vas (staties) wees.
“Nou moet die kind bloot ʼn tree vorentoe (of links, regs, agtertoe) gee. Hoe beïnvloed dit sy posisie ten opsigte van die X-as en die Y-as? Dan terug na posisie een. Nou klim hy of sy op die stoel. Wat is nou die verandering in posisie? Dan moet hy verder klim, sodat beide asse verandering toon. Weer ervaar die kind die praktiese van die som.
“Of laat hom met sy fiets ry en ʼn agterwiel “wheelie” maak. Laat hom kyk hoe hoog kan hy dit waag voor hy val. Goed, kom ons maak nou ‘n voorwiel “wheelie” — bietjie baie gevaarliker, né? Want jy kan op jou gesig val en goed seerkry. Laat hom nou probeer om sy fiets absoluut 90° met die grond hou — kan hy so ry?
“Op hierdie manier verduidelik ek gradiënt, ook bekend as die helling of die skuinste aan die kinders.
“Wiskunde is ’n praktiese vak. Humor en skok is maniere om konsepte deeglik en behoorlik vas te lê.”
Met sulke oulike wenke kan mens verstaan hoekom Marelize se werkwinkels so gewild is. Dalk is dit tog die moeite werd om op haar Facebookblad te gaan inloer, of wat praat ek als?
Kry toegang tot al my GRATIS Afrikaanse hulpbronne deur in te teken op my poslys deur die vormpie hieronder in te vul. Die lys van Afrikaanse Wiskunde hulpbronne is ook daar beskikbaar.
Op soek na meer raad en wenke oor Wiskunde?
Of klik en luister na die onderhoud.
Lyk baie insiggewend. Gaan beslis in die nuwe jaar van julle diens gebruik maak.
Ons kleinseun het sy eerste en tweedekwartaal baie fluks gevorder. Het net 7’s op sy rapport behaal Hy is tans in Gr 3. Maar hulle druk die kinders in ‘n blik en probeer te veel in hulle breintjies inprint. En hulle is 40 leerlinge in die klas. Hy is baie lief om met sy hande te werk en is baie intellegent. Op die stadium lyk dit of hy bietjie stoei met die wiskunde.
Ek sal dit waardeer as ons bietjie raad kan kry om hom bietjie te motiveer om sy huiswerkies pligsgetrou te doen in die middae, hy moet dit soort van geniet. Dit moet nie soos straf vir hom voel nie. Hy is ook glad nie lief om TV te kyk of om speletjies op sy rekenaar te speel nie. Ek wil solank inligting insamel vir Gr 4.
Ek hoop ons kan volgende jaar lekker saamwerk
Groete
Hallo Ellenore. Hoe wonderlik om ‘n ouma te hê wat so baie belangstel in haar kleinkind. Veels geluk met sy uitstekende uitslae. Sjoe, om iemand te motiveer om huiswerkies te geniet, sal vir my moeilik wees. Ek moet bely dat ek self my huiswerkies glad nie geniet nie en dit baie dae maar dikmond doen. Ek doen dit net doen omdat ek moet 🙂 Miskien kan julle jou kleinseun “betaal” as hy sy huiswerkies met meer vreugde doen. Dit hoef nie met geld te wees nie. Ekstra tyd om sy gunstelingdinge te doen, is amper beter beloning.
Hi Marissa
My seuntjie is besig met “graad R” en ek wil baie graag ‘n Afrikaanse wiskunde program met lekker konkrete aktiwiteite gebruik
Kyk gerus na Somme(r)pret se produkte.
Ook Kieswetter Klaskamer.
En Edusense.