Jy hoor van baie mense wat tuisskool, lees van hulle op Facebook en sien hulle op tuisskooluitstappies. Maak hierdie mense regtig ’n regtig ’n sukses van hulle kinders se onderwys, wonder jy soms. So baie van hulle laat hulle kinders glad nie eksamens skryf nie. Vorder hulle ooit? Hoe lyk die kinders wat deur die hele tuisskoolding is?
En laat ons nou maar eerlik wees, die rede waarom jy wonder oor ander se sukses, is omdat jy bang is jy maak droog met jou eie kinders se onderwys.
‘n Tydjie gelede het Chirani Meyer my gevra het om ’n Facebook Live aanbieding te doen oor die moontlikhede om in Afrikaans te tuisskool. Die aanbieding was op die groot SA TUISSKOOLGROEP. Om jou ʼn idee te gee, daar is nou al meer as 10 000 lede. En die groep is steeds aan die groei.
So gesê, so gedaan. My broek het gebewe, my knieë wou knak, maar ek het dit gedoen. Die praatjie is baie gewild, want dit was duidelik mense was uitgehonger om te hoor watter hulpbronne in Afrikaans beskikbaar is.
Maar voor al hierdie mense het Kiepie (dis nou ekke) ʼn lekker floppie gemaak. Want sien, ek het lustig gepraat van die skoollosse manier van doen wat ek met my twee kinders gevolg het.
Eers later het ek besef ons het NIE skoollosse (“unschooling”) tuisskool gedoen nie. My manier van doen was eerder nader aan ʼn eklektiese benadering.
En as jy nou so deurmekaar voel soos ʼn verkleurmannetjie op ʼn Smartie boks, ek was ook. So, laat my verduidelik. Daar is vyf hoofmaniere om tuisskool aan te pak.
1. Tradisionele tuisskoolbenadering
Dis nou as jy tuisskool soos wat jy self tien teen een skool gegaan het. Jy koop ʼn bokskurrikulum en doen die take en werkopdragte en skryf die toetse en eksamens wat die kurrikulumverskaffer vir jou voorskryf.
Die groot voordeel van hierdie manier van doen, is dat al die werk vir jou gedoen is. Daar is ook baie struktuur vir jou ingebou.
2. Klassieke onderwys as tuisskoolbenadering
In hierdie model word onderskei tussen drie fases waardeur ʼn kind gaan. In die grammatikale fase moet hy taal bemeester en sy woordeskat vergroot. Dis gewoonlik tot so 10 jaar.
Vir die res van die laerskooltyd is die kind dan in die dialektiese fase of logiese fase en moet leer om korrek te redeneer. Teen die tyd dat die kind hoërskoolouderdom bereik, word veral beredenering en skryfvaardigheid in die retoriese fase geslyp.
Die twee beste boeke oor klassieke onderwys is:
3. Die Charlotte Mason manier as tuisskoolbenadering
Van haar het jy nou al heelwat by my gehoor en ek dink dis die benadering wat ek meestal met my kinders gevolg het. Die klem val op lewende boeke en dan moet die kinders in hulle eie woorde terugvertel oor wat hulle geleer het. As hulle jonger is, doen hulle mondeling, maar mettertyd leer hulle ook skryf oor wat hulle gelees het.
4. Eenheidstudies as tuisskoolbenadering
Nog ʼn manier van tuisskool is temagebaseerde onderwys waar jy vir ʼn paar weke lank een tema gebruik. Jy doen dan al die vakke, taal en Wiskunde ingesluit, rondom hierdie tema. Die klem val ook baie om dinge te doen.
Jy kan hier meer lees oor eenheidstudies.
5. Skoollosse tuisskoolbenadering
En nou kom ons by die tuisskoolmanier wat my gepootjie het. Ouers wat hierdie benadering volg, glo die lewe self is genoeg van ʼn leerskool. Kinders word byvoorbeeld aangemoedig om hulle eie besighede te begin en te bedryf. Op die manier leer hulle van boekhouding, Wiskunde en interpersoonlike verhoudings. Hulle sal ook dikwels gemeenskapsdiens doen waar hulle nog verdere vaardighede leer.
Noudat ek beter verstaan hoe die verskillende benaderings genoem en ingedeel word, besef ek ons gesin het nie ʼn skoollosse benadering gevolg nie.
So leer mens, nè!
En dan is daar die eklektiese tuisskoolbenadering
Nee, ek het aan al die tuisskoolmoontlikhede as ʼn buffetete gedink, waar ek kon inskep en na hartelus peusel. Ons het gemeng en pas soos wat ons dit nodig gehad het. En daardie manier van doen, noem mens die eklektiese benadering.
Vir Wiskunde het ek byvoorbeeld vroeg-vroeg al ʼn handboek nadergetrek. Ek het die struktuur nodig gehad vir ʼn vak wat nie my sterk punt is nie. Vir taal het ek Charlotte Mason gebruik en vir die ander vakke het ek beslis soms eenheidstudies gebruik. Maar soms het ons ook regtig heeltemal skoollos gegaan, byvoorbeeld as my kinders Aardrykskunde kon leer omdat ons ʼn vakansie Kaap toe gehad het.
Ek het intussen die video van my aanbieding ook op my eie YouTube kanaal beskikbaar gestel. In gesprekke met heelwat tuisskolers kom ek agter mense is nie meer altyd lus vir Facebook nie.
Maar vat wat ek oor skoollosse onderwys sê met ʼn knippie sout, want soos ek sê: Kiepie het ʼn bietjie deurmekaar geraak met die benamings.
Hier volg ’n opsomming van die video:
‘Unschooling’ in Afrikaans — oor die 2 dinge is ek nie spyt nie
Ek nou regtig wat mens ʼn veteraantuisskoolma kan noem. Oud voel ek nou. Ek het twee kinders, Johannes, wat 21 is en Annamaria, wat 19 is. Hulle was nooit op skool nie en hulle is deurgaans in Afrikaans getuisskool.
Oor twee dinge op my tuisskoolpad is ek nie spyt nie. Die eerste is dat ek besluit het om my kinders in hulle moedertaal te onderrig. Die tweede is dat ek ʼn skoollosse benadering gevolg het. In Engels noem tuisskolers dit ‘unschooling’. Nadat ek daaroor nagedink het, besef ek dat ek eerder ’n eklektiese manier van tuisonderrig gevolg het.
‘Unschooling’ in Afrikaans — moedertaal bly maar die beste
Ek is ʼn groot voorstander van moedertaalonderwys. Maar ek is ook ʼn groot voorstander van vryheid van keuse vir tuisskolers. Een van die redes waarom baie van ons tuisonderrig verkies, is omdat dit vir ons opsies gee. Ons wil nie een-grootte-pas-ieder-skool vir ons kinders hê nie, ons wil ontwerperonderwys hê, dankie. Ons wil tuisonderwys presies reg aanpas by vir die unieke mense wat ons kinders is.
Daarom kan ek nie enige ander tuisskoler veroordeel oor haar keuse van onderrigtaal nie. Ek ken haar kinders nie en ek ken hulle huislike omstandighede nie. Sy dra waarskynlik haar kinders se belange op die hart. As ek dus beslis klink oor moedertaalonderwys, is dit omdat ek die algemene navorsing daaroor gelees het, nie omdat ek presies weet wat in elkeen se hart en haard aangaan nie.
Met daardie inleiding agter die rug, lyk dit tog of moedertaalonderwys die beter keuse is en ek wil jou aanmoedig om dit minstens te oorweeg. Ek het al baie daaroor geskryf, ook in die algemene media, en Bouwe van der Eems het ʼn onderhoud met my daaroor op YouTube geplaas. Klik op die skakels en kyk gerus na die inligting.
Maar as ek uit eie ondervinding moet praat, kan ek net sê: vir ons het Afrikaanse tuisskool goed gewerk. Ons bly die afgelope drie jaar in Amerika en Johannes is besig om aan ʼn gemeenskapskollege hier te studeer. Nou die dag daag daar ʼn brief van die kollege op om te sê op grond van sy uitslae vir jongste twee kursusse hy nou een van die studente op hulle ererol is. Nie sleg vir ʼn Boere-outjie uit Suid-Afrika wat nooit skool toe is nie, wat net in Afrikaans getuisskool is en wat nou in sy tweede taal studeer.
‘Unschooling in Afrikaans — gratis hulpbronne maak dit moontlik
Ja, ons weet moedertaalonderwys is ’n goeie ding, maar is ʼn skoollosse benadering in Afrikaans moontlik? Kan jy jou kinders in Afrikaans tuisskool sonder ’n formele kurrikulumverskaffer?
Ek kan jou onomwonde vir jou sê: JA! Waar kan jy sulke leerstof in die hande kry? Tuisskoolma Lizelle Rademeyer het ʼn wonderlike lys gepubliseer by Cape Homeschoolers se Facebookblad.
Sulke handboeke en kursusse is seker vreeslik duur, kan ek jou al hoor sê. As jou geldjies skraps is, kan ek jou gerusstel daar is hope gratis hulpbronne beskikbaar vir Afrikaanse tuisskolers. Gaan maak hiervoor gerus ʼn draai by Maryna Moolman se Pinterest bord Tuisonderwys in Afrikaans.
‘Unschooling’ in Afrikaans — betaalde kursusse maak dit makliker
Mense kla baie keer omdat daar glo so min Afrikaanse hulpbronne beskikbaar is. Moenie glo nie, hoor! Dit woel en werskaf op die Afrikaanse tuisonderwysfront. Daar is iets van alles en nog wat. Gaan kyk gerus na Lizelle se Lys en besoek die webwerwe wat sy daar noem.
Wat Lizelle onder andere gedoen het, was om al die handboeke en kursusse wat deur ander tuisskoolma’s opgestel is, te merk. Dis nie die enigste bronne wat op die lys is nie, maar omdat ek self ʼn tuisskoolma is, is hierdie leerstof my gunsteling.
‘Unschooling’ in Afrikaans — miskien die grootste voordeel
Om af te sluit, wil ek graag ʼn belangrike ding noem wat Karin van Oostrum van die Pestalozzi Trust een keer geopper het. En dis dat hoe ouer tuisskolers word, hoe meer word hulle soos hulleself. Dis ʼn baie waar ding.
Omdat ons ons kinders nie in drukgang van skool sit en vroeg-vroeg onderwerp aan portuurgroepdruk nie, kry hulle kans om rustig te ontwikkel. Hulle kan meer getrou wees aan hulle ware belangstellings en talente. As ek aan tuisskolers dink, tref dit my altyd hoe sterk hulle sin vir self is en hoe hulle presies weet wie hulle is.
My meisiekind is hier vir my ʼn goeie voorbeeld. Sy is kunstig en wil eendag graag animasiefilms maak. In 2017 is haar studentefilmpie op ʼn groot internasionale filmfees in San Francisco vertoon. Weer eens ʼn groot prestasie vir ʼn tuisgeskoolde Afrikanermeisietjie. Ek verwonder my altyd hoe kreatief sy is en hoe vars haar idees. Ek dink dis tot ʼn groot mate omdat sy toegelaat is om haar eie ding te doen.
‘Unschooling’ in Afrikaans — die een ding waaroor ek spyt is
Ek het aan die begin gesê daar twee dinge waaroor ek nie spyt is nie. Dis dat ons skoolvry gewerk het en dat ons in Afrikaans gewerk het. Maar daar is een ding waaroor ek wel spyt is. En dis dat ek my tog so bekommer het of ek die regte ding doen deur te tuisskool.
Kyk, ek is van nature maar ʼn bietjie van ʼn bekommerpot, maar dit was so onnodig. As ek vir jou, wat nog jong kinders het wat jy wil tuisonderrig, vandag net die boodskap kan gee dat jy net moet vasbyt met hierdie tuisskoolding, het ek my werk gedoen.
Kyk net ʼn bietjie na al hierdie wonderlike voordele wat tuisonderwys hou.
- Tuisonderwys sorg dat daar altyd inhoud tussen jou en jou kind is, julle het altyd iets om oor te praat.
- Jy smee ʼn wonderlike band met jou kinders.
- Jy sien hoe ontvou jou kinders soos vlinders in die son.
- Jou kinders behou hulle unieke persoonlikhede.
Tuisonderrig is harde werk, maar glo my, dis is die belangrikste en mees belonende werk wat jy ooit hê.
Geniet die proses. Eksperimenteer en maak foute. Maak dan die regstellings, want daar is min onomkeerbares in tuisonderwys. Die belangrikste ding: geniet die kosbare tyd saam met jou kinders.
Gaan kyk hier na die hele praatjie wat ek op Facebook oor ‘unschooling’ in Afrikaans gelewer het.
En klik op die prentjie hieronder om na die onderhoud op YouTube te gaan kyk.
Op soek na meer leiding oor tuisonderwys?
Klik dan op die prentjie hieronder en vind meer uit oor my aanlyn kursus 21 dae na sukses as tuisskoolma. Soos een ma op Facebook onlangs geskryf het:
Ek kan net nie beskryf hoeveel rustiger en tevrede ek voel oor die keuse dat ek my kinders gaan tuisonderrig nie nadat ek hierdie kursus gisteraand begin het nie (….en net nie kon ophou nie 🙈)
Beslis die moeite werd!!!