Stories – die deur na meer


Baie keer is ma’s lus om van temastudies gebruik te maak as hulle tuisskool, maar dit voel so sonder struktuur om onderwerpe los en vas te kies.

As dit is hoe jy voel, het spraak- en taalterapeu en tuisskoolma Hannekie Verwoerd hierdie vir jou raad: gebruik ʼn storie as ʼn aankopingspunt vir temastudies.

Klik hier en kyk na die hele onderhoud wat ek met haar gevoer het: https://youtu.be/21T7ddYv_0A

Hannekie Verwoerd, spraak- en taalterapeut is baie opgewonde dat ons stories gebruik om ons kinders te leer.

1. Kies die regte soort storie

Mens kry verskillende soorte stories, sê Hannekie – daar is die kitskosstories wat maklik is om te lees. Dis ʼn goeie ding om van hierdie stories te lees, omdat dit kinders aan die lees kry.

Maar dis belangrik om soms ook aandag te gee aan stories wat soos gesonde kos is, moeiliker om te verteer, maar wat so goed vir jou is.

Sulke stories, so sê Hannekie, is gewoonlik stories wat op regte plekke afspeel en oor regte mense gaan. Uit haar eie ervaring met sulke stories, vertel sy hoe sy plekke en geskiedenis so beter leer ken het.

Die boek A Town Like Alice deur Nevil Shute het haar byvoorbeeld geprikkel om meer oor Australië te gaan oplees.

2. Hoekom moet ons ons kinders se algemene kennis uitbou?

Stories, so reken Hannekie is die deur na meer.

Dis veral die deur na ʼn groter algemene kennis. Hoekom moet ons kinders ʼn goeie algemene kennis hê as hulle enigiets kan gaan googleloer?

Hannekie verduidelik dit só:

Dis nog steeds nodig dat mens jou brein ontwikkel. Jou brein WIL werk en as jy vir hom werk gee wat hom stimuleer, raak hy beter en beter.

Boonop raak jou kennissisteem eksponensieel groter: hoe meer jy weet, hoe meer sal jy weet. Dis omdat jou brein nuwe inligting makliker op plekke in jou bestaande kennissisteem kan bêre.

Aan die begin kan dit vir jou voel of jy nêrens met jou kinders kom nie, en of hulle nog so baie het om te leer. Tuisskoolma’s wil soms ook te veel doen, waarsku Hannekie.

Baie keer, as ʼn mens ʼn storie voorlees wat op ʼn vreemde plek afspeel, is dit genoeg om net die aardbol uit te haal en die land waar die storie afspeel te soek. Mens kan by Suid-Afrika as ʼn vertrekpunt begin en dan praat oor konsepte soos die ewenaar, Suidelike en Noordelike Halfrond, stel sy voor.

Deur temastudies te gebruik, leer jou kinders op ʼn aangename manier, omdat die storie die deur na meer vorm. As mens dan op allerhande interessante afdraaipaadjies afgaan, leer jou kinders om die internet ook op die regte manier te gebruik.

Hannekie beklemtoon dat die internet nie net ʼn plek vir vermaak is nie. Dis eintlik ʼn wonderlike, ongelooflike biblioteek wat tot jou beskikking is.

Haar eie algemene kennis het as tuisskoolma so toegeneem, omdat sy saam met haar kinders leer, verduidelik sy. Maar ook omdat sy op ʼn praktiese manier leer en regtig graag wil uitvind wat aangaan.

Dis nie nodig dat jou kinders al die feite memoriseer nie. Jy kan hulle bloot daaraan blootstel. Die feit dat hulle in ʼn storie daarmee kennis gemaak het, is ʼn uitstekende aansluitingspunt dat hulle die feite beter behou.

3. Is daar voorbeelde van sulke stories?

Een boek waaroor Hannekie veral entoesiasties raak is Sjan se gelukkige mes deur JeanMerril. Hier is ʼn paar temas waarna mens sal kan kyk as jy hierdie pragtige storie as ʼn afspringplek wil gebruik.

1. Die plek

Die storie speel in Birma af.  Dis ʼn regte plek, maar sommige mense noem die land vandag Mianmar. En nou begin al die vrae opduik waaroor julle kan praat.

Soos: presies waar is Birma? Tyd om die aardbol of Google Maps te raadpleeg. En: hoekom die onderskeid tussen Birma en Mianmar?

2. Khan

Sjan se Pa het vir hom ʼn khan gemaak, wat ʼn soort musiekinstrument is. Tyd om meer daaroor uit te vind.

3. Weef

Sjan se ma het vir hom ʼn sak geweef. Hierdie feit kan help om kinders se nuuskierigheid oor weef te prikkel.

4. Ander lande

In die storie word China, Tibet en Indië genoem. Waar is hierdie plekke? Soek saam na die plekke in die atlas of op ʼn aardbol. 

Onthou, waarsku Hannekie: die idee is nie om jou kinders te kruisondervra nie. Die idee is om hulle genoeg te prikkel dat hulle die vrae begin stel.

5. Rivierverkeer

Sjan word ʼn roeier op ʼn vragboot op die Irawaddi rivier. Kyk of julle meer oor hierdie rivier kan uitvind. Wat maak ʼn rivier bevaarbaar? Is daar bevaarbare riviere in SA? Hoe lyk die riviere in ander lande waarop groot vragverkeer beweeg?

6. Stede

Hoewel Rangoen nie meer die hoofstad van Mianmar of Birma is nie, is dit ʼn ware plek. As jy wil sien hoe lyk Rangoen gaan soek op die internet (gebruik die Engelse spelling Rangoon). Gesels dalk oor hoe dit daar lyk en vergelyk dit met die lewensomstandighede van julle gesin.

Ander stede wat genoem word, is Kalkutta, Peking (Beijing) en Lhasa.  In watter lande is hierdie stede?

4. Waar kan mens hierdie stories in die hande kry?

As jy die storie van Sjan se mes graag wil lees en gebruik, Hannekie het ʼn webwerf met die naam Luistervinkstories waar hierdie storie beskikbaar is vir intekenare. Op die webwerf is meer inligting hoe mens kan inteken.

Maar sy het verder gegaan en ʼn hele temastudie oor Sjan se mes uitgewerk met temas en hulpbronne wat beskikbaar is. Sy stel dit gratis beskikbaar aan haar intekenare.

Sy het meer sulke temastudies. Nog een gaan oor Die muisboot, wat in Frankryk afspeel en waar die muise leer om ʼn sluissisteem te leer gebruik.

Danksy Die wiel op die skool het Hannekie en haar kinders meer begin lees het oor reiers en ook oor dyke in Nederland. So het hulle op die interessante en hartseer storie afgekom van 1800 mense in Nederland wat verdrink het toe een van die dyke meegegee het.

Daar is nou al amper 100 stories op Luistervinkstories beskikbaar. Sommige van hulle is net oudioboeke en is net bedoel vir luister, maar ander is videostories, waar die boek se bladsye te siene is terwyl die storie voorgelees word.

Heelwat van hierdie stories leen hulle tot temastudies en Hannekie voeg geleidelik meer en meer sulke studies by.

Stories is die deur na meer

“Ek hoop dat hierdie paar idees ma’s sal begeester om met nuwe oë na die stories op Luistervinkstories se webblad te kyk,” sê Hannekie.

“Natuurlik moet nie alle stories vir temastudies gebruik word nie, maar uit eie ondervinding weet ek dat doodgewone stories my al baie dinge oor die wêreld geleer het. En omdat ek die storie geniet het en geboei was deur die inhoud, het die feite wat na my kant toe gekom het vasgehaak, of was ek so geprikkel deur die storie dat ek na verdere inligting gaan soek het wat verband gehou het met die storie en die plek waar dit afspeel.”

En daarop kan ek net diep uit my skrywershart sê: Amen, suster.

Lekker lees aan al die stories. En lekker leer uit hulle.

Lees ook gerus hierdie artikel oor my gunstelingstorie.

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

four × 2 =