Tuisskool: meer as een manier kan werk
Welkom by die heel eerste episode van oolfant se potgooi. My naam is Marisa Haasbroek en ek is ʼn veteraantuisskoolma. My twee kinders, nou al groot, was nooit op skool nie. Ek is ook ʼn Afrikaanse skryfster met ʼn passie vir my taal. So, ek is daarom ʼn groot voorstander van moedertaalonderrig.
Ons gesin bly al amper ses jaar in Amerika en ons verlang nog steeds huis toe.
Hier in ons geweste gaan die son hierdie tyd van die jaar al kwart voor vyf onder.
Kwart voor vyf!
Dis genoeg om mens baie neerslagtig te maak. Dis waarskynlik ʼn groot rede hoekom die Amerikaners hulle huise so ryklik versier vir Kersfees. Die liggies beur mens darem op. Party mense gaan oorboord met helderkleurige versierings, maar die mooiste vir my is as die mense net wit liggies gebruik.
Wat jy kan verwag op hierdie potgooi? Hope wenke en raad en inspirasie. Hopelik ʼn paar liggies wat in jou kop aankom. Ek glo tuisonderwys moet lekkerder en makliker as skool wees, maar moet ook baie beter resultate gee.
Nie net een regte manier nie
Vandag wil ek vir jou verduidelik hoekom ek sê daar is nie net een regte manier om te tuisskool nie.
Ek het onlangs met webwerf bietjie reggepak. Toe ek oolfant vier jaar gelede begin het, het ek net ingedons en links en regs begin artikels skryf. Dit was beslis tyd vir ʼn bietjie voorraadopname.
Op die ou end het ek 66 artikels behou. Jy kan hulle gerus gaan lees by oolfant.com.
Dis met die regpak en skoonmaak van die webwerf wat ek besef het: daar is nie net EEN regte manier om te tuisskool nie.
Dis die onderhoude wat ek met so baie tuisskoolma’s gevoer het, wat my die gedagte gegee het.
Kom ek gee vir jou ʼn paar proehappies.
Elbie Kits
Ek dink byvoorbeeld aan die onderhoud met Elbie Kits oor haar keuse om Impaq met haar kinders te gebruik. Sy was baie tevrede met haar besluit. Haar kinders het uitstekend op universiteit gevaar danksy ʼn Impaq matriek.
En sy het vir my so ʼn mooi uiteensetting gegee hoekom tuisskolers nie van CAPS hou nie en hoe om dit anders te hanteer. Ek sal Elbie vir altyd dankbaar wees vir haar insette oor tuisonderwys.
Truida-Mart
Aan die anderkant is daar Truida-Mart Blignaut. Sy het vroeg-vroeg besluit haar kinders gaan Cambridge doen. Sy voel oor moedertaalonderwys soos ek daaroor voel. Daarom het sy haar kinders se Afrikaans eers sterk gemaak, maar terselfdertyd seker gemaak hulle bemeester Engels.
Ook Truida-Mart se kinders vaar uitstekend op universiteit, alhoewel sy heeltemal ʼn ander roete as Elbie gekies het.
Truida-Mart het my ook later gehelp om ʼn bonusafdeling in een van my kursusse in te sluit oor die skryf van ʼn Cambridge opstel.
Dis die ander ding wat my so dankbaar maak oor tuisonderwys. Ons is nogal ʼn span. Daar is ʼn gees van samehorigheid. En ons is al amper 30 jaar aan die gang met tuisonderwys, so daar is teen die tyd al ʼn diepte in leerplanne en benaderings wat dinge vir nuwe ma’s baie makliker maak.
Annerine Wenhold
Ek wil ook praat oor Annerine Wenhold. Sy het Cambridge se leerplanne een kyk gegee en besluit: nie vir ons nie. Sy het toe begin kyk na ʼn Amerikaanse hoërskooldiploma as ʼn moontlikheid vir tuisskoolmatriek.
Annerine het ʼn agtergrond in projekbestuur en sy ʼn vasvatter. Sy het met universiteite begin praat oor hoe dit moontlik sal wees om die Amerikaanse hoërskooldiploma te gebruik vir volle universiteitsvrystelling. En toe ʼn Facebook groep begin om die inligting met meer tuisskolers te deel.
Sy het my gekontak en gesê: daai artikel van jou oor die matriekopsies? Ek het vir jou nog ʼn opsie. Weer eens is ek so dankbaar dat sy uitgereik het dat ek die inligting nou weer met jou kan deel.
O ja, terloops, al die artikels wat ek in hierdie potgooi noem? In die beskrywing gee ek vir jou skakels na almal van hulle.
Ek hoop jy kan begin sien dat alle paaie wel na Rome lei, en kom ons dink aan Rome as sukses met tuisonderwys, maar dat daar baie paaie na Rome toe is.
Marianne van Lill
Maar wat doen jy as jou kinders vasbrand en met ʼn vak sukkel? Weer eens het ʼn tuisskoolma tot die redding gekom. Hierdie keer was dit Marianne van Lill wat vertel het van haar dogter Elsa wat gesukkel het om Cambridge se Chemie deur te kom. Elsa is ʼn vasbyter en sy het eenvoudig volgehou totdat sy suksesvol was. Haar droom was om ʼn diereverpleegster te word en sy was so vasberade. As dit kom by inspirasie bly Elsa se storie een van my gunstelinge.
Sonja Taljaard
So van inspirasie gepraat, die onderhoud met Sonja Taljaard het my diep geraak. Haar seun is outisties en Sonja se openhartige, maar ook moedige planne was wonderlik om te hoor. Sy was so kalm en so vol geloof. Sonja se onderhoud is ook beskikbaar op YouTube waar jy haar kan hoor praat.
Lana Maree
So van inspirasie gepraat. Baie keer wonder ma’s hoe op aarde kan hulle tuisonderwys bekostig. Dit gaan beteken dat hulle met net een salaris moet klaarkom. Lana Maree se storie is hier ʼn wonderlike voorbeeld van waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg. Die Marees bly op ʼn plaas, waar sy hulle vier kinders tuisskool. Haar dogter moes vir ʼn duur ondersoek by ʼn spesialis gaan en geld daarvoor was daar net nie.
Toe maak Lana en gesin plan. Hulle bak elke Vrydag vetkoeke vir hulle dorp se mense. Dit was ʼn gesinspoging en ʼn goeie voorbeeld van hoe lekker tuisonderwys kan wees. Hulle het tot Donderdagaand bestellings geneem. Na tien het Lana ingespring en gou die deeg aangemaak.
Sy vertel: “Op ʼn Vrydagoggend vroeg dan spring ons almal in. Pa rol die deeg uit en druk die vetkoeke uit. Ek en sussie bak. Dan begin Pa en Ouboet vetkoeke oopsny en vul met maalvleis. Die kleintjies verpak dit in die polistireenbakkies. Elfuur spring ek in die kar met die kinders en dan gaan lewer ons dit in die dorp af.”
Gaan lees die hele storie of luister daarna en verwonder jou oor tuisskolers se vindingrykheid en deursettingsvermoë.
Riana Wessels
Kom ons verskuif ʼn bietjie na jonger kinders. Riana Wessels was so gaaf om al my baie vrae oor Nukleus te beantwoord. Toe sy met my gepraat het, het hulle hulle elfjarige met die Nukleus program getuisskool. Sy was baie gelukkig met Nukleus.
Lizel van Raaij
Maar daardie storie was skaars op my webwerf, of Lizel van Raaij laat van haar hoor. Sy raai altyd ander tuisskolers aan om in die laerskool hulle eie ding te doen en nie ʼn kurrikulum te gebruik nie. Lizel is ook ʼn gesoute tuisskoolma. Hulle tuisskool al vir amper 20 jaar.
Dit was interessant om te hoor van die verskillende opsies wat sy gebruik het en ook te hoor hoekom sy ʼn manier gebruik of laat vaar het. Weer eens dankie vir jou insette, Lizel.
Vlug van voet
Die een groot voordeel van tuisonderwys is dat dit jou beweeglik maak. Jy kan vinnig van koers verander. Iets wat nie altyd moontlik is in ʼn groot stelsel soos ʼn hele land se onderwyssisteem nie.
My sus hou skool in Australië. Hulle was van die eerste lande wat uitkomsgebaseerde onderwys probeer het. Dit het jare gevat om te implementeer. Hulle moes onderwysers oplei, nuwe handboeke laat skryf en dit toe uittoets.
Vir ʼn hele paar jaar is dit hoe hulle dinge gedoen het. Nie ʼn vreeslike formele leerplan gevolg nie, net gefokus op sekere uitkomste. Toe kom hulle agter dit gee nie die resultate waarop hulle gehoop het nie. Toe vat dit nog ʼn paar jaar om alles weer terug te verander.
So ʼn stelsel is soos ʼn groot skip wat ʼn hele klomp oseaan nodig het om te kan draai.
As tuisskoler wat net jou eie kinders hoef te leer, kan jy dinge vinniger aanpas. Makliker koersaanpassings maak.
Gestel jy wil graag koersaanpassings maak in julle tuisonderwysmodel vir volgende jaar. Hoe doen mens dit?
Ek wil vir jou ʼn proses leer wat drie stappe insluit. Eintlik is dit drie vrae wat jy jouself afvra. Ek gaan al drie vir jou gee en dan sal ek hulle een-een met jou bespreek.
Vraag 1: Wat werk?
Vraag 2: Wat werk nie?
Vraag 3: Wat kan jy anders doen?
Vraag 1: Wat werk?
Dis so belangrik dat jy wegspring deur ʼn lysie te maak van alles wat werk. As ons gestres is, slaan ons toe. Ons kry oogklappe aan wat maak dat ons nie opsies en geleenthede kan raaksien nie.
Hierdie eerste stap is vreeslik belangrik, wat jy gaan jou kop skoonmaak deur elke greintjie positiewe energie uit die huidige situasie te pers. Jy gaan ʼn stuk papier vat en aanhou en aanhou skryf oor alles wat positief is in die situasie. Hulpbronne, gawes en talente, aanlegte, suksesse reeds behaal, vaardighede reeds aangeleer.
Vraag 2: Wat werk nie?
Haal diep asem, kry vir jou ʼn nuwe bladsy en skryf alles neer wat jy dink NIE werk nie. Wees eerlik, maar moenie pessimisties raak nie. Jy probeer vir jouself uitwerk wat die simptome is van die fout wat jy probeer diagnoseer.
Daar is ʼn spreekwoord wat sê: ʼn probleem wat goed gestel is, is ʼn probleem wat halfpad opgelos is. Einstein se weergawe van hierdie idee klink glo so: as ek ʼn uur het om ʼn probleem op te los, sal ek 55 minute spandeer om die probleem te diagnoseer en 5 minute om die op te los.
Verban al die “behoorte” en “moese” uit jou probleemoplossingstrategie. Dit help nie jy sê vir jouself:
- ʼn kind van 11 behoort al beter te lees nie
- Of: ʼn goeie ma behoort ʼn beter idee te hê wat sy in die hoërskool wil doen.
- Of: ons moes spelling nou al onder die knie gehad het.
Jy gaan die werklikheid in die oë kyk, en die probleem duidelik en spesifiek stel.
Vat jou tyd met hierdie stap. Onthou om die probleem mooi te identifiseer is om dit halfpad op te los. Het julle probleem te make met tydsbestuur? Met motivering? Met ʼn gebrek aan kennis? Is julle bloot net te ongeduldig?
Vraag 3: Wat kan jy anders doen?
Kry nog ʼn nuwe bladsy en skryf julle aksieplan neer. Wat gaan julle volgende jaar anders doen? Is daar vooraf stappe wat jy sal moet volg?
Dink byvoorbeeld aan Truida-Mart Blignaut wat besluit het om Cambridge te doen en geweet het sy sal haar kinders se Engels moet verbeter.
Of Anneri Wenhold wat eers by ʼn universiteit moes gaan praat om te hoor of hulle ʼn Amerikaanse hoërskooldiploma sal aanvaar.
Breek dit wat julle moet doen om julle doelwit te bereik in die kleinste moontlike stappies af.
Gestel jy wil volgende jaar hê jou kind moet vlot leer lees. Wat is al die stappe wat jy deur die jaar gaan doen, om dit reg te kry?
Die beste manier om jou brein aan die gang te kry, is om jouself vrae te vra.
Wees ook reg vir enige hindernisse wat in die pad kan kom. As jy vir Boetie wil leer lees, maar ʼn nuwe baba is op pad, moet jy beplan dat julle vir ʼn maand of drie gaan sukkel om ritme te kry. Wat gaan jou plan van aksie daarmee wees?
Gaan jy tydelik ʼn au pair kry?
Gaan jy vir drie maande net hardop vir al jou kinders voorlees omdat jy weet dit gaan hulle baie help as julle weer te leer lees begin? Kan jy nou al ʼn lys van moontlike boeke kry?
Kan jy begin agterkom dat jy as tuisskoolouer beheer vat oor julle lewe.
Onthou daar is nie net een regte manier om te tuisskool nie. Daar is selfs nie net een regte manier vir altyd nie. Dit kan wees dat jy moet aanpas soos wat jou kinders ouer word of julle situasie verander.
Volg die voorbeeld van tuisskolers wat voor jou uitgegaan het. Hulle moes aanpas, hulle moes plan maak. Skep moed by elkeen van hulle wat op hulle eie unieke manier suksesvol was.
15-Minuut-Afrikaans
Ek wil gou vir jou vertel van my aanlyn kursus wat my topverkoper is – 15-Minuut-Afrikaans.
15-Minuut-Afrikaans is ʼn taalleerkursus met genoeg lesse vir 30 weke se werk. Kinders leer om woordsoorte op te spoor in ʼn storietjie. Daar is ook woordeskat en taalreëls by. Die kursus bestaan uit ʼn werkboek en onderwysersgids. Dis geskik vir kinders wat al goed kan lees en skryf, meestal van so tien jaar af.
Ingesluit by 15-Minuut-Afrikaans is Spel sonder sukkel, wat ma’s help om hulle eie spelprogram op te stel. Leer jou kinders spel deur gebruik te maak van die nuutste navorsing oor hoe ons breine werk. Haal so die sukkel uit spelling.
Ek glo tuisskool moet lekkerder en makliker as skool wees. Maar ek glo ook tuisskool moet beter resultate as skool oplewer. Sommer baie beter.
Omdat ek veral glo tuisskooltaalwerk moet lekkerder en makliker as die skool sʼn wees (maar ook meer effektief) het ek ʼn kursus ontwikkel wat jou as tuisskoolma hiermee help.
MA’S IS MAL OOR 15-MINUUT-AFRIKAANS
“15-Minuut-Afrikaans het so wonderlik vir ons gewerk. Dit was klein, kort stukkies om oor te skryf. Glo my, ek beveel 15-Minuut-Afrikaans wyd en syd aan omdat die konsep daarvan vir my so goed werk – dit is kort en kragtig maar daar is ’n daaglikse inoefening van die woordsoorte wat meebring dat die konsepinligting vasgelê word. Ek is so bly dat ek die oolfant kursusse ontdek het, want dit is prakties, “hands-on” en effektief.” – Heidi Lamprecht
“My seun van 10 gediagnoseer met disleksie. Die vroutjie wat die toetse gedoen het, het voorgestel ek doen net 1 sinnetjie op ’n dag met hom en fokus op net 1 woord. Ek het net voor ons hom laat toets het15-Minuut-Afrikaans aangekoop en dit was vir my (en my seun) so wonderlik dat dit presies was wat hy nodig gehad het! Hy het kans gesien vir elke dag se bietjie en hy het dit werklik geniet.”— Vidette Pretorius
“Toe ons laas jaar (2016) in Suid-Afrika kuier, hoor ek by ’n vriendin van 15-Minuut-Afrikaans. Ek was baie opgewonde en het dadelik navraag gedoen. Die res is geskiedenis. Ons gebruik 15-Minuut-Afrikaans en geniet dit.” – Riana Joubert
“My vier kinders is baie uiteenlopend, maar elkeen van hulle het my hulp nog baie nodig met boekwerk. 15-Minuut-Afrikaans werk perfek vir my, want ek kan drie uit die vier gelyk die klassie gee en dit help geweldig.” – Heidi Gouws
“My tienjarige dogtertjie geniet die storiegedeelte en lees sommer met tye vir haar sewejarige boetie uit die “storieboek” en kan nou nie wag vir volgende week se storie nie.” — Michelle Calitz
“Ons het in Februarie (2018) met 15-Minuut-Afrikaans begin. Ek was op soek na iets wat vir my tienjarige dogter lekker sal wees, haar taalvaardighede sal verbreed en waaraan sy onafhanklik kan werk (Ek het ook ‘n 7-jarige en as fisioterapeut werk ek ook ‘n paar uur ‘n week van die huis af.) Sy sit nou op die oomblik en werk en ek kon nie anders as om ‘n dankie boodskap te tik nie, 15-Minuut-Afrikaans is perfek vir haar en sy is MAL daaroor.” – Ilse Viljoen
“En is 15-Minuut-Afrikaans nie prettig nie! My 10-jarige tweelingseuns, wat altyd wou huil oor taalleerwerkboeke, is nou elke dag baie gretig vir 15-Minuut-Afrikaans. Steeds ‘n fees ook na 14 weke!” – Veronica Esterhuyse
Weet jy nie waar om met tuisonderwys te begin nie?
Voel jy skoon verward oor al die opsies en keuses en moontlikhede?
➡️ ➡️ ➡️ Begin hier.
In Gratis&Verniet gaan jy alles vind sodat jy dadelik met tuisonderwys kan wegspring.
Vind onder andere uit:
- Waarop jy moet fokus as jou kinders laerskoolouderdom is
- Wat al die voor- en nadele van elkeen van die verskillende matriekroetes is
- Hoe om jou kind se werk te merk
- Hoe om ander mense (en jouself) te oortuig dat tuisskool die beste ding is
- Hoe om te weet of jy jou kind op standaard is
Daar is:
- Voorbeeldlesse
- Webinare (3 ure se kyktyd)
- Video’s (2 ure se kyktyd)
- Werkboeke wat jy kan deurwerk om jouself op koers te kry
- PDF’s met van die beste idees oor tuisonderwys
- ʼn Aftiklysies wat jou help om die ideale tuisskooldag te beplan
- Platsakplanne wat jy kan maak
Geniet hierdie skatkis van gratis hulpbronne wat jou dadelik:
- Gemoedsrus
- Fokus
- Goeie struktuur
- Afskopplekke gaan gee
Maak ʼn skittersukses van tuisonderwys.