Jy het seker al mense teëgekom wat sê jy moet liewer in Engels tuisskool, want eendag gaan jou kinders buitendien op universiteit in Engels moet leer. In jou hart der harte weet jy dis beter om jou kinders in hulle moedertaal te leer, maar jy weet nie hoe om jou keuse dat moedertaal beter is te verdedig nie. Hier is ʼn argument wat uit drie netjiese stappe bestaan.
1. Erken dat Engels ’n hoëstatustaal is
Mens sien Engels se hoë status die duidelikste by Afrikaanse tieners. Hoekom peper hulle so graag hulle taal met Engelse woorde? Vir dieselfde rede waarom Julius Caesar se sterwenswoorde in Grieks was. Wat het ’n Romeinse keiser met ’n Afrikaanse tiener te doen?
Nes ’n hedendaagse tiener was Julius Caesar baie beeldbewus. Sy eerste belangrike werk in Rome was om die Spele met die gladiatore, die honger leeus en die ongelukkige gevangenes te organiseer om die massas te vermaak. Deur die Spele so skouspelagtig as moontlik te maak, het hy sy loopbaan as generaal en uiteindelik as keiser lanseer. As keiser het hy glo baie van die lourierkrans gehou wat hy soms moes dra, want dit het sy bles goed versteek.
In Julius se tyd was Grieks die taal wat in tel was en nie simpel ou Latyn nie. Selfs in sy sterwensoomblikke was Julius steeds bewus van sy beeld. Toe hy sien sy vriend Brutus was deel van die komplot om hom om die lewe te bring, het hy glo in Grieks gesê: “Jy ook, my kind?”
Vandag se tieners, met hulle ingeboude radar vir status, kan aanvoel dat Engels baie belangrik is. Dis immers in Engels wat die wêreld op soek is na ’n kuur vir kanker. Dis in Engels wat die wêreld probeer om die mensdom se DNS te ontrafel. En in Engels raak selfone slimmer.
2. Maar ons kan mos nie soos tieners dink nie
As Engels klaar homself bewys het as die meerdere, is dit mos beter as ons so gou as moontlik na Engels oorslaan. Nee. Duisendmaal nee. Moenie vergeet dat Einstein sy teorie oor relatiwiteit in Duits geskryf het nie. Of dat die eerste hart in die wêreld in Afrikaans oorgeplant is nie. Of dat die eerste drommeltuigkarre, wat in Julie in Dubai begin vlieg, in Chinees uitgedink is nie.
Die mensdom se geskiedenis wys duidelik universele tale lei tot stagnasie, terwyl differensiasie van nasionale tale vooruitgang bevorder. Nadat Latyn oor Europa gevee het, was honderde plaaslike tale tot niet. Geleerdes en geletterdes het nét Latyn gepraat. Die gevolg? Die Donker Middeleeue.
Eers nadat hulle Latyn versaak het, staan Europese tale weer op
Eers nadat hulle Latyn versaak het en weer die omgangstale begin praat het, het die nasies van moderne Europa uit die stof opgestaan. Luther het die Bybel in alledaagse Duits vertaal en Guthenberg het één doel voor oë gehad: kry soveel as moontlik van daardie Duitse Bybels by die gewone mense.
Die Italiaanse Renaissance het eers begin het toe Dante besluit het om in Italiaans eerder as in Latyn te skryf. Engels se eie Renaissance het ʼn groot hupstoot van Chaucer gekry, wat nederige Engels bo die Frans van die elite verkies het.
Monokulture is baie gevaarlik. Vra maar vir die miljoen Iere wat dood is in die aartappelhongersnood tussen 1845 en 1852. Ander faktore het ʼn rol gespeel in dié tragedie, maar die Iere het net één soort gewas geplant en ’n enkele siekte het die hele aartappeloes vernietig. ’n Gebrek aan verskeidenheid is nie net sleg vir plante nie, maar ook vir tale, want elke taal dink op sy eie unieke manier.
Engels het nie altyd hoë status gehad nie. Latyn ook nie. By taalkeuse moet ons verby kortstondige status kan kyk en die wysheid hê om in te sien dat ’n verskeidenheid tale ’n bate is, wat die mensdom moet koester en uitbou.
3. Beste resultate in moedertaal
Toe 2016 se matriekuitslae ontleed is, het Afrikaanse skole weer puik gevaar. Hulle Wiskunde prestasie was veral indrukwekkend.
Na my mening is een van die redes vir hierdie goeie Wiskunde prestasie Afrikaans wat woorde soos gelyksydige en gelykbenige driehoek gebruik. Vir dieselfde konsepte gebruik Engels moeilike Latyns-afgeleide woorde. Natuurlik sal Afrikaanse kinders goed vaar, want hulle verstaan presies waarmee hulle in Wiskunde besig is.
Die feit is egter dat ALLE kinders baie beter vaar as hulle in hulle moedertaal leer.
Om op te som:
In ’n neutedop: natuurlik is dit nuttig om kennis van ʼn hoëstatustaal soos Engels te hê, maar die geskiedenis wys vir vooruitgang is verskeie tale beter. Boonop kan jy navorsing aanhaal wat duidelik wys moedertaalonderwys is die beste vir almal.