Deur Marisa Haasbroek
(Hierdie kortverhaal is in Mei 1999 vir die eerste keer in die tydskrif Sarie gepubliseer.)
“Jy kan nie ʼn T-hemp aantrek na ʼn gradeplegtigheid nie!” kla ek. Erik hou die toga styf toe, maar ek kan mos sien daar is g’n boordjie nie.
“En op hoeveel gradeplegtighede was Ma al?” Dis ʼn lae hou; hy weet goed hoe pla my min geleerdheid my.
Die jaar toe Erik veertien geword het, het sy pa besluit hy ruil my in vir ʼn jonger model, een sonder rekmerke op haar maag. Toe ek bel om te vra of hy na die gradeplegtigheid wil kom, sê hy net: “Ek het ʼn ander afspraak.” Eintlik wou ek hom nie genooi het nie; dis nie asof hy ʼn sent bygedra het tot Erik se geleerdheid nie.
Die jaar toe Erik veertien geword het, het hy na daardie musiek begin luister. Liedjies wat wysieloos aantjommel; al wat jy hoor, is doef-doef-doef. Partykeer was ek spyt sy pa het nie maar die hoëtrou ook gevat nie.
“Is jy klaar?” vra ek. “Oor ʼn uur begin die storie en ons moet nog parkeerplek soek.”
“Relax, ek gaan eers gou vir my ʼn paar eiers in die pan gooi.”
“Nee, netnou mors jy op jou klere! Drink koffie en eet beskuit.”
En in sy veertiende jaar het hy daardie vriende begin kry. Knape met lang kuiwe wat jou nooit in die oë kyk nie en altyd swart dra. Waaroor rou die tieners so? Oor hul eie of hul ouers se verlore lewe? Sy maats se ouers is almal baie ryker as ek en toe hy sê hy wil ook universiteit toe, het ek bang geraak.
Erik het vir ouditeur gestudeer. Dis een ding: hy het my kop vir syfers geërf. Van die debiteureklerke by die werk is ek die akkuraatste.
Vir ekstra geld het ek begin om koeksisters vir die tuisnywerheid te bak. Elke aand tot twee in die oggend. Erik het sowaar werk gekry as ʼn kelner. So tussen ons het ons elke jaar die universiteit se rekening net-net betaal gekry.
Minder het ons nie baklei nie. Oor meisies, oor hy te min leer, oor hy nie wil kerk toe gaan nie, oor die oorbel, oor die tatoeëermerk op sy arm wat hy afgewas het net toe ek die stuipe wou kry . . .
Nes ons vandag baklei.
“Moenie vir Ma overdress nie. Netnou dink die mense ons is niks gewoond nie. En moet Ma daai pienk outfit dra? Dit laat Ma se wange so rooierig lyk.”
“Ek sê nog ʼn mens dra nie ʼn T-hemp onder ʼn toga nie!”
“Sharrup, Ma!” Ongeërg.
Ons baklei oor wie moet bestuur. Hy wen. Ons baklei oor die roete, oor hy op ander motors se sterte sit.
Toe ons by die groot grys gebou inloop, bekyk ek die ander studente met hul swart togas goed. “Sien jy, al die manstudente het boordjiehemde aan.”
Ek kry maklik plek omdat ek ek-alleen is; daar is mos altyd een-een-sitplekke oop. Iemand speel orrelmusiek soos in die kerk. Die mense praat ook net so saggies soos in die kerk. Ek soek Erik se naam in die program, kry sy naam daar tussen die Grovés. Ek soek hom tussen die rye en rye studente; ek kry hom omdat hy van agter net soos sy pa lyk. Ek sluk aan ʼn knop in my keel.
Almal staan op toe ʼn lang ry professors van agter ingestap kom. Net twee van hulle loop tot op die verhoog. Die studente beweeg soos ʼn lang ry miertjies teen die sytrap op, verdwyn agter die gordyne en kom een-een uitgestap soos hul name geroep word. Hulle gaan staan eers tot die fotograaf se flits geflits het en stap dan na die man wat hul name uitgeroep het. Elkeen kry ʼn rolletjie papier. Daar is baie studente wat B.Com.-grade kry. As die professor “cum laude” ná die naam sê, klap die mense ʼn bietjie harder.
Toe die G’s begin, voel ek my maag draai. Sê nou Erik val of iets?
“Erik Grové!” roep die professor.
Erik wag vir die foto se neem, stap dan verder. Toe gaan staan hy in die middel van die verhoog en ruk sy toga oop.
Die mense trek hul asems in. Toe begin hulle hande klap en een vir een staan hulle op. Tot die professor klap hande.
Ek bly sit. Ek byt my lip tot hy bloei, maar die trane wil nie ophou kom nie.
“Dankie, Ma!” sê die vet, swart letters op die T-hemp.