buitemuurse

Buitemuurse aktiwiteite? Hoe moontlik vir tuisskolers?


Lizelle Rademeyer, tuisskoolma van die Wes-Kaap is aan die woord oor tuisskool en buitemuurse aktiwiteite. Haar kinders is kranige, maar baie gelukkige gimnaste. Lizelle organiseer ook jaarliks ʼn tuisskoolspan wat deelneem aan ʼn groot atletiekbyeenkoms wat deur ʼn vereniging vir privaat Christen skole gereël word. Lizelle is ook die skepper van ’n Afrikaanse Wiskunde-program. Sy het haar idees oor  buitemuurse aktiwiteite mooi netjies neergepen en ek deel hulle met graagte met jou…

Luister ook hier na ’n onderhoud met Lizelle oor buitemuurse aktiwiteite vir tuisskolers:

Ek is altyd verbaas as sport en buitemuurse aktiwiteite een van die dinge is wat mense terug hou om die sprong te waag om te begin met tuisonderwys. Ons is geneig om vas te kyk in skolesport, maar daar is soveel meer daar buite.

Vul jou talente aan

Ek van mening dat mens moet begin soek vir aktiwiteite waarmee jy nie jou eie kinders kan help nie. My eie balvaardigheid kan bevraagteken word, daarom was Playball vir my ʼn goeie opsie toe ons begin soek het vir aktiwiteite. ʼn Vriendin het weer gevoel sy kan heerlik bal speel met haar kinders en dat kunsklasse en die mors wat daarmee saamgaan weer iets is wat haar kinders nodig het. Gaan soek dus vir iets wat jou kinders se lewe sal verryk.

“It takes a village”

Die gesegde sê nie verniet “it takes a village to raise a child” nie. Ons kinders het insae van ander mense nodig om gebalanseerde grootmense te word. Ons is in die ongelooflike posisie om te kies wie insae in hulle lewens gaan hê. Kies dus jou kinders se afrigters en onderwysers goed. Hulle leer jou kinders baie meer as net ʼn aktiwiteit. Hulle het die vermoë om op te bou of af te breek.

Rome is nie binne ʼn dag gebou nie

Julle hoef nie NOU alles te doen nie! Daar is so baie om van te kies, dat dit onmoontlik is om alles op een slag te doen. Dis ʼn feit dat daar baie aktiwiteite gaan wees waaraan jy nie jou kinders sal kan blootstel nie.

Daar is egter baie tyd. Kies een of twee aktiwiteite elke jaar. Volgende jaar kan julle altyd iets nuuts probeer.

Daar was ʼn tyd wat ons gimnastiek, Playball en houtwerk probeer inpas het. Gou het my kinders begin kla daar is nie genoeg tyd vir speel en maats nie. Ons het toe besluit om net gimnastiek te doen. Jong kinders het werklik nie nodig om meer as 1-2 ure per week aktiwiteite buite die huis te doen nie. Soos hul ouer raak kan die tyd stelselmatig meer word (as hulle dit verkies!)

Minder is meer by buitemuurse aktiwiteite

Vrye spel en vrye tyd bly ongelooflik belangrik. Moenie jul skedule so vol prop dat dit agterweë bly nie. Ons kyk baie keer die waarde van vrye spel mis. En tog is dit waar die meeste leer plaas vind. Spaar dus boonop ʼn paar rand en gee jou kinders genoeg tyd om self die wêreld te ontdek!

Dink buite die boks

As dit by buitemuurse aktiwiteite kom moet ons verder dink as net skolesport. Meeste kultuuraktiwiteite word buite skool verband aangebied. Dink aan musiek, dans en kuns.

Daar is ook ongelooflik baie sportsoorte waarby tuisskolers betrokke kan raak. Gimnastiek, tennis, swem, ballet, ysskaats, judo, golf, perdry en boogskiet is net ʼn paar voorbeelde.

Dis ook nie net individuele sport waarby hulle kan betrokke raak nie. Spansport-opsies is bofbal, yshokkie en toutrek (om net ʼn paar te noem).

Al meer skoolkinders begin nou ook by die aktiwiteite betrokke raak, omdat dit hul ʼn beter geleentheid gee om te presteer. Waarom kan tuisskolers nie dieselfde geleenthede aangryp nie?

Tuisskolers is gesog by buitemuurse aktiwiteite

Iets wat ek al meer besef is dat tuisskolers gesog is by buitemuurse aktiwiteite. Die aktiwiteite ding mee met skolesport en akademie, wat dikwels beteken dat tuisskolers wat meer gefokus deelneem beter vaar.

Ons lewe in ʼn samelewing waar almal wenners wil wees, maar tegelykertyd ook niks wil misloop nie. Dis twee teenstrydighede. ʼn Mens kan nie jou brood aan albei kante gebotter hê nie.

Ek wil ook graag iets sê oor die talle voordele wat buitemuurste aktiwiteite vir jou kind kan inhou.

Fisiese ontwikkeling

Of dit nou sport- of kultuuraktiwiteite is, alles dra by tot ons kinders se fisiese ontwikkeling. Baie hiervan begin egter in speel. Moet dus nie te vroeg inspring met aktiwiteite nie. Boomklim, hang, rol en tol, modder speel ensovoorts is alles voorgangers vir gesonde fisiese ontwikkeling. Spring ons te vroeg in gespesialiseerde sport lei dit tot beserings en onnodige druk.

In die tyd waarin ons leef sou ek egter wou hê dat alle kinders vir ʼn jaar of twee iets soos gimnastiek of Playball doen. Nie omdat dit noodsaaklike aktiwiteite is nie, maar omdat meeste kinders nie meer tydens vrye spel rol, hang of wawiele maak nie.

Dis ʼn hartseer realiteit van ons oorbeskermde samelewing wat meer en meer tyd binnenshuis en voor skerms deurbring. Kinders kan nie meer op hul hande staan nie en weet nie hoe om ʼn wawiel te maak nie. Dis alles dinge wat ons sommer speel-speel gedoen het toe ons kinders was.

As jy dus nie die moed het vir jou kinders om hul eie limiete te toets nie, laat hul dit binne ʼn veilige omgewing onder die toesig van afrigters doen. Sulke fisiese aktiwiteite is krities belangrik vir hulle ontwikkeling.

Deursettingsvermoë

Buitemuurse aktiwiteite is ʼn goeie plek om te leer van deursettingsvermoë. Die reël in ons huis is dat wat jy die jaar begin het, moet jy die jaar klaar maak. Jy kan altyd volgende jaar iets nuuts aanpak, maar ons val nie net rond tussen aktiwiteite nie (Daar is natuurlik altyd uitsonderings, die lewe gooi ons immers soms aan die diep kant in en dan moet mens aanpasbaar wees).

Die gevolg is dat die kinders deursettingsvermoë leer. Daar kom tye wat hulle nie lus is vir oefen of vroeg opstaan nie, maar dan moet deurdruk. Mens kom nêrens as jy net altyd dit doen wat lekker is nie.

Spanwerk

Selfs in individuele sport leer kinders van spanwerk en saamwerk. Jy het immers ʼn afrigter nodig om saam met jou te werk (en die afrigter het ʼn atleet nodig). Jy het nodig om ander in ag te neem. Alles broodnodige vaardighede vir die lewe.

Tydsbestuur

Soos kinders ouer raak leer buitemuurse aktiwiteite hulle ook meer van tydsbestuur. Elke dag het net soveel ure. Hulle moet besluit wanneer hulle musiek of sport gaan oefen, wanneer om die akademie in te pas en wanneer hulle net wil ontspan en speel. En hoeveel tyd hul aan elke aktiwiteit wil afstaan.

Selfvertroue

Buitemuurse aktiwiteit bou kinders se selfvertroue. Buitemuurs lei tot beter vaardighede en meeste aktiwiteite het ʼn platform waar kinders die nuwe vaardighede ten toon kan stel. Dalk in ʼn wedstryd teen ʼn ander span, ʼn kompetisie of konsert. Dit alles help om hulle selfvertroue te bou, veral voor vreemdes.

Sosiale interaksie

Tuisskolers moet dikwels aanhoor dat ons ons kinders in watte toedraai en hulle nie leer van die harde werklikheid van die lewe nie en dat hulle nodig het om te sosialiseer. Wel, buitemuurse aktiwiteite is een plek waar ons kinders net soos alle ander kinders werk aan menseverhoudinge en te doen kry met verskillende opinies en selfs boelies. Hulle leer hoe om saam te werk en met mense van alle ouderdomme en kulture oor die weg te kom.

Beter akademie

Of dit nou sport, kuns of musiek is, al die aktiwiteite vul akademie aan. Dit help kinders om beter te redeneer, ontwikkel woordeskat, wiskundige begrippe, verbeter konsentrasie en vele meer.

Iemand het een keer gesê dat sy op skool altyd gedink het dat dit die slim kinders is wat gimnastiek doen. Eers later het sy besef dit is die gimnastiek wat die kinders slim maak. Dit is natuurlik waar van heelwat ander sportsoorte en aktiwiteite ook.

Enige aktiwiteit waar die volle brein ingespan moet word help breinontwikkeling. Om nie eers te praat van hoe oefening ʼn toename aan suurstof in die brein en voel-goed hormone tot gevolg het nie. Kinders het nodig om te beweeg en daar is nie altyd ʼn veilige ruimte tuis waar hulle dit optimaal kan doen nie. Sport skep daardie veilige ruimte en gee kinders ʼn uitlaatklep.

Dinge om te oorweeg met buitemuurse aktiwiteite:

Almal is nie Olimpiese atlete of uitblinkers nie

As ouers dink ons almal dat ons kinders wonderlik is, maar die realiteit is dat meeste kinders nie Olimpiese atlete of sterre gaan word nie. Dit beteken nie hulle nie kan baat by die vele voordele van buitemuurse aktiwiteite nie. Dit beteken egter dat ons as ouers nie onmoontlike verwagting moet skep nie.

 

Prys harde werk en deursettingsvermoë

Ons is maklik geneig om talent of potensiaal te prys, terwyl dit ʼn Godgegewe is en eintlik niks om op trots te wees nie. Prys eerder jou kinders se toewyding, deelname, sportmansgees, harde werk en deursettingsvermoë.

Dit is hulle bydrae tot hul sukses en is wat op die lang termyn saak maak. Dit is ook wat nodig is vir hulle om werklik te presteer. Om te kan uitblink is meer as talent nodig. Daar is toewyding en passie nodig, en mens moet baie hard werk. Dit is hoekom daar net so ʼn handjievol mense is wat werklik iets uitsonderliks doen.

Balans

Ons het nodig om gebalanseerde kinders groot te maak. Die lewe gaan oor meer as net sport of musiek of kuns. Wanneer ons en ons kinders obsessief raak oor een ding, bly ander dinge agterweë. Sovele Olimpiese atlete ontdek dat hulle nie weet wat om met hulle lewe na die Olimpiese spele te maak nie.

Kompetisie? Goed of sleg

Daar is altyd ʼn debat of kompetisies goed of sleg vir kinders is. Dis my opinie dat dit alles in ons as ouers se hande is. Kinders is nie almal dieselfde nie. Ons moet self oordeel wanneer ons kinders emosioneel reg is om te kompeteer.

En selfs dan is dit van kardinale belang hoe ons die kompetisie hanteer. As die boodskap wat jou kind kry is dat wen ten alle koste vir jou belangrik is, gaan die deelname aan die kompetisie nie goed wees vir hulle emosionele ontwikkeling nie.

Kompetisie is deel van die lewe. Ons kinders het nodig om te leer hoe om grasieus te wen en moedig te verloor. Niemand is altyd aan die wenkant nie. Dis hoe ons deelneem wat belangrik is. Sportmangees is van veler groter waarde.

Jy is ʼn ambassadeur

Onthou altyd dat julle ambassadeurs vir tuisonderwys is. Tuisonderwys is nog relatief onbekend vir baie mense. Wanneer ons kinders aan aktiwiteite deelneem moet ons onthou dat hulle (en ons) die gesig van tuisonderwys is. Nie net vir die afrigters nie, maar ook vir die mededeelnemers en hul ouers.

Behou fokus

Moenie jou finansies en familietyd op die altaar sit ter wille van buitemuurse aktiwiteite nie. Dit is nie die moeite werd nie. Ons wil graag geleenthede vir ons kinders skep, maar ons moet dit nie ten koste van ander dinge doen nie. Jou kind hoef nie Protea kleure of Eisteddfod toekennings te hê om eendag ʼn suksesvolle, gebalanseerde, gelukkige volwassene te wees nie. ʼn Beter waarborg vir latere geluk is om binne die veilige omgewing van ʼn liefdevolle gesin groot te word. Moenie jou eie waarde onderskat nie!

Te veel druk breek spoed

Te veel druk en klem op buitemuurse aktiwiteite is nie goed vir kinders se emosionele en fisiese ontwikkeling nie. Dit lei tot beserings, angs en depressie. Die American Academy of Pediatrics het so ver gegaan as om aan te beveel dat kinders nie voor twaalf jaar spesialiseer in ʼn sport nie (dieselfde geld vir kuns en kultuur).

Om af te sluit, vat dit stadig. Gee jou kinders die vryheid om verskillende dinge te ontdek en dan self as hul ouer is te besluit waarop hulle wil fokus.

Klik hier en vind hier meer uit oor Lizelle se oulike Wiskunde-produkte.

 

Leer jou kinders binne 2 uur om BAIE beter sinne te skryf

In hierdie mini- aanlyn skryfkursus

Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Buitemuurse aktiwiteite? Hoe moontlik vir tuisskolers
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!
Die vrees dat jou kinders nie aan buitemuurse aktiwiteite sal kan deelneem nie, moet jou nie van tuisonderwys weghou nie. Daar is HOPE geleenthede!

Leave a comment