Met die hulp van talle tuisskoolma’s het ons nou op ons tuisskool-leeslys meer as vyftig Afrikaanse boeke wat geskik is vir jonger lesers. Daar is boeke vir elkeen se smaak en voorkeure. Een van die ma’s wat boeke vir die lys voorgestel het, merk interessant genoeg op dat, toe hulle self kon lees, haar kinders teruggegaan het en baie van dié boeke wat sy vir hulle voorgelees weer self wou lees.
’n Proesel van boeke vir jonger lesers op ons leeslys
Hier is ’n paar van die boeke op die lys wat vir my baie interessant gelyk het en wat ek wens ek in die jaar 2004 van geweet het. Dis drie stories wat uit diere se oogpunt vertel word, en wat altyd ’n treffer vir kinders sal wees:
1. Koningskind deur Anita du Plessis
’n Engelse bulhond vertel ’n humoristiese storie hoe hy sy huismense sien. Dis blykbaar nogal anders as hoe die huismense hom sien.
2. Striep deur Henk Figee
Striep is ’n kat en hy vertel sy storie. Figee is ’n Nederlandse skrywer en hierdie boek is een van die talle puik, vertaalde boeke op ons lys van boeke vir jonger lesers.
3. Baron Buksie deur Wille Martin
Blykbaar ’n kostelike storie oor hoe ’n klein worshondjie veral katte ervaar.
Ek wens ek het meer rympies en gedigte vir my kinders voorgelees
As daar een ding is waaroor ek spyt is, is dit dat ek nie vir my kinders meer rympies en gedigte voorgelees het nie. Die een rympiesboek wat ons wel gelees het, was Jaco Jacobs se Wurms met tamatiesous. Baie lawwe, maar vreeslike vernuftige versies pryk in hierdie boek. Seuntjies is veral mal oor al die grillerige goed wat Jaco so raak beskryf. Ek was baie bly toe een van die ouers my herinner het aan hierdie klompie prettige rympies.
Lees vir jou kinders. Dis die beste raad wat ek ooit gekry het.
Vind hier nog oulike titels vir jonger lesers
As jy op Pinterest is, hier is die bord oor Afrikaanse boeke wat geskik is vir jonger lesers. Steek die pins op jou borde vas, lewer kommentaar op die boeke wat julle gelees het, maak dit ’n hulpbron vir alle Afrikaanse tuisskolers.
Hier is ‘n titel wat ek juis onlangs bygevoeg het:
Ek het ingeteken op die poslys maar kan steeds nie die lys leesboeke aftrek nie. Ek word telkens weer teruggevoer na die skakel om in te teken. Hoe gemaak?
Jammer om te hoor jy sukkel so, Martie. Ek stuur vir jou ’n e-pos met die instruksies.
Dagsê
Ek het ook ingeteken en my epos adres gestuur, maar kry ook nie die leeslys afgelaai nie. Kan u my ook help asseblief ?
Hallo Olma, ek e-pos gou vir jou instruksies.