As daar een ding is wat Afrikaanse tuisskoolma’s opgewonde maak, is dit boeke. Dit kon ek sien uit die baie e-posse met voorstelle wat ek gekry het van boeke wat op ons Afrikaanse leeslys kon kom. Maar ek net soveel navrae gekry om te hoor wanneer die leeslys uiteindelik beskikbaar sal wees. Ek is bly om te kan sê dat die leeslys beskikbaar is met meer as 250 boeke op en dat dit sommer baie gewild is.
Ons leeslys is ’n PDF lêer in die vorm van ‘n tabel.
Hoe kry jy die leeslys in die hande?
Om toegang tot die leeslys te kry, moet jy asseblief inskryf vir my gratis aanlyn kursus Gratis&Verniet. So verkry jy nie net toegang tot die leeslys nie, maar ook tot al die ander gratis hulpbronne. Jy kry ook elke week ’n nuusbrief propvol wenke en raad oom suksesvol in Afrikaans te kan tuisskool.
Ek het die boeke in kategorieë en dan alfabeties volgens titels in elke kategorie lys geskik. Op versoek van baie ma’s het ek probeer om te sê vir watter ouderdomsgroep elke boek min of meer geskik is. Verder gee ek ook ’n baie kort beskrywing van die inhoud van elke boek.
Hier is ’n skermskoot van hoe die lys lyk:
1. Diere-, avontuur-, aksie- spanning- en speurverhale (DAASS)
In dié kategorie het ek die meeste titels beskikbaar en dit lyk my dit sal ’n baie gewilde afdeling wees. Baie ouers het die Trompie boeke en Carina Diederichs Hugo se Thomas @ reeks voorgestel.
2. Boeke vir jonger lesers
Ek wou graag ’n lys boeke beskikbaar maak vir ma’s met kinders jonger as tien en ek is bly oor die mooi groepie titels in hierdie kategorie. Voorbeelde hier is boeke soos die Sias en Mias reeks van Mikro en dan ook Jaco Jacobs se Zakkie Mostert reeks.
3. Biografieë en literêre boeke (B&L)
Hier plaas ek ernstiger en meer literêre stories, wat waarskynlik geskik sal wees vir ouer lesers. Voorbeelde is Kringe in ’n bos van Dalene Matthee en ook FA Venter se Kambrokind, ’n boek wat weer en weer in die voorstelle opgeduik het.
4. Historiese romans
My kinders het met die leer van geskiedenis meer geleer en onthou van die mense uit die verlede as hulle dit in storievorm kon ontdek. Ons was egter meestal op Engelse boeke aangewese. Dis my ideaal om vir Afrikaanse tuisskoolma’s te laat weet van Afrikaanse boeke wat beskikbaar is om geskiedenis meer lewend vir die kinders te maak. FA Venter se puik reeks oor die Groot Trek is natuurlik wonderlik. Ek was baie bly om uit te vind van vertaalde boeke. Soos Esther Forbes se Johnny Tremain. Dié storie speel tydens die Bostonse teeparty met die Amerikaanse onafhanklikheidswording af.
5. Klassieke boeke
Ek het ook ’n kategorie gemaak van die lang lys klassieke verhale wat in Afrikaans vertaal is. Esther Forbes se boek hierbo kan ook in hierdie kategorie kom, maar ek dink ma’s sal bly wees om te hoor boeke soos George Orwell se Animal Farm is sowaar in Afrikaans beskikbaar.
Hoe kry mens van die ouer boeke in die hande?
Vir my is ’n groot kopseer die beskikbaarheid van sommige van die ouer boeke, wat reeds uit druk is. Ek weet party ma’s het oor baie jare vir hulle ʼn huisbiblioteek opgebou deur tweedehandse boeke aan te koop. Party titels tel as Africana en is peperduur en daarom sal hulle dit nie sommer uitleen aan ander tuisskoolma’s nie. Maar ek het bietjie gaan kersopsteek by ʼn paar ander ma’s om te hoor waar hulle die boeke opgespoor het. Ek hoop een of meer van hulle voorstelle werk vir jou.
1. Snuffel rond by tweedehandse boekwinkels en vlooimarkte
Lucille van Heerden van Pretoria: “Ek snuffel graag deur die stowwerige rakke van tweedehandse boekwinkels na skatte. Skole gooi ook dikwels ouer boeke uit.”
Hier is meer plekke waar jy goeie gehalte tweedehandse Afrikaanse boeke kan opspoor:
http://www.tierbergboeke.co.za/
http://www.maroelaboeke.co.za/
Jy kan ook ’n e-pos hierheen stuur en hoor watter tweedehandse boeke is beskikbaar: [email protected]
2. Maak baie goeie vriende met jou plaaslike biblioteek se mense
Salomien Pretorius, Pretoria: “Die biblioteke in Pretoria het nog heelwat van die ouer boeke. Ons is sekerlik bevoorreg. Soms vra ek vir ‘n boek en dan sê die biblioteek se stelsel dat dit in die ‘sentrale versameling’ (SV) is.
“Die SV is ‘n ‘donker gat’ in die middestad waarheen al die biblioteke in Pretoria hulle boeke stuur wat vir ‘n sekere periode nie uitgeneem is nie. Mens kan dit verstaan, want ʼn biblioteek het net soveel plek.
“Maar as mens ‘n vriendelike bibliotekaresse het, kan sy ‘n versoek rig en die boek weer uit die SV aanvra. Dan word die boek weer deur die plaaslike biblioteek opgeneem en sal eers weer na die SV gaan as dit vir ʼn aantal jare nie uitgeneem is nie. Ek het die afgelope twee jaar seker sewe boeke uit die SV aangevra.”
3. Probeer ‘bid or buy’
Tina van Deventer, Pretoria: “Ek stem vir bidorbuy, maar dan koop ek net wat ek werklik graag wil hê en nie onnodige boeke nie.”
Salomien Pretorius, Pretoria: “Ek het ook al boeke op bidorbuy gekoop. Spotgoedkoop … maar dan beloop die posgeld dubbeld wat die boek gekos het.”
4. Gaan loer by die bakkiesblad in
Tina van Deventer, Pretoria: “Die facebookblad Homeschool Exchange South Africa het baie keer goeie boeke daar wat hulle smous. Jy kan ook daarop vra as jy na ʼn spesifieke titel soek. Hulle help graag.”
Dié groep is ʼn geslote groep en mens moet vra of jy lid kan word. Ook op facebook is daar nog ʼn geslote groep Tuisskool / Homeschool, waar iemand van die Hospice winkel in Lyttelton, Centurion gereeld plaas as sy weet van vondste waarin tuisskolers veral sal belangstel.
5. Luistervinkstories
Hannekie Verwoerd, ‘n spraak- en taalterapeut en self ‘n tuisskoolma het ‘n weberf waar sy van die ouer Afrikaanse boeke voorlees. Die gebruiker kan die bladsy sien soos wat sy voorlees.
Ontdek van die wonderlike ou Afrikaanse boeke wat al uitdruk is op haar webwerf.
KLIK HIER vir meer inligting.
Volg die Pinterest borde oor ons leeslys
Gaan kyk gerus na die Pinterest borde wat ek oor die vier kategorieë van boeke gemaak het en steek dit op jou borde vas.
Ek voeg ook gereeld nuwe boeke by, ook ou gunstelinge wat heruitgegee word.
Haai daar.
Ag ek is oortuig dat ek al die leeslys ontvang het…maar ek kry hom nie meer nie! Ek sukkel om ‘n nuwe een in die hande te kry, as julle so gaaf sal wees om dit weer aan my te stuur asb.
Baie dankie!
Hallo Danelle! Die leeslys bly deesdae op ‘n nuwe plek. Binne-in my nuwe gratis aanlyn kursus, Gratis&Verniet.
Skryf asseblief in vir die kursus en dan kan jy die leeslys daarbinne aflaai.
https://tuisskool-in-afrikaans.teachable.com/p/gratis-verniet/