Skielik het ons wêreld verander, en is kinders wat tot 2024 gewoon “voorskools” was nou skoolpligtig! Sedert 24 Desember 2024, toe die BELA-wet van krag geword het, is ‘n kind skoolpligtig vanaf die begin van die jaar waarin hy 6 word, en moet hy dan by sy provinsiale onderwysdepartement geregistreer word vir Graad R.
Ses dinge wat jy met jou sesjarige moet doen
Ma’s het jare lank al hul kinders self speel-speel “skoolgereed” gekry, en dit kan mens angstig maak om te dink dat jy nou hierdie kleintjie formeel moet leer?! As jy een van die ma’s met ’n Gr R-leerdertjie is, beveel ek aan dat jy heel eerste die uitstekende artikel van Louise Bodenstein moet gaan lees: “Ses dinge wat jy met jou sesjarige moet doen”. Jy sal dan waarskynlik sien dat jy alreeds al hierdie dinge doen, en dat jy gerus die spesiale tyd saam met hom kan geniet sonder om jou naels te kou.
Wat verwag die Staat?
As jy bekommerd is oor wat die Staat voorskryf, kan jy hier kyk na wat die DBO as kurrikulum voorstel. Daar is twee dele Afrikaanse materiaal, wat jy gratis kan aflaai en uitdruk vir jou kind om te gebruik. Soos met alle kurrikulummateriaal, sal jy dit graag eers deurkyk of dit geskik is vir jou kind.
Ander mense gee raad
Die webblad www.kleuters.co.za verwys ook na hierdie hulpbronne, en het allerhande ander interessante artikels vir ouers.
By boekhandels soos Aristata Boekhandels is daar byvoorbeeld ook die Alles-in-Een-boeke verkrygbaar, wat ‘n onderwysersgids ook insluit om jou te help.
Lees gerus hier hoe het veteraan tuisskoolma, Janet Kieswetter, haar Graad R-jaar aangepak. Sy tuisskool al 11 jaar, is ’n gekwalifiseerde onderwyseres, en deel graag al haar wenke om ander ma’s te help om met vrede, vreugde en selfvertroue te tuisskool.
Twee onderwyseresse wat al jare met kleuters en Gr R-leerders werk, deel hulle wenke vir ouers. Wilna van Rooyen deel op die Afrikaanse Onderwysersnetwerk se webblad wenke (jy sal oplet dat sommige wenke nie van toepassing is op tuisskolers nie, soos “Groet u kind en vertrek so gou as moontlik, wanneer u u kind in die oggend aflaai”, maar dit is interessant om ’n onderwyseres se perspektief te hoor. Elrike Pretorius van Laerskool Dirk Postma gee haar wenke ook vir ons. Die opsomming kan jy hier lees. Sy gee idees oor tekeninge, speletjies om visuele en ouditiewe persepsie vir jou kind te versterk en allerhande idees om aan gesyferdheid ook te werk. Haar opsomming eindig so: “Kinders wat speel-speel leer, onthou wat hulle leer”.
‘n Tuisskoolma met ‘n Graad R vertel
Jy hoef nie ’n klaarverpakte kurrikulum te koop vir Graad R nie – jy kan jou eie saamstel. My tweede dogter, Uda de Wet, ’n tuisskoolma, se oudste, Katja, word hierdie jaar 6 in Julie. Sy het nog ’n dogter, Ria (amper 4) en Fritz (2 maande). Hulle volg die Charlotte Mason-benadering. Sy en haar man, Friedrich, lees baie vir die kinders voor, en verder leer die kinders (in tuisonderwys leer almal mos sommer saam) klanke en letters, en tel alles wat voorkom. Hulle gaan gereeld as gesin op lekker aktiewe uitstappies, ook na ’n musiekklassie en ’n ondersteuningsgroep van ma’s van die gemeente, en die kinders help Pappa graag in die tuin en met die troeteldiere. Iemand het vir Uda ’n leer-lees-program gegee, en sy het ook die Afrikaanse Wiskundeboeke van Number Sense/Getalbegrip aangeskaf. Leer is vir die kinders so lekker dat hulle smeek om weer te begin met “skool” op ’n Sondagmiddag of na ’n langerige vakansie! Ek het vir Uda gevra wat doen hulle alles, sodat jy van iemand kan hoor wat nou besig is met hierdie ouderdom kind. Sy het vir my ’n stemboodskap gestuur terwyl sy kosmaak. Luister hoe Uda haar tuisskool organiseer, en kosbare wenke gee so uit die perd se bek. Sy verwys na Luistervink se lekker-luister-stories, waarop jy kan inteken, en die Charlotte Mason Cottage-Facebookblad.