Verbeter spelling

Hoe kan ek my kind se spelling verbeter?


Hoe kan ons ons kinders se spelling verbeter? Baie ma’s (die uwe inkluis) is baie keer bekommerd oor hoe goed of sleg ons kinders spel. Dis asof ons dink as ons regspellende kinders die wêreld instuur, ons nou regtig met tuisonderwys geslaag het! Te oordeel aan die gehalte spelling wat mens teëkom by veral kommentaar op nuusberigte en op sosiale media, lyk dit egter nie of almal voel spelling is so belangrik nie. Mens gril soms vir die gruwelike spelfoute wat gemaak word.

Is spelling regtig so belangrik? En hoe kan ons die hele spellingkwessie met minder angs aanpak, het ek vir spraak- en taalterapeut Hannekie Verwoerd gevra.

Luister hier na die hele onderhoud.

“Ja, ek sien almal het ʼn vreeslik onrustigheid oor spelling. En dit maak my onrustig dat almal so onrustig is,” sê Hannekie sommer met die intrapslag.

Patrone is beter as reëls

“Dis omdat ek sien dat mense allerhande reëls probeer opstel. Hoewel taal gewoonlik logies is en ʼn mate van reëlgebondenheid het, bly taal is lewendigs wat mens nie altyd met reëls kan vasvang nie. Sodra jy ʼn reël neerlê, maak jy dit staties,” verduidelik sy.

Wat Hannekie meer kwel as bloot die feit dat mense nie kan spel nie, is dat hulle hul nie goed kan uitdruk nie. Hulle sinskonstruksies is swak en te oordeel aan die kommentare wat hulle skryf, lyk dit baie keer of hulle nie verstaan wat hulle gelees het nie, sê Hannekie.

“Ek voel as ouers moet ons eers seker maak ons kinders kan ʼn sin ordentlik formuleer. Verder moet ons seker maak ons kinders verstaan regtig wat hulle lees en dat hulle ʼn sinvolle repliek kan lewer of ʼn redenasie oor iets kan vorm. In die proses kan ons aan spelling aandag gee.”

Daarom voel Hannekie dat ons liewer op spelpatrone moet fokus, eerder as op reëls. Hoe leer jy jou kind om spelpatrone raak te sien? Hannekie gee 8 maniere.

1. Mens kan spelling verbeter deur jou kind te wys op die verskil tussen klanke en letters

Klanke is die goed wat ons hoor en letters is die goed wat ons sien.

ʼn Eenvoudige oefening waarmee jy dit vir jou kind kan illustreer, is om ʼn prentjie te vat van ʼn potlood en nog een van ʼn kameelperd. Dan sê jy: kom ons klank potlood. P-o-t-l-oo-d. Hoeveel klanke was dit? Dit was ses klanke. Kom ons skryf nou potlood. Skryf die woord dan vir die kind op die regte manier. Dan sê jy: kom ons tel die letters. My wêreld! Die woord het sewe letters. So hierdie ding klink anders as wat hy lyk.

Doen dan dieselfde met kameelperd. K-a-m-ee-l-p-e-r-d. Dit het nege klanke. Maar as ons dit skryf, sien ons die woord het tien letters.

Praat dan bietjie met jou kind hoekom hy dink dit gebeur. Dan gaan hy sê: as ek sê oo of ee dan hoor ek een ding, maar as ek skryf dan skryf ek twee lettertjies.

Hierdie oefening gee vir die kind die gevoel dat hoe dit klink en hoe dit lyk is nie altyd dieselfde is nie. Dit leer hom om nie daarvoor te skrik nie.

Sê vir jou kind dis eenvoudig hoe dit is. Soos wat hy ouer word en al hoe meer skryf, gaan hy baie daarmee te doen kry dat woorde anders klink as wat hulle op papier lyk.

2. Jy kan spelling verbeter deur met lettergrepe of klankgrepe te werk

Begin ook vroeg-vroeg met lettergrepe of dan klankgrepe werk. Klankgrepe en lettergrepe is nie dieselfde nie. Klankgrepe is hoe ons dit sê en deel.

Kom ons vat byvoorbeeld die woord tassie, sy klankgrepe is ta-sie. Maar as mens die lettergreepverdeling doen, werk jy met die letters. Dan staan die woord tassie voor jou en dan gaan jy hom tussen die s’e deel. Mens moet lettergrepe eintlik nie hardop sê nie, dis iets wat jy sien.

Wanneer jy lees gebruik jy lettergrepe en die reëls vir lettergreepverdeling meer. As jy regtig ʼn baie lang woord in ʼn leesstuk teëkom, dan help lettergreepverdeling jou om te weet hoe jy die woord sinvol moet opbreek.

ʼn Goeie wenk hoe mens lettergrepe aan spelling kan haak, is om jou kind van jongs af, sê hier van vyf af, klankgrepe te laat uitklap. Die kind sien nog nie die woord of die lettertjies nie, maar hy hoor hom. Byvoorbeeld kameelperd klap hy as ka-meel-perd.

Hannekie vertel haar skoonma sê altyd vir die kinders: hoeveel asemstote het die woord om die konsep van lettergrepe tuis te bring. In die stuk oor die verskil tussen vokale en konsonante verduidelik sy netnou hoekom dit so ʼn oulike manier is om kinders lettergrepe te leer onderskei.

3. Spel beter: woorde met net een lettergreep is bietjie makliker

As die kind die klankgrepe tel, sê Hannekie, wil mens hê hulle moet bewus word van kort woorde en lang woorde. Later as hulle begin spel, is daar ʼn baie lekker spelreël in Afrikaans en dit is: As jy ʼn eenlettergrepige woord skryf, skryf jy die vokaal die meeste van die kere presies soos hy klink.

Sê nou maar die woord is wit, dan is die vokaal ʼn kolletjie i. In ander woorde hoor ons partykeer ʼn i, maar dan skryf ons ʼn e, soos byvoorbeeld die tweede e in lekker (ons sê le-kir).

Hierdie eenvoudige spelreël help kinders baie. Dit keer dat hulle nie so moedeloos word met die vokale wat anders geskryf word as wat hulle gesê word nie. Soos met die woord boom, wat in bome skielik nou net een o het.

Sodra kinders gekonfronteer word met die taalreël dat die tweede o wegval by die meervoud, begin hulle baie keer dink as hulle ʼn o op enige plek hoor, hulle die ander lettertjie maar kan weggooi. So geleidelik begin hulle besef spelling en taalreëls is ingewikkelder as wat hulle gedink het.

As die kind egter geleer het as daar net een klap is, soos vir ʼn kort woord met net een lettergreep, mens die vokaal skryf presies soos wat hy klink, is dit darem een ding waaroor die kind hom nie hoef te bekommer nie.

Hannekie voel ouers moet vroeg-vroeg van lettergrepe begin praat. En ook van eenlettergrepige woorde. Dis nie so moeilik nie. Die kind van graad 1-ouderdom kan al van ʼn eenlettergrepige woord weet. Dis nie nodig dat mens babataal met jou kinders praat nie.

4. Mens kan spelling verbeter deur te wys op die verskil tussen vokale en konsonante

Leer jou kind ook die verskil tussen vokale en konsonante. Of dan klinkers en medeklinkers. Om dit te doen laat jy jou kinders baie speel met klanke in hulle monde. So leer hulle dan watter klanke is konsonante en watter is vokale.

Hannekie gebruik ook die term oopmaker vir vokaal en toemaker vir konsonant. Haar skoonma se idee van ʼn asemstoot pas hierby in. Sy verduidelik:

“Jy produseer ʼn vokaal of ʼn klinker met jou spraakkanaal. Jou spraakkanaal begin by jou longe, dan gaan dit op deur jou lugpyp. Jou stemkas is binne-in jou lugkas. As jy na ʼn man se keel kyk, het hy mos so lekker adamsappel. Dis is die stemkas. Daar is ʼn harde stukkie been binne-in die lugpyp waarin jou stembande sit. Die stembande sit bo-oor die bokant van die lugpyp.

“Verder is die spraakkanaal aaneenlopend met die res van jou keel, jou mond en jou neus. As lug van jou longe af kom en jou stembande sluit, dan druk die lug die stembande oop en dit laat vibreer. En dis is waar jou stem vandaan kom.”

Alle klinkers het stem

Alle vokale, met ander woorde alle klinkerklanke, het stem. Mens sê hulle is stemhebbend. Laat jou kind sy vingers teen sy keel op sy stemkas sit en laat hom ʼn a of ʼn e of ʼn o of ʼn u sê om die beweging te voel.

Dis vir kinders vreeslik lekker om te voel daar is iets lewendigs in hulle kele. Ontdek dit saam met jou kind. En onthou die stemhebbendheid geld vir die vokaalkombinasies ook, soos die langer klanke soos aa,ee,i,oo en uu, maar ook die kort a,e,i,o,u. En dan ook die diftonge soos aai, oei en eu.

Die rede waarom Hannekie al die klinkerklanke oopmakers noem, is omdat die resonansieruimte van jou mond en jou keel ʼn oop buis is as jy hulle sê. Niks raak aan mekaar as jy hierdie klanke sê nie.

Jou lippe gaan nie toe om aanmekaar te raak nie. Die agterkant van jou tong lig nie op om aan jou sagte verhemelte te raak nie. Daar is nie vernouings in jou keel soos wanneer ons ʼn h sê nie. Vir vokale is die hele spraakkanaal ʼn oop buis.

Wat ons wel doen as ons klinkers vorm, is om ons kakebene groter of kleiner oop of toe te maak. Soos wanneer mens sê a, dan gaan jou kakebeen wyd oop en wanneer jy sê i dan gaan jou kakebeen ʼn bietjie kleiner oop wees. Maar dis nog steeds oop. Niks raak aanmekaar nie.

Vokale is ook oopmakers in jou woorde

Vokale is ook oopmakers in jou woorde. Hulle maak dit maklik om woorde te lees. As mens ʼn klont konsonante opmekaar het, is dit moeilik om te lees. Ons kry dit soms in Afrikaans by ʼn woord soos venster, waar daar nst langs mekaar is.

Vokale dryf die lettergreepstruktuur van die woord. Daar waar die vokaal is, gaan jou mond oop en dis maklik om te sê.

Laat jou kind die oopmakers saam met jou ontdek. Skryf die alfabet uit en kies al die oopmakers. En onthou in Afrikaans is y altyd ʼn oopmaker. In Engels is y soms ʼn medeklinker aan die begin van ʼn woord, soos yes.

In Afrikaans is ʼn y nooit ʼn medeklinker nie. Ons kan hom wel ʼn diftong noem, maar hy bly ʼn oopmaker. Sê dit en voel dit. Wat gebeur in jou mond as jy y sê? Raak iets aanmekaar? Nee.

Speel nou met die konsonante rond. Hulle is altyd toemakers. Soos lippe wat aanmekaar raak (m of p) of tande op lippe (v), of ʼn tong wat oplig en aan die verhemelte raak (r). Partykeer is daardie aanraking net ʼn oomblikkie lank. Soos wanneer mens k of t sê. Dis vlietend, want hulle is ontplofklanke. Maar as mens sê mmm is die aanraking die hele tyd daar.

Speel die spieëlspeletjie met jou kind

Sit voor ʼn spieël saam met jou kind en raak bewus van die verskillende klanke. Dit is ʼn uitstekende oefening om jou kind se fonologiese bewustheid aan te help. Sonder hierdie klankbewussyn gaan hy regtig sukkel om te lees en te skryf.

Die spieëloefening kan mens al hier teen vyf of ses jaar doen, dalk selfs jonger. As jy dit nog nooit met jou kinders gedoen het nie, kan jy dit natuurlik ook met ouer kinders doen. Dis ʼn speletjie, mens maak geluide en so ontdek jou kind ʼn stuk van sy liggaam.

Gaan googleloer ook vir prentjies van al hierdie goed waarvan ons praat, soos die stembande, die stemkas, die longe, die lugpyp.

5. Aandag aan klempatrone kan spelling verbeter

Leer jou kind verder van klempatrone. Nie net in gedigte nie, maar in alle woorde. Mens moet klemoefeninge met jou kinders doen, omdat dit hulle instel op die ritme en die klankpatrone van taal.

ʼn Kind moet weet dis vís-stok en nie vis-stók nie. En die kind moet dit in sy kop kan hoor. Spelling word ook deur klem beïnvloed. Soos in die reël dat ʼn beklemtoonde, lang a aan die einde van die woord vir sy meervoud ʼn afkappingsteken kry, soos in die woord hoera wie se meervoud hoera’s is en nie hoeras nie!

Begin deur net eers jou kind bewus maak van klem. En weer eens, maak ʼn speletjie daarvan. Jy sê vir die kind: het jy al gehoor dat mens een deeltjie van ʼn woord harder sê as ander dele?

Kom ons doen dit met ons name. Is dit Há-ne-kie of Ha-né-kie of Ha-ne-kié?

Die belangrike ding met klank is jy moet baie speletjies met jou kind speel. En baie daaroor lag as dit snaaks klink. Dis nie ʼn pen-en-papier-oefening nie. Dis ʼn praatoefening, wat mens byvoorbeeld kan doen as jy in ʼn kar ry.

6. Spel beter: oop en geslote lettergrepe

Verder moet ouers hulle kinders ook leer van oop en geslote lettergrepe, want hulle werk saam met kort en lang vokale. Vokale kan kort wees a,e,i,o,u of vokale kan lank wees aa, ee, oo, uu. Ie en oe tree party keer ook soos lang klanke op.

In Afrikaans het ons die reël dat as jy ʼn kort klank in ʼn meerlettergrepige woord het, jy vir hom ʼn dubbele konsonant gee om hom kort te hou. Die toemaker druk die kort klank vas. Soos in die woord katte.

As daar nie ʼn dubbel t is nie, gaan ons sê kaa-te, want daar is nie ʼn toemaker wat die klank vasdruk nie.

Jou kind gaan hierdie reël net bemeester as hy gereeld die lettergrepe klap en die lettergreepverdeling van woorde doen. Dan sal hy begin agterkom as daar nie ʼn toemaker is om die vokaal vas te druk nie, hy uitrek.

7. Spel beter: waar kom ʼn woord vandaan?

As jy fonologiese bewustheid het, begin jy patrone in jou taal opmerk. En dan begin jy ook sien waar daar afgewyk word van daardie patroon.

Ons sê dan dat ʼn kort vokaal vasgedruk word deur ʼn toemaker. Maar hoekom skryf ons dan krokodil en nie krokkodil nie? Of tarentaal en nie tarrentaal nie? Of mineraal en nie minneraal nie?

Om jou kind met die spelling van hierdie woorde te help, help dit as mens weet waar die woorde vandaan kom. As ons ʼn woord uit Latyn ontleen het, gaan sy spelling anders wees as wanneer ons dit uit Nederlands gekry het. Dis nie binne ʼn ma se bereik om al die stamtale onder die knie te kry nie, maar, voel Hannekie, wat jy vir jou kind sê, is: daar is ʼn rede hoekom ons ʼn woord spel soos ons hom spel.

“Die ding van uitsonderings moet ons uit ons koppe kry, want op die ou end sit jy met meer uitsonderings as reëls,” sê sy.

Sy voeg by dat ons ook maar vir ons kinders kan sê dat alhoewel ons nie die rede weet hoekom ʼn woord so gespel word nie, daar wel ʼn rede is.

8. Die spelreël van gelykvormigheid

Nog ʼn reël wat Afrikaans se spelling dryf, is die reël van gelykvormigheid. Dis wanneer ons vir ʼn woord se familie vra hoe hy gespel moet word. As jy byvoorbeeld brood sê, hoor jy aan die einde van die woord ʼn t. Maar as jy dit skryf, skryf jy d.

Hoekom? Hannekie verduidelik dit só:

“Want as ek vir brood se familie gaan vra, as ek vir brode gaan vra, dan sê brode vir my jy gaan ʼn d vat. Ons wil hê dat woorde wat aanmekaar behoort, dieselfde lyk.”

Stamwoorde help ons om betekenisse aan mekaar te koppel. Soos kruideniersware, kruiwa en miskruier. Die stamwoord kruie, wat stadig beweeg beteken, is wat elkeen van die drie woorde hulle betekenis gee. As mens begin om elkeen van daardie woorde op verskillende maniere te skryf, dan verloor ʼn taal sy betekenisbasis.

9. Die verband tussen eet en praat

Hannekie maak in die onderhoud ook ʼn paar opmerkings oor die verband tussen eet en praat.

Jou mond het twee werke: praat en eet. Praat en eet het baie met mekaar te doen. Kieskeurige eters se klankbewussyn ontwikkel baie keer nie goed nie. Hier gaan dit nie oor kinders wat net fiemies het nie, dis kinders wat gril vir sekere teksture en wat naar word van sekere soorte kos.

Sommige kinders hou nie van gemengde teksture nie, soos om rys en sous saam te eet. Of hulle eet wel rou groente, maar nie gaar groente nie. Ander wil nie vleis eet nie. Sommiges eet glad nie soetgoed nie, het Hannekie ook al teëgekom.

Dit gaan nie noodwendig gebeur nie, maar daar is ʼn risiko dat so ʼn kieskeurige eter met lees kan sukkel.

Hoe dan so?

Jou brein moet weet wat in jou mond aangaan

Jou brein moet weet hoe ʼn klank in jou mond voel. Wanneer jy ʼn letter sien wat jy moet lees, skryf jou brein vir jou mond die opdrag watter spiere om te beweeg om daardie ding te sê. Jou brein skryf die opdrag op grond van wat hy weet hoe die klank klink en wat hy weet wat in jou mond gebeur.

As ʼn kind nie ʼn groot genoeg verskeidenheid kosse eet nie, kry sy brein nie genoeg inligting oor hoe dit in sy mond voel en wat alles in sy mond kan beweeg nie.

Ouers moet darem maar altyd volhou daarmee dat die kind byvoorbeeld nie net van Weense worsies en Pro-nutro kan leef nie.

“Om reg te leer spel, is ʼn hele reis. Ek dink partykeer ouers wil spelling gou afgehandel kry, maar mens moet daaraan dink as ʼn opwindende reis om taal te ontdek. As jy begin nuuskierig raak oor jou taal en iets daarvan by jou kinders kan kweek, is dit so wonderlik,” sê Hannekie.

Lees ook hierdie artikel met wenke oor spelling.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui