Woorde en name propvol stories


Het jy ook toe jy as kind popgespeel het, jou poppe sulke vreeslike fênsie name gegee? Of as julle verbeeldingspeletjies gespeel het vir jouself ʼn ander deftiger naam uitgedink?

Op ʼn stadium het ek myself Chamonix genoem. Ek het die naam in ʼn radiovervolgverhaal gehoor. Dit was eintlik Simone, maar ek kon om de dood nie vir myself uitwerk hoe om dit te spel nie. Goeie maatjies van my se ryk tannie het toe pas ʼn reis Frankryk toe onderneem en hulle het my vertel van die ski-oord met die naam Chamonix.

En toe word ek Chamonix in ons speletjies. Die naam het my soos ʼn eksotiese prinses laat voel.

Woorde en name van ver klink eksoties

Baie keer klink dinge en name wat van ander plekke af kom vir ons so buitengewoon, maar as jy eers die betekenis daarvan snap, is dit eintlik maar alledaags. Wat ʼn teleurstelling.

Een van die vanne wat baie dikwels in Suid-Afrika voorkom, is Smit en dan die Engelse Smith en die Duitse weergawe Schmidt. Dit kom natuurlik van die beroep smid. (In Afrikaans het ons die van se spelling net bietjie verander.)

Nou die dag sien ek ʼn kaart van Europa wat wys waar die van Smit en al sy variasies oral voorkom. Groot was my verbasing toe ek ontdek Ferrari is maar net die Italiaanse weergawe van Smit. Heel alledaags. En nie noodwendig ʼn rooi sportmotor met sy pronkende swart perd op ʼn goudgeel agtergrond nie.

In die noorde van Portugal is Smit Ferreira en in die suide is dit Perreira. Dit het jy ook al gehoor, nie waar nie?

Vat jou goed en trek, Ferreira sing ons immers.

In Spanje is dit Herrero. Die Franse weergawe van Smit loop mens dikwels nog in die Kaap raak, natuurlik van Hugenote-invloed. Dis Lefebvre.

Mens hoor die Poolse weergawe (Kowalski) en die Hongaarse ene (Kovács) ook soms.

Woorde en name met stories is wonderlik

Ek is gek oor die stories wat woorde en name het. Elke jaar as ek my intekening op elektroniese Afrikaanse woordeboeke moet hernu, sorg ek dat ek ingeskryf bly vir die etimologiewoordeboek, wat vertel waar woorde vandaan kom.

ʼn Baie interessante enetjie wat nou die dag opgeduik het, is die woord tarentaal, ons geliefde spikkelhoenders met hulle kenmerkende tjier-tjier geluid. Ag, hoe slaat die huis-toe-verlang my nou.

Tarentaal is ʼn baie ou woord met ʼn baie interessante geskiedenis! Jan van Riebeeck gebruik dit reeds in sy dagboek. Letterlik beteken dit net land van die nuwe land: Terra de Natal.

Dis tarentaal se storie

Waar op aarde kom dit vandaan?

Jy sien, aanvanklik is die naam Natal vir die hele gebied oos van Valsbaai gebruik.

Die nuwe inwoners van die land het hierdie spikkelvoëls ternataalse hoenders genoem, wat iets soos die hoenders van hierdie plek beteken het.

Mettertyd het die byvoeglike naamwoord ʼn naamwoord geword en mense het van tarentale begin praat.

As ʼn spesiale bonus, hier is vir jou die mooi gedig oor ʼn tarentaal deur Totius. Geniet veral die pragtige metafoor van die tarentaal se geluid wat klink soos ʼn kruiwawiel (die wiel kort dalk ʼn bietjie ghries!)

Die tarentaal

Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.

Hy soek – en dis ook al laat –
vir hom ‘n kameraad,
om in ‘n boom die eensaamheid
en nag te slyt.

Sáám sal hul in blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.

Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!

Wat beteken Du Toit?

So van vanne gepraat. Totius is die verlatynsde weergawe van Du Toit. As jy dié van nou op erg fênsie Frans wil uitspreek, moet jy du twa sê.

Die betekenis?

Net so gewoon soos Ferrari! Letterlik beteken du Toit van die dak.

Maar met ʼn van soos Haasbroek moet ek dalk liewer nie verder grappies oor ander mense se vanne maak nie!

Vertel vir jou kinders die stories van woorde en name. En sien hoe hulle oë begin blink en hulle sommer regopsit van geïnteresseerd wees.

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

three + 16 =