Poësie: 10 redes om dit te leer


Die gewoonte om poësie uit ons koppe te leer, is nie eintlik iets waarin ons tuisskolers uitblink nie. Tog het dit geweldig baie voordele. Hier is tien van hulle.

1. Poësie verbreed jou hele denksisteem

Gedigte is sulke gekonsentreerde stukkie denkvernuf en bevat dikwels talle verwysings na ander idees, gebeur en mense. Dit verbreed dus jou kind se algemene kennis en hele ervaringswêreld.

2. Dit leer jou van ritme en metrum

Poësie help jou om die musikaliteit van ʼn taal te geniet. Soos byvoorbeeld hierdie enetjie van AG Visser.

Daar’s nog goed met wreder name:
Kwaggas uit die Kraggakame
Pierang-pinang-rottang-blatjang-oerangoetangs

3. Dit help met jou kind se fonologiese bewustheid

Fonologiese bewustheid verwys na die brein se vermoë om patrone en reëls van ʼn taal onbewustelik af te lei solank dit aan genoeg goeie voorbeelde van die taal blootgestel word. Gedigte bevat uitmuntende voorbeelde van sulke taal wat gewoonlik nie alledaags gebruik word nie.

Deur gereeld sulke moeiliker sinskonstruksies te moet ontsyfer, help ook om ʼn kind se leesbegrip te verbeter.

“O, koud is die windjie en skraal …” is baie moeiliker om aan gewoond te raak as “Die windjie is koud en skraal.”

4. Poësie leer jou om die mooi dinge in die lewe raak te sien

Gedigte slyp jou sintuie om skoonheid op meer plekke te kan sien.

Een van my eie gunstelinggedigte is Kindertuin van Zandra Bezuidenhout:

“Ek was ʼn kind van twee
toe jy my leer hoe name
trommel
teen die binne-oor
vi-ool-tjie, py-pie, bot-ter-blom het jy geklank …”

Die digteres bring die kennis van blomme in verband met taal en ma’s. Die gedig is hartbreekmooi en laat my altyd so baie huis toe verlang.

Leer vir jou die kind die gedig en dan begin julle sommer rondsoek na al die blomme wat sy in die gedig noem. Botaniese Poësie. Of poëtiese Botanie.

5. Gedigte skaaf oor die algemeen aan kinders se taalbegrip

Deur ʼn gedig hardop op te sê, leer die kind om die frases van elke reël op die regte manier sê. Dit help met die aanleer van korrekte punktuasie, soos punte en kommas en ander leestekens.

Omdat gedigte dikwels rym bevat, kan dit ook vir die kind wys dat woorde wat dieselfde klink gewoonlik dieselfde gespel word.

6. Dit leer ʼn kind abstrak dink en bou ʼn kind se verbeelding

Gedigte help ʼn kind om dinge met mekaar in verband te bring waarvan die ooreenkoms in die alledaagse lewe nie so sigbaar is nie. Poësie staan of val by die gebruik van beeldspraak en dis waar ʼn verbeelding en die vermoë om abstrak te kan dink, inkom. Soos hierdie paar reëls van Toon van den Heever wys:

“Die haelwit gestapelde wolke,
Paleis deur die winde gebou.”

7. Gedigte help jou om dinge makliker te memoriseer

Omdat daar rym en ritme in gedigte is, is dit makliker om enigiets wat in digvorm geskryf is te onthou.

8. Poësie help ʼn kind om die speelse aspek van ʼn taal te ontdek

Digters gaan gewoonlik baie kreatief met die taal om en sal woorde en idees op anderster manier gebruik as wat gewone mense doen.

Hier is ʼn voorbeeld van Helena Lochner.

As ek ʼn goue sleuteltjie
In die hande kry
Dan sluit ek al die koutjies oop
En laat die voëltjies vry.

9. Dit verbeter ʼn kind se woordeskat

Gedigte is die hoogste uitdrukkingsvorm in enige taal. Digters is gewoonlik die top skrywers van die taal en sulke vaardige skrywers is bobaas woordsmede.

10. Dit help ʼn kind om met selfvertroue voor ander mense op te tree

Deur te leer om ʼn gedig voor ander mense op te sê, moet die kind leer om sy stem beter te projekteer. Dit leer ʼn kind ook om met vrymoedigheid in die openbaar op te tree. Hierdie vaardigheid berei ʼn kind goed voor om later in hulle lewens aanbiedings op universiteit en in hulle beroepslewens te kan doen.

Lus om vir jou kinders bietjie poësie te leer? Kort jy motivering om aan die gang te kom?

Ek het net die ding vir jou.

Tuisskoolma Janet Kieswetter bied op 2 Augustus 2019 ʼn poësiedag in Pretoria vir tuisskolers aan. Daar is drie ouderdomskategorieë (tussen 3 en 12 jaar oud) waarin jou kind sal kan deelneem. Daar is ook drie wonderlike beoordelaars wat terugvoering gaan gee.

Inskrywingsgeld is ʼn skamele R30 per kind. Gedigte kan in Afrikaans of Engels wees. Kontak Janet by [email protected] vir meer inligting.

Gaan kyk gerus ook hier na die onderhoud wat ek met Janet oor haar wonderlike poësiedag gevoer het.

Op soek na gedigte? Onthou van hierdie wonderlike webwerf.

Het jy meer raad en hulp oor taalwerk nodig? Lees hier hoekom taal een van die pilare in jou tuisonderrig moet wees.

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

2 × five =