Oor Karin


Oor Karin

Hallo daar! Ek is Karin van Oostrum, ook ʼn veteraan-tuisskoolma, soos Marisa, en ek is nou die nuwe eienaar van oolfant. Mense noem my ook die “Ouma van Tuisonderwys in Suid-Afrika”, en ek is trots op daardie titel – dit pas goed by my grys hare! Ek is Pretoria gebore, het in Potchefstroom groot geword en hoofsaaklik daar studeer, en woon nou die afgelope 30 jaar in Pretoria.

Afrikaans is een van my groot liefdes – en dis my passie om tuisskolers te help om met oorgawe saam met hulle kinders te leer. Marisa het in oolfant.com ʼn skat van hulpbronne en kursusse vir Afrikaanse tuisskolers geskep, en boonop is haar ongelooflike wysheid en bemoediging ook hier tot die beskikking van tuisskoolma’s.

My drie dogters was nooit in ʼn skool nie, en is nou al drie groot en uitgegroei: een is ʼn musiekonderwyseres, nog een studeer onderwys, en nog een is voltyds ma en tuisskool-aktivis. Ek en my oorlede man, Leendert, was van die pioniers in tuisonderwys in Suid-Afrika. Ons het die Vereniging vir Tuisonderwys in 1992 gestig en het begin tuisskool toe dit nog onwettig was in Suid-Afrika, voor die nuwe politieke bedeling in 1994. In 1996 is daar vir die eerste keer voorsiening gemaak vir tuisonderwys in die wet. Saam met pa en ma het ons kinders die land vol gereis en mense leer help om hul voete te vind en die vreugde van tuisskool te ontdek.

Leendert was ongeveer 20 jaar in die Vloot, het in onderwys begin belangstel na ons getroud is, en het uiteindelik sy Meestersgraad in Opvoedkunde gedoen nadat hy by Tukkies as onderwysadviseur aangestel is. Hy was tot sy dood die Voorsitter en Bestuurder van die Pestalozzi Trust, wat ons in 1998 gestig het om die regte van gesinne te beskerm om hul kinders volgens hul eie godsdienstige, kulturele en opvoedkundige oortuigings op te voed.

Ek werk voltyds by die Trust en help ouers daagliks telefonies of per e-pos met advies oor verskillende aspekte van tuisonderwys (en kleinskool-onderwys, maar dis ʼn storie vir ʼn ander dag…). Na my Latynhonneurs het ek ʼn rukkie klas gegee, en daarna vir ʼn paar jaar jeugwerk en daarna vertaal- en redigeerwerk gedoen. Ek het ook ʼn honneurs in Toegepaste Linguistiek en Vertaling gedoen. Ek het nooit onderwys studeer nie, maar saam met Leendert baie geïnteresseerd geraak in alle aspekte van onderwys en kinderontwikkeling. My tuisskooljare was die beste jare van my lewe, en ʼn geskenk van die Here. My wens is dat jy ook met vreugde sal kan terugkyk na hierdie baie spesiale tyd saam met jou kinders!

Stuur gerus vir my ’n e-pos na: [email protected]