’n Ma se werk? Tel nie. Maats is belangriker! Wat?!?! 2


Vandat ek die eerste keer van Judith Harris gehoor het, het my nekhare al gerys. Sy was ʼn omstrede sielkundige en haar werk is nou weer in die nuus, omdat sy op 29 Desember 2018 oorlede is.

Op die oog af lyk dit of sy goed bedoel het. Sy het self ook maar ʼn opdraande paadjie gestap. In 1960 is sy afgeskop van die Ph.D. program in sielkunde aan Harvard Universiteit. Die “oorspronklikheid en onafhanklikheid” van haar werk het glo nie aan Harvard se standaarde voldoen nie.

Judith Harris wou glo net gehad het ouers en veral ma’s moes net ʼn bietjie oor ouerskap ontspan.

So, wat sy basies probeer sê het, was: Moet jou nie bekommer dat jou dalk jou kinders se opvoeding opmors nie nie. Niks wat jy doen maak regtig saak nie.

Maar al wat sy met my reggekry het, is om my te laat voel dat sy ʼn streep trek deur dit wat ek as my hoogste roeping beskou het: om my kinders goed groot te maak.

’n Ma se werk? Glo net aangename kinderjare

Harris se groot bevinding, soos vervat in haar 1998-boek The Nurture Assumption was: ʼn Ma en ʼn pa is groot werk is om vir hulle kinders gesonde en aangename kinderjare te gee.

Dis al.

Hulle dag tot dag besluite oor kinderopvoeding het nie eintlik enige langtermyneffek op hulle kinders se lewens nie.

In die woorde van die bekende Steven Pinker, wat ʼn goeie vriend van Harris was: “Gene maak saak en die portuurgroep maak saak, maar ouers maak nie saak nie.”

Daardie standpunt druis in teen alles wat al vir duisende jare deur ouers geglo word. Dit druis in teen die Bybel. Dit druis in teen boeke soos The socialization trap, ʼn groot gunsteling onder tuisskolers.

Een van die joernaliste wat nou weer oor Harris geskryf het, berig dat hy nooit sy vrou sover kon kry om Harris se boek te lees nie. Is dit dalk omdat hierdie man se vrou, soos die meeste ma’s, intuïtief van beter weet?

Tot dusver kon ek egter min mense kry wat Harris se teorie op ʼn intelligente manier probeer weerlê.

’n Ma se werk vs die invloed van maats

Totdat sy op 80-jarige leeftyd dood is en ʼn joernalis met die naam van Steve Sailer se sinvolle kommentaar op haar werk opduik. Dit kom al uit 1998 toe haar boek verskyn het, maar ek het dit nog nooit voorheen raakgelees nie.

Sailer sê Harris is reg dat aangebore verskille tussen kinders belangrik is. Vir ervare ouers? Ou nuus! Daardie insig kry ouers gewoonlik met ʼn tweede kind. Soms kom hulle dan met ʼn skok agter dat twee kinders wat op presies dieselfde manier grootgemaak word, uiteindelik totaal verskillende persoonlikhede kan hê.

En verder: alhoewel sielkundiges voor Harris dalk nie die invloed van portuurgroepe verstaan nie, het ouers dit nog altyd geweet. Van ouds af probeer ouers juis om hulle kinders TEEN slegte invloede en maats te beskerm. En van hulle weg te hou.

Harris se belangrikste bewys dat maats meer saak maak as ouers, kom uit navorsing deur die einste Steven Pinker. Hy het bevind dat immigrantekinders in Amerika meer soos hulle maats praat en minder soos hulle ouers.

Mens moet taamlik diep in Harris se boek wees om uit te vind van  bevindinge wat haar idee van die belang van die portuurgroep ondermyn. Een van die bevindinge is moontlik net interessant. Maar die ander een is van kardinale belang.

Twee plekke waar ’n ma se werk belangriker is as maats se invloed

Die interessante ene? Immigrantekinders leer tog talle dinge by hulle ouers, byvoorbeeld die soort kos wat hulle eet en hoe om dit gaar te maak.

En die lewensbelangrike, maar onderspeelde bevinding uit Harris se boek? Dis ouers, en nie die kind se portuurgroep nie, wat uiteindelik bepaal watter godsdienstige oortuigings die kind het.

Ek het nog altyd geglo dat ouers, en veral ma’s, die belangrikste rolspeler in hulle kinders se lewe is. En ek staan daarby.


My boodskap aan ma’s is: wat jy doen maak baie saak en is verskriklik belangrik. Kom ek wys jou hoe jy dit makliker kan regkry.

Daarom help graag ma’s om makliker en met meer gemoedsrus te kan tuisskool.

As jy belangstel in my aanlyn kursus oor hoe om makliker te tuisskool, gaan kyk gerus daarna.

Gaan kyk hier na: 21 dae na sukses as tuisskoolma.


Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

10 + ten =

2 thoughts on “’n Ma se werk? Tel nie. Maats is belangriker! Wat?!?!

  • Mignon

    Sjoe jy maak ‘n blik wurms oop hier… Ek dink daar is baie swart en wit areas in kinders grootmaak, maar netsoveel grys areas. My oudste het al vir my gesê mamma daar is/was niks wat mamma kon doen om my te beskerm van die buitewêreld nie. En sy is reg. Sy was reg. Kinders kom op die punt waar hulle self keuses maak oor hul eie lewens, en jy as ouer gaan hul nie vir altyd kan beskerm nie. MAAR my enigste hoop in die donker tye was die belofte in God se woord: “train up a child in the way he should go and when he is old he will not depart from it.” Daar is ‘n tydsonderbreking in daardie vers wat ons nie altyd raaksien nie. Tussen child en old. En in daardie tydperk kan ons as ouers net vashou en aanhou bid. Die belangrike ding wat ek geleer het was dat ek by die punt moes kom om haar te vergewe vir die verkeerde keuses (in my oë) wat sy gemaak het en net te fokus op ons verhouding. Verhouding verhouding verhouding is al wat ons op die ou end oor het. Vandag is ek soooo trots op haar en dankbaar dat ek en sy saam ‘n dop kan drink en lag oor alles. Sterkte aan elke mamma hart wat hierdie lees. Ouerskap is nie maklik nie. Maar liefde wen altyd.

    Groete
    Mignon