Die Van der Merwes se leessukses in The Last British Outpost


Elize van der Merwe is Afrikaans. Haar van sê dit reeds, nie waar nie? Maar sy en haar gesin woon in Pietermaritzburg, wat soos Elize dit stel baie keer “The Last British Outpost” genoem word. Hoe behaal jy as Afrikaanssprekende leessukses as almal om jou net Engels praat?

In hierdie onderhoud gesels sy openhartig oor die uitdagings met taalkeuse wat sy gehad het toe sy haar twee seuns, Adam en Rocco, moes leer lees en leessukses moes behaal.

Kyk of luister hier na die volledige onderhoud.

Haar storie is so ʼn goeie voorbeeld van wat ontwerperonderwys nou eintlik is, want sy het net nooit moed opgegee nie.

Haar seuns was aanvanklik in ʼn kleuterskool, wat kwansuis die kinders in Afrikaans sou leer. Dit was toe glad nie die geval nie. En haar seuns, veral Adam die oudste, het geleidelik Engels as dinktaal begin gebruik.

Behaal leessukses deur die taalverwarring op te klaar

Die raad wat sy gekry het, nadat sy begin tuisskool het, was om soveel as moontlik net in Afrikaans te werk om die kinders se taalverwarring te probeer opklaar. Sy het toe vir ʼn hele twee jaar net op Afrikaans gefokus.

Veral die paadjie wat sy toe met Adam en leer lees moes stap, was moeilik. Hy kon Afrikaans en Engels baie goed verstaan en het baie goeie begrip in albei tale. Maar die groot probleem was leer lees.

Met behulp van ʼn leesprogram het sy vir hom Afrikaanse klanke begin leer. Adam was toe so ses of sewe. Hy en sy boetie het lettertjies met klei gevorm. Elize het vir hulle letters uit skuurpapier uitgesny dat hulle die letters kon voel. Hulle het letters in die sandput gemaak.

Sy het tot sover gegaan om jelliepoeier in ʼn plat bak te gooi dat hulle die klankies daarin kon leer skryf. Taai vingers of te nie. Sy het verder vir elke klank ʼn voorwerp gekry, a vir appel, b vir boek, c vir croissant ensovoorts.

Alles om al die klankies te kon oefen. Aan die einde van die week het Adam die klankies onthou, maar na die naweek het hy weer alles vergeet.

Dat hy in prentjies dink help Adam se leessukses

Maar toe begin Elize agterkom Adam kry sy naam en sy gesin se name wel geskryf. Selfs sy pa se naam, Brandt, met die moeilike dt aan die einde.

Hy het letterlik elke letter as ʼn prentjie gesien. As hy na ʼn b kyk, sou hy sê maar as ek dit omdraai is dit ʼn d, en as ek dit onderstebo sit, is dit ʼn p en met ʼn stertjie aan is dit ʼn q.

Dis toe dat Elize begin besef het dat Adam ʼn verskriklike visuele leerder is. ʼn Skoonsuster, wat remediërende onderwys gee, het vir haar bevestig dat Adam aan alles in prentjies of beelde dink.

Dis hoekom hy nie van klein deeltjies (klanke en letters) af kon begin en opbou na iets groter (woorde) nie. Adam moes eers die geheelbeeld sien en van daar af kon hy stukkie vir stukkie van die woord aflei.

Met hierdie insig tot haar beskikking het Elize met geheelwoordherkenning begin rondspeel. Sy het ʼn baie oulike storieboek gebruik en toe woorde met hulle prentjies op ʼn witbord geteken en geskryf.

“Dit was regtig ʼn wow-oomblik,” vertel Elize. “Die lig het letterlik vir my kind aangegaan.”

Adam het ontsettend baie woorde so geleer en van daar af kon hy toe uitwerk uit watter letters elke woord bestaan.

Dit het vir ʼn ruk lank baie goed gewerk, maar toe het Adam se taalverwarring weer kop uitgesteek, as gevolg van die vreeslike Engelse omgewing waarin hulle hul bevind. Elize moes toe weer leisels vasvat oor sy blootstelling aan Engels en dit weer tydelik beperk.

En dis hoekom ek sê Elize se storie is so ʼn goeie voorbeeld van ontwerperonderwys. Sy het net aangehou en aangehou soek na maniere waarop haar kind kon leer leer, totdat sy dit gekry het. Sy het besef dat lees en begrip van kardinale belang is en het daarom sy so verskriklik hard gewerk om leesvaardigheid en -begrip vir haar kind te leer.

400 woordkaartjies gee die deurbraak met leessukses

Om Adam te leer om woorde aanmekaar te lees, sodat hulle sinne vorm, het Elize toe meer as 400 woordkaarte gemaak. Adam moes dan sinne bou deur die los woorde langs mekaar te sit.

Haar jonger seun, Rocco is nou weer ʼn kind wat moet hoor en wat moet beweeg en doen. Sy moes hom ook nog in ag neem en boonop aanpassings maak sodat hy ook goed leer lees.

Tot einde 2017 het sy die woordkaartjies gebruik om albei haar seuns te leer lees. Hulle het die woorde ook oorgeskryf in ʼn boek en hulle eie prentjies daarby geteken. Mettertyd het Adam begin ook self sy eie sinne te skryf.

Aan die begin van 2018 kon Elize toe Omvattend Afrikaans se leesboekies nadertrek. Op daardie stadium kon Adam klankvermenging begin doen, maar ook woorde uitmekaarhaal. Hulle het baie goed begin vorder met hierdie leesboekies.

Soos wat hulle lees verbeter het, het hulle Afrikaanse sinne ook verbeter. Elize lees steeds vir haar twee voor en voel dat voorlees hulle Afrikaans en hulle begrip konstant verbeter.

Haar raad vir ma’s wat hulle in ʼn soortgelyke situasie bevind, is om in die eerste plek na jou kind te kyk en van jou kind te leer hoe hy verkies om te leer.

“Gebruik dit wat jou kind uniek maak om hom te leer. En moenie moed verloor nie!” sê sy.

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eighteen − ten =