Groot hartseer, groot stories


Groot hartseer, groot stories? So baie bekende kinderboekskrywers het glad nie gelukkige kinderdae gehad het nie. Talle was baie jonk toe hulle ʼn ouer verloor het. Van hulle moes ʼn traumatiese trek beleef. Tog lyk dit of die verwerk van die hartseer van hulle uitmuntende skrywers gemaak het.

Hier is ʼn paar voorbeelde van sulke skrywers

Groot hartseer, groot stories: JM Barrie

JM Barrie, die skepper van Peter Pan, se gelukkige kinderdae het in skerwe gespat toe sy geliefde ouer broer in ʼn skaatsongeluk dood is. Sy ma het haar daarna permanent van die lewe onttrek. Gʼn wonder nie dat hy ʼn karakter geskep het wat nooit wou grootword nie.

Groot hartseer, groot stories: CS Lewis

CS Lewis was ook nie onbekend met verlies nie. Sy geliefde hond Jacksie is deur ʼn kar doodgery toe hy net vier jaar oud was. Dit was vir hom so erg dat hy daarop aangedring het om vir die res van sy lewe Jack genoem te word.

Nou kan mens beter verstaan hoekom hy ʼn boek met die naam Die perd en sy seun  met soveel oortuiging kon skryf, nie waar nie?

Jong Jack was net tien jaar oud toe nog ʼn tragedie hom tref en sy ma aan kanker sterf.

Groot hartseer, groot stories: JRR Tolkien

JRR Tolkien se jong lewe was ook gekenmerk deur verlies en hartseer. Tolkien is in 1892 in Bloemfontein gebore. Ja, ons eie, eie Bloemfontein. Sy pa was ʼn bankklerk wat Suid-Afrika toe gekom het met die hoop dat hy vinniger bevorder sou word.

Ronald, soos wat Tolkien genoem is, kon later maar min dinge onthou van sy dae in Bloemfontein. Een ding staan uit – ʼn onderonsie met ʼn harige spinnekop. Nou weet ons waar die monsterspinnekop in Lord of the rings Shelob vandaan kom.

Tolkien was vier jaar oud toe sy pa sterf. Na sy pa se dood, moes hy en sy ma, Mabel, en sy boetie, Hilary, inderhaas terug Engeland toe. Hulle het gesukkel om kop bo water te hou. Veral omdat Mabel besluit het om ʼn Katoliek te word en haar so van die res van haar familie vervreem het.

In 1904 word Mabel boonop met diabetes gediagnoseer en sy sterf kort daarna. Die jong Ronald en sy broer was toe regtig weeskinders. Hulle is uiteindelik grootgemaak deur hulle priester.

Herman Charles Bosman

Ook ons Suid-Afrikaanse skrywers is bekend met hartseer en groot tragedies. Die bekende Herman Charles Bosman was in die tronk nadat hy tydens ʼn rusie sy stiefbroer doodgeskiet het. Bosman is veral bekend vir sy kortverhale van Oom Schalk Lourens van Groot-Marico se wêreld.

HS van Blerk

HS van Blerk, skrywer van die bekende Blou Tartare reeks se lewe klink soos iets wat uit ʼn storie kom: geweldige armoede, rondtrekkery, ook ʼn tyd in die tronk. Hy was op ʼn kol ʼn skoolbusbestuurder. Terwyl die kinders in die skool was, het hy in bus gesit en stories skryf totdat hy hulle weer moes huis toe vat.  

Alba Bouwer

Ook Alba Bouwer, geliefde skryfster van Stories van Rivierplaas se lewe was nie sonder sukkel nie. Haar vader sterf toe sy net agtien maande oud is. Haar ma trou weer later en dis op haar stiefpa se plaas in die Vredefort distrik wat Stories van Rivierplaas afspeel. Maar ook haar stiefpa sterf ʼn paar jaar later in ʼn skietongeluk en sy en haar ma en haar boetie trek Paarl toe.

Alba se eerste man was wat die ou mense ʼn regte deurbringer genoem het. Hy het hope skuld gemaak. Sy skei uiteindelik van hom, maar eers nadat sy al sy skuld afbetaal het. Sy is uiteindelik weer twee keer daarna gelukkig getroud, alhoewel sy nooit kinders van haar eie gehad het nie. Sy het egter baie goeie verhoudings met al sewe haar stiefkinders gehad.

Ek was bevoorreg genoeg om Alba in 1996 rond in die Kaap te ontmoet. Sy het as ʼn spreker opgetree by ʼn geleentheid wat ons kerk gereël het. Sy was ʼn skraal, fier vrou met helder oë wat mens direk en vriendelik aangekyk het.

Soos ʼn regte histeriese bewonderaar het ek uitasem vir haar gaan vertel hoe baie ek van Alie en Lulu hou. Die Stories van Rivierplaas reeks is toe pas heruitgegee. Ek wou aangaan oor hoe goed sy geskryf het, maar sy het my stilgemaak en eers gevra: “Sê net eers vir my, wie is jy? Ek wil graag weet.”

Ek sal dit vir altyd onthou.

Hier het ek geskryf waarom ek so baie van Stories van Rivierplaas hou.

Vind meer uit van skrywers

In die Boekwurmklub waaraan ons behoort het toe my kinders nog klein was, het ons altyd bietjie gelees oor die agtergrond van die maand se skrywer ook.

Snaaks hoe die stories wat hulle geskryf het, skielik meer betekenis gekry het.

Ek wil jou aanmoedig om ook ʼn bietjie op te lees oor bekende skrywers  en hulle stories met jou kinders te deel.

Want onthou, voorlees en lees bly een van die belangrikste take wat jy in tuisonderwys het.

Hy het nie Wiskunde nodig nie, dankie!

Ek wil graag afsluit met hierdie staaltjie oor Herman Charles Bosman. Dit gaan nie oor swaarkry nie, maar wel oor pure astrantheid.

Bosman het glo op skool eenkeer ʼn Wiskunde vraestel met ’n opstel beantwoord, waarin hy geredeneer het dat kennis van Wiskunde in sy geval onnodig is, aangesien sy vermoëns in Engels en Afrikaans so uitstaande is.

Lekker stories lees en skrywers ontdek.

Teken in op die poslys en kry jou leeslys

Lees

Teken in en kry jou gratis Afrikaanse leeslys met meer as 250 boeke op. Daarna kry jy ook elke week 'n nuusbrief oor Tuisskool In Afrikaans.

Ek haat gemorspos net soveel soos jy en daarom kan jy op enige stadium van die poslys afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

15 − 8 =