Eksjuffrou se 12 topwenke oor Wiskunde


Mariëtte van Reenen is ʼn tuisskoolma van ses, maar is ook opgelei as ʼn Wiskunde-onderwyseres. Op haar dag het sy ook in Engeland skoolgehou. Sy gee Wiskundewenke en raad hoe om die vak suksesvol as tuisskoler aan te pak.

“Ek is baie lief vir Wiskunde en ek kan die meeste probleme oplos, maar ek was self nooit iemand wat vinnige hoofberekeninge kon doen nie,” is haar verbasende bekentenis.

Iets wat vir die meeste van ons waarskynlik as ʼn groot verligting kom. Want soos ons almal weet, is en bly Wiskunde een van die sleutelvakke wat ons vir ons kinders moet leer.

Mariëtte bied ook seminare aan oor Wiskunde. As jy belangstel om dit by te woon, stuur vir haar ʼn WhatsApp of ʼn e-pos. Hier is haar skakelbesonderhede: vanreenenm@gmail.com 076 421 6684

Goeie Wiskundewenke

Gaan luister gerus na die onderhoud en hoor:

  • hoekom sy sê mens moet met Wiskunde maar baie “negatief” wees
  • hoe eenvoudige en praktiese hulpmiddels Wiskunde baie makliker en lekkerder kan maak
  • wat jy moet doen as jy kind op sy vingers wil tel
  • hoe belangrik dit is om ʼn bladsy vol pyltjies te gebruik
  • dat mens rekenaars met groot vrug in Wiskunde kan gebruik
  • wat om te doen as jou kind elke keer van voor af wil begin tel met ʼn sommetjie soos 20 + 30
  • dat mens baie versigtig met “is gelyk aan” moet werk
  • wat gebeur as jy as ouer nie inspring en dadelik vir jou kind wys hoe hy ʼn som moet doen nie

12 Top Wiskundewenke

Hier is vir jou ʼn kort opsomming van die 12 belangrikste punte.

  • Memorisering kan help met spoed waarteen mens Wiskunde doen, maar dis belangriker om te weet hoe om ʼn som te kan uitwerk.
  • Leer jou kinders vorentoe en agtertoe tel. Om agtertoe te kan tel is ʼn belangrike les om van aftrek te begin leer.
  • Gebruik getallelyne om ook veral negatiewe getalle vir kinders te verduidelik. Links is trek af en regs is tel by. Jy kan jou getallelyn ook vertikaal sit soos ʼn hysbak of ʼn termometer. Baie keer maak dit vir ʼn kind meer sin.
  • Skole het min of meer die Wiskunde fases reg, maar omdat daar nie iets soos ʼn gemiddelde kind bestaan nie, is almal in ʼn klas nooit op presies dieselfde verstaanvlak nie. As gevolg van die opset met 40+ kinders in klasse kan die onderwyser nie wag totdat almal al die konsepte snap nie. En dis waar baie van die moeilikheid inkom. As tuisskoolouer kan jy lank genoeg stilstaan by ʼn konsep tot ʼn kind dit verstaan.
  • Moenie bekommerd wees as jou kind sy hande gebruik om mee te tel nie. Sy vingers verskaf aanvanklik vir hom goeie steierwerk, maar hy sal dit wel mettertyd afleer.

Wiskundewenke: Werk so lank as moontlik konkreet!

  • Vir baie lank sal kinders as jy byvoorbeeld 2 en 3 bymekaar sit, elke keer van een af begin tel en nie verder gaan van 2 af aan nie. Dis normaal. Los jou kind as hy dit doen. Mettertyd sal hy besef dat hierdie manier baie tyd mors.
  • Werk so lank as moontlik konkreet. Minstens tot op sewe jaar, maar selfs dan ook tot op dertien jaar. ʼn Kind wat gereeld ʼn lemoen in helftes verdeel het en toe die helftes weer halveer het, snap makliker dat ½ x ½ = ¼
  • Gebruik ʼn pyltjiekaartbladsy met pyltjies wat links, regs, ondertoe, boontoe wys en laat jou kind gereeld deur die bladsy werk en met sy hande die verskillende rigtings wys en uitroep.
  • Nog ʼn oulike hulpmiddel wat jy kan gebruik, is stukkies karton waarmee jou kind vierkantsgetalle kan pak.
  • Mens hoef nie Wiskunde op ʼn rekenaar vir jou kind te leer nie, maar rekenaarspeletjies wat spesifiek oor Wiskunde gaan, kan jou kind help met die inoefening.
  • As jy jouself kan keer en nie inspring en nie dadelik vir die kind jou metode wys nie, kan ʼn kind by die interessantste maniere uitkom om self by ʼn antwoord uit te kom. Dit versterk sy insig in Wiskunde.
  • Uiteindelik is dit belangrik dat kinders op die regte logiese manier leer om Wiskunde te skryf. Hulle is geneig om byvoorbeeld ʼn is-gelyk-aan-teken op baie onlogiese maniere te gebruik. Let net daarvoor op.

Voorbeeld 2 x 3 = 6 + 5 = 11 is nie Wiskundig waar nie

 

Gaan kyk hier na die onderhoud.

In die onderhoud praat Mariëtte oor die Brombacher reeks vir Wiskunde. Let wel: die werkboekies is beskikbaar in Afrikaans. Waar mens die boeke bestel, kan jy kies in watter taal jy dit wil hê.

Kry hier meer inligting oor die Brombacher reeks.

Om toegang tot meer Afrikaanse hulpbronne vir Wiskunde te kry, vul die vorm hieronder in en teken in op die poslys.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui