spel beter

Leer jou kind beter spel — 6 onverwagse wenke 2


Leer spel

Dis altyd vir my lekker om Hannekie Verwoerd, tuisskoolma en spraakterapeut, se praktiese, nugtere en uiters doenbare raad oor taal en taalonderrig en met jou te deel. Die keer gaan haar raad oor spel beter.

Ek kry gereeld versoeke vir hulpe met spelling. Hiermee graag ʼn paar van Hannekie se idees daaroor. Maar ek het ook van my eie idees bygevoeg. Alles om jou te help om jou kinders beter te leer spel.

1. Spel beter — leer hulle vroeg-vroeg van klinkers, medeklinkers en lettergrepe

“Ek hou daarvan om kinders van vroeg af bewus te maak van woorde se konsonant-vokaal-lettergreep struktuur. Op hierdie manier ontdek hulle dan self die patrone van spelling,” begin Hannekie.

Maar wat is ʼn klinker presies? En wat is ʼn medeklinker? Ja, jy kan vir jou kinders die Arme Ek Is Oupa Uil rympie leer om die vyf klinkers (a, e, i, o & u) te onthou, maar gaan hy verstaan wat jy bedoel as jy sê iets is ʼn klinker?

Hannekie noem vokale of klinkers “die oopmakers” en konsonante of medeklinkers “die toemakers.”

Gaan sit voor die spieël

Sy stel voor jy en jou kind moet voor ʼn spieël gaan sit en ontdek hoe die mond werk. Sy voeg laggend by haar ma vertel dat sy haar as klein dogtertjie lank voor die spieël kon vermaak met die bewegings van haar mondjie.

Omdat die meeste kinders dit baie geniet om prakties te leer, behoort hulle so ʼn spieëlspeletjie baie te geniet. Hier is ʼn paar dinge wat julle voor die spieël kan doen en waaroor julle kan praat om die verskil tussen ʼn klinker en ʼn medeklinker te ontdek.

1. Voel aan die keel waar die “enjin” sit. Vibreer dit vir al die klanke wat mens kan sê?
2. Kan jy ʼn klank met ʼn toe mond maak?
3. Watter deel van jou tong lig op as jy /k/ sê?
4. Kyk na die ongelooflike trilling as jy sê /r/
5. Waarom is ʼn deel van jou mond se dak (verhemelte) hard en die res sag?
6. Wat gebeur heel agter in jou mond as jy aaaah sê?

“Die groot verskil wat mens moet ontdek, is dat daar nêrens in die hele spraakkanaal ʼn afsluiting gevorm word wanneer vokale gesê word nie, terwyl konsonante voortgebring word deur êrens toe te maak: lippe op mekaar, tong teen die verhemelte ensovoort,” verduidelik Hannekie.

(Die konsonant /h/ is ʼn uitsondering en gedra hom wel effe vreemd. Daar is wel in die keel ʼn vernouing wanneer ons h sê.)

Soek die oopmakers en die toemakers

Soek nou in woorde hierdie twee soort klanke, die oopmakers en die toemakers, uit. Hier is ʼn paar voorbeelde: rak, raak, pes, seep, bid, rok, rook, bo, lus, vuur.

Julle sal vind dat die kort klank meestal vasgevang word in ʼn geslote lettergreep — ʼn toemaker maak toe en perk die vokaal in (soos byvoorbeeld in r-o-k). Wanneer die vokaal nie deur ʼn konsonant opgevolg word nie, rek hy uit en word lank (soos byvoorbeeld in b-o). Daar is niks wat toemaak nie.

“Hierdie stukkie bewuswording wat jou kinders moet hê van wat in hulle monde aangaan, help baie om fonologiese bewustheid te ondersteun. Dis daardie klankbewustheid, wat een van die beste bepalers van leesgereedheid en leessukses is,” verduidelik ons eie spraakterapeut.

Hannekie voeg by: “Moenie dat ek nou begin uitwei oor die invloed wat kieskeurige eetgewoontes op die ontwikkeling van orale bewussyn het en hoe dit selfs leesverwering kan benadeel nie. Die kruks van die saak is dat jou kind bewus moet wees hoe woorde klink en hoe woorde lyk as jy hulle sê.”

Spoor klinkers ook só op

Terwyl julle daar voor die spieël sit, probeer ook hierdie wonderlike manier om jou kind te leer wat die verskil tussen ʼn klinker en ʼn medeklinker is. ʼn Klinker gee vir die woord sy volume en bepaal dus die hardheid. Dis die klinker wat die klank gee.

Sê vir jou kind sy moet die woord “vis” eers saggies en dan al hoe harder probeer sê tot sy dit skree.

Nou moet sy “vs”, met ander woorde die woord sonder sy klinker, al hoe harder probeer sê. Dis nie so maklik as jy nie die klinker (of vokaal) kan gebruik nie, nè? En dis hoe jy weet wat is die klinkers in die woord, want die klinker gee vir jou die klank waarmee jy al hoe harder kan praat. Die medeklinkers (of konsonante) is die sagter klanke in woorde.

Met dié boublokke raak dit makliker

As jou kinders klinkers en medeklinkers kan identifiseer, kan hulle lettergrepe begin vind. ʼn Lettergreep is bloot ʼn stukkie klank wat bestaan uit ʼn klinker en die medeklinkers wat hom omring. Jy kan enige van dié maniere gebruik om hulle te leer om lettergrepe op te spoor en tel.

Met die kennis van die drie bloublokke, klinker, medeklinker en lettergreep en hoe klanke gevorm word, kan jy nou, om Hannekie weer aan te haal, byvoorbeeld dié reël vir jou kind begin leer: “Onthou as die vokaal kort is, moet jy hom vasvang in ʼn geslote lettergreep deur die konsonant te verdubbel — jy het nou ‘water’ geskryf en jy wou ‘watter’ skryf.”

2. Spel beter — kyk na stamwoorde

Afrikaans is ʼn boublokkietaal wat met ʼn woord hier en ʼn brokstuk van ʼn ander woord daar nuwe woorde opmaak. Nes sy Germaanse sussietale. Daarom kan Afrikaanse met ʼn wonderlike pleknaam soos Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein of ʼn woord soos waatlemoenkonfytbottelproppe vorendag kom. Om beter te spel, moet jy net weet uit watter boublokkies die woord bestaan.

Om mee te begin, het jy ʼn klein, basiese woordeskat nodig van woorde wat jy wel reg kan spel. Jy moet byvoorbeeld weet dat lyding met ʼn lang y swaarkry beteken en dat die ander leiding in ʼn rigting laat gaan beteken. Dis hoekom ʼn leier wat lyding gee, nie lank gaan hou nie.

Met die twee boublokkies ly en lei byderhand, kan jy dan woorde soos lydsaamheid en begeleiding reg spel. As jy bietjie daaroor nadink, sien jy in dat lydsaamheid met geduld tydens swaarkry te make het. Die begeleiding wat ʼn orreliste vir die gemeente gee, is wanneer sy hulle stemme in ʼn rigting laat gaan.

Wat jy eintlik doen, is om seker te maak jy gebruik die regte boublokkie as jy jou woorde bou.

As Hannekie van stamwoorde praat, bedoel sy egter meer en sluit ook die geskiedenis van ʼn woord in. Sy verduidelik:

“Wanneer jy teruggaan na die stamtale waaruit Afrikaans gevorm word, kry jy baie antwoorde oor spelling. Jy hoef maar net ʼn klein rukkie tyd te spandeer met ʼn Hollandssprekende persoon en die mal manier om karriekie as karretjie te skryf, begin gou sin maak!”

3. Spel beter — laat hulle verstaan ons skryf anders as wat ons praat

“Ons skryf soos ons praat,” het die manne van die Genootskap van Regte Afrikaners destyds verkondig. Waarmee hulle bedoel het Afrikaans is ʼn fonetiese taal, waar klanke min of meer met letters ooreenkom.

Vergelyk Afrikaans se makliker manier van spel byvoorbeeld met Frans. Die Franse woord vir ketel is byvoorbeeld bouilloire. Dis glo dié moeilikste woord vir nie-moedertaalsprekers van Frans om reg uit te spreek. En, met daardie wavrag vol klinkers, reg te spelle, sou ek reken.

As jy gedink het so baie klinkers veroorsaak moeilikheid, kyk bietjie na hierdie Walliese woord: gwdihŵ, wat uil beteken en wat mens good-ee-hoo uitspreek. Vyf medeklinkers en net één verdwaalde klinkertjie? Hoe op aarde kom ʼn mens by good-ee-hoo uit? Dankie tog ons hoef ons kinders net in Afrikaans te leer spel.

Maar ten spyte van die GRA se goeie voornemens skryf ons in Afrikaans NIE presies soos ons praat nie. En dis iets belangrik wat jou kind moet verstaan. Om dit tuis te bring, het Hannekie ʼn wonderlike oefening.

Doen dít om die verskil tussen skryf en praat tuis te bring

“Ek het ʼn ander baie oulike manier van kopieer raakgelees in Writing with ease van Susan Wise Bauer. Dit werk so: Die kind kopieer een van die sinne wat hy self geformuleer het tydens ʼn terugvertel-werkie. Sê nou maar die sin wat die kind gesê het, is:

“Jakob het vir Ragel liefgehad.

“Mamma neem nou pen en papier en skryf die sin neer terwyl die kind toekyk. Die eerste belangrike ding wat hier gebeur is dat die kind sy gesproke taal sien vorm aanneem in geskrewe vorm. Dit help met ʼn verskeidenheid van fondasievaardighede soos byvoorbeeld om die afbakening tussen woorde te kan hoor.

“Wat egter ook gebeur is dat die kind bewus word daarvan dat woorde anders lyk (op papier) as wat dit klink.

“My Egbert sal met die sin hierbo my daarop wys dat hy gesê het ‘liefgehaat’ — hoekom skryf ek dan nou ʼn d?

“Hier is nou die gulde geleentheid om die weg te baan na ʼn goeie gesindheid teenoor spelling. My gesprek met die kind loop soos volg:

“Weet jy, ek hoor dit ook. Maar jy sal nog sien dat mens woorde baie keer anders skryf as wat dit klink. Daar is spelreëls wat vir ons sê hoe ons woorde moet skryf en soos wat jy ouer word, gaan ek hulle almal vir jou leer.”

4. Spel beter — speel ʼn bietjie met die woord rond

Om makliker reg te spel, moedig ek dikwels my kinders aan om bietjie rond te speel met ʼn woord waaroor hulle twyfel. In Afrikaans lewer ʼn d of ʼn t aan die einde van woorde dikwels probleme op. Kom ons kyk byvoorbeeld na hard teenoor hart.

Ons sê die stoel is hard maar die harde stoel. Deur bloot die woord op ʼn ander manier te gebruik, kan jy nou agterkom hierdie hard kry ʼn d aan die einde.

Dieselfde geld vir hart. As jy twyfel of daar ʼn d of ʼn t aan die einde van die woord kom, probeer die woord as ʼn meervoud te gebruik. Soos in dié sin: Dr. Chris Barnard het in sy lewe talle harte oorgeplant.

5. Spel beter — dink in prentjies en ontspan so ʼn bietjie …

En dan is daar hierdie oulike raad van tuisskoolma, Liselet Jacobs. Dis nou ontwerperonderwys so uit die boek uit, want sy het haar leertegniek aangepas om by haar kind se eie leermanier aan te sluit.

“My middelkind dink in prentjies. Ek dink in letters, en indien ʼn woord verkeerd gespel is, maak dit nie vir my sin nie. Ek moes hom vra om vir my te lees wat hy geskryf het, terwyl ek my oë toe maak. Toe kom ek agter dat hy foneties skryf, want hy maak herhaaldelik dieselfde foute, byvoorbeeld HULLE spel hy elke keer HLI. Toe ek mooi oor die saak gaan dink en besef het hoe sy koppie werk, kon ek sy spelling makliker ontsyfer, en hom sagkens help om beter te spel.

Leer jou kind van tweeklanke deur prentjies

“Diftonge (of tweeklanke) was vir hom ʼn nagmerrie, en hy kon hulle nie uit mekaar ken nie. Toe gebruik ek sy ‘prentjiebrein’. Ek het byvoorbeeld koek geskryf, dan teken ek die O as ʼn koek, kompleet met verjaardagkersies op, en die E word ʼn koek waaruit daar ʼn stukkie gesny is.

“Uil het ʼn uil in die U gehad, en die I het verander in ʼn takkie met ʼn blaartjie bo. Die prentjiedeel van die woord, word natuurlik in kleur gedoen, terwyl die ander letters swart is. En vir die eerste keer het my kind begin om meestal die diftonge reg te skryf.

“Dit het baie geduld gekos, en ek moes myself gereeld herinner: ‘Hy is briljant in wiskunde en gaan waarskynlik ʼn ingenieur word, waar spelling eintlik onbelangrik gaan wees.’

“Vandag is sy spelling dramaties beter, en ek dink dis grotendeels te danke daaraan dat Martie du Plessis vir my die raad gegee het om te ‘chill’ en nie te hamer op die kind se verkeerde spelling nie.”

En hierby sluit Hannekie weer aan: “Jy moet wag dat jou kind se brein al hierdie inligting bymekaarsit en vassement.”

6. Spel beter — speel speletjies

Aai, sou dit nie lekker gewees het as ons vorendag kon kom met iets maklik om Afrikaanse spelling vir ons kinders met die klap van ons vingers reg te stel nie? Iets soos daardie rympie wat ons vir ons kinders leer om hulle te help om “school” te spel? Slangetjie, hoepeltjie, hê, wieletjie, wieletjie, lê.

So van speletjies gepraat. Om spelspeletjies te speel, is ʼn goeie idee. Soos Krabbel byvoorbeeld. “Scrabble” in Engels. As jy sukkel om dié speletjie in Afrikaans te vind, Sanet du Toit het ʼn plan gemaak. Sanet is ʼn vindingryke Afrikaanse tuisskoolma wat die Afrikaanse blokkies self maak en verkoop. Stuur vir haar ʼn e-pos (sanetdtoit@gmail.com) of ʼn WhatsApp-boodskap by 083 274 9891 as jy meer inligting oor die blokkies wil hê.

As jy ʼn uitdruk wil hê wat die wenke in hierdie artikel vir jou opsom, voltooi die vorm hieronder en kry toegang tot die uitdrukbare PDF, maar tot baie meer soos ʼn leeslys en voorstelle vir Wiskunde.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

2 thoughts on “Leer jou kind beter spel — 6 onverwagse wenke

  • Annamarie de Villiers

    Baie dankie vir die wonderlike praktiese wenke! Ek gaan dit dadelik toepas met Hannah. Om haar eers vas te lê met geletterdheid in haar moedertaal is ‘n uitdaging omdat sy so vlot tweetalig is en baie keer lyk asof sy Engels verkies.

    • marisa

      Hallo Annamarie. Ja, die probleem is natuurlik dat Afrikaans ’n fonetiese taal is en Engels nie. As Afrikaanssprekers “take” sien, sê ons “ta-ke”. In Engels word die tweede lettergreep in “take” mos nie uitgespreek nie. Dit kan verwarrend wees vir sommige kinders as hulle die taal nog aanleer. Maar daar is natuurlik kinders wat besonder begaafd is met tale en wat maklik tussen tale wissel. Klink of jou Hannah dalk een van hulle kan wees. 🙂