’n Pa moet sy werk speel-speel doen


In die goeie ou dae toe ons nog met ’n karavaan gaan vakansie hou het, slaap ons een jaar by die Gariepdam oor. Een van die lekkertes van kamp is dat mens nader is aan alles – behalwe die toilette! Nader aan die natuur, nader aan ander mense. Vir ons oorslaapnag is daar toe ander mense met seuntjies van omtrent ons Johannes se ouderdom. Hy was toe seker so ses jaar oud.

Johannes is lus om maats te maak, maar hy weet nie hoe om te begin nie. Die ander seuntjies ken mekaar en speel lekker saam en hy staan hulle van ’n entjie af en dophou. En toe tref ’n idee hom. Woerts, kom hy die karavaan binnegehardloop, grawe in die kas onder sy slaapbank rond en hardloop uit met sy rooi plastiektassie vol karretjies.

“Ek weet wat ek moet doen,” hoor ek hom opgewonde sê toe hy terughardloop in die rigting van die ander seuns.

So entjie van hulle af, gooi hy al die karretjies op die grond uit en begin kamstig onbewus van die ander seuns met die karretjies speel. En nie te lank nie, toe staan hulle nader en na ’n rukkie speel almal met Johannes se karretjies.

Ek het gedink dit was nogal ’n gesofistikeerde ysbreker vir sesjarige. En as tuisskoolma het ek ’n sug van verligting geslaak: my kind weet hoe om te sosialiseer!

Die man wat met rotte speel

Om te kan speel, is baie belangrik vir kinders. Die man aan wie ons seker die meeste insig oor spel te danke het, is Jaak Panksepp. In sy werk met rotte het hy ontdek dat soogdiere se breine spesifiek vir spel bedraad is.

Moet asseblief nie vir ’n oomblik dink ek glo die bog dat mense en rotte op een of ander spektrum van dieselfde ontwikkelingslyn is nie. Rotte is diere en mense is die kroon van die skepping. Die beheptheid met ewolusie ter syde, wat vir my interessant is van Panksepp se werk is sy fyn waarneming.

Rotte maak geluide, maar dis van ’n té hoë frekwensie vir mense om te hoor. Daarom het Panksepp se span toerusting in die hokke geïnstalleer waarmee hulle die rotte as’t ware kon afluister en die tjirp-geluide hoor wat hulle maak. Die navorsers het agtergekom die rotte maak meer van hierdie tjirp-klanke as hulle opgewonde is.

En toe, nadat hy en sy span al vir ses jaar na die tjirpe luister, tref dit Panksepp: Sê nou maar wat hulle hoor is die gelag van die rotte. Hoe kon hy sy teorie toets?

Hoe kry jy mense en veral kinders aan die lag? Jy kielie hulle!

En sowaar, toe die navorsers die knaagdiere begin kielie, kon hulle dit regkry dat die rotte tjirp.

Dus is Panksepp is die man wat ontdek het rotte kan lag.

Rotte sal hard werk om te kan speel

Hy het nog ’n paar ander dinge uitgevind. Soos dat as mens die rotte regtig uithonger vir speel, hulle hulself na ’n ruk amper nie kan help nie: hulle móét speel. Hulle sal letterlik werk om te kan speel. Veral die jonger, manlike rotte sal die ingewikkeldste hindernisbane bemeester, leer hefbome druk en in die regte volgorde in tonnels rondhol. Net vir die voorreg om in ’n ander hokkie te kan kom, waar ’n rotmaatjie wag waarmee hulle kan speel.

En met watter soort speletjies hou hulle hul dan besig? Rowwe speletjies. Soos stoei en rondjaag.

Nog ’n interessante waarneming van Panksepp se span is dat die jong mannetjies leer om verbasend goeie sportmanskap aan die dag te lê.

Byvoorbeeld as ’n swakker, kleiner mannetjie en ’n sterker een so stoei, moet die sterker mannetjie die swakker een soms toelaat om te wen. As die swakker een nie ten minste so 30% van die kere ’n beurt kry om te wen nie, verloor hy belangstelling in die speletjie. Dan is die sterker mannetjie een-twee-drie sy speelmaat kwyt.

Hoe speel mense?

Dr Warren Farrell, skrywer van die boek The Boy Crisis verduidelik dat pa’s spesifiek ’n baie belangrike rol speel in die ontwikkeling van veral seuns en dat hulle dit met spel doen.

In ’n onderhoud met dr Jordan Peterson verduidelik hy dat pa’s die vreugde van die moontlikheid van spel gebruik as ’n steierwerk om kinders te leer om die bevrediging van hulle behoeftes uit te stel.

Die kinders is mal oor hierdie rowwe speletjies met die pa. As hy vir die kinders meer daarvan belowe as hulle eers hulle huiswerk of huistakies doen, leer hulle om te kan wag en werk vir iets beter. Dis ’n belangrike vaardigheid vir hulle latere lewe.

Speel is baie meer as net spel

Peterson sien hierdie rowwe stoeispeletjies as ’n soort fisiologiese dans, waarin die kinders die reëls van direkte, opwindende fisiese kontak leer ken. Wat maak seer en wat nie? Hoe speel mens regverdig? Hoe kan almal saamspeel en die spel steeds geniet? Hoe opgewonde en wild kan jy raak voordat dit te veel raak? Hoeveel kan jy kla as jy seerkry en hoeveel nie?

Pa’s is veral lief daarvoor om kinders in die lug te gooi en weer te vang. Partykeer wil ’n ma se hart gaan staan oor hoe hoog die pa die kind gooi. Maar hier is iets belangrik aan die gang: die speletjie is opwindend vir die kind, beslis ook ’n bietjie vreesaanjaend, maar die loslaat van verligting as die kind wel deur haar sterk pa gevang word, bou vertroue.

Deur hierdie soort speletjies, sê Farrell, leer kinders ook die verskil tussen selfgelding en aggressie. Hulle leer dat sekere dinge ontoelaatbaar is, soos byt of vingers in die oë steek. As die pa met meer as een kind gelyk stoei, leer hulle dat die pa ’n regverdige skeidsregter is, wat sy aandag kan verdeel sodat elkeen ’n beurt kry. Wat die wonderlike is, is dat veral seuns so deur hulle pa opleiding kry in empatie. Dat hulle byvoorbeeld leer dat hulle sussie nie moet seermaak nie.

Dis wat gebeur as rotte nie speel nie

Panksepp het baie duidelik aangetoon as hulle jonk manlike rotte nie laat speel het nie, die prefrontale korteks van hulle breine nie behoorlik ontwikkel het nie. Dan kry hulle die rot-ekwivalent van aandaggebreksindroom. En ja, Panksepp en sy span het die jong rotte met niks anders nie as Ritalin behandel.

Ek wil herhaal dat mense baie meer ingewikkeld is as rotte. Om te dink dat ’n paar spelsessies met pa jou kind gaan genees van aandaggebreksindroom is om dinge te oorvereenvoudig.

Maar ek stem saam met Jaak Panksepp dat ons ‘n samelewing moet ontwikkel wat spel verstaan, en die talle goeie dinge wat spel vir kinders se breine en verstand kan doen.

Wat vir my uitstaan in hierdie navorsing? Die lewensbelangrike rol wat ouers speel. Nie maats nie. Nie onderwysers nie. Ouers!

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui