Is tuisskolers kluisenaars?


Elke tuisskoler moes al die volgende vrae antwoord:

“Maar hoe gaan jou tuisgeskoolde kinders ooit die REGTE LEWE leer ken?”

“Maar wat van hulle sosialisering?”

“Kom julle ooit uit?”

Hierdie artikel wil verduidelik wat REGTIG in tuisskolers se sosiale lewens aangaan.

Die sosiale lewe van tuisskolers: ’n tipiese dag

Kom ons kyk net eers gou na die tipiese dag van ’n skoolkind in die “regte lewe”. Skoolkinders:

  • sit vir ten minste 180 dae per jaar doodstil in ’n skoolbank
  • sien buiten vir die werk van onderwyser omtrent nooit hoe ’n ander werkplek in die “regte lewe” lyk nie
  • is ingedeel in hokkies saam met kinders van hulle eie ouderdom en het min geleentheid vir kontak met kinders van ander ouderdomme of met volwassenes
  • omdat alles vir hulle verskaf word, hoef hulle self min verantwoordelikheid te neem
  • se doen en late het selde gevolge, omdat hulle meestal outomaties van een graad na die volgende aanskuif
  • het omtrent nooit die kans nie om doen waarin hulle regtig belangstel en om hulle unieke talente te gebruik

Tuisgeskoolde kinders:

  • doen gewoonlik “skoolwerk”, waarin leer plaasvind, maar het ook tyd vir dinge waarin hulle regtig belangstel
  • kan vrylik rondbeweeg en kan byvoorbeeld gou ’n paar wippe op die trampolien gaan vang as somme hulle koppe suf gemaak het
  • wat ’n ma of pa het wat van die huis af werk, sien hoe lyk werk in die “regte lewe”
  • het gedurig interaksie met jonger of ouer boeties en sussies en met hulle ouers
  • is gewoonlik verantwoordelik vir huishoudelike takies, soos wasgoed ophang, skottelgoed wegpak, kar was, gras sny en so meer
  • leer met die einddoel in gedagte (om byvoorbeeld regtig goed te kan lees en skryf) en nie om net die spesifieke graad te kan deurkom nie

Hierdie artikel praat nie eens oor die akademiese voorsprong wat tuisskool bied nie. Almal weet teen dié tyd tuisgeskoolde kinders het ’n reuse- akademiese voorsprong. Hierdie artikel gaan NET oor tuisskool en sosialisering.

En ingeval jy wonder waar ek aan die inligting kom, Die Homeschool Legal Defense Association (HSLDA) van Amerika het ’n artikel waarin hulle die navorsing oor tuisskolers se sosialisering netjies saamvat. Ek het dit van daar af opgesom en in Afrikaans vertaal.

Bevinding 1 oor die sosiale lewe van tuisskolers: nee, hulle is nie kluisenaars nie

Die eerste ding wat die navorsers ontdek het, is dat tuisskolers BAIE moeite doen om hulle kinders nie sosiaal te isoleer nie. Die navorsers lys voorbeelde uit die Amerikaanse lewe, maar dit geld in ’n groot mate ook vir Suid-Afrika.

Hier is ’n paar dinge waaraan ek sommer vinnig kan dink wat ek of my tuisskoolvriende in Suid-Afrika doen of gedoen het. Tuisskolers:

  • Gaan gereeld op interessante tuisskooluitstappies

My eie kinders was op hulle dag saam met ander tuisskolers by die BMW-fabriek in Rosslyn, die Voortrekkermonument, die jagluiperdplaas op De Wildt, die Lippizaner perde in Kyalami en ’n kersmaakfabriek. En dis net die uitstappies waaraan ek vinnig kan dink.

  • Neem formeel aan sport deel

Weer eens sommer net so met die eerste dink, weet ek van tuisskolers wat deelneem aan onderwaterhokkie, gimnastiek, ritmiese gimnastiek, ballet, dans, atletiek, ysskaats, basketbal, sokker, aksiesport.

  • Neem ander buitemuurse klasse

Tuisskolers neem musiek, kuns, robotbou, Lego-bou, derde tale (soos Sotho, Zoeloe, Xhosa en selfs Chinees). Hulle speel in orkeste, sing in kore en het hoofrolle in konserte. Hulle woon ook Sondagskool of Katkisasie by.

Bevinding 2 oor die sosiale lewe van tuisskolers: hulle het ’n baie sterk sin vir self

’n Studie wat tuisskolers se “selfkonsep” gemeet het, het gewys dat die helfte van tuisgeskoolde kinders ’n beter selfkonsep het as 90% van die algemene bevolking van hulle ouderdom. Net ’n bietjie meer as 10% het onder die nasionale gemiddeld presteer. Let wel: nie eens op die onderste vlak nie, net ondergemiddeld! En net een uit tien tuisgeskoolde kinders lê daar.

Hierdie is ’n indrukwekkende resultaat. Want jy sien ’n kind se selfkonsep is een van die beste metings om vas te stel of hy suksesvolle sosiale interaksies kan hê.

Bevinding 3 oor die sosiale lewe van tuisskolers: hulle is emosioneel meer volwasse

Dr. Mona Delahooke het ’n groep negejariges in privaat skole met tuisskolers vergelyk. Op sosiale gebied kon sy geen dramatiese verskille tussen hulle kry nie. Met dié uitsondering: kinders in privaat skole was meer behep met hulle portuurgroep as die tuisgeskoolde kinders.

In ’n ander studie het ene Smedley bevind tuisskolers is beter gesosialiseerd en meer volwasse as kinders in openbare skole. As jy belangstel in die presiese syfers: tuisskolers val in hiedie opsig in die 84ste persentiel en staatskoolkinders in die 27ste persentiel.

Dr Linda Montgomery het tuisskolers tussen 10 en 21 bestudeer. Sy het ook bevind tuisskolers is nie geïsoleerd nie. Maar nog een van haar bevindinge was dat tuisskool leierskap ten minste net so goed ontwikkel as konvensionele skole.

Bevinding 4 oor die sosiale lewe van tuisskolers: hulle het oor die algemeen minder gedragsprobleme

’n Dr Shyers het bevind tuisskolers het konsekwent minder gedragsprobleme. Sy navorsing het aangedui tuisskolers gedra hulle beter omdat hulle hul ouers naboots, terwyl skoolkinders hulle portuurgroep as rolmodel volg. Soos Shyers dit stel: “Die resultaat toon dat ’n kind se sosiale ontwikkeling meer steun op kontak met volwassenes en minder op kontak met ander kinders as wat eers gemeen is.”

Die navorsers het ook ontdek dat baie tuisskolers die goeie verhouding wat hulle met hulle ouers het, graag noem.

Bevinding 5 oor die sosiale lewe van tuisskolers: hulle verkies tuisskool

As navorsers met hulle praat, noem tuisskolers graag die feit dat hulle ’n aanpasbare leerplan gebruik, wat hulle self kan bestuur. Dan noem hulle ook die vryheid wat hulle het om teen hulle eie pas deur die werk te gaan.

En sal hulle verkies om weer tuisgeskool te word? ’n Oorweldigende 96% sê ja.

Dis ’n duidelike bewys dat volwassenes wat as kinders getuisskool is, voel hulle het by tuisskool gebaat.

Bevinding 6 oor die sosiale lewe van tuisskolers: dis wat gebeur as hulle die “regte lewe” ingaan

Maar wat gebeur as tuisskolers die “regte lewe” as volwassenes betree? Maak tuisskool mense regtig meer selfstandig en aangewese op hulleself?

Om daardie vraag te antwoord, hier is ’n bietjie statistiek wat in hierdie artikel aangehaal word:

  • Amper tweederdes van tuisskolers skep uiteindelik hulle eie werk en werk vir hulle self. (Dis baie, baie hoër as die algemene bevolking)
  • Tweederdes van tuisskolers is getroud (dis omtrent dieselfde is as die algemene bevolking)
  • Nie een van tuisgeskoolde volwassenes in die studie was werkloos of ’n welsyngeval nie (ook ’n baie uitkoms as vir die algemene bevolking)

Dr Susan McDowell het ’n hele boek oor sosialisering en tuisgeskoolde kinders geskryf. Sy som die bevindinge só op: “(Sosialisering) is nie meer ’n kwessie nie. Al die navorsing wys die kinders vaar goed.”
 

v

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui