Praat taalkunde met jou kind


Moenie te vroeg met formele taalwerk begin nie! waarsku Hannekie Verwoerd, spraak- en taalterapeut. En sy praat uit dure ondervinding, want sy sê sy het haar dogter Helena hopeloos te vroeg Hebreeuse taalklasse laat doen. Agterna het sy besef Helena was nog glad nie gereed om met regtig moeilike taalkunde te doene te kry nie.

“Helena het toe so ʼn blokkasie oor taalkunde ontwikkel dat sy nou nog nie kan onthou wat is die verskil tussen ʼn voegwoord, ʼn voornaamwoord en ʼn voorsetsel nie. Hulle begin almal met ʼn v en dis al wat sy weet.”

Maar voeg Hannekie dan baie vinnig by: mens moet maar van jongs af “taalkunde” met jou kind praat.

Hoe doen jy dit?

Dis vir my heerlik om nog ʼn onderhoud van Hannekie beskikbaar te stel.

Gaan luister hier na die hele onderhoud om die antwoord op daardie vraag te kry.

Hannekie, wat sê sy hou niks van droë werksvelle met taaloefeninge nie,   gebruik veral twee maniere om “taalkunde” met haar kinders te praat. Amper sonder dat hulle dit agterkom.

1. Praat taalkunde deur taalspeletjies

Hier is twee oulike taalspeletjies wat Hannekie met haar eie kinders speel.

Speletjie 1: Kry ʼn nuwe woord

Gestel julle ry in die kar en julle sien hoe die huisdokter oor die straat stap. Begin dan byvoorbeeld met die volgende sin rondspeel: Die dokter stap oor die straat.

Vra nou vir jou kinders om die eerste naamwoord in die sin (dokter) te vervang met ʼn ander naamwoord wat omtrent dieselfde beteken. Sien jy hoe jy ongemerk die taalkundewoord, naamwoord, inwerk? As jy wil, kan jy nog ʼn groot woord (sinoniem) ook inbring om die idee van woorde wat omtrent dieselfde beteken aan jou kinders bekend te stel.

Die kinders kom dan vorendag met alternatiewe vir dokter soos arts, geneesheer, pediater, oor-neus-en-keel-spesialis.

Dan doen mens dieselfde met die werkwoord stap. Verduidelik sommer gou wat is die werkwoord (dit is die aksie wat die dokter uitvoer.) Alternatiewe woorde vir stap kan wees drentel, waggel, drafstap.

En so doen hulle speel-speel taalleer.

Speletjie 2: Maak skreeusnaakse sinne

Vir hierdie speletjie sit mens by die huis om ʼn tafel en elkeen het strokies papier voor hulle.

Stap 1: Elkeen skryf die eienaam van die doener neer, soos Jan, Sannie, Oupa Piet. Jy werk die taalkunde ook in deur af en toe van die doener as die subjek of onderwerp van die sin te praat. Vou jou papiertjie toe en stuur hom aan na die persoon langs jou.

Stap 2: Volgende skryf elkeen ʼn werkwoord neer, vou dit toe en stuur aan.

Stap 3: Nou moet elkeen weer ʼn naam neerskryf. Werk die taalkunde in deur af en toe te praat van die objek of voorwerp van die sin. Vou toe en stuur aan.

Stap 4: Die volgende stap is om se + ʼn liggaamsdeel neer te skryf, toe te vou en aan te stuur. Byvoorbeeld voet, hand, pinkienael. Maak liewer van die begin af die reël dat mens nie ongeskikte liggaamsdele mag kies nie.

Stap 5: Laastens moet elkeen ʼn voorsetselgroep neerskryf. Weer kan jy die taalkunde baie ongemerk inbring. ʼn Voorsetselgroep of -frase is ʼn stukkie sin wat vir jou sê wat is die plek waar iets gebeur. Byvoorbeeld op die tafel, in die hoek, onder die boom.

En nou begin die pret. Nou lees elkeen stukkies van die sin om met die snaakste, beste nuwe sin wat uit die vyf dele bestaan, vorendag te kom.

Hannekie vertel dat haar gesin al met ʼn sin geëindig het soos: Ouma Alida spoeg Hendrik se derms op die komposhoop.

Die kinders rol dan gewoonlik op die grond rond soos wat hulle lag. En leer was lekker. En maklik.

2. Praat taalkunde as jy vir jou kind voorlees

Nog ʼn manier waarop mens meer formele onderrig ongesiens kan inwerk, is om ook jou kind se aandag te vestig op taalverskynsels as jy vir hulle voorlees. Hannekie vertel dat sy gereeld haar voorlesery sal stop om haar kinders se aandag te vestig op verskynsels soos:

1. Alliterasie (rooi ribbokram. Alba Bouwer gebruik dit graag!)

2. Homofone (woorde wat dieselfde klink, maar wat verskillend gespel word en ook verskillende dinge beteken soos want en wand. Die eerste een beteken die rede en die tweede is die kant van ʼn grot.

3. Homonieme (woorde wat presies dieselfde gespel en gesê word, maar wat verskillende dinge beteken). Leer is ʼn goeie voorbeeld want dit kan beteken:

  • Die ding wat ek uitklim om in die boom te kom
  • Die stof waarvan my skoene gemaak is
  • Dit wat ek doen as ek ʼn toets wil deurkom

Verder praat Hannekie ook met haar kinders oor beeldspraak terwyl sy vir hulle voorlees. Daar is drie basiese vorms van beeldspraak: die vergelyking, die metafoor en personifikasie. Hier is gou vir jou ʼn blitskursus oor beeldspraak.

1. Vergelyking

ʼn Vergelyking het altyd ʼn soos in. Hier is ʼn voorbeeld uit Die reus van Doringberg deur Vermaas: Skielik hang daar ʼn weerligstraal soos ʼn blink gekreukelde lint aan die hemel.

As sy so-iets lees, sê Hannekie, stop sy en sê vir haar kinders: “Kan jy sien hoe hierdie oom ʼn prentjie maak met sy woorde? As jy jou oë toemaak, dan kan jy daardie weerligstraal sien.”

2. Metafoor

Dan is daar metafore, wat ook vergelyking is, maar die soos is weggelaat. In Afrikaans noem ons dit ʼn beknopte vergelyking. Hier is vir jou ʼn voorbeeld uit NP van Wyk Louw se bekende gedig VroegherfsDie jaar word ryp in goue akkerblare.

3. Personifikasie

Dis wanneer jy aan ʼn nie-lewende ding ʼn menslike eienskap gee. Soos:

Die bome sug.

Die deurmekaar lessenaar gluur my aan.

Die stroompie babbel.

4. Klanknabootsing

Daar is meer letterkundeterme wat mens vir jou kind kan leer. Soos klanknabootsing met die groot naam van onomatopee. In Alba Bouwer se boeke kry mens dit vreeslik baie. Soos die windpomp tjier-tjier.

“As ek vir my kinders lees en my oog vang so ʼn soort woord of voorbeeld, dan sal ek eers stop en bietjie daaroor gesels. Deur van jongs af oor taalverskynsels te praat, maak ek hulle mak. As ons dan formele taalkunde takel, is dit nie vir hulle ʼn splinternuwe veld met ʼn klomp terme wat hulle van nuuts af moet leer nie. Dan het hulle dit so te sê saam met moedersmelk ingekry,” sê Hannekie.

 

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui