Platsakplanne vir Afrikaanse tuisskolers


Spesiaal vir al die ma’s wat bekommerd is omdat hulle geldjies so min word – platsakplanne! Net soos wat jy BAIE geld kan spaar deur tuisgemaakte etes voor te berei, kan jy ook BAIE geld kan spaar deur self lesse en stof vir jou kinders se taalonderrig bymekaar te maak.  Ja, dis meer moeite. Nes dit meer moeite is om self die groente te skil en te kook in plaas daarvan om bevrore groente te koop.

 

Kom ons skop af met die gratis hulpbronne wat jy kry as jy inteken op my poslys

Hier is net ’n paar van die gewildstes:

1. ’n Afrikaanse leeslys

2. 20 Wiskunde hulpbronne in Afrikaans

3. Leer jou kind om toesprakies te maak

4. Aftiklysie vir die ideale tuisskooldag

Hoe gaan jy te werk om toegang te kry tot hierdie gratis hulpbronne? Vul net die vormpie in, en siedaar jy kan al hierdie lêers onmiddellik aflaai. Gratis en verniet.

 

Maar daar is meer. Ook op ander plekke is daar gratis hulpbronne vir Afrikaanse tuisskolers

Hier is my top GRATIS hulpbronne waarmee jy nog steeds gehalte taalonderrig vir jou kinders kan gee.

 

1.   Lees minstens een uur per dag hardop vir jou kinders voor

Ja, ek weet ek klink soos ʼn outydse grammofoonplaat wat vasgehaak het. Maar voorlees is die maklikste, beste, goedkoopste manier om jou kinders vir die res van hulle lewens ʼn voorsprong gee.

Ek lys gou weer vir jou van die wonderlike voordele van voorlees. Voorlees verbeter jou kind se:

  • gehoorprosesse
  • woordeskat
  • konsentrasie
  • kommunikasie
  • kreatiwiteit
  • empatie
  • algemene kennis
  • begripsvermoë
  • band met jou

Hoe weet jy wat jy vir jou kinders moet voorlees? Ons het ʼn heerlike lys van boeke wat voorgestel is deur ander tuisskolers. Vul net die vorm onderaan hierdie bladsy in en kry toegang tot die leeslys.

Gaan snuffel by jou biblioteek rond. Kyk wat aanlynboekwinkels beskikbaar het. En amper die belangrikste wenk wat ek vir jou het … vorm Boekwurmklubs met ander ma’s in jou omgewing en begin saam ʼn leesprogram. Dan kan julle ook boeke uitruil.

 

2.  Lees meer Afrikaanse gedigte: Maroela Media

Ek sê altyd ek is spyt ek het nie vir my kinders meer rympies en gedigte gelees nie. Moenie dieselfde fout as ek maak nie. Hier is ʼn plek waar daar jy sommer baie van Afrikaans se grootste en geliefste gedigte te lese kan kry. Gratis en verniet. Sommer net so met ʼn vinnige kykie sien ek:

Daar is hope meer, ook van die jonger Afrikaanse digters, wat ek nog nie ken nie, maar wat ek nou weet waar om te gaan ontmoet. Dankie Maroela Media. Ek het ʼn bord by Pinterest begin waar ek geleidelik skakels maak en vassteek wat jou na van hierdie gedigte lei.

Hoe kan jy gedigte in jou lesse gebruik? Hier is drie voorstelle:

  1. Laat jou kinders ʼn gedig uit hulle koppe leer en opsê. Vir jonger kinders kan die een oor die muskietjag byvoorbeeld baie goed werk, want dis snaaks en maklik. Mens kan iets wat rym makliker memoriseer. Maar doen dit oor ʼn paar dae. Onthou, bietjies-bietjies op ʼn slag.
  2. Laat jou kinders die gedigte afskryf en selfs illustreer as hulle wil. Gedigte het gewoonlik leestekens wat baie presies moet wees, anders maak die woorde nie sin nie. Gedigte is dus ʼn goeie oefening in leestekengebruik.
  3. Lees elke dag vir hulle ʼn gedig voor. Poësie is die hoogste vorm van uitdrukking in enige taal: gedigte is supergekonsentreerde denkstukkies. Maar gedigte is ook pragtig en bevredig ons mense se behoefte aan die mooie.

 

3.  Leer ken jou taalreëls: Beter Afrikaans

Nog ʼn oulike gratis hulpbron, waar jy en jou kinders julle Afrikaanse taalreëls kan opskerp, is hier te kry. Weer eens moet jy met ʼn e-posadres ʼn rekening skep en siedaar! jy kry elke oggend ʼn vasvra met vier vrae in jou e-posbus. Daar is drie moeilikheidsvlakke waarby jy kan inskryf.

Dis neem minder as tien minute om die toetsie te voltooi. ʼn Lekker vinnige en prettige manier om die reëls van Afrikaans, waarmee ons almal sukkel, in te oefen.

In een van my toetse verlede week het ek vir die heel eerste keer ʼn reël uit die spiksplinternuwe Afrikaanse woordelys en taalreëls, wat nog na ink ruik so nuut is dit, gekry.

Kan ʼn mens nog in Afrikaans Sjina of China skryf? Nee, China is nou die enigste aanvaarbare spelvorm.

Ek hoor selfs universiteitstudente doen elke dag Beter Afrikaans se toetsie en dat hulle ook punte daarvoor kry.

As dit goed genoeg is vir universiteitstudente is dit goed genoeg vir ons tuisskolers. Benut hierdie GRATIS hulpbron om jou kinders se Afrikaans te verbeter. Dis uitstekend.

 

4. Eet ’n gratis mielie by Mieliestronk

Mieliestronk beskryf hulleself so: ʼn veelbekroonde webwerf vir die heel beste skooltake.
Ek sou sê Mieliestronk is ʼn Afrikaanse ensiklopedie, maar een met woema. Die artikels is in héérlike, foutlose Afrikaans, maar in ʼn geselstrant sodat kinders dit baie sal geniet. Hier is ʼn proesel uit Mieliestronk se artikel oor tarentale:

Tarentaal: die gespikkelde fenomeen van die Afrika-bos. Met sy kaal kop, spikkels en ‘horing’ op die kop draf hy sy haastige draf agter sade en plantbolle aan. Maar hy is ook lief vir insekte, en bosluise is sy poeding. As jy jou hond luisvry wil hou, sê hulle, ontbied ’n tarentaal!

Mieliestronk skryf oor alles en nog wat, van kunstande tot geskiedenis. Luister byvoorbeeld na dié stukkie oor Andries Pretorius:

Volgens beskrywings van sy tydgenote moet hy ’n charismatiese man met ’n treffende voorkoms gewees het, groot en sterk gebou. ’n Vroulike bewonderaar het só oor hom geskryf: ‘Aantreklik, ’n lang figuur van tussen ses en sewe voet (nagenoeg twee meter), regop, vriendelik en innemend.’

Mens kry ʼn baie beter prentjie van die man, as wat jy met net droë feite sou gekry het, nie waar nie? Interessant hoe die joernalis subtiel vir die leser leer om na primêre bronne terug te gaan as jy navorsing doen deur te verwys hoe ʼn tydgenoot oor Pretorius geskryf het.

Hier is moontlike les-idees om met Mieliestronk te probeer:

  1. Laat kinders wat nie van fiksie hou nie, maar wat eerder in feite oor diere belangstel, ʼn paar sinne oor byvoorbeeld olifante foutloos afskryf om spelling en leestekensgebruik in te oefen.
  2. Vul julle natuurwandeling aan met inligting op Mieliestronk. Hulle het onder meer dié oulike artikel: “Brandnetel … ʼn doring van ʼn plant.”
  3. Lees ʼn artikel saam met jou kinders voor en laat hulle vir jou alles terugvertel wat hulle onthou het.
  4. Laat ʼn ouer kind self ʼn artikel lees en dan ʼn vyfparagraafopstelletjie oor die onderwerp skryf.

Het ek al gesê? Die gebruik van hierdie webwerf is GRATIS!

 

5. Praat uit die vuis uit: oolfant.com

Ek het vantevore geskryf hoe om kinders te leer om onvoorbereide toesprake te maak. Talle ma’s het dit probeer en het laat weet hoe baie hulle en hulle kinders daarvan gehou het. Een ma skryf:

Dit het fantasties gewerk! Ek het sommer jou pdf uitdruk vir elke kind en dit ingeplak in hulle boeke. Toe het ek dit stap vir stap verduidelik – presies soos uiteengesit en toe het ek gesê elkeen moet ʼn spinnekop-diagram teken en elkeen moet die begin, drie punte en dan die slot skryf oor ‘hoekom is rooi beter as blou’ (soos jy voorgestel het).

Wow, die antwoorde wat uitgekom het, het my mond laat oophang! En dis lekker want niks kan verkeerd wees nie! Ek sal mettertyd meer fokus op die regte navorsing en hoe om dit te soek op die internet.

Dit was ʼn wonderlike oefening en die kinders het dit so geniet. Hulle wil dit môre weer doen. Op pad biblioteek toe het hulle sommer hulle eie idees uitgedink en ek moes saamspeel. ‘Hoekom is klippe beter as gras?” en dan die ander kant ook redeneer!

 

6. En as hulle reg is om te begin skryf … Woorde met Woema

Onthou van my GRATIS minikursus waar jou kinders solank drie skryfvaardighede kan inoefen met ʼn prettige storietjie. Hierdie kursus is sommer baie gewild en het al amper 700 studente.

SKRYF HIER IN VIR WOORDE MET WOEMA

 

My aanlynkursusse

Maar laat ons eerlik wees, soms is die so lekker gerieflik om ʼn pak bevrore groente uit die vrieskas te haal en vinnig iets aan mekaar te slaan. Vir my val saamgestelde betaalde kursusse in dieselfde kategorie as bevrore groente.  Ek sê altyd die gratis hulpmiddels maak tuisskool moontlik, maar die betaalde kursusse maak tuisskool makliker. Hier is twee van my kursusse wat jou lewe sommer baie makliker kan maak.

 

15-Minuut-Afrikaans

 

 

SKRYF!

 

 

 

Vind meer uit oor hierdie gratis aanlynhulpbron vir Afrikaanse tuisskolers.
Vind meer uit oor hierdie gratis aanlynhulpbron vir Afrikaanse tuisskolers.
’n Gratis aanlynhulpbron vir Afrikaanse tuisskolers. Vind meer uit.
’n Gratis aanlynhulpbron vir Afrikaanse tuisskolers. Vind meer uit.
’n Gratis hulpbron vir Afrikaanse tuisskolers. Vind meer uit.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit