Oor my


Marisa Haasbroek kry AKTVeertjie

Aangename kennis, my naam is Marisa Haasbroek.

Ek is ’n veteraan-tuisskoolma (’n mooi manier om te sê ek is aan die verkeerde kant van … ag, toemaar,  los maar). My twee kinders het nooit ’n enkele dag van hulle jong lewens op ’n skoolbank deurgebring nie. Hulle is nou onderskeidelik twintig en agtien jaar oud en is goed op pad om goedaangepaste, gelukkige grootmense te word.

Moenie dat ek oor Afrikaans en my liefde vir my moedertaal begin praat nie. Jy gaan my nie weer stil kry nie. Daarom skep ek graag vir Afrikaanse tuisskolers beter leermateriaal en vul my dae deur Afrikaanse taal- en skryfkursusse te skryf en te ontwikkel.

Dis vir my heerlik om
Afrikaanse tuisskolers te help om
makliker, lekkerder en beter
in Afrikaans
te kan tuisskool.

Ek bevind my pens en pootjies in die konstruktivistiese kamp van die opvoedkunde. (Jammer as ek nou bietjie tegnies moet raak). Jean Piaget en Charlotte Mason is my helde. Waarop dit basies neerkom, is dat ek nes die goeie Switserse dokter Piaget glo ’n mens kan net dit leer wat jy vir jouself leer. ’n Kind moet sy of haar eie kennissisteem uitbou. ’n Kind is nie ’n leë houer wat die onderwyser of ’n tuisskoolma vol kennis kan prop nie.

Buiten dat ek ’n tuisskoolma is, is ek ook ’n Afrikaanse skryfster. Die hoogtepunt van my skryfloopbaan was ongetwyfeld toe ek in September van 2015 op ’n verhoog in Kaapstad ’n ATKVeertjie van aktrise Sandra Prinsloo ontvang het (sien die foto bo) vir my jeugboek Iewers vlieg daar fairy dust.

Lees my gewildste kortverhaal ooit, hier.

Ek het in Pretoria grootgeword en was ook daar op universiteit. Ons gesin bly sedert 2015 in Amerika. My man werk hier aan ’n kerningenieursprojek werk wat in Suid-Afrika begin is, maar wat ongelukkig daar doodgeloop het.

Dis vir my ’n voorreg en ’n groot seën dat ek nog in Afrikaans mag skryf as ek my beste wenke en idees oor tuisskool in Afrikaans met ander tuisskoolma’s deel. Dit help vir die huis toe verlang, maar dit help ook dat ek voel of ek nog verbonde is aan my land en sy mense.

Eendag kom ons huis toe …

Lees hier hoe ek skryf watter voorreg dit nog vir my is om in Afrikaans te skryf en praat.

 

Stuur gerus vir my ’n e-pos na:

marisa by oolfant.com
vervang net die “by” hierbo met @

 

 

 

 

 

 

 

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit