Pen en papier steeds die beste manier


Ek hou nie van skryf nie. Wel, nie met pen en papier nie. As ek skryf, lyk dit of ’n dronk krap oor die bladsy geloop het. In matriek was my ma doodbenoud ek gaan nie gaan deurkom nie, want niemand sal kan lees wat ek geskryf het nie.

Waar die hekel in skryf vandaan kom, kan ek jou presies sê. Dit was toe ek in graad 2 was.

As ons ons skoonskrif vinnig klaarmaak, het die juffrou eendag belowe, kon ons voor in die klas op die mat kom sit en dan sou sy vir ons ’n storie lees. As jy my nou al ken, weet jy ’n storie klink vir my baie lekkerder as skoonskrif.

Dus het ek my werk afgejaag en was een-twee-drie voor in die klas op die mat, reg vir die storie. Die laaste seun om klaar te maak, was die een wat ALTYD die laaste een was om klaar te maak. Die juffrou het hom begin aanpor, want die ander 24 sewejariges het begin ongeduldig raak.

Uiteindelik was agterossie se werk ook klaar. Hy het sy skryfboek op die hoop op die juffrou se tafel gaan sit. En net daar kry sy dit in haar kop om te kyk hoe lyk sy werk. Wat ’n geknoei. En toe kry sy dit in haar kop om deur ALMAL se boeke te kyk.

En ek het geweet wat kom…

Ek was een van die wat eenkant moes gaan staan, omdat ons werk so slordig was. Toe sy deur die hele klas se boeke is, het ons sloeries elkeen ’n harde hou of twee met die paplepel gekry.

Die beloofde storie? Toe nooit gehoor nie.

Rekenaars het daarom skaars hulle opwagting gemaak of ek het leer tik sonder op die toetse te kyk. Ek het met die hand skryf meestal uit my lewe uitgeskakel. Met groot graagte.

Toe duik die vraag by van die tuisskoolgroepe op of handskrif nog enigsins belangrik is. Ek het die navorsing begin lees. En laat ek eerlik wees, ek was sooo reg om oortuig te word dat ons die simpel Middeleeuse gebruik om tekens en letters op papier te maak maar by die venster kon uitgooi.

Helaas …

Jammer om jou teleur te stel, maar dis baie nodig dat ons ons kinders moet laat skryf. Om iets neer te skryf, is ’n baie, baie kragtige aksie.

En daar is drie belangrike rede daarvoor …

1.  As jy iets neerskryf, onthou jy dit beter

Navorsing wat in 2014 deur Mueller en Oppenheimer met universiteitstudente gedoen is, het twee bevindings opgelewer. Studente wat tydens lesings notas uitskryf eerder as om dit op ’n rekenaar af te neem, het die werk beter onthou.

2.  As jy iets neerskryf, verstaan jy dit beter

Maar Mueller en Oppenheimer se studente, wat met die hand notas geneem het tydens die lesings, het nog ’n voorsprong gehad bo die studente wat op hulle rekenaars probeer tik het.

Hulle het ook die inhoud van die werk beter verstaan.

3.  As jy iets neerskryf, glo jy dit

In Amerika het hulle ’n wet ingestel wat kopers drie dae kans gee om uit ’n transaksie te kom as hulle spyt is daaroor. Dit geld vir die meeste verkope, selfs vir groter goed, soos vir ’n huis.

Hierdie wet was baie slegte nuus vir bemarkers wat gebruik maak van sielkundige tegnieke om ’n transaksie deur te druk, soos deur-tot-deur-verkopers. Nadat die wetgewing in werking getree het, het hierdie verkopers veral hul verkope sien tuimel.

Maar toe maak hulle ’n klein verstellinkie. ’n Baie, baie klein verstellinkie.

In plaas daarvan om die bestelvorm vir die klant in te vul, laat die verkoopsman die voornemende koper self die vorm in sy of haar eie handskrif voltooi. En so by my kool, die aantal mense wat na drie dae hulle koop kanselleer, val drasties.

Hierdie navorsingsresultaat, wat aangehaal word deur dr Robert Cialdini in sy boek Influence: the psychology of persuasion, gee my koue rillings.

Want dit sluit aan by die breinspoeltegniek wat in Noord-Korea op Amerikaanse krygsgevangenes toegepas is, waarna hy ook verwys. Die bewaarders in die krygsgevangekampe het die gevangenes sover gekry om opstelle te skryf waarin hulle hul eie land, Amerika, net bietjie kritiseer. En kommunisme net so bietjie aanprys.

Die gevolg?

Die opstelskrywers het dan, onder andere, keer op keer hulle makkers se ontsnappingspogings verraai. En self nooit probeer ontsnap nie.

Hulle het begin glo wat hulle geskryf het.

Hoekom het neerskryf so ’n kragtige effek?

Kenners reken dit het te make met die feit dat jy meer dele van jou brein inspan as jy skryf, onder andere ook die sentrum in jou brein waar die motoriese dele beheer word. Die hele lees-stroombaan word in jou brein geaktiveer as jy skryf. Breinskanderingstudies wys dat as jou hande ook betrokke is, daar ’n sterker band tussen leer en jou geheue vorm.

Veral met lopende skrif word oog-hand-koördinasie, fyn motoriese vaardigheid en baie ander brein- en geheuefunksies ingespan. Daarom word kinders wat met disleksie sukkel baie keer aangemoedig om in lopende skrif te skryf.

Als goed en wel, maar wat doen jy met iemand (soos die uwe) wat niks van skryf hou nie?

Wel, jy kan so redeneer: dis nie nodig dat jou kinders netjies moet kan skryf nie. Hulle hoef net vinnig te kan skryf. Want dis die vermoë om vinnig te kan skryf, wat vir iemand die voorsprong gee. Dis oor en oor bevind deur verskeie universiteite soos Colombia (in Amerika) en Queensland (in Australië).

Wat goeie nuus vir lelikskrywers soos ek is.

Nadene, Suid-Afrikaanse  tuisskoolma met ’n webwerf genaamd Practical Pages het ’n totaal ander aanslag. Sy laat haar inspireer deur hierdie aanhaling van Charlotte Mason:

“Let the child accomplish something perfectly in every lesson …”

Vir haar jonger kinders laat Nadene hulle toe om net twee of drie PERFEKTE letters te maak. Haar effens ouer kinders hoef net EEN sin per dag volmaak te skryf.

Kyk maar wat werk die beste vir jou kinders as jy fokus:

  • op spoed
  • op netheid, maar hou die werk dan min

Nog twee wenke wat neerskryf lekkerder kan maak

Ek wil graag nog twee wenke noem, wat weer en weer opgeduik het uit al die baie artikels wat ek oor handskrif gelees het.

Kry twee soorte steekse skrywers só aan die skribbel:

Laat jou praktiese kind hierdie dinge neerskryf

Laat hom dinge neerskryf wat regtig nut het. Soos inkopielyste. Of resepte. Of instruksies hoe om ’n voëlhok te bou.

Maak neerskryf só makliker vir jou kunssinnige kind

Sorg dat jy ’n wye verskeidenheid interessante skryfbenodigdhede vir haar in die huis het. Mooi papier. Gekleurde penne. Inkleurpotlode. Gom met blinkertjies in.

Kry hulle net aan die skryf. Dis die moeite werd. (Sug!)

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui