Leeslys vir Afrikaanse tuisskolers

Waar kry mens lewende boeke in Afrikaans?


Lewende boeke. Boeke wat mens nie kan neersit nie. Boeke wat jou boei. Boeke wat ʼn hele nuwe wêreld vir jou oopbreek. Ek dink dis die opvoedkundige Charlotte Mason wat met die konsep van lewende boeke begin het.  As jy nie weet wat ʼn lewende boek is nie, maak ʼn ensiklopedie oop en probeer ʼn inskrywings lees. So droog soos ʼn kurkprop, nè? So saai soos ʼn skoolhandboek, nie waar nie? Dit is die teenoorgestelde van ʼn ware lewende boek. Op ons leeslys se kategorie “goeie Afrikaanse boeke” pryk net lewende boeke in die volgende vier afdelings:

1. Biografiese en ware verhale en vertellings

Kom ons begin met Op die agterpaaie deur Dana Snyman. Tuisskoolma Sanet du Toit wat dié boek voorgestel het, laat weet:

“Ons lees dit elke jaar as ons met vakansie gaan, en by plekke verbyry waarvan hy praat. Die kinders is MAL daaroor.”

Ek kan nie aan ʼn beter manier dink om Aardrykskunde te doen nie. So klink Amazon se beskrywing oor Op die agterpaaie:

Dana Snyman, seker Suid-Afrika se gunstelingreisskrywer, beskryf sy eie lewensreis en die ongebaande weë waarop hy hom al begeef het. Dana soek na die ware Weskus, kuier by die Karoo se karretjiesmense, jaag pylreguit deur Boesmanland, sit in Lutzville se kroeg, en ry selfs ʼn Harley — op Colesberg. Uiteindelik gaan hy huis toe, in sy Valiant, en herkou aan die lesse van die langpad. Heerlik vermaaklik, dog diep menslik.”

Nog boeke in hierdie afdeling wat my aandag getrek het, is Die aarde het gebewe deur Thelma Cillie, wat ʼn ooggetuieverslag is van die Tulbagh aardbewing op 29 September 1969. Dit klink baie interessant.

En daar is daar die lewende boek Kambrokind …

Dan is daar Kambrokind van FA Venter, ʼn titel wat weer en weer voorgestel is. Oor Kambrokind skryf tuisskoolma Karen Badenhorst:

“Ons het Kambrokind gelees toe my kinders 9, 11, en 13 was. Dit bly een van die kosbare juwele op ons rak. Ons het die boek baie geniet, want dit het ons baie van ons eie land en sy boeremense geleer. Ons het ʼn kaart van Suid-Afrika altyd byderhand gehou en die roete wat hul met die wa getrek het daarop aangedui.

“My kinders het wolpoppies gemaak en ʼn oulike wa uit karton. Hulle het die hele tuin vol getrek en gespeel en orals ‘kamp opgeslaan. Ons moes gedurig uitvind waar die spreiers nie mag spuit nie!

“As hul so heerlik in die verbeelding verder speel met ‘n storie, weet ek altyd, hierdie boek is die moeite werd!”

Klink vir my soos ʼn lewende boek wat julle daar beetgehad het, Karen!

2. Geskiedkundige verhale

Lewende boeke is boeke waardeur ware leer plaasvind. Nog ʼn tuisskoolma beskryf op haar blog hoe ʼn boek oor ʼn skip wat gesink het, Die raaisel van die SS Waratah en die avokadoboom (deur MJ Honikman) haar kinders geleer het hoe doen mens navorsing oor iets waarin jy baie belangstel.

“Ons het seker ʼn goeie twee dae spandeer om meer oor die Waratah en sy verdwyning op te lees. Veral ons agtjarige wou weet of hulle nie intussen die wrak gevind het nie,” skryf sy.

Dié boek is in 2010 deur Tafelberg uitgegee en is nog beskikbaar by plekke soos loot.co.za.

Ons het heelwat geskiedkundige boeke op ons lys. HS van Blerk, Ben Venter, FA Venter, Mikro en HJ Vermaas se name duik telkens weer hier op en baie ma’s sê veral van hulle seuns se gunstelingboeke bevind hulle in hierdie afdeling.

3. Literêre boeke

Daar is ook ʼn paar literêre boeke, soos Dalene Matthee se twee groot treffers (Kringe in ’n Bos en Fiela se kind), maar ook ʼn paar van FA Venter, PH Nortjé en Pieter Pieterse.

Is daar iemand wat nie saam met Saul kwaad word as hy hoor hoe die handelaars die boskappers uitbuit nie? Of wat nie saamhuil oor die olifant, Oupoot nie? As jy Dalene Matthee se boeke wil lees, kyk of jy die skooluitgawes in die hande kan kry, want die ydellike gebruik van die Here se naam is daarin uitgehaal.

4. Godsdienstige boeke

In dié afdeling is die Helde van die Hervorming reeks deur Tina van Deventer voorgestel. Dit lyk ook baie interessant. Die klassieke God se smokkelaar, die ware verhaal van ʼn man wat Bybels in Kommunistiese lande ingesmokkel het, is ook deur ʼn paar ma’s voorgestel.

Die Pinterest bord oor hierdie boeke is hier te kry. Soos vantevore: steek die prentjies op jou eie bord vas, lewer kommentaar en maak dit ʼn lewende bron van lewende boeke vir Afrikaanse tuisskolers.

Vul die vorm hieronder in, teken in en kry so toegang tot die Afrikaanse leeslys.

Lewende boeke
Lewende boeke
Lewende boeke

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui