O wee, ons nasie lees vrot …


ʼn Verslag het uitgekom waarin Suid-Afrikaners se leesvermoë bedroewend lyk. Erg bedroewend. Dit blyk dat 80% van graad viers nog nie kan lees nie. Die verwyte en beskuldigings vir oorsake van dié swak prestasie word heen en weer geslinger.  Ek gee graag ʼn ander perspektief gee hoekom mense se leesbegrip nie altyd so goed is nie. Dit kom van Professor Daniel T Willingham, wat ʼn professor in sielkunde is by die Universiteit van Virginia. Hy het ook ʼn boek geskryf oor hoe mens se brein werk as jy lees, genaamd “The Reading Mind: A Cognitive Approach to Understanding How the Mind Reads.”

Hy betreur die feit dat Amerikaners so vrot lees. Hulle onvermoë om goed te kan lees versleg veral as hulle komplekse inligting moet verwerk, soos om twee artikels wat ʼn wetenskaplike bevinding verskillend vertolk met mekaar te vergelyk. Of om ʼn tabel te vertolk wat die aanbiedinge van verskillende kredietkaartmaatskappye teen mekaar opweeg.

Mens kan net dink wat professor Willingham van Suid-Afrika se leessyfers sal kyk, waar leeders met selfs meer basiese take sukkel.

Professor Willingham se teorie is dat mens veral twee dinge nodig het om regtig met begrip te kan lees: ʼn goeie woordeskat en iets wat op die oog af nie dadelik sigbaar is nie — ʼn groot algemene kennis.

Hoekom het mens ʼn groot kennissisteem nodig om regtig met begrip te kan lees? Daar is twee redes.

Rede een: Vul die gapings in

In enige leesstuk is daar altyd gapings wat jy self moet invul. Die prof gebruik dié sin om dit te illustreer: “Alhoewel ek belowe het om nie daarmee te speel nie, wou my ma my nie toelaat om my Rubik-blok saam te neem biblioteek toe nie.”

In dié sin het die skrywer daarvan drie feite uitgelaat wat noodsaaklik is om die sin te verstaan:

  1. Mens moet stil wees in ʼn biblioteek
  2. ʼn Rubik-blok maak geluide as mens dit draai
  3. Kinders sukkel om die versoeking om met speelgoed te speel, te weerstaan

As jy nie hierdie drie stukkies bykomende agtergrondkennis het nie, sal jy letterlik kan verstaan dat die ma die kind verbied het om die speelding saam te vat, maar jy gaan nie mooi snap hoekom sy dit gedoen het nie.

Rede twee: Verskaf die konteks

Kennis gee ook konteks. Professor Willingham gebruik die voorbeeld van ʼn berig wat verlede jaar opgeduik het, maar wat duidelik fopnuus was. Die opskrif van die berig was “Pous Francis skok die wêreld, steun Trump vir President”. Letterlik beskou is die sin maklik om te verstaan en daar is vir die leser geen gapings om in te vul nie.

Maar as jy weet wat die openbare standpunte van die twee mans is en dat geen Pous al ooit sy steun aan ʼn kandidaat in die Amerikaanse presidentverkiesing toegesê het nie, is jy dadelik meer skepties oor die berig.

Hoekom gee skrywers dan eenvoudig nie die konteks en vul al die gapings nie?

Want dit maak lees vervelig en dan vat dit baie lank vir die lesers wat wel die agtergrondinligting het. As jy beter wil lees of wil hê jou kinders moet beter lees, moet jy self sorg vir ʼn wye kennissisteem.

Hoe meer agtergrondinligting jy het, hoe beter verstaan jy

As mense wel bykomende dinge weet, verstaan hulle beter as hulle moet lees. ʼn Studie wat met graad 3 lesers gedoen is, bevestig hierdie vermoede.

Twee groepe lesers, die wat baie goed kan lees en die wat swak lees, is met mekaar vergelyk. Hulle moes ʼn stuk lees wat oor sokker gegaan het. Diegene wat swak lesers was, maar wat baie van sokker geweet het, kon drie keer beter afleidings oor die stuk maak as diegene wat glad nie die gewilde spel met die wit en swart bal geken het nie.

Hoe groter jou algemene kennis hoe beter lees jy

Kinders wat ʼn goeie algemene kennis het, sal beter verstaan wat hulle lees. In nog ʼn studie is ʼn groep graad elf-leerlinge se algemene kennis getoets is voordat hulle ʼn stuk moes lees en vrae daaroor moes antwoord. Hoe beter hulle met die algemene kennis vrae gevaar het, hoe beter het hulle die leesstuk begryp.

Hoe kan mens hierdie probleme met leesbegrip regstel?

Professor Willinghamn maak drie voorstelle om die probleme met leesbegrip reg te stel. Sy voorstelle het belangrike implikasies vir ons tuisskolers.

1.      Spandeer meer tyd aan stof met ʼn ryke inhoud

Spandeer minder tyd daaraan om kinders in die vroeë laerskool te leer lees. Stel kinders in daardie vroeë fase eerder bloot aan stof met ʼn ryke inhoud en baie interessante feite.

Vir ons tuisskolers beteken dit …

… lees elke dag vir jou kinders voor uit:

goeie boeke met moeilike woorde en waarin interessante dinge gebeur.

2.      Toets kinders se leesbegrip op dinge waarvan hulle geleer het

Moenie vir die kinders leestoetse gee oor dinge waarvan hulle nie geleer het nie. Toets hulle leesbegrip op dinge waarvan hulle wel geleer het.

En vir ons tuisskolers beteken dit …

om kinders dadelik te laat terugvertel oor dit waaroor julle gelees het, werk regtig.

Terugvertel is die belangrikste en mees effektiewe manier om seker te maak jou kinders verstaan waarvan julle gelees het. Deur dadelik inligting oor die stof terug te vertel, sal hulle dit ook beter onthou.

3.      Maak kinders se kennissisteem so groot as moontlik

Dit beteken jy moet handboeke en tekste gebruik wat inhoudryk is.

Jy weet nou al wat ek gaan sê, nè?

“Lees elke dag minstens vir ’n uur lank vir jou kinders voor uit goeie boeke.”

leesbegripWat is ʼn goeie boek? Dis ʼn boek wat geskryf is deur iemand wat regtig entoesiasties voel oor ʼn vakgebied en wat nie vinnig ʼn handboek aanmekaar probeer slaan het nie. Dis ook letterkunde wat geskryf is deur die topskrywers van ʼn taal. Mense wat beeldspraak kan gebruik, komplekse karakters lewe kan laat kry en ʼn liefde vir hulle taal het.

Kry toegang tot ons Afrikaanse leeslys deur die vorm onderaan hierdie artikel te voltooi en in te teken by my poslys. af

Maak die boeke wat jy vir jou kinders voorlees geleidelik ook al hoe moeiliker. Dwing hulle soms om op hulle tone te staan om by te kom by iets wat julle lees.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui