leer lees

Hoe leer ek my kind lees en skryf?


Baie nuwe tuisskoolma’s wonder of hulle dit gaan regkry om self hulle kinders te leer lees en skryf.  Soos een ma vir my skryf: “My kind wil graag leer lees, maar ek het nie ʼn idee hoe om haar te leer nie.” En ʼn ander een: “J is veronderstel om volgende jaar om Gr1 te wees en hierdie mamma is so bang ek kan hom nie leer lees en skryf nie. Kan jy dit nou glo? Maar ek is vrek bang! Skoonma hou my met valk-oë dop. Sy is ʼn oud onnie …”

Ek het by gesoute tuisskoolma, Willemien Kruger, oor leer lees gaan kers opsteek.

Willemien was op haar dag ʼn bedryfsingenieur, maar die afgelope twintig jaar tuisskool sy haar drie kinders. Sy is die skepper van Omvattend Afrikaansʼn volledige taalprogram vir Graad 1 tot 3.

Sover ek weet is sy ook die enigste Suid-Afrikaanse tuisskoler wat ʼn internasionale kursus op die mark het. Nogal oor Suid-Afrikaanse kuns.

Ek dink ʼn mens kan met ʼn geruste hart sê Willemien weet waarvan sy praat!

Met haar instemming en medewete het ek deur twee van haar artikels gegaan en ʼn uittreksel gemaak wat jou sal help om met meer vertroue te begin om jou kind te leer lees en skryf.

Leer lees: die 10 beste wenke

  1. Dogtertjies toon gewoonlik vroeër as seuns ʼn belangstelling in lees. Gewoonlik begin seuns darem hier teen sewe, agt ook in lees belangstel.
  2. Skole verwag van kinders om op 7 jaar te leer lees. Die gemiddelde, normale ouderdom kan egter so jonk wees as 4 jaar en so oud as 11 jaar.
  3. Laat jou altyd deur jou kind se EIE TEMPO lei.
  4. Doen liewer elke dag ʼn bietjie leeswerk (10 tot 15 minute) as om een dag per week vir ʼn hele uur te werk.
  5. Moenie haastig wees om so gou as moontlik al die klanke vir jou kind te leer nie, werk liewer stadig deur die klanke en hersien gereeld.
  6. Aan die begin is die lesery alles behalwe perfek. Dis normaal. Wees geduldig.
  7. Laat jou kind tegelykertyd leer skryf en lees.
  8. Hou aan om vir jou kinders voor te lees. Dit help met woordeskat. Maar ook dat hulle die struktuur van die taal goed leer ken. Dit hoef nie net stories te wees nie. Lees oor enigiets waarin hulle belangstel.
  9. Memoriseer gedigte of stukke uit die Bybel. Wonderlik vir breinontwikkeling.
  10. Stel ʼn voorbeeld. Sien jou kinders jou ooit lees?

Leer lees: 12 tekens dat jou kind gereed is om te begin

  1. Wil jou kind al speel-speel lees deur boeke vas te hou en kastig om te blaai?
  2. Kan jou kind al lekker vlot gesels?
  3. Kan jou kind instruksies uitvoer?
  4. Geniet en onthou jou kind stories, rympies en liedjies?
  5. Kan jou kind ʼn storie opmaak uit prentjies?
  6. Kan jou kind al vir die duur van ʼn storie konsentreer?
  7. Kan jou kind prentjies met die regte kleure en vorms beskryf?
  8. Kan jou kind ʼn storie in die regte volgorde terugvertel?
  9. Kan jou kind die ooreenkomste en verskille tussen dinge raaksien en beskryf?
  10. Ken jou kind haar eie naam en kan dit dalk self skryf?
  11. Kan jou kind klanke, letters en simbole wat jy op papier maak namaak?
  12. Is jou kind se oog-hand-koördinasie goed ontwikkel?

Leer lees: die 3 belangrikste metodes

1. Fonetiese metode

Met die fonetiese metode word al die klanke geleer sodat die kind enige woord kan lees deur die klanke en klankkombinasies te klank.

2. Kyk-en-sê-metode

Met hierdie metode bou die kind ʼn woordeskat op van geheelwoorde wat hy kan lees en eien.

3. Kombinasie van die twee

Die meeste leesprogramme gebruik ʼn kombinasie van die twee metodes. Soos Willemien verduidelik: “Mens moet die klanke ken om enige woord te lees, maar bou in elk geval uiteindelik ʼn reeks woorde op, wat jy herken en wat dus maak dat jy vinniger kan lees.”

Leer lees: die 4 fases waarin mens leer

1. Leer ken

Memoriseer hoe lyk (prentjie) en hoe klink (klank) die 23 letters van die alfabet wat Afrikaans meestal gebruik. Klankkaarte is hier goud werd. Laat jou kinders die letters skryf ook.

Ekstra wenk: ʼn Baie lekker skryfmedium is daardie klein versierballetjies — hundreds and thousands in Engels. Koop dit grootmaat en gooi dit in ʼn ou skinkbord uit en laat jou kinders hulle letters daarin oefen. Skud die skinkbord ʼn slag en jy begin elke keer oor. My kinders was mal oor die tekstuur van versierseltjies. (En om dit te eet … stouterds!)

2. Leer saamvoeg

Leer nou dat as mens klanke saamvoeg, jy woorde kan maak. Vorm stadig ʼn woord soos k-a-t sodat jou kind kan hoor en sien wat gebeur. Speel gereeld ʼn speletjie soos Krabbel met drie-letter-woorde.

3. Leer dekodeer

Leer om woorde reg uit te spreek, met ander woorde leer om te dekodeer. Hierdie fase is baie soos die eerste fase, maar nou met meer klanke en kombinasies (ook tweeklanke soos ui en oe). In hierdie fase help dit om heel woorde, wat moeilik is om te klank, te leer. “Wees geduldig, want hierdie fase kan langer neem as verwag,” waarsku Willemien.

4. Leer vlot lees

Leer vlot en met begrip lees. Hierdie fase kan jare duur. Ondersteun jou kind se woordeskat deur veral uit nie-fiksie boeke ook voor te lees dat hy “groot” woorde ook kan leer ken en nie bang is om hulle te lees nie.

Hoe kies mens die regte program om te leer lees?

“Die belangrike is dat jy gemaklik daarmee moet wees en dit iets moet wees wat jy kan verstaan en uitvoer,” sê Willemien.

Sy voeg ook hierdie raad by wat soos musiek in tuisskoolma’s se ore is: “… kurrikulums kan aangepas word, bygevoeg word en selfs verander word om by jou styl te pas.”

En dis hoekom ons nie in die noute van CAPS ingedruk wil word nie, of hoe?

Wat is volgens Willemien die beste boek oor leer lees?

A home start in reading deur Ruth Beechick. Hierdie boek is deel van Beechick se Three R’s reeks en is beskikbaar by die meeste aanlynboekwinkels.

As jy Willemien se twee artikels in hulle geheel wil lees, dis hier beskikbaar op haar webwerf.

Jy kan op haar webwerf ook meer uitvind oor haar produkte en hoe om dit te bestel.

Maar wat doen ek as my kind sukkel om te lees … of selfs dalk disleksie het?

Lees dan hierdie wonderlike artikel deur Janet Kieswetter. Dit gaan oor die pad wat sy en haar dogtertjie met disleksie gestap het. Ek dink dit gaan oneindig baie vir talle ma’s beteken.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui