“Panic jy?” – Kuberkuier met Karin


Hier teen September van 2004 was ek op. Die chemo was agter die blad (dus geen hare nie), maar die elkedaagse bestraling het toe nog voorgelê. En toe raak alles net vir my te veel en konk ek in. Heeltemal net in. Nou kyk, ek is van nature ’n bekommerpot. Geneig om maklik oorweldig te voel. Oortuig dat dinge nie gaan uitwerk nie.

Teen die einde van 2004 het ek daarom vas geglo dat ek besig was om ’n totale flop van tuisskool te maak. Ek was so moeg en siek. En ek het so bitteralleen gevoel.

Ek skraap toe my moed bymekaar en bel vir Karin van Oostrum van die Pestalozzi Trust. Wat Karin toe doen, was om te reël dat ’n hele spannetjie tuisskolers vir maande om my skaar en my staande hou. Tuisskooltieners het na ons huis toe gekom en vir my kinders stories kom voorlees of met hulle kom speel. Tuisskoolma’s het by my kom tee drink en my moed ingepraat. En so het ek behoue deur my kankerjaar en eerste tuisskooljaar gekom.

Daardie ervaring is die rede waarom ek altyd vir nuwe tuisskolers sê: sorg dat jy vriende maak. Kry ondersteuning.

Kuberkuier met Karin, ons eie mevrou Tuisonderwys

Hierdie week het ek vir jou ’n kuberkuier met die einste Karin, ons eie Mevrou Tuisonderwys. Sy was onlangs by ’n internasionale tuisskoolkonferensie in Rusland. Die Pestalozzi Trust hou en bou internasionale bande, want soos Karin sê: “Ons het waarskynlik ’n lang en taai stryd voor ons om te sorg dat die regering hulle kloue uit tuisskoolgesinne se haartjies hou.”

Die internasionale tuisskoolgemeenskap en spesifiek die Amerikaanse tuisskolers het Suid-Afrikaanse tuisskolers al in die verlede ook gehelp. In 1994 het hulle ’n hele briefskryf- en faksveldtog van stapel gestuur en so gesorg dat die Meintjies gesin uit die tronk vrygelaat is. Dis beslis die moeite werd om bondgenote in die buiteland te hê.

By die konferensie moes Karin ook ’n praatjie lewer. Dis wanneer sy daarvan vertel dat sy ophelder. “Vir my was die lekkerste van die konferensie die kontak met die Russiese tuisskoolma’s. Hulle sukkel maar met dieselfde dinge as die Suid-Afrikaanse ma’s. En as mens regtig luister na mense wat sukkel, maak hulle oop.”

Kuberkuier met Karin: haar raad aan die Russiese ma’s is maar dieselfde as aan SA ma’s

Die raad wat sy aan hierdie jong Russiese ma’s gee? Maar dieselfde as wat sy veertien jaar gelede aan my gegee het. “Jy is nie alleen nie. Soek ander tuisskolers op …”

Maar daar is meer raad. Luister gerus na die hele onderhoud vir tonne inspirasie en bemoediging.

Of kyk daarna! Want danksy die pragtige foto’s wat Karin beskikbaar gestel het (en ’n paar wat ek van die internet gekry het!) kry haar vertelling lewe en voel dit of jy saam met haar en haar twee dogters dáár in St Petersburg en Moskou is.

Geniet dit.

En moed hou. Want onthou, jy is nie alleen nie.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui