Goeie Afrikaanse stories

Fluit-fluit, my storie is…nooit uit nie


Mense is mal oor stories. En dis geen wonder nie. As ons stories hoor, skakel dele van ons breine aan wat nie gebeur as ons ander taal hoor nie.

Soos wat Keith Oatley, ‘n afgetrede professor van die Universiteit van Toronto en self ook ‘n storieskrywer, sê: stories is vir ons breine amper soos simulasies vir rekenaars is. Ons breine maak nie ’n onderskeid tussen wat ons lees en wat ons werklik ervaar nie. 

In sy navorsing word gepraat van wat gebeur as die brein van smake, reuke, teksture en beweging lees. Dis so goed jy is self daar! Maar amper nog belangriker: as jy in stories lees van die sosiale interaksie tussen karakters, ervaar jy dit as werklik.

Dit lyk asof ons breine amper dieselfde areas gebruik om stories uit te pluis as die wat ons gebruik om uit te werk hoe ons in sosiale situasies moet optree. Neuro-kenners praat van hierdie vermoë van die brein om ’n soort kaart te kan teken wat kan voorspel hoe mense gaan optree.

Daarom toon studies deur  dr Oatley en dr Mar (in samewerking met ander navorsers) dat mense wat stories lees ander mense beter verstaan.

In 2010 het dr Mar navorsing gepubliseer wat hy oor voorskoolse kinders gedoen het. Hy het bevind dat kinders vir wie daar hope stories voorgelees word, se vermoë om te kan voorspel hoe ander mense gaan optree, geweldig verhoog het.

Interessant genoeg het flieks dieselfde effek gehad, maar om televisie te kyk, nie. Sy teorie is dat kinders dikwels alleen TV kyk, maar dat hulle saam met hulle ouers fliek en die fliek dan gewoonlik ook bespreek.

Stories is besonder kragtig, want dit beeld vir ons al die derduisende opsies en nuases van sosiale interaksie uit.

Hierdie week deel ek graag met jou die ses belangrikste sosiale lesse wat ek (en my kinders) uit ons gunsteling- Afrikaanse storie geleer het.

Die stories is Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas-trilogie. Jy kan vra of die vertellings van ʼn gewone lewe op ʼn Vrystaatse plaas en later in ʼn koshuis in die Paarl regtig so uitstaande kan wees. Glo my, dit is.

Stories van Rivierplaas herinner mens aan Anne of Green Gables of die Little House on the Prairie  boeke. In hierdie goeie Afrikaanse storie kry jy dieselfde gehalte, dieselfde uitmuntende taalgebruik, dieselfde insig in mense.

Maar in Afrikaans.

15-Minuut-Afrikaans

Wat beteken daar is windpompe in die storie. En kiewiete. En ʼn drieklaskamerskooltjie wat kinders huis toe stuur voor  ʼn donderstorm losbars. (Ag, hoe oorval die heimwee my nou!)

Afrikaans is nie so ʼn groot taal soos Engels nie en ons letterkunde is uiteraard kleiner, maar daar is puik boeke wat jy met trots en louter plesier vir jou kinders kan voorlees. Stories van Rivierplaas is een van hulle. Jy behoort die drie boeke, wat in die 1990’s in ʼn omnibus heruitgegee is, nog in biblioteke of tweedehandse boekwinkels op te spoor.

Hier is die ses lesse wat ons saam met Alie geleer het:

15-Minuut-Afrikaans

1. Mens bewaar jou vriende se geheime

Lulu is Alie, die hoofkarakter, se beste maat. Sy is ʼn willewragtag van ʼn dogtertjie, ʼn regte klein kansvatter. Maar Lulu weet ook sulke goed soos dat ʼn mens van ʼn ou reukwaterbotteltjie ʼn verjaardaggeskenk kan maak. Sy weet die bietjies lekkerruik wat in die bottel oor is, gaan op die lappie kom as mens in die skool jou lei daarmee skoonvee en hoe dit jou dag gaan opvrolik.

Lulu vang allerhande kattekwaad aan, maar Alie, van die versigtiger soort, dra nooit nuus oor Lulu aan nie.

Soos die keer by die skooltjie toe Lulu en Alie gestuur word om water te gaan haal en daar ʼn motor, toe nog ʼn rare gesig, verbykom. Die twee maak die hek oop dat die kar kan deurry. Sal Lulu toe nie agterop die kar se stamper spring en saamry nie! Die kar tel baie vinniger spoed op as wat sy verwag het en moet sy afspring. Sy val haar nerfaf.

Op pad terug klas toe is sy eers wit geskrik. Alie weet nie wat om te sê nie. Uiteindelik kry Lulu haar woorde terug en oudergewoonte vra sy Alie om te beloof dat sy haar mond sal hou oor wat gebeur het. En natuurlik beloof Alie plegtig.

Dis mos hoe vriendskap lyk.

2. Vergewe en vergeet

Een keer, tydens ʼn saalopening toe Alie nou al in die hoërskool is, trap die skoolhoof Alie voor die hele saal uit. Dis omdat sy nie die sangbundeltjie het wat die skool voorskryf nie en saam met ʼn maat uit hare sing.

Wat die skoolhoof nie weet nie, is dat dit weens droogte sleg op Rivierplaas gaan en dat Alie nie die moed het om haar ouers te vra vir die geld om die sangbundel te koop nie. Soos een man skaar haar skoolmaats hulle na die voorval om haar, selfs die Engelssprekende enetjie met die bril, en die ryk meisie, die dokter se dogter, wat nie ʼn benul het wat geldmoeilikheid is nie.

Die les van die boek is dat Alie nie ʼn wrok jeens die skoolhoof hou nie. Danksy haar maats se hulp oorkom sy hierdie vernedering, maar behou haar respek vir die skoolhoof.

Sy leer hierdeur een van die lewe se belangrikste lesse: ons verhoudings met ander is nie perfek nie. Ons maak mekaar seer, ons verstaan nie altyd presies hoe dit in ʼn ander een se lewe lyk nie, maar ons kan nog steeds klaarkom en saamwerk en die wêreld ʼn beter plek maak.

3. Klim hoog en spring kasterolie so vry

Alie se jonger boetie, Hennie, is in die Rivierplaas boeke ʼn groot bron van humor. Een keer, toe haar ma, tannie Lenie, vir Alie en Hennie die gebruiklike jaarlikse kasterolie wil ingee, is Hennie net skoonveld. Jy moet weet, kasterolie is die naarste ding wat ʼn mens in die lewe kan drink.

Na ʼn groot soektog spoor hulle Hennie op. Met die arme verskriklike kat, genaamd Piet, in sy arms, sit hy doer bo-op die windpomp. Almal skrik hulle boeglam, want die windpomp is baie hoog en Hennie baie klein.

Dis ou-Melitie, die Sotho vrou wat vir tannie Lenie werk, wat Hennie en die kat weer veilig op die grond kry. Na dié groot skrik, spring Hennie natuurlik die slegte kasterolie vry.

15-Minuut-Afrikaans

4.  Soms moet mens jou rug reguit maak

Alie is ʼn skaam, vaal dogtertjie van die Vrystaat en van die meer wêreldwyse meisies in die koshuis sit vir haar ore aan. Een jaar moet sy ʼn kamer met twee van hierdie meisies deel en hulle maak die lewe vir haar moeilik.

Dis Alie wat agter die twee moet opruim en dis Alie wat in die aand die lig moet afsit, want hulle twee is kwansuis bang vir die donker. Toe die twee haar ʼn gemene streep trek deur die koshuismoeder te laat glo hulle deurmekaar laaie is eintlik Alie sʼn, is dit die laaste strooi.

Weer eens kom haar maats tot haar hulp. Hulle konfronteer die twee en sê hulle goed sleg. En daardie aand het Alie vir die eerste keer die moed om te weier om die lig af te sit en sê koeltjies sy het nou genoeg beurte gehad.

Partykeer moet mens jou rug reguit maak. Dis wonderlik as jy mense in jou lewe het wat jou hiermee kan help.

5. Kinders het grootmense nodig

Ek het tuisskolers al hoor kla dat Stories van Rivierplaas eintlik oor Alie en ou-Melitie gaan en dat Alie se ouers nie ʼn groot genoeg rol in die stories speel nie. Dis waar dat tannie Lenie en Alie se pa eintlik net agtergrondkarakters is. Wat hulle wel doen, is om vir haar sekuriteit te gee en die reëls en regulasies neer te lê. Ou-Melitie is die een wat dit kan bekostig om meer simpatie met haar verbeeldingsvlugte en verspotte vrese te hê.

Alhoewel ek, veral as tuisskoolma, glo ouers behoort verreweg die belangrikste volwassenes in ons kinders se lewens te wees, moet ons nie die rol van ander grootmense onderskat nie.

Jy kan nie alles vir jou kind wees nie, want jy het dalk nie dieselfde talente as jou kind nie. My dogter is byvoorbeeld baie kunstig, maar ek kan skaars ʼn stokmannetjie teken. Ek is vir ewig dankbaar vir  ʼn geliefde kunstannie wat Annamaria se kuns help vorm het. Dalk is daar ook so ʼn oom wat jou seun by die stoeiklub of die musiekklas leer.

6.  Goeie stories is lewensnoodsaaklik

Soos reeds gesê is ons breine spesiaal gerat is vir verhale. Ons verstaan ʼn en-toe-en-toe storiedraad baie goed. Breinkenners het ontdek dat as ʼn mens ʼn gebeurtenis in jou eie lewe, veral een wat vir jou baie ellende veroorsaak het, vir jouself kan hervertel dat jy sin in die lyding vind, jou breinweefsel letterlik fisies verander word deur die nuwe vertelstorie. Dis hoe kragtig storievertel in ons lewens kan wees.

Stories is hoe jou kind leer om lewenspatrone raak te sien. Deur vertelling leer hulle verbande tussen dinge raaksien en sin maak uit gebeurtenisse. As hulle byvoorbeeld sukses behaal met iets, moet hulle kan terugloop in hulle spore en kyk waar hulle oral die regte dinge gedoen het sodat hulle die suksesverhaal kan herhaal.

In goeie stories is daar verder vir jou kind modelle wat vir hulle voorbeelde kan wees. Stories is nie tydmors nie, stories is lewensbelangrik.

Weet jy van die leeslys vir Afrikaanse tuisskolers wat ek opgestel het?

As jy inteken op my poslys, kry toegang tot die leeslys. Vul net die vormpie onderaan hierdie artikel in.

Ek het die boeke in kategorieë en dan alfabeties volgens titels in elke kategorie lys geskik. Op versoek van baie ma’s het ek probeer om te sê vir watter ouderdomsgroep elke boek min of meer geskik is. Verder gee ek ook ’n baie kort beskrywing van die inhoud van elke boek.

Hier is ’n skermskoot van hoe die lys lyk:

Hoe kry mens van die ouer boeke in die hande?

Vir my is ’n groot kopseer die beskikbaarheid van sommige van die ouer boeke, wat reeds uit druk is. Ek weet party ma’s het oor baie jare vir hulle ʼn huisbiblioteek opgebou deur tweedehandse boeke aan te koop. Party titels tel as Africana, is peperduur, en daarom sal hulle dit nie sommer uitleen aan ander tuisskoolma’s nie.

In my omswerwinge op die internet het ek op ’n paar tweedehandse boekhandelaars afgekom:

Lizmar-boeke

Tierberg-boeke 

Maroelaboeke 

Hou Protea-uitgewers ook gerus dop. Hulle gee gereeld van die ouer boeke weer uit.

En nog goeie nuus … meer Afrikaanse boeke

Die maatskappy E-library waar jy aanlyn boeke kan uitneem en lees, het onlangs ‘n groot deurbraak gemaak toe hulle met die gewilde uitgewer van jeug- en kinderboeke, Lapa, ‘n ooreenkoms kon sluit. Danksy hierdie ooreenkoms het E-library nou sommer baie meer Afrikaanse boeke beskikbaar.

Die diens werk só: vir R85 per maand kan jy vir 14 dae 5 boeke uitneem. Dit sluit e-boeke en audioboeke, fiksie en nie-fiksie in. Om jou kans te gee om hulle diens eers bietjie deur te kyk, gee E-library jou ook die eerste maand gratis.

Kontak E-library gerus.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui