10 Sinne wat die meeste mense laat neerslaan. Kan jy hulle regmaak?


Die duurste tikfoutjie wat nog ooit gemaak is? Waarskynlik die ene wat iemand van NASA in 1962 gemaak het toe hy per ongeluk ’n dwarsstrepie uit rekenaarkode weggelaat het.

Die rekenaarkode was bedoel om die Mariner I vuurpyl verby Venus te laat vlieg om foto’s van die planeet te neem. Maar die vermiste strepie (wat vererger is deur ’n lugdraad wat nie lekker wou opvang nie) het veroorsaak dat NASA die vuurpyl minder as 300 sekondes na lansering in die see moes laat plons.

In vandag se geld? So sesbiljoen rand! In die water.

Oepsie!

Nog ’n voorbeeld van ’n flater met ’n skryfteken

Hier is ’n nog bekende voorbeeld van ’n glipsie met ’n skryfteken. Erich von Wolf het in 1870 fout gemaak met die desimale komma toe hy geskryf het hoeveel yster spinasie bevat. In plaas 3.5 gram per 100 gram het hy 35 gram geskryf. As dit waar was, sê die webwerf Brainpickings, sou dit beteken elke keer wat jy 100 gram spinasie eet, dit so goed is jy eet ’n hele skuifspeld.

Na die foutjie het mense natuurlik begin glo spinasie is ’n soort wonderkos. In Amerika het hulle skielik sommer hope en hope spinasie begin verorber. Soos die animasiekarakter, Popeye the sailor, altyd sê:

“I’m strong to the finish, ’cause I eats me spinach…”

Interessant genoeg het Popeye blykbaar nie sy ontstaan te danke aan aan von Wolf se flater met die yster nie. Die skepper van Popeye sê die krag van spinasie vir hom in die vitamiene A gelê, nie in die yster nie.

Hoe dit ookal sy, die vergissing met spinasie is eers 63 jaar later reggestel.

Wat goeie grammatika vir jou kan beteken

Klein skryftekens soos koppeltekens, kommas en punte kan ’n groot verskil maak. Maar ons gaan vandag oor grammatika praat. En grammatika behels meer as kommas en punte.

As jy grammatika verstaan, kan jy sinne en paragrawe op ’n duidelike, presiese en interessante manier aanmekaar sit. ’n Telefoonlyn wat verkeerd geïnstalleer is, maak allerhande klikgeluide. Dit maak dit moeilik om te hoor wat die ander persoon sê. Net so kan foutiewe grammatika die betekenis, duidelikheid en bedoeling van jou boodskap lekker opdons.

Ek het vir jou ’n uitdaging: ek het tien sulke flatersinne opgestel. Hier is hulle:

Kyk of jy kan sien waar die knoop in die kabel is. Ek sê netnou vir jou hoe jy die antwoorde in die hande kan kry.

Daar is drie belangrike redes hoekom ons tog maar die tyd en moeite moet doen om ons kinders van grammatika te leer.

Rede nommer een: grammatika laat jou vlotter skryf en praat

Ons leer hulle van grammatika omdat mense wat die grammatika van hulle taal verstaan, hulle idees makliker kan organiseer en uitdruk. Sulke mense kan dus vlotter praat, lees en skryf.

Rede nommer twee: grammatika help jou dink

Kennis van taalreëls help mense  om logieser en helderder te dink. En só raak hulle danksy grammatika meer akkuraat met hulle taal.

Maar daar is nog ’n rede hoekom ons vir ons kinders grammatika behoort te leer …

Rede nommer drie: wat ander mense van ons dink!

Ja, ongelukkig beoordeel mense jou op grond van jou grammatika, baie keer sonder dat hulle dit agterkom.

Maar baie keer ook, voel dit soms, net sodat hulle slimmer as jy kan lyk. As jy al ooit ’n tikfoutjie op Facebook gemaak het en die spellingpolisie op jou afgekom het, sal jy weet waarvan ek praat.

Vier uit tien werksaansoeke word afgekeur bloot op grond van swak taalgebruik en spelling, sê Communicaid, ’n internasionale maatskappy wie se besigheid kommunikasievaardighede is. Reg of verkeerd, mense beoordeel jou op grond van jou spelling en taalgebruik.

Die arme vise-president se foutjie met die aartappel

Soos wat met die Amerikaanse vise-president, Dan Quayle gebeur het. In 1992 is hy gevra om op te tree as beoordelaar by ’n spellingkompetisie. Die deelnemer moes die woord “potato” spel. Meneer Quayle het dadelik gesê dis verkeerd. Mens spel die Engelse aartappel só: “potatoe”.

Die insident het te midde van ’n Amerikaanse presidentsverkiesingsveldtog plaasgevind. Die media het uitgevind van die blaps en die arme vise-president vreeslik bespot. Sy reputasie het groot skade gely. Van sy politieke teenstanders het selfs daarop aangedring dat hy bedank.

Sy verweer dat “potatoe” die antwoord op die kaartjie was wat aan hom verskaf is, het nie gehelp nie. ’n Vise-president behoort van beter te weet, het mense gevoel.

Hoekom die slimste mense soms die maklikste foute met grammatika maak

Die ergste van alles is dat mense wat taalfoute maak dalk nie eens dom is nie. Of agterlosig nie. Dis nou volgens ’n ene dr Stafford se navorsing. Hy sê mense is net so besig om op die belangrikste deel van skryfwerk te konsentreer dat hulle breine die spelling en grammatika doen sonder om daaroor te dink.

As jy iets probeer skryf, redeneer jou brein só:

“Die belangrikste ding wat ons moet doen, is om die boodskap goed oor te dra. Dit wat regtig saakmaak. Ek gaan daarop fokus! Om energie vr hierdie belangrike ding te spaar, gaan ek vir onbelangrike ou dingetjies soos spelling terugval op die mag van die gewoonte. Ek gaan staatmaak op patrone wat ek al vantevore raakgesien het, soos dat as woorde dieselfde klink, jy hulle dieselfde spel.”

Om die arme Dan Quayle se geval te vat, die “toe” waarmee “potato” eindig klink in Engels baie soos die tien uitsteeksels aan ons voete. G’n wonder hy het die fout gemaak nie. Nes dit geen wonder is dat Afrikaanse mense dikwels sukkel met woorde soos hart en hard nie.

Maar die feit bly staan: Goeie grammatika stuur vir jou leser die boodskap dat jy weet waarvan jy praat. En dat jy aandag gee aan besonderhede. Dus, dat jy iemand is wat vertrou kan word.

Ekstra hulp in Afrikaans beskikbaar met grammatika

Gelukkig is daar nou ekstra hulp beskikbaar vir Afrikaanssprekendes. Die nuutste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls wat verlede jaar gepubliseer is, bevat nou vir die eerste keer ook ’n afdeling oor leestekens en hoe om hulle reg te gebruik. Net mooi vyftig bladsye hiervan.

Ek stel tans ’n splinternuwe kursus op waarin ek vir ons kinders die reëls wat in daardie vyftig bladsye vervat is, wil leer.

’n Nuwe kursus oor Afrikaanse grammatika

Dit gaan op die aarde niks help dat hulle die reëls uit hulle koppe ken nie. Daarom gaan my eerste doelwit wees dat die kinders die reëls reg kan gebruik deur dit vir eers te kan regmaak as hulle sien dis verkeerd gebruik.

En verder …ek wil hê die kinders moet hierdie leerproses nog steeds geniet.

Laat ons eerlik wees, grammatika kan so droog wees soos die soutpanne wes van Brandvlei. Soos gewoonlik is my manier om die leerdery lekkerder te maak: gebruik ’n prettige storietjie.

Die uitdaging gaan wees om ons breine se natuurlike geneigdheid te leer oorkom om dinge op ’n outomatiese te skryf en so foute te maak.

Ons hele beeld na buite hang daarvan af.

En dis presies wat ek hoop om met my nuwe kursus te doen. Ek sal jou op hoogte hou hoe ek daarmee vorder.

As jy die antwoorde wil hê hoe om daardie 10 verfonkfaaide sinne reg te maak, vul die vormpie hieronder in en teken in op my poslys.

 

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui