Pakgee. Ja of nee? Is daar beter maniere vir dissipline?


Moet ons aan ons kinders slaan? Mag ons? Hoe pas ons dissipline toe? Ek het so ’n spesmaas dat meer kinders in die privaatheid van hul huise soms af en toe ’n raps kry as wat ouers bereid is om te erken. ’n Harris-opname wat in 2013 gedoen is bevestig my vermoede. Verbasend genoeg dink 8 uit 10 mense ’n pakslae is soms noodsaaklik. En 86% van mense sê hulle het self een of ander tyd in hulle lewens pak gekry.

Sielkundiges het sterk menings oor dissipline

Oor of lyfstraf gewens is of nie, het sielkundiges gewoonlik baie sterk menings. Die beslis-nie-kamp, soos professor Alan Kazdin van Yale Universiteit, haal graag navorsing aan wat wys kinders wat geslaan word, het meer angs as hulle in nuwe situsies kom as kinders wat nie geslaan word nie.

Hulle gaan selfs sover om te sê kinders wat gereeld geslaan word (twee of meer keer per week), gaan uiteindelik gouer dood as kinders wat nie geslaan is nie. Die teorie is dat die stres van lyfstraf die immuunsisteem van die kind nadelig raak.

Maar, vra een voorstander van lyfstraf, Robert E. Larzalere, professor in ouerskap by die Oklahoma Staatsuniversiteit, gestel die ouer het reeds ander, sagter vorme van dissipline probeer toepas en dit het nie gewerk nie? Sy navorsing wys dat ’n hou of twee op die agterstewe gewoonlik goeie resultate lewer met kinders van tussen twee en ses jaar. Lyfstraf moet die laaste uitweg wees. En lyfstraf moet nie oormatig wees nie.

Selfs dr James Dobson, die bekende Christen-sielkundige, wat ’n voorstander is van pakgee, voel lystraf gaan nie werk vir sekere kinders of in sekere situasies nie. Soos die neurologies-gestremde kind wat hiperaktief is en wat nog wilder en onhanteerbaarder word deur lyfstraf. Die kind wat mishandel is, mag liefdevolle dissipline verwar met die haat van die verlede. Sommige kinders is so sensitief net ’n kwaai kyk van Pa af laat hulle vir ure sleg voel. Ander is nou weer so hardkoppig en rebels dat mens die pak taamlik hardhandig moet maak voordat dit ’n indruk maak.

Hy sê: “Daar is geen plaasvervanger vir kennis en begrip van ’n spesifieke seun of dogter nie.”

Faktore wat dissipline kan beïnvloed

Daar is daarom veral twee dinge waaraan mens moet dink as dit by effektiewe dissipline kom:

  1. Hoe oud is die kind?
  2. Wat is die kind se geaardheid?

Babas onder een jaar oud kan gewoonlik nog nie tussen reg en verkeerd onderskei nie. Teen ongeveer een jaar begin hulle geleidelik leer van oorsaak en gevolg. Hier teen drie jaar het die kleuter al ’n taamlike idee wat is aanvaarbare gedrag en wat nie. Teen ses of sewe verstaan hulle nou al dat mens soms anders by die huis optree as by die kerk, in ’n winkel of by vriende. Maar ook dat sekere reëls oral geld.

Hoekom dissipline so belangrik is

Die eerste rede is taamlik voor die handliggend. Dis ’n ouer se werk om sy of haar kind te leer om só op te tree dat ander mense van die kind hou.

Maar daar is ’n ander, moeiliker rede ook. Een wat die Kanadese sielkundige, Jordan Peterson, mooi uiteensit. Hy sê mense het partykeer ’n baie romantiese idee van ouerskap en dat hulle bitter graag “goeie ouers” wil wees. En “goeie ouers”, so glo hulle, gee hulle kinders absolute vrye teuels. En dit skep dan probleme.

Soms is die bloedjies doodsoet by die huis, maar wangedra hulle by ander mense of op openbare plekke soos in winkels. Peterson verduidelik mooi wat hier aangaan: kinders besef vroeg dat hulle hul in ’n hiërargie bevind en hulle probeer uitvind presies waar hulle inpas. Hulle probeer ook uitvind of dieselfde reëls wat by die huis geld ook in ander mense se huise geld.

By ander mense kan hulle nie direk vra nie, en baie keer besef hulle nie eens dat hulle besig is om seker te maak reëls geld oral nie. Dan is dit die tyd om vir hulle te wys: ja, dieselfde reëls geld hier.

As die ouer toelaat dat die kind vir hom ore aansit in veral openbare situasies, bou die ouer ‘n bitterheid teenoor die kind op. Dit gaan oor die vernedering en verleentheid waarin die kind hom geplaas het. En synde dat hy mens is en boonop in ’n magsposisie teenoor jou kind, so verduidelik Peterson, gaan hy dit een of ander tyd op die kind uithaal.

Jy moet dus jou kinders dissiplineer ter wille van hulle eie sosiale aanpassing, maar ook ter wille van jouself en jou langtermynverhouding met jou kind.

Manier om dissipline toe te pas

1. Wees uiters konsekwent

Soos dr Dobson dit stel: “Kinders moet vertroue hê in die sekerheid van die reg. As daar ’n kans is dat hulle die stelsel kan uitoorlê, sal hulle dit doen.”

Hy voeg by dat ’n dissipline-strategie baie keer nie werk nie, omdat ouers vir ’n jaar of wat laks was. Probeer hulle dan skielik om weer strenger dissipline toe te pas, verstaan die kinders nie wát aangaan nie.

2. Stel die reëls vas

Hou dit eenvoudig en hou by omtrent so vier of vyf reëls. Die belangrikste van die reëls kan byvoorbeeld wees:

  1. Ons skop mekaar nie
  2. Ons slaan mekaar nie
  3. Ons byt mekaar nie
  4. Ons steel nie mekaar se goed nie

3. Wys vir jou kinders wat aanvaarbare gedrag is

Leer jou kind wat “nee” beteken.

Dr Jordan Peterson verduidelik in hierdie video hoe mens dit doen. Jy kan dit gewoonlik doen met ’n baba wat al kan kruip. In die eerste plek maak jy jou huis so kindveilig as wat jy enigsins kan. Pak breekbare ornamente byvoorbeeld vir eers weg. Maar daar gaan altyd plekke en dinge wees wat potensieel gevaarlik is, soos elektriese muurproppe.

Sodra jou kind iets doen wat hom gaan seermaak of wat skade gaan veroorsaak, soos om aan ’n muurprop te peuter, gryp jou kind ferm aan die been en sê hard: “Nee!” Hy sal dalk weer na die muurprop reik. Gryp hom weer aan die been en sê weer: “Nee!” As jy lank genoeg aanhou, sal hy slap word en gewoonlik begin huil. Vergeet vir eers van jou skuldgevoelens. Jy is besig om jou kind te leer wat nee beteken, ’n baie belangrike lewensles.

Onthou hiervan met dissipline

Baie belangrik: Jy sal sy beentjie minstens tien keer moet gryp en nee sê voordat hy gaan verstaan wat jy bedoel.

As hy later weer na die muurprop reik, gryp jy nie sy been nie, maar sê net hard: “Nee!” Weer eens gaan dit omtrent tien keer of so nodig wees om dit te doen voordat hy verstaan. Maar as hy geleer het wat nee beteken, is dit baie handig. Want nou kan hy veilig die meeste dinge in die huis ontdek. En Peterson sê die verstommend hoe vinnig kinders kan veralgemeen om te verstaan watter klasse van voorwerpe is verbode.

Hier teen twee jaar oud begin kinders gewoonlik eksperimenteer om “nee” vir jou terug te sê, waarsku hy egter. ’n Klein persentasie van seuntjies kan veral baie agressief en hardkoppig wees. Teen daardie ouderdom gaan nie hulle dalk net hulle vingertjies maar selfs ’n vurk in die muurprop probeer druk. As jou kind jou toets, moet jy kalm bly. want onthou jy is baie groter as jou kind en kan hom baie seer maak.

Dissipline met ’n hardkoppiger kind

Wat jy doen, verduidelik Peterson, is om jou kind op te tel aan sy arms en sê, op ’n trappie neer te sit. Dan sê jy baie streng hy moet daar bly totdat hy gereed is om weer ’n beskaafde mens te wees. As hy dan na jou kom toe en sê hy is reg om hom te gedra, kan jy weer van hom hou.

Partykeer sal hy ’n speletjie van die hele ding maak en sodra jy sy arms laat los, weghardloop. Dan vang jy hom en sit saam met hom op die trap en hou hom vas tot hy reg is om hom te gedra.

Onthou, geen woede nie, jou kind is nog baie klein. Wees geduldig, vat die tyd en sit daar, kyk hom in die oë en wag tot hy gereed is om hom te gedra. As jy besluit hy is reg, kan jy vir hom positiewe terugvoering gee en sê hy kan nou weer teruggaan en gaan speel.

Twee reëls is hier belangrik: die straf moet die kind se gedrag onmiddellik, effektief en met so min as moonlik geweld tot stilstand bring. Tweedens moet die straf voldoen aan jou as ouer se behoefte aan orde en geregtigheid sodat jy nie irritasie of bitterheid oorhou oor die kind se gedrag nie.

4. Beloon en prys jou kind as hy iets reg doen

Weer eens verduidelik dr Peterson die proses baie mooi. Gestel jy wil jou kind leer om vroeër te gaan slaap, in plaas van tienuur in die aand, agtuur. Jy gaan winkel toe en koop tien baie goedkoop geskenkies. Draai hulle toe en sit hulle op ’n rak waar hy hulle kan sien. Sê nou vir jou kind jy gaan hom daardie aand halftien bed toe stuur. As hy nie mor en kla nie en dadelik sy slaapklere aantrek en in die bed klim, gaan jy vir hom een van die geskenkies gee.

Die volgende aand maak jy dit bedtoegaantyd negeuur, en elke aand geleidelik al hoe vroeër. Die sielkundige beginsel hier is dat jy die teikengedrag mooi identifiseer en dan vir die kind klein belonings gee as hy dit haal. Nie te gereeld nie, maar gereeld genoeg dat hy die regte gedrag aanleer.

Verder is daar ook hierdie wenk: as jy jou kind “vang” terwyl hy iets reg doen en dan daarvoor loof, versterk jy daardie gedrag. So verhoog jy die kans dat hy dit weer gaan doen.

5. Stel duidelike gevolge as reëls verbreek word

Die straf moet verband hou met die oortreding. Byvoorbeeld as ’n agtjaaroue kind nie haar huistakies doen nie, kan sy haar sakgeld van die week verbeur. Maar as sy haar boetie gebyt het, is dit beter dat sy vir ’n ruk in die hoek gaan staan of op die trappie gaan sit, soos wat hierbo beskryf is.

En as jou seun se bal ’n buurman se ruit breek nadat jy gewaarsku het dat hy dit nie in in daardie rigting moet skop nie? Laat hom self die gevolge van sy gedrag dra. Laat hom self vir die buurman gaan verduidelik wat gebeur het en laat hom self vir die regmaak betaal.

Ouerskap is ’n vreugde en dit gaan jou laat groei op maniere wat jy nooit geglo het moontlik is nie. Maar dis nie aldag maklik nie.

Sterkte met die dissipline toepas!

 

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui