Ek dink my kind het disleksie. Wat moet ek doen? 4


Janet Kieswetter, tuisskoolma van vyf meisiekinders, vertel hierdie keer van die paadjie wat sy en haar negejarige met disleksie stap. Ek stel haar graag aan die woord:

Disleksie Fase 1 — Ek kry hond se gedagte

Toe my negejarige nog steeds net op ‘n Graad 1 vlak kon lees, het ek begin wonder wat is fout.

Ek het reeds die druk om te lees weggevat, nadat ek te veel keer gesit en raas en skel het totdat sy in trane was. Dis mos nie wat ek wou gehad het nie! Vir wat moet ons al twee so ontsteld raak? Nee, ek wou hê my kind moes van lees hou. Ek wou hê sy moes die reuk van ‘n nuwe boek waardeer en die blaaie van ‘n stokou boek respekteer. Ek wou hê sy moes skelm onder ‘n kombers met ‘n flits lees want die storie is net te interessant om neer te sit! Lees moes vir haar stokperdjie wees, nie ʼn straf nie.

Disleksie Fase 2 — Ek sê vir myself dit sal vanself regkom

Ek besluit ek gaan haar nie elke dag dwing om vir my te lees nie. Ons tuisskool mos, so ek kan kies wanneer en wat en hoeveel sy vir my gaan lees. Daar is geen haas nie. So ek het dae, selfs weke laat verbygaan voordat ek weer ’n maklike boekie optel en haar nooi om vir my te lees.

Sy kry wel die eenvoudiger leesboeke reg en voel beïndruk met haarself. Daar is ʼn stemmetjie wat vir my sê maar hierdie boekies is mos heeltemal te maklik vir haar ouderdom, maar ek maak die stemmetjie stil. Laat haar maar trots voel. Dit bou haar selfvertroue.

Ek het vir haar voorgelees. Soveel soos moontlik, elke dag. Laat sy woorde hoor. Laat sy prentjies in haar kop skilder. Laat sy sien hoe baie geniet ek om te lees!

Sy wou graag die Bybel leer lees en in ons kindervertaling soek ek ʼn maklike vers vir haar om te lees. Sy sukkel daardeur, maar voel baie bly dat sy nou ook ʼn Bybelvers kan lees.

Disleksie Fase 3 — Ek besef ek moet meer inligting kry

Op die ou end was dit ʼn drieletterwoord wat my finaal laat besluit het om iets omtrent my kind se leesprobleme te doen.

Jy sien, woorde wat sy reeds oor en oor geklank het, onthou sy nie. Sy haak vas met ʼn eenvoudige woord soos “dit”! ʼn Woord wat sy al vier jaar lank uitklank. Hoekom herken haar brein nie die woord nie?

Dis toe dat ek deur Coursera hierdie kursus geloop het: “Supporting Children with Reading Difficulties”.

En ek het so baie geleer …

Die twee breinbane wat ons gebruik om te lees

Ons gebruik veral twee roetes in ons breine wanneer ons lees. Die een is die direkte-toegang-sisteem (“direct access system”), wat ʼn neurologiese baan in die brein is. Met hierdie roete kan ons ’n woord vinnig herken omdat die woord in sy geheel in die geheue gebêre word.

Die ander baan is ons dekoderingsisteem (“decoding system”), die neurobaan waarmee ʼn kind woorde opbreek en uitklank. Die oog kyk na elke letter en dan sê die kind die klanke een vir een en bou die woord so. Kinders met disleksie is geneig om heeltyd net hierdie sisteem te gebruik en om hulle direkte-toegang-sisteem minder te gebruik.

Hoe weet jy jou kind is disleksies?

Omdat disleksie ʼn neurologiese toestand is, het jou kind dit vanaf geboorte. Natuurlik kan mens nie sien ʼn kind is disleksies voordat hy begin lees, spel en skryf het nie. Maar mens kan risikofaktore al vroeg-vroeg raaksien.

Bevé Hornsby, ’n pionier in die identifisering van disleksie, het ʼn lys van risikofaktore vir voorskoolse kinders saamgestel. Coursera het dit aangevul met die waarskuwing dat die risikofaktore nooit in isolasie oorweeg word nie.

In die diagnose van disleksie is drie towerwoorde: Dit is die KOMBINASIE van ʼn paar risikofaktore wat HERHAALDELIK voorkom en AANHOU ten spyte van regstellings, wat jou aandag vereis.

Faktor 1: Die appeltjie val nie ver van die boom nie …

Disleksie is oorerflik. As jou kind sukkel met lees, is daar gewoonlik ʼn ouer of ander familielid wat ook met lees gesukkel het, al is hulle moontlik nooit as disleksies gediagnoseer is nie.

Miskien het jy self met spelling en lees gestoei. In ons geval is dit my man wat ook op skool met lees gesukkel het en baie hulp moes kry. Laat so ʼn familielid vir jou verduidelik wat is dit wat lees vir hulle so moeilik maak. Jy sal baie beter insig in jou kind kry.

Faktor 2: Hotklou of haarklou

Is jou kind onseker oor watter hand haar dominante hand is? Wissel sy die pen af tussen haar twee hande? Dis nog ʼn faktor om disleksie mee te diagnoseer.

Faktor 3: Raak deurmekaar met links en regs

As jou kind sukkel om links en regs te onderskei en om te onthou watter een is watter een, en deurmekaar raak in die omgewing, is disleksie ʼn moontlikheid.

Faktor 4: Dit rym nie

Nog ʼn risikofaktor is die onvermoë om rymwoorde te kan hoor in gediggies en rympies.

Faktor 5: Probleme met ritme en geheue

Sulke kinders sukkel om ʼn ritme te onthou en herhaal. Hulle kan nie ʼn lied of ʼn gedig uit hul kop leer nie. As jy vyf woorde in ʼn ry noem, sukkel hulle om dit te herhaal. Soms sukkel hulle om ʼn woord, wat hulle goed ken, uit hul geheue op te roep. Dis asof hulle brein traag is om dit te doen. Daar is dus moeilikheid met korttermyngeheue.

Wanneer ʼn lang sin gesê word, onthou hulle dalk net die laaste paar woorde. Byvoorbeeld ʼn instruksie soos: haal jou boek uit jou tas, blaai na bladsy 7 en skryf die datum neer oorweldig sulke kinders en dan doen hulle liewer niks nie.

Faktor 6: Sukkel met uitspraak

Hierdie kinders sukkel ook om sommige woorde uit te spreek. Wat hulle veral doen, is om letters in die woord om te ruil. Hulle sal byvoorbeeld disonurous in plaas van dinosourus sê. Partykeer sit hulle ekstra letters in woorde.

Let wel: hierdie simptome moet vir lank voorkom en nie net wanneer die kind leer praat en lees nie.

Faktor 7: Probleme met ruimte en tyd

Dis baie algemeen dat kinders met disleksie met die konsepte van gister, vandag en môre, laas week, volgende week, selfs vanoggend en vanaand sukkel.

Nadat ek deur hierdie lysie gewerk het, het ek besef: my kind is inderdaad disleksies.

Disleksie Fase 4 — Ek neem ʼn besluit

Toe moes ek vir myself uitwerk wat om volgende te doen. Hoe help ek haar? Neem ek haar na ’n opvoedkundige sielkundige om my vermoede te bevestig?

ʼn Besoek aan ʼn spesialis het voordele én nadele

Die voordele is dat ek ʼn duidelike diagnose sal kry. Ek sal ook riglyne en hulpmiddels kry wat haar kan help. Soos ’n leesprogram wat haar vinniger met lees sal kan laat vorder.

Die nadele is dat sy moontlik nou die etiket van disleksie om haar nek sal dra en dat sy dit as verskoning sal gebruik om nie aan te hou lees nie. So ʼn evaluasie is ook baie duur.

Om na ʼn spesialis te gaan of nie is ʼn besluit wat elke gesin self moet neem. Elke kind en situasie is uniek.

Dis wat ek toe besluit en gedoen het

Na verdere self-assessering kon ek sien my dogter is op die lae kant van die disleksiekontinuum. Met geduld en deursettingsvermoë sou sy stadig maar seker verbeter en vorder. Ek het besluit ek kan oplees en self op die internet soek na hulpmiddels en metodes en dit toepas.

Die uiteinde van my man se disleksie het ook my besluit beïnvloed. Alhoewel hy as kind met lees gesukkel het, lees hy vandag dik nie-fiksie boeke. Dit het my baie hoop met my dogtertjie gegee.

Hy het dit so mooi gestel: “Niemand vra jou as volwassene hoe oud was jy toe jy leer lees het nie. Dit maak nie saak of jy op 6 al kon lees of eers 9 of 10 of selfs 12 nie. Solank jy nou as grootmens jou werk goed kan doen. So hou op stres oor jou kind se ouderdom en fokus eerder daarop om ‘n liefde vir lees en boeke te kweek.”

Disleksie Fase 5 — Ek skep moed

Ek het my man se raad ter harte geneem. Hier is my wenke om jou kind aan te spoor om te lees:

  • Haal die druk af. Hou op om te stamp en stoot aan jou broeisel. Die wedren is slegs in jou kop.
  • Lees baie vir jou kind voor. Laat jou genot in die storie oorspoel na haar. Lees lewende boeke en stories! Sluit by ʼn biblioteek aan. Kweek ʼn liefde vir boeke en lees.
  • Vind uit wat jou kind interesseer en lees veral boeke daaroor. Lees meestal voor, maar laat jou kind self hier en daar ʼn sinnetjie voorlees.
  • Kies leesboeke vol prentjies. Rye en rye woorde op ʼn wit papier breek ʼn kind met disleksie se moed.
  • Vind kreatiewe maniere om jou kind te help lees. Daar is so baie idees dat ek graag ʼn volgende keer daaroor sal wil uitbrei.

Disleksie Fase 6: Die gelukkige einde

Vir maande soek ek die regte storie om die leesgier in my dogter wakker te maak. Ek koop so baie verskillende leesboekies en gaan gereeld biblioteek toe. Sy lees meer gereeld vir my voor, maar sy is nog steeds jare agter haar skoolgelykes. Die belangrikste: sy is vol selfvertroue en entoesiasme.

Eendag is ek op soek na nog Slimkoppe leesboeke in PNA en hier kom sy met ʼn dik boek met hoofstukke aan en vra dat ek dit vir haar koop.

By die huis gaan sit ons saam op die bank en saam-saam kom ons agter hierdie boek gaan ‘n groot uitdaging wees. Sy gaan heelwat trappies in haar huidige leesvermoë moet oorslaan. Maar sy bars van opgewondenheid en laat haar nie onderkry deur die groot moeilike woorde nie. Sy klank elkeen stadig uit en ons bespreek die betekenis van die nuwe woorde. Sy lag en gesels en lees dit oor en oor. Sy lees vir haar pa en lees ook dieselfde stuk vir haar ouma. Ek hoor hoe huiwer sy nog by van die woorde, maar ek is nie bekommerd nie.

Sy wíl lees en dit maak al die verskil!

Meer oor Janet

Janet sê sy wou nog altyd ‘n mamma wees wat koekies bak en konfyt brou. Sy is jonk getroud met Timothy en saam het hulle ‘n unieke bediening — Gesonde Seks: www.gesondeseks.co.za 

Hulle maak hulle vyf dogters groot om die Here lief te hê en ook hul naaste soos hulself!

Janet tuisskool al 4 jaar op hulle pragtige wildsplaas in ‘n sekuriteitskompleks in Pretoria, waar die pas stadig is. 

Sy het ook tuisskoolprodukte beskikbaar wat jou kind se reis met lees makliker kan maak.

Volg haar by https://kieswetterklaskamer.wordpress.com/

’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.
’n Tuisskoolma van vyf meisiekinders se eerlike en waardevolle beskrywing van haar reis met haar negejarige se disleksie en leesprobleme.

Leave a comment

4 thoughts on “Ek dink my kind het disleksie. Wat moet ek doen?