ambagsopleiding tuisskool 3

Kom ons raak tegnies, want my kind wil met sy hande werk


Klink dit dalk soos jou kind? Of soos ‘n kind wat jy ken?  “My kind hou glad nie van skool nie. As hy moet skryf, is hy sommer net moeg en stadig. Wanneer ons “klassies” van die dag klaar is, kan hy nie vinnig genoeg werkswinkel of garage toe gaan om te “werk” aan iets nie. Hy is vreeslik baie lief vir kraggereedskap en om iets uit niks nie te skep. Is daar enige tuisonderrig vir vakkundiges?”

Iemand wat tegnies aangelê is, is die soort mens van wie Spreuke 22:29 praat: Sien jy ʼn man wat vaardig is in sy werk — hy kan voor konings staan …

Die rede is natuurlik dat selfs die belangrikste en magtigste mense se toilette verstop of geisers die gees gee.

Hulle het ook nuwe huise en kombuiskaste nodig.

Ook hulle motors gaan staan soms.

En dan is daar nie ʼn gesig wat hulle blyer maak, as om ʼn vaardige vakman by hulle voordeur te sien nie.

As jou kind se hande vir niks verkeerd staan nie, kan hy ʼn baie lonende onderneming bedryf.

En geen vooruitstrewende land kan dit bekostig om sonder goeie ambagsmense wees nie!

Ambagsopleiding tuisskool: word ’n vakman deur ’n kollege

Mens kan jou hele vakleerlingskap in Afrikaans deur ʼn instansie soos Sol-Tech loop. Hulle bied opleiding aan in die volgende rigtings:

• Elektrisiën • Dieselwerktuigkundige • Gereedskap- en Setmaatmaker • Passer en draaier • Meulmaker • Sweiser

Op Sol-Tech webwerf is daar meer inligting oor hoe hulle werk, die opedae wat hulle aanbied en hoeveel hulle opleiding kos. Hulle reël ook dat jou kind indiensopleiding kry en het ʼn rekord dat hulle maklik vir hulle studente werk kry.

Daar is dus baie voordele daaraan om Sol-Tech te gebruik, maar dit kan duur wees, so:

As jy self ambagsopleiding tuisskool wil doen

Ek het met my ou vriendin Tina van Deventer gepraat oor haar oudste seun Gideon se paadjie om ʼn loodgieter te word. En toe vir jou kortliks die stappe neergeskryf. Onthou dis net ʼn oorsig en baie van die fyner besonderhede kry nie in hierdie artikel aandag nie.

1. Volg ’n gekwalifiseerde vakman soos ’n skadu

“As jou kind ʼn ambagsman wil word, kan ek nie beter raad gee nie as dat hy begin deur saam en vir ʼn ervare ambagsman te werk,” sê Tina.

In Gideon (18) se geval is daar ʼn oom wat ʼn bekwame en suksesvolle loodgieter is. Gideon het saam met hom gewerk en gesien wat hy doen en hoe hy te werk gaan en besluit hy wil ook ʼn loodgieter word.

Mens kan jou die prentjie goed voorstel:

So ʼn kind kry nie net ʼn voorsmakie van wat die werk self behels nie, maar sien baie meer. Soos hoe word daar met kliënte gewerk, hoe skryf mens ʼn faktuur uit, hoe hou jy boek en hoe beplan jy jou ritte.

Trouens, om ʼn vakleerlingskap onder die toesig van ʼn ervare ambagsman te deurloop, is amptelik deel van die proses om ʼn formele kwalifikasie te kry. Daarby kom ons later.

2. Die eerste teoretiese opleiding vir ambagsopleiding tuisskool — kry ’n silwer seël

Om formeel ʼn vakleerling te word, moet die kandidaat ʼn silwer seël verwerf. Dit beteken dat hy ʼn kort, maar intensiewe, teoretiese opleidingskursus moet slaag. Daar is verskeie sulke private kolleges wat sulke opleiding in verskillende ambagte, soos loodgieter, elektrisiën, ketelmaker en motorwerktuigkunde aanbied.

Onderaan word ʼn paar van hulle as voorbeelde gelys. As jy op die internet na sulke kolleges soek, sal jy sien baie van hulle maak “Olifantsfontein” deel van hulle naam, want dis die plek waar die finale ambagstoets amptelik afgeneem word. Dit beteken egter nie hulle klasse word by Olifantsfontein aangebied nie.

Die tydperk van opleiding wissel vir die verskillende ambagte. In Gideon se geval om loodgieter te begin word, moes hy vir drie weke elke weeksdag klas loop by ʼn kollege in Silverton, Pretoria.

“Hierdie opleiding is nogal duur, tussen R10 000 en R15 000, maar die kolleges is bereid om mens tegemoet te kom as jy dit doen in hulle minder besige tye,” gee Tina raad.

3. Doen praktiese ondervinding op

Die volgende stap kan baie lank duur. Nou moet die vakleerling vir ʼn sekere voorgeskrewe tyd saam en onder toesig van ʼn gekwalifiseerde vakman werk. Dié gee vir hom indiensopleiding en moet ook boekhou van die ure wat hy werk en wat hy alles gedoen het.

4. Slaag die nodige N-kursusse vir ambagsopleiding tuisskool

Saam met die vakleerling se indiensopleiding, moet hy ook formeel sekere N-kursusse deurkom. Dis die teoretiese opleiding wat nodig gaan wees om uiteindelik as vakman te kan registreer.

Die N-kursusse se opleiding hou verband met die spesifieke ambag, maar sluit ook algemene vakke soos Wiskunde en Wetenskap in. Elke ambag het sy eie voorskrifte. Om loodgieter te word, moet mens byvoorbeeld vier vakke op elke vlak (N1, N2, N3) slaag.

Raai wat is die beste nuus?

Die meeste van hierdie klasse is beskikbaar in Afrikaans!

“Die N-kursusse is glad nie maklik nie, hoor, en die opleiding kan baie intens wees,” waarsku Tina. Gideon is nog besig om sy nodige N-kursusse klaar te maak.

ʼn Moontlike plek om die N-kursusse te loop, is Ntek, wat kantore in die noorde van Pretoria het, maar wat afstandsonderrig aanbied. Studente skryf die eksamens in Tuine, Pretoria.

5. Lê formeel die vaktoets af

Sodra ʼn kandidaat 22 jaar oud is, kan hy die formele vaktoets by die toetssentrum in Olifantsfontein in Gauteng aflê. Hierdie ambagstoetse word bestuur en afgeneem deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

As ʼn kandidaat die ambagstoets deurkom, (en dis ʼn baie taai toets!) die teoretiese N-opleiding en die praktiese indiensopleiding voltooi het, kry hy ʼn rooi seël en is nou volwaardig ambagsman.

Maar my kind is nog jonk … wat doen ek in die tussentyd?

As jou kind nog jonk is en lyk of hy tegniese aanleg het, is die beste natuurlik om hom van jongs af toegang tot ʼn motorhuis of werkswinkel te gee.

Verder is dit ʼn goeie idee om jou kinders dalk formeel een of ander tegniese groepklas te laat bywoon.

In my twee se geval het hulle vir twee jaar lank elke tweede week vir ʼn paar uur by oom Eben Theron geleer om basiese dinge te doen soos hoe om veilig met ʼn saag te werk, hoe om te soldeer, hoe om ʼn stukkende elektriese prop reg te maak en so meer.

Hulle het dié klasse baie geniet

Alhoewel nie een van hulle besonder tegnies aangelê is nie, het hulle het die klasse baie geniet. Hulle praat nou nog van die lesse wat oom Eben hulle geleer het. Hulle was baie trots op die miniatuur-windpomp wat hulle vir my as ʼn tuinversiering gemaak het.

Oom Eben se wonderlike klasse is gereël deur ʼn tuisskoolma wat naby Boschkop, oos van Pretoria, bly. Oom Eben was afgetree en het hierdie klasse uit die liefde van sy hart teen ʼn klein fooi vir ʼn groepie van ons kinders aangebied.

Is daar dalk so ʼn gawe oupa in julle omgewing? Vind ʼn bietjie by jou vriendinne uit en kyk of julle dit kan organiseer. Ek kan sulke klasse sterk aanbeveel. Selfs vir die meisiekinders!

Voorbeelde van kolleges wat opleiding gee:

  1. Sol-Tech
  2. Ntek
  3. Opleiding vir motorwerktuigkundiges: http://www.otc-trainingcentre.co.za/
  4. Opleiding vir loodgieters en elektrisiëns: http://www.theartisantraining.info/contact-us/
  5. Opleiding vir ketelmakers en sweisers: http://skillscollege.co.za/
  6. Dis hoe die vorm lyk wat mens moet invul vir die finale vaktoets:
    http://www.teta.org.za/documents/Documents/2014Oct21/Trade_Test_Application_Form.pdf

Oorweeg ook ’n tegniese matriek

Verkies jou kind tegniese onderwerpe en idees? Dan moet jy dalk ʼn tegniese matriek oorweeg. Die beste nuus vir die wat met Engels sukkel? ʼn Tegniese matriek kan mens omtrent volledig in Afrikaans doen. Sulke tegniese opleiding is ook die roete om te volg as jy dit oorweeg om ’n ambag te volg.

Die onnodige snobisme oor ʼn tegniese matriek

Vandat ek kan onthou, het mense hulle neuse opgetrek vir tegniese skole en dit die donkietek genoem. So onnodig en kortsigtig, want ʼn tegniese matriek is geensins makliker of minder werd as ʼn streng akademiese ene nie.

Die hoërskool waarin ek was, was ʼn dubbeldoorhoërskool, met ʼn akademiese baan en ʼn tegniese een. Ek onthou die werkswinkels van my skool waarin die seuns (ja, dit was meestal seuns, maar hier en daar was daar darem ʼn meisie) in blou oorpakke gewerk het, nog goed. Vir my was dit indrukwekkende plekke waar wonderbaarlike dinge gebeur het, waarvan ek maar min verstaan het.

Jy sien, ek het ʼn pa gehad wat self ʼn tegniese onderwyser was. Ek was mal oor my pa. Aangesien hy nie ʼn seun gehad het nie, het ek baie ure saam met hom in die garage deurgebring. My werk was om vir hom gereedskap aan te gee, terwyl hy op sy rug onder een of ander kar gelê het wat hy reggemaak het.

Mag ek aan jou bely …

Ek het net die name van die gereedskap geken, maar nie mooi verstaan wat hulle werk presies was nie.

Baie suksesvolle ingenieurs het ʼn tegniese matriek

Daarom was dit sekerlik nie verbasend nie dat ek op die ou end ook met ʼn man getroud is wat tegnies aangelê is en wat ook op skool in die “donkietek” was. Vandag is hy ʼn kerningenieur wat werk op ʼn projek wat internasionaal ʼn groot verskil aan die wêreld se energieprobleme kan maak.

En interessant genoeg, die meeste Suid-Afrikaanse ingenieurs wat saam met hom hier werk, het ook ʼn tegniese en nie ʼn akademiese matriek nie, verwerf.

Hy vertel dat hy en al sy maters wat in tegniese hoërskole was in hulle eerste jaar op universiteit deur Tegniese Tekene (soos die toe bekendgestaan het) geseil het, want hulle het reeds al die werk op skool gedoen. Hulle klomp donkietekkers het in die mou gelag vir die ouens van die akademiese skole wat moes swoeg met die tekene.

Deesdae staan Tegniese Tekene bekend as Ingenieurstekene en ja, dis steeds deel van die matriekleerplan. Nes Wiskunde. En Wetenskap. Beslis nie maklike vakke nie.

Die roete-aanwysers vir ʼn tegniese matriek

Jy oorweeg ʼn tegniese matriek. En jy wil weet watter padpredikante kan jy volg.

Danksy ander tuisskolers kon ek ʼn Afrikaanse tegniese kollege opspoor, waar jy stuk vir stuk klas kan loop in N-kursusse en dan ook eksamen daarin skryf. Vir ouers wat graag formele matrieksertifikate vir hulle kinders wil hê, is Ntek dalk ʼn opsie.

Ek het geen persoonlike ondervinding met Ntek nie, maar het by ander tuisskolers van hulle gehoor. Die inligting wat ek deurgee, kry ek dus van ma’s wat Ntek gebruik of gaan gebruik en van Ntek se webwerf af. My beste raad is dat jy self met hulle skakel vir die beste en nuutste inligting.

Alhoewel Ntek se kantore in die noorde van Pretoria is, bied hulle afstandsonderrig aan. As ek die webwerf reg verstaan, kry die student werkopdragte wat hy of sy self moet doen. Daar is dan  spesifieke klastye beskikbaar waar studente hulle vrae kan vra. Hierdie klastye is in die dag en in die aand beskikbaar.

Die klasse word klein gehou met ʼn maksimum van 20 studente om seker te maak elkeen kry indiwiduele aandag.

Die boublokke van ʼn tegniese matriek

As jy aan N-kursusse dink, moet jy só dink:

  1. N1 = Gr 10
  2. N2 = Gr 11
  3. N3 = Gr 12

Volgens Hannelie van den Berg, wie se twee seuns volgende jaar daar gaan klas loop, handel mens elke N-vlak handel in tien weke se tyd af, eksamens ingesluit. Elke N-vlak het vier vakke. Dit kos R1400 per vak.

“Moenie dink dis maklik nie. Die N-kursusse is baie moeilik,” waarsku Tina van Deventer, wie se oudste seun al van die N-kursusse geslaag het.

Mens kan jou eie vakke kies, maar sekeres is voorgeskryf. Hier is die vakke wat Hannelie se seuns byvoorbeeld op N1-vlak gaan loop:

Wiskunde, Ingenieurswetenskap, Motorwerktuigkunde se vakteorie en Metaalwerk se vakteorie.

Om ʼn volwaardige matrieksertifikaat te kry, moet die kinders later ook Besigheidsafrikaans en -engels deurkom. En vermoed ek, Ingenieurstekene.

Enige tuisskolers suksesvol ʼn tegniese matriek klaargemaak?

Ek sal graag wil weet of daar enige tuisskolers is wat onlangs die N-roete geloop het en uiteindelik ingenieurswese by ʼn universiteit of tegniese universiteit gaan swot het. Na die ondervinding wat my man gehad het, is dit vir my amper ʼn logiese roete, maar gebeur dit in die praktyk?

Laat weet my as jy van so iemand weet.

As jou kind tegnies aangelê is en op sy of haar eie kan werk, is ʼn tegniese matriek dalk ʼn goeie keuse. Tree met Ntek in verbinding en hoor wat is die moontlikhede.

 

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui