Moedertaal

5 Redes waarom moedertaalonderwys die beste keuse is wat jy ooit sal maak


Wat is die een ding wat jy moet doen as jy nie jou kinders se toekoms met tuisleer wil opmors nie? Leer hulle in hulle moedertaal. Vir so lank as moontlik. Hier is vyf redes hoekom die keuse om jou kinders in julle moedertaal te leer die grootste, grootste guns is wat jy jou kinders ooit sal bewys.

1. Jou moedertaal is so belangrik, dit laat vir altyd spore op jou brein agter

Die moedertaal is so belangrik, dat selfs net ʼn kort rukkie se blootstelling daaraan permanente spore daarvan op die brein laat. Daarna is so ʼn persoon se brein as’t ware bedraad om daardie spesifieke taal se klankpatrone te kan eien.

Hoe weet ons dit?

Kanadese navorsers het ʼn groep Chinese kinders wat deur Franssprekende Kanadese aangeneem is, bestudeer. Die kinders was tot op omtrent die ouderdom van twaalf maande blootgestel aan Chinees. Daarna is hulle in Frans grootgemaak.

Toe die navorsers hulle as tieners getoets het, kon hulle met breinskanderings sien hoe dié kinders se breinaktiwiteit toegeneem as hulle Chinees-agtige klanke gehoor het. Dit het nie met die kontrolegroep, wat nooit Chinees gehoor het, gebeur nie.

2. Jy leer jou moedertaal op ʼn ander plek in die brein aan as waar jy ʼn tweede taal aanleer

Die plek in jou brein waar jou eerste taalverwerwing plaasvind, is in ʼn ander deel van jou brein as waar jy ʼn tweede taal verwerk of selfs jou moedertaal ontleed. Die sentrum van die brein waar jy heel eerste taal aanleer, verwerk dinge vinniger as die deel van die brein waar tweedetaalverwerking plaasvind.

Taalverwerwing en die gebruik van die moedertaal is iets onbewus, die gebruiker daarvan hoef nie eens daaroor te dink nie. Die aanleer van ʼn tweede taal of die leer van die formele taalleer is iets wat jy bewustelik moet doen. As jy in ʼn tweede taal praat, moet die heeltyd dink wat jy sê.

Dis hoekom ʼn mens nie jou kinders deur die medium van ʼn tweede taal moet leer terwyl hulle nog besig is om die tweede taal aan te leer nie. Doen jy dit, laat jy jou kinders twee keer so hard werk. Nie alleen moet hulle nog die tweede taal onder die knie kry nie, hulle moet ook die nuwe leerstof bemeester.

Dit kan nie genoeg herhaal word nie. Hou so lank as wat jy kan aan om jou kinders in julle moedertaal te leer.

Hoe weet ons dit?

Navorsers het mense se breine met MRI skandering dopgehou en gesien in watter dele van die brein is daar aktiwiteit as mense hulle moedertaal en in watter deel is daar aktiwiteit as hulle ʼn tweede taal gebruik.

3. Kinders wat hulle tweede taal as die primêre taal probeer gebruik, se taalgebruik is swakker

Ouers redeneer dat hulle kinders eendag in elk geval in Engels op universiteit sal moet leer. Hulle sal ook meestal Engels in hulle werk moet gebruik. Is dit dan nie beter om van die begin af Engels met hulle kinders te praat nie? Het ons nie boonop pas gehoor nie dat mens ʼn vinniger deel van jou brein vir jou eerste taal gebruik nie?

Doen sulke ouers die regte ding? Nee! Engels is nie die ouers se moedertaal is nie. Dus is hulle kennis daarvan nie so goed soos hulle moedertaal nie.

Hoe weet ons dit?

Omdat dit veral die ouers is wat vir die kinders die eerste taal leer, gaan sulke ouers se kinders gaan in ʼn tweede taal op ʼn laer intellektuele vlak werk as waartoe hulle regtig in staat is. Omdat die ouers se woordeskat, grammatika en vlotheid in die tweede taal swakker is, gaan die kinders sʼn ook swakker wees.

4. Die moedertaal is die vaartuig waardeur kinders alles leer wat hulle leer

Hoe beter ontwikkel jou kind se moedertaal is, hoe beter gaan hy of sy in ʼn tweede taal vaar. Om die waarheid te sê, hoe beter gaan hulle in al hulle vakke vaar. Dis die moeite werd om jou kinders se moedertaalgebruik so sterk as moontlik te maak.

Werk daaraan om vir jou kinders ʼn groot woordeskat te bou. Gee hulle vroeg-vroeg toegang tot soveel as moontlik konsepte, uitdrukkings en so meer. As jy jou eerste taal goed leer gebruik, berei dit jou beter voor om ʼn tweede taal te leer.

Ideaalgesproke moet die grondslag van die eerste taal goed vasgelê wees, voordat dit tweede taal aangeleer word. Kinders met sterk eerstetaalvaardigheid is meer gereed en beter in staat om ʼn tweede taal aan te leer.

Hoe weet ons dit?

Kanadese navorsers het ʼn baie interessante studie gedoen waarin hulle horende en dowe volwassenes met mekaar vergelyk het. Hulle het met drie groepe gewerk: horendes, mense wat later in hulle lewe doof geword het en wat dus kleintyd taal leer ken het, en laastens mense wat doof gebore is en wat nie kleintyd taal in enige vorm geken het nie.

Die navorsers het twee groepe dowe volwassenes se prestasie in ʼn standaard Amerikaanse gebaretaal vergelyk. Vir albei groepe was die gebaretaal ʼn “tweede taal” wat hulle op skool geleer het. Hulle het die volgende bevind:

Die mense wat doof gebore is, het baie swakker gevaar in die gebaretaal as die wat eers later doof geword het en wat dus in hulle vroeë lewe ervaring van gesproke taal gehad het.

In ʼn tweede deel van die studie is twee groepe dowes en ʼn groep horendes se prestasie in Engels vergelyk. Engels was vir albei groepe hulle tweede taal. Dis wat die navorsers bevind het:

  • Dowe en horende mense wat óf ʼn gesproke óf ʼn gebaretaal vroeg in hulle lewens leer ken het, het Engels goed leer praat.
  • Dowe persone wat eers later in hulle lewe met die konsep van taal te doen gekry het, het met Engels bly sukkel.

5. Jy leer taal in die eerste plek deur jou ore

Mens ontsyfer taal deur klanke wat jou ore tref, wat dan omgeskakel word in elektriese seine. Daarna vertaal jou brein dit weer terug in taal deur die sinsbou en betekenis daarvan te ontsyfer. Jou ore en brein is so goed met hierdie ingewikkelde proses hulle kan duidelik onderskei tussen agtergrondgeraas en taalklanke.

Die implikasie hiervan: Kinders wat taal hoor (hardop voorlees, praat, sing en luister na liedjies) toon meer taalvaardigheid. Hulle het ook beter leesvermoëns as die wat nie baie gesproke taal gehoor het toe hulle klein was nie.

Toe Leendert van Oostrum tuisskoolma’s dus aangespoor het om minstens een uur per dag vir hulle kinders voor te lees, het hy geweet waarvan hy praat.

Hoe weet ons dit?

Tensy iemand doof is of daar ander breinprobleme is, leer alle mense om te praat. Dis maar die afgelope vyfhonderd jaar of so wat die mensdom meer klem op geletterdheid begin lê het. Dis eers toe wat baie meer mense leer lees en skryf het. Om te lees en skryf, is baie harder werk as om te leer praat.

Moedertaal bo!

Leer jou kinders aanvanklik in hulle moedertaal. Deurdrenk jou kinders met taal wat hulle hoor, voordat jy na geskrewe taal beweeg. Maak hulle moedertaal so sterk as wat jy kan. Hulle sal dan hulle moedertaal gebruik as ʼn afspringplek vir alle leer. Ook enige volgende tale wat hulle moet aanleer.

Luister hier na ’n onderhoud oor die belangrikheid van moedertaalonderwys

 

Moedertaalonderwys | Mens leer taal eerstens aan deur dit te hoor
Moedertaalonderwys | Taal is die vaartuig waardeur jy leer
Moedertaal | Jy sal nooit heeltemal so vlot in jou tweede taal as in jou moedertaal wees nie
Moedertaal | Jou moedertaal word op ’n spesiale plek in jou brein gebêre
Moedertaal | Deur jou kinders in julle moedertaal op te voed is die grootste geskenk wat jy aan hulle kan gee

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

*** Nuwe hulpbron pas bygevoeg: 10 Flatersinne reggemaak. ***

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui