10 Leerlees-lesse wat ek en my kind geleer het


Hoe het jou tuisskoolreis toe verder verloop na daardie eerste jaar met die kankerdiagnose en jy wat net vir jou kinders voorgelees het?

So vra iemand nou die dag vir my. Hierdie week wil ek graag daardie vraag antwoord.

Tuisskool was oor die algemeen vir my baie lekker. Dit was vir my heerlik om my kinders by my te hê. En die ure en ure se voorlees uit wonderlike boeke is van die aangenaamste herinneringe wat ek het.

Ek is ook baie dankbaar vir die besonderse band tussen my en my kinders. Hulle was nooit opstandige of moeilike tieners nie. Ek dink dis ʼn tipiese ding wat die meeste tuisskoolouers vir jou sal sê. Bygevoeg: Dis maar altyd ook net genade van die Here af as dinge goed uitwerk!

Maar Johannes wat so laat leer lees het, was ʼn tere puntjie, wat baie stres in ons gesin veroorsaak het. Ek het vir my óp bekommer toe hy hier teen tien, elf nog nie kon lees nie.

Dis nie dat ek nie probeer het nie! Ek het so leeshandleiding nog by my suster gekry. Ons het probeer en probeer dat hy die lettertjies uitmaak. Regtig ons het. Maar dis net of die lesery nie wou vat nie. En dan raak ek ongeduldig. En hy moedeloos. En dan los ons dit eers weer. En so gaan die jare om.

As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek dit anders aangepak het.

As jy jou in dieselfde bootjie bevind en jou kind sukkel om te leer lees, gee ek graag vir jou ʼn opsomming van die lesse wat ek geleer het uit die hele proses.

Leerlees-lesse  – ek wens ek het …

Ter wille daarvan dat ek my nie so bekommer het nie, wens ek het:

  1. geweet van die fases van leer lees, soos wat Willemien Kruger dit opgesom het: leer ken, leer saamvoeg, leer dekodeer, leer vlot lees.
  2. onthou dat lees aan die begin baie sukkelend kan wees
  3. myself meer herinner om geduldig te wees
  4. liewer die klem laat val op klanke eerder as letters, soos wat Rosa Scheepers ons so mooi leer
  5. besef dat die kind al die klanke klaar moet ken voordat mens begin om hulle saam te voeg
  6. meer kere speletjies met Johannes gespeel wat kon help dat hy vroeër leer lees het
  7. besef dat ek meer met my kind moes praat oor taal, soos Hannekie Verwoerd altyd voorstel

Leerlees-lesse – ʼn hele reeks artikels daaroor

Dis hoekom ek hierdie lesse vir jou beskikbaarstel in ʼn hele artikelreeks oor hoe ek my kind moet leer lees en skryf.

Klik hier om hulle te lees.

As ek maar net één ma kan help om makliker deur die proses te kom as ek, kan ek in die aand lekker gaan slaap. Daar is meer as net Willemien en Rosa se artikels. Daar is ook die wonderlike artikel deur Janet Kieswetter oor haar paadjie met disleksie. En nog baie meer.

Pik en proe aan die artikels, as jy wil. Of lees stadig en neem die beginsels van een spesifieke een in. Die artikels is daar om die lewe vir jou as tuisskoolma makliker te maak.

Leerlees-lesse – eind goed, als goed

Maar weet jy wat? Op die ou end het alles goed uitgewerk. Soli Deo gloria – aan God alleen die eer! En dit wil ek ook graag vir jou sê en jou daardeur gerusstel.

Toe Johannes omtrent so elf was, het ek vir ses maande intens met Audioblox met hom gewerk. Onder andere het ons Audioblox se baie simpel storietjie gebruik om hom leesvlot te kry. Hy moes die storie elke dag hardop vir my voorlees.

(Terloops, hardop vir jou voorlees, is ʼn uitstekende manier om jou kind vlotter te laat lees. Die geheim is om dit elke dag net vir ʼn kort rukkie te doen, sê so vir vyftien minute, maar om dit getrou te doen. En dis ook nie nodig dat julle elke dag dieselfde storie gebruik nie. Kry ʼn storie waarvan jou kind hou. Dit maak die proses BAIE makliker.)

Naderhand kon nie ek of Johannes die simpel storietjie langer uitstaan nie. Op ʼn dag het hy vir my gesê: “Mamma, ek kan lees! Kan ons asseblief net ophou om daardie storie so oor en oor lees?”

Eerlikwaar, ek kan nie sonder enige twyfel vir jou sê dat dit die Audioblox was wat die knoop met lees vir hom deurgehaak het nie. Baie keer dink ek nog steeds toe hy ryp genoeg daarvoor was, het hy eenvoudig begin lees.

En dis die groot, groot genade wat mens as tuisskoler het: jou kind kan rustig, sonder druk ryp word vir leer en iets dan op sy eie tyd leer.

Vandag lees Johannes baie, baie goed. Nog belangriker, hy lees met begrip. In Afrikaans en Engels. Hy hou ook baie van lees en ek sal hom as ʼn boekwurm beskryf. Hy stel belang in ʼn wye verskeidenheid onderwerpe en het ʼn geweldige algemene kennis.

Ek dink altyd aan John Holt, die skrywer van How children learn wat sê dat dit opvallend is dat kinders wat laat leer lees, ook gewoonlik die is wat dan baie goed verstaan wat hulle lees.

Leerlees-lesse – ek is bly ek het …

Hiermee dus nog drie lesse wat ek vir my jonger self sou gesê het as ek maar net van beter geweet het:

  1. Ontspan, jou kind sal uiteindelik leer lees!
  2. Die belangrike ding om te doen, is om aan te hou om vir hom voor te lees, sodat sy woordeskat en begripsvermoë bybly met sy ouderdom.
  3. Vertrou die proses waarop kinders leer, maar geniet dit ook. Hê ʼn soort nuuskierigheid oor hoe ʼn kind se brein werk. Verwonder jou oor hierdie wonderlike gawe wat die Here vir ons gegee het.

En daar het jy dit: In totaal tien lesse wat ek met die gesukkel om te leer lees geleer het.

Mag dit jou inspireer en moed gee met jou eie reis om jou kind te leer lees.

“Marisa se weeklikse e-pos voel soos ’n handgeskrewe briefie van jou beste vriendin af.”

Prentjie by convertkit

KRY OOK TOEGANG TOT GRATIS HULPBRONNE SOOS:

• ’n Leeslys met meer as 250 titels
• 20 bronne vir Wiskunde in Afrikaans
• Wenke vir beter spelling
• Leer toespraak maak
• En nog baie meer ...

Elke week vul ek jou posbus met waardevolle, gratis raad en wenke. As intekenaar kwalifiseer jy vir spesiale bonusse as ek nuwe kursusse vrystel. Ek gee ook vir jou inligting oor al my kursusse.

*Lees my beleid oor privaatheid hier.

Gemorspos is ’n pyn. Jy kan dus op enige stadium weer afteken as jy wil. Powered by ConvertKit

Leave a comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui